Wag op die Here! 2

  1. Die basis van die lewe

Op u verlossing wag ek, Here!
Genesis 49:18 (AFR20)

Hoekom Jakob hier, waar hy besig is om sy seuns te seën met die oog op die toekoms, hierdie versugting invoeg, sal ons nooit weet nie. Maar een ding is seker: hy verwag verlossing vir hom en sy kinders van God alleen. Want Jakob het besef dat daar geen saligheid buite God is nie. Om op God vir verlossing te wag, of dit nou vir jou persoonlik of vir die mensdom is, is ons voortdurende plig. Daarin lê ons ware geluk.

Maak tyd om na te dink oor die wonderlike verlossing wat God vir jou in Christus bewerk het. Dink aan Hom, wat op hierdie oomblik besig is om sy doel in jou deur sy Gees te verwesenlik. Staan hierby stil totdat jy dit goed begryp dat alles wat meewerk aan hierdie groot verlossing, die werk van God Self is. Oordink Paulus se stelling in Kolossense 1:27-29 (AFR29): God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe ryk die heerlikheid van hierdie misterie vir alle nasies is: Christus is in julle, die hoop op die heerlikheid. Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan, en elke mens in alle wysheid onderrig, sodat ons elke mens voor God kan stel as volwasse in Christus. Daarvoor span ek my ook in, terwyl ek die worstelstryd voer, in ooreenstemming met sy krag, wat met mag in my werk.

God se genade, goedheid en krag is nie los items wat Hy uitdeel, soos reëndruppels uit die hemel nie. Hy kan dit net gee, en ons kan dit net ontvang, deurdat Hy dit Self in ons werk. Maar dan moet ons Hom toelaat om dit in ons te doen. Jy moet jou oorgee aan Hom, en wag op Hom, anders verhinder jy Hom.

Word stil voor Hom, en wag op Hom! Gee jouself volledig aan Hom oor in die verwagting dat Hy in jou werk. So groei jou hoop op Hom, en sal Hy jou krag en sterkte word, soos Nehemia 8:11 (AFR20) sê: Moenie neerslagtig wees nie, want die vreugde van die Here, dit is julle toevlug.




Wag op die Here! 1

  1. Die God van ons verlossing

Net by God vind ek rus, van Hom kom my verlossing.
Psalm 62:2 (AFR20)

Redding kom van God en is volledig sy werk. Daarom is dit ons eerste en hoogste roeping om in Hom ons rus te vind en te doen wat Hom behaag. Net só kan ons Hom as die God van ons heil volledig ken. Alles wat keer dat ons God se verlossing ten volle ervaar, spruit voort en hierdie een saak: jy weet nie hoe om in God rus te vind nie.

God het die mens geskep om ’n instrument te wees waardeur sy krag en goedheid sigbaar word. Ons was nie veronderstel om in onsself ’n fontein van lewe, krag of geluk te hê nie. Ons is geskep om in afhanklikheid van God te leef. Ons vreugde is om elke oomblik uit die oorvloed van God te leef.

Met die sondeval het die mens nog meer afhanklik van God geword. Die enigste hoop wat hy het om verlos te word, lê in God, en in sy krag en genade. En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees as God se eerste gawe ontvang het, sug innerlik., terwyl ons uitsien na ons aanneming tot kinders, die bevryding van ons liggame (Romeine 8:23 AFR20). Maar selfs in die herskape mens is daar geen krag of goedheid nie. Ons het niks wat ons nie ontvang het nie. Daarom is dit net so noodsaaklik om op te God wag en rus in Hom vind, as om asem te haal.

Baie Christene besef nie dat hulle brandarm en hulpeloos voor God is nie. Daarom dink hulle ook nie dis nodig om absoluut en voortdurend op God te vertrou nie. Vir hulle wat egter uit God se sorg begin leef, word die rus in God die hoogste hoop en vreugde.

Net by God vind ek rus, van Hom kom my verlossing. Eers vind jy by God rus. Dan leer jy dat die redding wat God gee, jou help om op Hom te wag. Dan ontdek jy wat beter is – wag op God is in sigself die hoogste redding, want daardeur ontdek jy dat Hy alles is. Mag God jou die kuns van rus in Hom leer!




Wag op die Here!

Ons nuwe reeks is ‘n verwerking van Andrew Murray se boekie “Waiting on God.”

Andrew Murray (9 Mei 1828 – 17 Julie 1917) is een van die mees invloedryke Suid-Afrikaanse predikante van die 19de en vroeg 20ste eeu. Hy het meer as 250 boeke die lig laat sien; baie daarvan is steeds in druk en in aanvraag in die VSA en Brittanje.
Sy innige, byna piëtistiese geloof het ’n blywende indruk in die Suid-Afrikaanse kerklike landskap gelaat. Dit was tydens sy bediening in Worcester dat die groot herlewing wat destyds regoor Amerika en Groot Brittanje versprei het, ook in sy eie gemeente begin het, skaars ses maande nadat hy daar bevestig is as predikant. Dit het uiteindelik tot die geseënde gebruik van Pinksterbidure in die NG Kerk gelei. Hy word ook beskou as die vader van die pinksterbeweging in Suid-Afrika.
Andrew Murray was maar 20 jaar oud toe hy in 1848 as predikant in Bloemfontein begin het. In 1860 verskuif hy na Worcester. In 1864 word hy predikant van die Groote Kerk in Kaapstad, maar skuif in 1871 vanweë sy groot werkdruk na Wellington, wat ’n minder veeleisende gemeente was. Hy het daar gearbei tot met sy dood in 1917.

