Wag op die Here! 26

  1. Wag in heilige verwagting

Maar ek sal vertrou op die Here, ek sal wag vir die God wat my red. My God sal my gebed verhoor.
Miga 7:7

In ’n preek oor hierdie teksvers het ek die volgende verhaaltjie gelees: Daar was ’n koning wat ’n stad vir sy armste burgers ingerig het. Daar naby was sy stoorkamers, waar die armes alles kon kry wat hulle gevra het. Die enigste voorwaarde was dat hulle moes wag vir die antwoord, sodat hulle gereed is as die aflewering kom. Maar een van die burgers was só mismoedig dat hy nooit verwag het sy versoek sal gestuur word nie, en daarom het hy nie daarvoor gewag nie. Hy het geglo hy is dit nie werd nie. Hulle vat hom toe na die koning se stoorkamer, en tot sy verbasing is daar talle pakkies met sy naam en adres op. Dit het onafgelewer teruggekom, want hy was nooit tuis om dit te ontvang nie. Daar was die kleed van lof, die olie van blydskap, oogsalf … Toe leer die man wat Miga gesê het: Maar ek sal vertrou op die Here, ek sal wag vir die God wat my red. My God sal my gebed verhoor.

Wag op gebedsverhoring is ’n belangrike deel van wag. ’n Heilige, blye verwagting is die kern van ware wag; nie net vir al die versoeke wat ’n gelowige maak nie, maar ook vir die een versoek wat die belangrikste in jou hart behoort te wees: dat die lewe van God volle seggenskap in jou hart sal hê. Dat Christus se beeld in jou tot volmaaktheid sal kom en jy vervul sal wees met die volheid van God. Gelowiges vra dit selde – dikwels omdat hulle nie glo dit is moontlik nie. Maar juis dit is waarvoor jy moet vra en wat jy kan verwag, want God kan en wil dit in jou werk.

Maar – God moet dit doen. Daarom noem Miga God drie keer in die een vers. Maar ek sal vertrou op die Here, ek sal wag vir die God wat my red. My God sal my gebed verhoor. Jy moet op Hom wag, Hom vertrou in die seker wete dat Hy jou sal verhoor.

God sê: Wees stil en weet Ek is God! (Psalm 46:11 NLV) Dit is nie die stilte van die graf nie. Dis die rus in Christus se oorwinning oor graf en dood, in sy opstanding en verlossing. Wees stil, dat God jou lewe kan oorneem.




Wagop die Here! 25

  1. Wag in stilte

Goed is dit om stil te wag op die verlossing van die HERE.
Klaagliedere 3:26

Julle krag lê in stil wees en vertroue hê (Jesaja 30:15). Hierdie woorde wys hoe noodsaaklik stilte is in ons wag op God. As jy jou hele hart op God wil rig, moet jy wegdraai van jouself en van alles wat jou gedagtes vul, of dit nou vreugde is of hartseer.

God is oneindig groot en heerlik. Ons het so vervreemd van Hom geraak dat ons ons hele hart en al ons begeerte op Hom moet vestig om selfs net iets van Hom te ken en te ontvang. Alles wat nie van God is nie en ons vrese opjaag, ons pogings aanjaag, ons hoop wek of ons bly maak, keer ons om volmaak op Hom te wag. Daarom, word stil voor Hom! Die blote gedagte aan God in sy majesteit en heiligheid behoort ons stil te laat word. Die Bybel is vol daarvan:

Die Here is in sy heilige tempel: almal op aarde moet in sy teenwoordigheid stil wees. (Habakkuk 2:20)

Wag in stilte op die Here God! (Sefanja 1:7)

Wees stil voor die Here, al wat leef! Hy kom uit sy heilige woning te voorskyn. (Sagaria 2:13)

As jy die wag op God bloot beskou as ’n middel tot beter gebedsverhoring, sal jy nie die gees van stilwees bereik nie. As jy egter die wag op God sien as een van die hoogste vorms van gemeenskap met die Heilige Een, sal die heilige stilte die ruimte skep dat God kan praat en Homself kan openbaar.

Maak tyd om alleen te wees, weg van vriende en verpligtinge, sorge en vreugdes, en stil te word voor God. Selfs Bybellees en gebed kan jou hinder, omdat dit jou gedagtes besig hou. Jou hele wese moet laag buig in stilte voor Hom. Aanvanklik sal dit moeilik wees, maar hou moed. Op die lang duur word dit ’n heerlike tyd van genade.

