Wag op die Here! 20

  1. Die God wat op jou wag

Om dié rede wag die HERE om aan julle genade te betoon; om dié rede rig Hy Hom op om Hom oor julle te ontferm. Want die God van reg is die HERE; gelukkig is almal wat op Hom wag.
Jesaja 30:18 (AFR20)

Jy moenie dink dat dit net jy is wat op God wag nie. God wag op jou ook. As jy dit goed begryp, sal jy weet dat jou wag nie tevergeefs is nie. Aangesien Hy vir jou wag, kan jy seker wees dat jy meer as welkom by Hom is.

Kyk op na God op sy troon. God is liefde; Hy het ’n standhoudende en onuitspreeklike begeerte om sy eie goedheid en seëninge aan al sy skepsels te kommunikeer. Hy wil graag seën. Hy wag met al die verlange van ’n vaderhart, sodat Hy sy genade aan jou kan skenk. Elke keer as jy op Hom wag, kan jy opkyk en Hom sien waar Hy gereed is om jou te ontmoet en te seën.

Jy mag dalk wonder, as Hy jou dan wil seën, hoekom Hy dit nie doen nie. Hoekom wag Hy so lank om sy seëninge aan jou te skenk? Een rede is dit: God is ’n wyse boer wat wag vir die kosbare oes wat die land oplewer. Hy wag geduldig daarvoor (Jakobus 5:7). Hy wag tot die vrug ryp is. Hy weet wanneer ons geestelik gereed is vir sy seëninge. As jy in die sonskyn van sy liefde wag, word jou siel ryp vir sy seëninge. Net so is dit nodig dat jy ook wag onder die wolk van beproewing wat uitloop in reënbuie van seën. As God langer wag as wat jy wil hê, is dit om sy seën dubbeld so kosbaar te maak.

Die ander rede hoekom Hy jou laat wag, is omdat Hy meer is as sy seëninge. In die wag op Hom ontdek jy dat jou lewe en vreugde in Hom alleen is. Om dié rede wag die HERE om aan julle genade te betoon. Klaagliedere 3:25 sê dit goed: Goed is die HERE vir hulle wat op Hom wag, vir die mens wat na Hom soek.

Gelukkig is almal wat op Hom wag.




Wag op die Here! 19

  1. Wag op ’n God van oordeel

Selfs op die pad van u oordele, Here, het ons op U gewag … Want wanneer u oordele die aarde tref, leer die bewoners van die wêreld wat reg is.
Jesaja 26:8-9

Want die God Van Reg Is die Here; gelukkig is almal wat op Hom wag.
Jesaja 30:18b (AFR20)

Die Here is ’n God van genade én ’n God van oordeel. Genade en oordeel is altyd bymekaar in sy handelinge. Sy oordeel straf die sonde, terwyl sy genade die sondaar red. ’n Mens kan ook sê genade red die sondaar, nie ten spyte van nie, maar juis deur die oordeel wat op sy sonde rus. Daarom moet jy weet dat, terwyl jy wag, jy Hom as ’n God van oordeel kan verwag.

Selfs op die pad van u oordele, Here, het ons op U gewag. Jy sal dit self agterkom. As jy opreg is in jou verlange na heiligheid en in jou gebed om ten volle die Here s’n te wees, sal sy heilige teenwoordigheid jou bewus maak van verborge sonde in jou, en jou oortuig van jou sondige natuur wat teen God se wet is. God voltrek sy oordele oor sonde in die siel in groot genade. Baie mense probeer van hierdie oordele vlug, maar die siel wat na God verlang en na verlossing van sonde, buig nederig en met hoop onder Gods oordeel.

Moenie verbaas wees as jou wag op God jou meer bewus maak van jou eie sonde en duisternis nie. Buig voor die oordeel oor elke sonde, want oordeel berei die weg en ontsluit God se wonderlike genade. Wag op Hom. Sy liefdevolle genade werk in jou, juis te midde van sy oordeel.

Daar is natuurlik nog ’n kant aan God se oordeel; ’n baie ernstige kant. God gaan kom om die wêreld te oordeel. Jy weet van talle Christene wat dit net in naam is en onverskillig lewe. Dis daarom ook jou taak om hulle te waarsku! Laat ons dan praat en bid soos nog nooit, sodat God se heiligheid mense sal wakker skud.