In “Waiting on God” sê hy dat ons in ’n gejaagde kultuur leef, maar dat God ons roep om in hierdie gejaagde lewe op Hom te wag. Om op God te wag is om beheer oor te gee en nie op jou eie insigte te steun nie. Dis om te wag dat God ons in ons lewens aan die werk kom; dat Hy ons dade rig.
Andrew Murray nooi ons in hierdie 31 oordenkings om te leer hoekom, en hoe, ons op God moet wag. Deur op Hom te wag, sal ons Hom op vars, nuwe maniere ontmoet.




Lees die Bybel saam met my

Liewe leser, ons het nou, ná 3½ jaar, die hele Ou Testament, en op 2 Timoteus, Titus, Filemon en Openbaring na, ook die hele Nuwe Testament 2 keer deurgelees. Dit was vir my persoonlik ’n baie wonderlike reis deur die Bybel, maar ek dink ek gaan dié rubriek nou vir eers op ys sit, want ek kom nie by my ander skryfwerk uit met die tyd wat hierdie oordenkings uit my dag neem nie. Ek wil graag weer ’n Bybelse roman skryf, en daarvoor het ek al my kopspasie en tyd nodig.
Baie dankie dat jy die Bybel saam met my gelees het. Dit was ’n voorreg om dit saam met julle te doen.
As jy die dagstukkies weer wil lees, kan jy natuurlik altyd terugblaai op die WhatsApp-groep, of jy kan op my webwerf die verskillende Bybelboeke se dagstukkies gaan lees by https://bybelkoerant.co.za/lees-die-bybel-saam-met-my/
Ek beplan ook om nog Deel II en III van “Lees die Bybel saam met my” te publiseer; Deel II het ek pas van die drukkers ontvang: Lees die Bybel saam met my II | Jaco se Bybelkoerant.

Deel I is steeds beskikbaar as jy belangstel:
https://bybelkoerant.co.za/2023/08/05/lees-die-bybel-saam-met-my/ Laat weet my per WhatsApp of by jaco@bybelkoerant.co.za as jy belangstel. Dit kos R300 en sluit die koerierkoste in.

Ek sal wel nog van tyd tot tyd ’n preek op dié spasie opsit wanneer ek die voorreg kry om te preek, so moenie die groep verlaat as jy van die preke wil ontvang nie.

Nouja, mag jy en jou dierbares ’n geseënde rustyd oor die groot dae hê, en ’n baie geseënde Kersfees. Mag die Kind van Betlehem, die Leeu uit die stam van Juda, elke dag voor jou uitstap!
Ek wil ook vir my liewe vrou Elmien dankie sê wat so getrou elke dag se stukkie geproeflees het, en die dagstukkie gereeld verryk het met haar foto-plasings. Jy is ’n ster!
Vriendelike groete
Jaco Thom




Hoofstuk van die dag: 2 Tessalonisense 3

Wat julle betref, broers: Moenie moeg word om goed te doen nie. (2 Thes 3:13)

Paulus herinner die Tessalonisense dat hy dag en nag geswoeg het om nie vir hulle ’n las te wees nie (vers 8 en 9). Daarom het hy vrymoedigheid om hulle aan te moedig om ook soos hy hulle kant te bring.
Dalk het jy al gevoel dis nou genoeg. Jy kan nie meer nie. Jy kan nie maar net aanhou en aanhou om die regte ding te bly doen nie. Niemand sien tog raak wat jy doen nie, dink jy dalk. Boonop is daar ander mense om jou, jou kollegas en kennisse, wat lyf wegsteek en daarmee wegkom. Hoekom sal jy dan jouself dag na dag afsloof?
Hierdie woorde van Paulus in vers 13 is vir jou en ander gelowiges wat moeg en selfs uitgebrand raak van goed doen, en wat voel genoeg is genoeg. Onthou dan dat God sien wat jy doen, al sien ander dit nie raak nie, en dat Hy dit nie sal vergeet nie (vgl Heb 6:10). Hy sien wat jy doen, ook wanneer niemand anders by is om dit te sien nie. En eendag, in die hiernamaals, sal dié dinge ’n sieraad vir jou wees (Op 14:13b).




Hoofstuk van die dag: 2 Tessalonisense 2

Ons moet God altyd vir julle dank, broers. Die Here het julle lief, en God het julle uitverkies om van die eerstes te wees wat gered word. Julle is gered deurdat die Gees julle vir Hom afgesonder het en deurdat julle die waarheid glo. (2 Thes 2:13)

Die konsep van die Drie-eenheid is vroeg al ontwikkel om reg te laat geskied aan die manier waarop die Bybel oor God praat – een Wese, en tog drie Persone wat afsonderlik óók God genoem word: Vader, Seun en Gees. Nêrens in die Bybel word dit in soveel woorde verduidelik nie, maar op talle plekke, soos ook hier in vers 13-17, word God as ’n drie-enige Wese bely. God is nie net op ’n enkele manier, as ’n enkele Persoon, by ons lewens betrokke nie, maar op ’n drievoudige manier. Die Vader het ons uitverkies om gered te word, bemoedig ons en gee ons hoop (vers 13 en 16). Die Seun laat ons deel in sy heerlikheid en sterk ons in die geloof (vers 14 en 16). En die Gees heilig ons (vers 13).
As gelowiges het ons ’n kragtige, sorgsame, aktiewe God wat oor ons waak. God is gans anders as die vae begrip van ’n “hoër mag” waaraan baie moderne mense vashou.