Hoofstuk van die dag: Numeri 17

Die Here sê toe vir Moses: “Sit Aäron se kierie terug voor die getuienis, en bêre dit as teken vir die opstandiges. So moet jy ’n einde maak aan hulle verset teen My …” (vers 10)

Die instruksies in die boek Numeri dui alles daarop dat God ’n God van orde is (vgl 1 Kor 14:33). Dit het nie net die inrigting en uitleg van die tabernakel gegeld nie, maar ook die manier waarop die stamme rondom die tabernakel geplaas is, en hoe hulle moet trek.
Deel van dié ordereëlings was die aanstelling van die stam van Levi as die aangewese bedienaars van die heiligdom. Slegs hulle is toegelaat om diens te doen in en om die tabernakel, en slegs die nageslag van Aäron kon priesters wees.
Die Israeliete se verset teen hierdie reëlings was niks anders nie as verset teen God self (vers 10). Daarom het God ingegryp met die wonderwerk van Aäron se kierie, wat die saak eens en vir altyd bygelê het.
In die kerk is daar ook bepaalde orde-reëlings, soos wie mag die sakramente bedien, wie is verkiesbaar as voorsitter van ’n vergadering, ens. Dit gaan nie om magsbeheptheid of om sekere mense te bevoordeel nie, maar sodat alles ordelik en tot God se eer sal verloop.




Hoofstuk van die dag: Numeri 16

Bowendien het jy ons nie gebring na ’n land toe wat oorloop van melk en heuning nie, en ook nie vir ons lande en wingerde gegee nie. Wil jy hierdie mense aanhou mislei? Ons sal nie kom nie! (vers 14)

Die boek Numeri is soos ’n spieël wat voor ons opgehou word, sodat ons onsself daarin kan herken (1 Kor 10:6,11). Want die Israeliete se sonde is helaas dikwels steeds onder ons teenwoordig.
Een van die sake wat Numeri uitwys, is hoe kort ons geheue is, en hoe maklik dit is om ons eie aandeel in ons ellende te vergeet. Die Israeliete het geweier om in die beloofde land Kanaän in te trek, hoewel die verkenners eenparig daaroor was dat dit ’n land is wat oorloop van melk en heuning (13:27). Hulle was self die oorsaak dat hulle in die woestyn rond moes swerf. Maar nou is dit skielik Moses se skuld dat hulle nie lande en wingerde het nie.
Dis makliker om die vinger na iemand anders te wys as om die hand in eie boesem te steek. In ons eie oë is ons dikwels die slagoffer. Dalk moet ek en jy ’n slag bestek opneem van ons lewe, en ons eie aandeel aan die kronkels erken.




Hoofstuk van die dag: Numeri 15

Die Here het toe vir Moses gesê: “Die man moet beslis sterwe. Die hele gemeente moet hom buite die kamp met klippe doodgooi.” (vers 35)

Gestenig, en dit omdat hy op die sabbat hout bymekaargemaak het? Dit klink darem baie erg. Hoekom het God dit beveel? Dit was darem seker nie ’n doodsonde nie?
Die antwoord is deels te vind in vers 30-31, waar dit gaan oor moedswillige sonde. Dit wil lyk of die man willens en wetens God se voorskrif oor die sabbat verontagsaam het; dalk – wie weet? – ondanks die ander se waarskuwings. Dis hoekom hulle hom na Moses en Aäron toe vat vir ’n beslissing.
Die Here se beslissing is buitengewoon straf. Hy wou dit baie duidelik maak dat sy voorskrifte nie maar net versoeke was nie, en daarom het Hy van hierdie man ’n voorbeeld gemaak. Die hele gemeente moes die vonnis voltrek, sodat hulle dit nooit sou vergeet nie. Dit herinner aan die dood van Ananias en Saffira (Hand 5:1-11).
Dit is vir ons ook ’n waarskuwing; ons wat mak geword het oor sonde en dink God sal maar net altyd weer vergewe. Jesus het tog daarvoor betaal. Ja, met sy lewe! Daarom durf ons nie ligtelik oor sonde dink nie. Veral nie ons eie nie.