Wag op die Here! 18

  1. Wag dat God Homself openbaar

Hulle sal op daardie dag sê: “Kyk, dit is ons God op wie ons gewag het, en Hy het ons gered; dit is die Here op wie ons gewag het! Laat ons juig en bly wees oor sy redding.”
Jesaja 25:9 (AFR20)

In dié Skrifgedeelte is daar twee belangrike sake. Die een is dat dit die taal van God se volk is wat verenig is in hulle wag op Hom; die ander is die vrug op hulle wag is dat God Homself openbaar, sodat hulle met blydskap kan sê: Kyk, dit is ons God … dit is die Here. Dít is wat ons moet leer: die krag en die seën van wag saam met ander.

Let op: twee maal staan hier op wie ons gewag het. Tye van nood verenig die harte van mense. Omdat daar geen menslike hoop of hulp is nie, rig hulle die hart op God en wag op Hom. Dít is wat die kerk nodig het. Is die nood van die kerk en die wêreld nie groot genoeg om dit te vereis nie? Is daar nie boosheid in die kerk wat geen menslike wysheid kan hanteer nie? Is daar nie rasionalisme en formalisme en wêreldsheid wat die kerk van sy krag beroof nie? Kultuur en geld en plesier bedreig die geestelike lewe, en die kerk is glad nie opgewasse om die kragte van ontrou, ongeregtigheid en verrotting in Christelike lande en onder heidennasies teen te werk nie. Maar daar is voorsiening in God se beloftes en in die krag van die Heilige Gees wat die kerk tot rus kan bring wanneer sy alles doen wat nodig is.

Wanneer ons saam in ons byeenkomste op God wag, sal ons beter verstaan dat God die Een is wat alles doen, en dat ons geheel en al afhanklik is van Hom. Ons moet ’n bewussyn ontwikkel dat dit noodsaaklik is om aan God sy ereplek te gee. So sal almal in ’n aanbiddingsbyeenkoms ’n diepe belewenis van sy teenwoordigheid hê, sodat, as hulle huis toe gaan, hulle in God kan bly rus in die wete dat Hy aan die werk is. Kyk, dit is ons God op wie ons gewag het, en Hy het ons gered. Ons mis dit ongelukkig te dikwels in ons aanbidding. Wag voor God, wag vir God, en wag op God is die een voorwaarde vir God om sy teenwoordigheid te toon. Laat ons dan ons harte oopmaak dat God kan werk!

Wag op die Here!




Wag op die Here! 17

  1. Wag in tye van duisternis

Ek sal wag op die Here, wat sy gesig verberg vir die huis van Jakob; ek sal op Hom bly hoop.
Jesaja 8:17 (AFR20)

Jesaja het op God gewag, nie ter wille van homself nie, maar vir sy mense van wie God sy gesig verberg het. So behoort ons wag op God nie net vir onsself te wees nie. Jy kan in die volle lig van God se teenwoordigheid leef terwyl God sy gesig vir die mense om jou verberg. Dan mag jy jou nie verlekker daarin dat dit hulle eie skuld is of straf oor hulle onverskilligheid teenoor God nie. Jy word geroep om dan namens hulle op God te wag.

Die voorreg om op God te wag bring groot verantwoordelikheid. Soos Christus sy plek aan God se regterhand gebruik om vir ons in te tree, so moet ons die voorreg om God se troon te mag nader en op Hom te wag, aangryp om vir die minderbevoorregte gelowiges in te tree.

Jy wil dalk moed verloor oor die geestelike stand van die gemeente waaraan jy behoort, of die gebrek aan liefde, of te min van die Gees van die gekruisigde Jesus. Dit voel vir jou niks wil help nie. Maar God kan en wil help. Glo dit. Wag op God namens sy dwalende kinders. Moenie veroordeel en verwerp nie, of wanhopig en terneergedruk word nie. Jy is geroep om op God te wag. As ander dit nie doen nie, doen jy dit dan dubbeld. Bly op jou pos en wag op die Here.

Dit gaan ook wyer as jou gemeente. Dit gaan oor die wêreldwye kerk. Hoeveel naamchristene is daar nie! Ook namens húlle moet jy op God wag in nederige belydenis van die sonde van sy volk. Wag op God in sagte, liefdevolle intersessie vir alle gelowiges, hoe verkeerd hulle lewens of verdraaid hulle verkondiging ook al mag wees. Wag op God in geloof en verwagting, totdat Hy jou hoor. Wag op Hom met die eenvoudige offer van jouself en die ernstige gebed dat Hy jou na jou broers en susters sal stuur. Wag op Hom, moenie rus nie, totdat hy Sion ’n vreugde op aarde maak. Ja, wag op Hom wat nou sy gesig verberg vir baie van sy kinders. Wag dat Hy die lig van sy teenwoordigheid oor al sy mense laat skyn. Wag op die Here!




