Wag op die Here! 8
- Wees sterk en hou goeie moed
Wag op die Here! Wees sterk en hou goeie moed, ja wag op die Here!
Psalm 27:14 (AFR20)
Net in die vorige vers bely die digter dat hy verlore sou wees as hy nie geglo het dat hy die goedheid van die Here sal beleef in die land van die lewendes nie. Maar omdat hy glo, sê hy vir homself en vir ons om op die Here te bly wag. Dis noodsaaklik dat jy dit moet glo: dat jou wag op die Here nie tevergeefs sal wees nie. Hy sal jou nie teleurstel nie.
Hoekom is dit nodig om sterk te wees en moed te hê om op die Here te wag? Omdat ons as mense meestal nie naby genoeg aan God leef nie; omdat dit in tye van beproewing dikwels lyk of Hy Hom vir ons verberg. Dan dink ons ons glo nie goed genoeg nie, of ons wag nie reg nie, of dat ons nie oorgegewe genoeg leef nie. As jy so dink, skep moed, want God sê vir jou ook: Wag op die Here! Wees sterk en hou goeie moed, ja wag op die Here!
Wat die teks vir ons sê, is dat as jy op God wil wag, jy dit met ’n vaste verwagting moet doen dat God jou tegemoet sal kom en jou sal seën. Niks is immers so seker as die onverwagse seën wat jy sal ontvang as jy op God wag nie. Moenie ontmoedig word omdat jy nie ’n spesiale seën ontvang nie. Want as jy op God wag, moet jy dit bo alles met hoop in jou hart doen. Dit is God in sy heerlikheid, mag en liefde op Wie jy wag, en Hy wil jou graag seën.
As jy bang is jy bedrieg jouself met vals hoop omdat jy in jou huidige situasie niks sien of voel wat sulke verwagtings regverdig nie, onthou dan dat dit God is wat jou hierdie belofte gee. Onthou, jy wag nie om te sien wat jy voel of wat in jou lewe verander nie. Jy wag op God, om Hom te ken, en dan ook om te sien wat Hy doen. Die seën van om op God te wag is hierin geleë – Hy is so ’n wonderlike Wese, oorvloedig in goedheid en krag en lewe en vreugde, dat dit onvermydelik na ons oorvloei wanneer ons naby Hom leef, al is ons verdorwe in onsself.
God is liefde! Dit is hoekom jy op Hom kan hoop, want Hy wil Homself en sy seëninge aan sy kinders skenk. Kom dan, hoe swak jy ook al voel, en wag in sy teenwoordigheid.. Hy sál sy werk in jou doen. Wag op die Here!