Hoofstuk van die dag: Numeri 14

Nie een van julle sal die land betree wat Ek met ’n eed aan julle as woonplek beloof het nie, behalwe Kaleb seun van Jefunne, en Josua seun van Nun. (vers 30)

Die Israeliete se optrede is só verbysterend dat ’n mens dit skaars kan glo. Onthou, dis húlle wat skaars ’n jaar vantevore die verlossing uit Egipte beleef het; wat gesien het hoe God die Rietsee oopkloof en hulle vir goed van die mag van Egipte bevry het. Dit was hulle wat beleef het hoe God elke dag manna stuur, en ook die kwartels voorsien het. Maar nou, skielik, dink hulle God sal hulle nie met die inname van die beloofde land kan help nie!
Dis die moeilikheid as jou geloof nie diep veranker is in ’n hegte verhouding met God nie. Dan laat die sigbare dinge jou skrik, want die Onsienlike is nie jou realiteit nie.
Ons sien ook hier dat God nie Iemand is om mee te mors nie. As sy geduld opraak, kan dinge vir jou lelik verkeerd loop. Hoewel Hy hulle nie voor die voet laat sterf het nie, het nie een van die volwassenes die land Kanaän ingetrek nie.
Eiesinnigheid is nie ’n eienskap wat by ’n gelowige pas nie (vgl 1 Sam 15:23).




Hoofstuk van die dag: Numeri 13

Ons was in ons eie oë soos koringkrieke; ons was soos muggies in hulle oë. (vers 33b, 2020-vertaling)

Die twaalf verkenners was dit eens: die land Kanaän was presies wat God gesê het dit is – ’n vrugbare land wat oorloop van melk en heuning (vers 27). Net twee van hulle, Josua en Kaleb (vers 30 en 14:6), was vol vertroue dat hulle die land sal kan verower. Die ander tien het hulle blind gestaar teen die versterkte stede en die magtige soldate. Josua en Kaleb het vertrou dat God sal doen wat Hy beloof het, al lyk die omstandighede onoorkomelik. Vir die ander tien het die harde realiteit van die nuwe land swaarder geweeg.
Dit was nie ’n kwessie van die glas is half vol of half leeg; optimisme teenoor pessimisme nie. Dit het gegaan oor die vraag: Glo jy dat God kan doen wat Hy beloof het? En dis die vraag wat ons elke dag in óns situasie ook moet beantwoord. Geloof is om verder te kyk as wat jy sien, en God anderkant die sigbare raak te sien en met Hom rekening te hou vir jou ingesteldheid vandag.
Soos Josua en Kaleb moet ek en jy ook draers van hoop wees in ’n stukkende wêreld.




Hoofstuk van die dag: Numeri 12

Mirjam en ook Aäron het teen Moses uitgevaar oor die Kussiet wat hy as vrou geneem het. Ja, hy het ’n Kussiet as vrou geneem! (vers 1, 2020-vertaling)

Moses se Kussitiese (swart) vrou kan ’n tweede vrou wees van wie ons andersins niks weet nie. Die naam Kusan was egter ook ’n wisselvorm vir Midian (Hab 3:7), sodat dit sy Midianitiese vrou Sippora (Eks 2:16,21) kan wees na wie Mirjam verwys. Maar die wyse waarop dit gestel word, laat dit lyk asof dit ’n tweede huwelik was.
Die kwessie van ras was egter nie die eintlike probleem nie; Mirjam en haar ja-broer Aäron het dit slegs as dekmantel gebruik om Moses se leiersposisie aan te val, omdat hulle jaloers was. Hulle was immers ouer sibbe van hom en was profete in eie reg (Eks 7:1 en 15:20). Dit was dus ten diepste ’n gesagskrisis, waarin Mirjam Moses se absolute leierskap uitgedaag het.
Dis merkwaardig dat nie Moses nie, maar die Here self Moses se posisie verdedig (vers 4). Uiteindelik moes Mirjam vir ’n week buite die kamp bly en oor haar sondes nadink (vers 14).
Jaloesie, skryf Paulus in 1 Kor 3:3 (vgl ook Tit 3:3), is ’n wêreldse eienskap, nie waardig van ’n gelowige nie. Baklei daarteen!