Wag op die Here! 16

  1. Wag op God se lig in die hart

Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord. Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag, wagte op die môre.
Psalm 130:5-6

Die lig van ’n nuwe dag bring nuwe hoop en nuwe moontlikhede, veral in tye van gevaar of onsekerheid of angs. Só wag gelowiges dat die lig van God se teenwoordigheid op hulle val. En jy? Kan jy dit ook sê?

God is lig, en Hy skyn tot in ons harte. Paulus stel dit in 2 Korintiërs 4:6 só: God wat gesê het: “Laat daar lig skyn uit die duisternis,” het ook in ons harte ’n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal. Die vraag is: kan jy dit die hele dag ervaar? En hoe? Kyk na die bome en blomme. Wat doen hulle dat die son die hele dag op hulle skyn? Niks. Hulle drink eenvoudig die son op wat op hulle skyn. Jy hoef jou nie te bekommer oor God se lig nie; jy kan dit eenvoudig verwag, ontvang en geniet. Die enigste verskil met die natuur is dat jy dit doelbewus moet ontvang. Geloof sal jou oë en hart oopmaak om dit te ontvang en te geniet, sodat jy geestelik kan groei.

Jy moet leer om op die Here te wag, meer as wagte op die môre. Jy voel moontlik donker van binne – juis te meer moet jy op God se lig wag! Want God se lig verdryf die donkerte in jou, ook dié van sonde. Buig in stilte voor God en wag op Hom om in jou te skyn. Bely dit in nederige geloof: God is lig, helderder en skoner as die son.

Partykeer is ek so besig met my eie gedagtes en pogings dat ek nie die luike oopgemaak het om God se lig te laat inskyn nie; ongeloof het dit uitgehou. Ek buig dan in geloof, dat God sy lig in my hart kan inskyn. Ek neem tyd, word stil en rus in God se lig; hoe langer ek in sy lig is, hoe ligter word dit in my, en leer ek om in die lig van God met blydskap te leef. Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag. En jy?

Wag op die Here!




Wag op die Here! 15

  1. Wag op sy leiding

Maar hulle het gou vergeet wat Hy gedoen het en nie op sy leiding gewag nie.
Psalm 106:13

Hierdie uitspraak kom oor die Godsvolk in die woestyn. Hulle het nie op sy leiding gewag nie en hulle eie kop gevolg. Dit is ook die sonde van die Godsvolk oor die eeue. In die dae van Josua in Kanaän het hulle dit weer gedoen toe hulle ’n verdrag met die Gibeoniete gesluit het (Rigters 2:1-2). Selfs volwasse gelowiges kan dit oorkom! Daarom is dit iets waarteen ons almal moet waak.

Ons verhouding met God word juis hierdeur bepaal: dat sy wil geskied, in ons, net soos in die hemel. Daarom behoort ons te wag op sy leiding as die enigste gids vir ons gedagtes en dade, in ons eredienste, besluite, vergaderings, bestuur, of in ons gewone gang elke dag. Namate ons sy wil soek, vind en eerbiedig, na dié mate sal God sy werk vir ons en deur ons op ’n kragtige wyse doen.

Jy het die Bybel. Jy kan terugkyk op ervarings van God se leiding. Jy hou aan ’n suiwer leer vas. Jy wil God se wil doen. Die gevaar is egter dat jy jou vertroue slegs hierin stel, en nie besef nie dat jy ten spyte hiervan steeds swaar moet én kan steun op God se leiding vir elke tree wat jy gee. Daar is soveel waarvan ons nog nie eers weet nie, wat ons almal nog hieroor kan leer. God wil graag jou gees hiervoor oopmaak, mits jy Hom toelaat en op Hom wag om dit te doen. Die gevaar bestaan dat jy Hom prys vir alles wat Hy gedoen en gegee het, en dan nie groter dinge van Hom verwag nie. Dink maar aan die Israeliete. Selfs nadat God vir hulle water uit die rots gegee het, wou hulle Hom nie vertrou vir brood nie. As jy nie op God se leiding wag en Hom toelaat om op sy eie tyd en wyse te werk nie, kan jy sy werk aan bande lê.

Dit is waar van elke byeenkoms van God se mense. Daar moet ’n mens stil word, en moet daar by jou ’n afwagting en verwagting van God se teenwoordigheid, ’n bewussyn dat ons Hom nodig het, aanwesig wees. Wag dan op sy leiding!