Goed is dit om stil te wag op die verlossing van die HERE. Inderdaad. Stilwees is ’n belydenis van ons hulpeloosheid en ons vertroue dat God op sy tyd tot ons hulp sal kom; die stil rus in Hom alleen. Wag op die HERE!




Wag op die Here! 24

  1. Wag om sy goedheid te ervaar

Goed is die HERE vir hulle wat op Hom wag, vir die mens wat na Hom soek.
Klaagliedere 3:25

Daar is net Een wat goed is, sê Jesus in Matteus 19:17. Kom ondervind en sien self dat die Here goed is! (Psalm 34:9). Om hierdie goedheid van God te ondervind, moet jy op Hom wag. Die Here is goed, maar sy kinders besef dit dikwels nie, en hulle wag nie in stilte dat Hy dit kan openbaar nie. Maar vir hulle wat volhou om te wag, word dit waar.
Aan die begin is ons net ingestel om seëninge van God te ontvang. Ons verwag gawes; Hy, die Gewer, wil Homself gee en ons siel versadig met sy goedheid. Daarom hou Hy dikwels sy gawes terug sodat ons langer moet wag, want Hy wil die hart van sy kind vir Homself hê, sodat ons sy goedheid kan smaak. Goed is dit om stil te hoop op die verlossing van die HERE (Klaagliedere 3:26).
’n Lewe van wag word uiteindelik ’n voortdurende aanbidding, namate jy sy goedheid eer en vertrou. Elke daad of oefening in wag word ’n stil intrede in die goedheid van God, sodat dit sy geseënde werk in ons kan doen. Elke ervaring van God se goedheid maak die wag beter. In plaas daarvan om net na God te vlug in ’n tyd van nood, groei daar ’n diep verlange om gedurig te wag, reg deur die dag. Wag word ’n gewoonte, ’n lewenshouding.
Liewe Christen, sien jy dat wag nie net een van ’n aantal Christelike deugde is waaraan jy van tyd tot tyd dink nie, maar ’n lewenshouding wat ten grondslag van die Christelike lewe is? Dit gee ’n groter waarde en nuwe krag aan jou gebed en aanbidding, aan jou geloof en oorgawe, want dit bind jou in ’n onveranderlike afhanklikheid aan God Self. Daarom, doen moeite om hierdie wag-houding te kweek. Te veel mense steun op tweedehandse lering van ander.
Wat jou godsdiens nodig het, is meer van God. Baie mense is te besig met hulle werk. In plaas daarvan dat dit ons nader aan God bring, skei dit ons van Hom. Goed is die HERE vir hulle wat op Hom wag. Hoe goed, kan jy eers weet as jy dit eerstehands ervaar in jou wag op God.




Wag op die Here! 23

  1. Wag vir onverwagse wonders

Van die vroegste tye af het niemand dit gehoor nie, daarvan verneem nie, het geen oog ’n god gesien nie, buiten U, wat optree vir dié wat op Hom wag.
Jesaja 64:4

Paulus haal Jesaja 64:4 aan in 1 Korintiërs 2:9: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie,” en wat in die hart van ’n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet. Daarmee laat hy die klem val op die onverwagse dinge wat God doen.

Jesaja se gebed kom uit ’n benarde tyd in Israel. Hulle pleit by God: Kyk uit die hemel uit af. Is U nie meer oor ons bewoë nie? (63:15). As U maar die hemel wou oopskeur en wou afkom … soos ’n vuur wat fynhoutjies laat brand. Laat u Naam só aan u vyande bekend word … (64:1,2). Dan dink hy terug (64:3): Toe U wonders gedoen het, wonders wat ons nie verwag het nie, toe U destyds afgekom het, het die berge voor U geskud. Die God van ouds is steeds dieselfde God wat kan doen wat geen oor gesien of oor gehoor het nie.

Soos destyds is daar vandag nog ’n oorblyfsel wat God met hulle hele hart soek. Maar as ons na die kerk in die breë kyk, het ons oorvloedige rede om God te smeek om die hemel oop te skeur en af te kom, want niks behalwe ’n spesiale ingryp van Bo kan ons help nie. Kyk na die bediening – hoeveel daarvan is in menslike wysheid en wêreldse kultuur; hoe min is die demonstrasie van die Gees. Dink aan die eenheid van die kerk – hoe min van die krag van hemelse liefde wat God se kinders saambind, is sigbaar. Dink aan heiligheid, van Christus-nederigheid en gekruisig wees vir die wêreld – hoe min sien die wêreld dat daar mense onder hulle is wat in Christus leef en in wie Christus leef.

Wag dan op God! Smeek Hom onophoudelik om uit die hemel af te kom, dat die vyande van Hom kennis sal neem. Pleit by Hom dat Hy onverwagse dinge sal doen. Ja, stel jou vertroue in die wonderdoenende God. Hy kan oneindig meer doen as wat ons bid of dink (Efesiërs 3:20). Wag op die HERE!




Wag op die Here! 22

  1. Die sekerheid van seën

Dan sal jy besef dat Ek die HERE is. Wie op My wag, sal nie beskaamd staan nie.
Jesaja 49:23

Gelukkig is almal wat op Hom wag.
Jesaja 30:18 (AFR20)

Wat ’n belofte! Wie op My wag, sal nie beskaamd staan nie. Ons weet dit, maar ons sukkel daarmee. Dit verg ’n voortdurende rus in God se teenwoordigheid en liefde, ’n onophoudelike onderwerping aan Hom sodat Hy sy werk in ons kan vervolmaak. Luister en oordink dit, tot jou hart met nuwe oortuiging kan sê: Gelukkig is almal wat op Hom wag. Ons is bang dat God ons sal teleurstel, soos Psalm 25:2 bid: Laat my vertroue tog nie tevergeefs wees nie. Daarom moet jy na God luister totdat jou vrees verdryf word en jy ook kan sê: Ja, Here, ek glo wat U sê: Wie op My wag, sal nie beskaamd staan nie.

Ons teksvers kom uit ’n tyd toe die Godsvolk verpletter was. Daar was menslik gesproke geen uitkoms nie. Dan kom God met sy belofte van bevryding. Hy nooi hulle om te wag op Hom; Hy sál red. Ons leef ook in ’n tyd waarin die toestand van die kerk veel te wense oorlaat. As dit nie vir God se beloftes was nie, sou ons wanhopig kon word. Maar God belowe uitkoms. Hy het Homself aan ons verbind. Ons sal nie beskaamd staan nie.

Gelukkig is almal wat op Hom wag. Ja, gelukkig is jy, ook terwyl jy wag. Die seëninge wat God belowe vir jou of ander mag dalk talm, maar om Hom te ken en Syne te wees, dít is die hoogste geluk, en dit is nou al jou deel. God … het ook in ons harte ’n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal (2 Korintiërs 4:6). Lees hierdie woorde oor en oor, totdat jy goed begryp wat God in jou wil doen. Hy sal Homself aan jou toon as die God wat kragtig elke belofte vervul. Gelukkig is almal wat op Hom wag.

Wag op die HERE!




Wag op die Here! 21

  1. Die Almagtige

Maar wie op die HERE wag, herwin hulle krag; hulle gaan op met vlerke soos arende. Hulle hardloop, maar raak nie afgemat nie, hulle loop, maar word nie moeg nie.
Jesaja 40:31 (BDV)

Ons teks is die afsluiting van ’n gedeelte waarin God Homself openbaar as die ewige en almagtige God. Wanneer jy dít begryp, word jou wag ’n spontane uitdrukking van wat jy van Hom weet – Hy is geheel en al waardig om op te wag.

Luister na wat Jesaja oor Hom sê: Waarom sê jy dan, Jakob, waarom kla jy, Israel: “Die Here sien nie raak wat van my word nie”? (40:27). Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie? Die Here is die ewige God, Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg nie, Hy raak nie afgemat nie (40:28). Hoegenaamd nie! Want Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie (40:29). Dié wat óns dink is sterk, hou nie stand nie: Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hulle fleur struikel en val, maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie (40:30-31). Krag kom immers van die Here.

Jy het arendsvlerke nodig, want jy moet hoog vlieg, jy moet die hemelse lewe in die teenwoordigheid van God leef, en daarvoor het jy God se krag nodig. Vir hulle wat op Hom wag, skenk Hy dit.

’n Arendskuiken leer vlieg wanneer sy ma hom uit die nes skop. Hy val al spartellende grond toe, tot sy ma onder hom invlieg en op haar vlerke terugdra nes toe. Sy hou daarmee aan totdat die kuiken self begin vlieg (kyk na Deuteronomium 32:11-12). So maak die Here met jou ook. Hy vat jou veiligheid en gemak weg, laat jou vrees en bewe en totaal hulpeloos voel. Maar Hy los jou nie. Hy vang jou op, dat jy in Hom kan rus. Wat jy moet doen, is om jou aan Hom oor te gee, op Hom te wag, Hom toe te laat om jou in sy almag te dra.

Kyk na God. Hy word nie moeg en afgemat nie. Hy belowe dat jy dit ook nie sal word nie. Wag op die HERE!