Hoofstuk van die dag: Prediker 6

’n Man kan honderd kinders hê en baie lank lewe, maar hoe oud hy ook al word, as hy nie die goeie dinge kan geniet nie en nie eens in ’n graf begrawe word nie, is ’n doodgebore baba beter daaraan toe as hy. (vers 3)

In hoofstuk 5 het ons gesien dat die lewe ’n gawe van God is. In hierdie hoofstuk redeneer die Prediker verder oor hierdie saak. Volgens hom is dit pateties as ’n mens nie die lewe kan geniet nie.
Dit beteken nou nie dat ons moet eet en drink en vrolik wees, want môre sterf ons nie (Pred 8:15). Want in Pred 8, soos in Pred 6, gaan dit om die lewe te geniet as ’n gawe uit God se hand. Jy beskik nie oor die lewe nie, en dis nie jou plek om met God daaroor te redeneer nie. Jy is net ’n mens (vers 10).
Dit pas ons dus nie om ons teen God te verhef en ons vuiste na die hemel te bal nie. God is buitendien nie ’n wrokkige God nie. Vir dié wat Hy liefhet, is Hy die liefdevolle Vader wat sorg (vgl Ps 127:2).




Hoofstuk van die dag: Prediker 5

Ek het ook iets gesien wat goed is: dit is aangenaam om te eet en te drink en die lewe te geniet onder al die geswoeg op hierdie wêreld. Dit kom ’n mens toe vir die hele leeftyd wat God hom skenk. (vers 17)

In hierdie verse herinner die Prediker ons daaraan dat die lewe nie nét sleg is nie. Daar is baie om te geniet; trouens, die goeie dinge in die lewe is God se geskenk aan ons.
’n Mens kan deur die lewe gaan en in alles die slegte sien (soos die Prediker oorvloedig uitwys). Jy sal nie hoef te soek na dit wat verkeerd is nie. Die lewe is immers nie regverdig nie. Jy kry dikwels nie dit wat jou toekom nie. Ons leef in ’n gebroke werklikheid. Maar dit bring jou niks in die sak om daaroor te sit en tob nie. Dit maak jou net moeg en moedeloos en suur en boonop slegte geselskap vir ander.
Daarom, fokus op die goeie en geniet dit as ’n gawe van God. Daar is soveel om jou om te waardeer, as jy dit net kan raaksien. Dit maak jou lewe vol van die blydskap wat God gee (vers 19).




Hoofstuk van die dag: Prediker 4

’n Handpalm vol rus is beter as ’n dubbele hand vol inspanning, en ’n gejaag na wind. (vers 6, 2020-vertaling)

Partykeer sukkel ’n mens om te verstaan wat die skrywer bedoel. Die Good News Bible het my hier gehelp. Dit vertaal vers 4 tot 6 só (en ek vertaal dit vryweg oor in Afrikaans): “Ek het ook geleer hoekom mense so hard werk om sukses te behaal: dit is omdat hulle afgunstig is op hulle bure. Maar dit is tevergeefs. Dit is soos om die wind te jaag. Hulle sê enigiemand sal dwaas wees as hy sy hande vou en sodoende homself van honger laat sterf. Dit mag wees, maar dit is beter om net ’n bietjie te hê met vrede in jou hart, as om die hele tyd besig te wees met beide hande in ’n poging om die wind te vang.”
Dis natuurlik die siekte van ons tyd – om altyd besig te wees en nooit tot rus te kom nie. Die Prediker is reg. “Keeping up with the Joneses” is inderdaad ’n gejaag na wind. ’n Lewe waar rus sy regmatige plek het, is immers God se plan. Dis hoekom Hy ons beveel om een dag ’n week te rus (Eks 20:10).




Hoofstuk van die dag: Prediker 3

Ek het tot die insig gekom dat wat God doen, blywend is: jy kan daar niks byvoeg nie en jy kan daar niks van wegneem nie. God doen dit sodat die mens vir Hom ontsag sal hê. (vers 14)

Met die eerste oogopslag lyk dit of die prediker vir ons wil sê dat niks wat ons doen, regtig ’n verskil maak of saak maak nie. Uiteindelik sal God se wil geskied. So, as niks bygevoeg of weggeneem kan word van God se werk nie, hoekom sal ons enigsins iets doen?
Ons moet onthou dat God gekies het om deur ons, die mense, sy werk te doen. Ons is sy werktuie. Ons is nie marionette wat sonder enige wil beweeg soos Hy beveel nie. Ons is ook nie parasiete wat maar net sit en sy gawes opgebruik nie. Nee, ons is sy agente, geroep om die aarde te bewerk en op te pas, gekies om aan sy kerk te behoort en sy Raadsplan vir die wêreld te verkondig, begenadig sodat ons die genade wat ons van Hom ontvang, kan aangee aan ander.
Die prediker nooi ons dus hier uit om ons drome, ons doelwitte en ons talente te laat inpas in God se groter plan. Agente van God. Wat ’n voorreg!




Hoofstuk van die dag: Prediker 2

Dit is nie aan die mens self te danke dat hy kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet nie. Ek het ingesien dat dit ’n gawe uit die hand van God is. (vers 24)

In die eerste 11 verse van hoofstuk 2 gebruik die prediker die woorde “ek”, “my” en “myself” meer as veertig keer! Dit sê iets van sy gerigtheid – alles het om homself en sy eie plesier en vervulling gedraai.
Dis iets wat ’n mens al hoe meer in die moderne lewe ook sien. Ander se behoeftes tel nie; net ek en myne. “Moenie dat ander vir jou voorskryf hoe jy jou lewe moet leef nie,” is raad wat goed by hierdie soort leefstyl inpas.
Dié soort lewensingesteldheid het sy oomblikkie, maar is op die lange duur leeg en bring geen blywende vreugde nie. Dis alles niks, ’n gejaag na wind (vers 11).
Maar daar is ’n beter manier, vertel die prediker ons, en dit het alles met God te make. God is nie so ’n wrede baas soos wat genot is nie. Met Hom in jou lewe kry die lewe sin; ontdek jy vreugde en vervulling.
God, of genot? Jy moet kies. Jy kan nie albei najaag nie.




Hoofstuk van die dag: Prediker 1

Sinloos, volslae sinloos, sê Prediker, sinloos, volslae sinloos; alles is sinloos! (vers 2, 2020-vertaling)

Ons weet nie wie die skrywer van die boek is nie. Hy gebruik Salomo as sy mondstuk, waarskynlik omdat koning Salomo bekend was daarvoor dat hy ’n baie wyse man was. Waarskynlik is die boek heelwat later as die tyd van koning Salomo geskryf.
Om die gedagtegang van die prediker te volg, is dit belangrik om die sleutel wat hy gebruik, raak te sien – “onder die son” (2020-vertaling) of “in hierdie wêreld” (1983-vertaling) is ’n uitdrukking waarmee hy die lewe beskryf waarin God nie teenwoordig is nie (bv. vers 3,9,14 …)
Die prediker kyk na die wêreld om hom en kom tot die gevolgtrekking dat alles sinloos of tevergeefs (1953-vertaling) is. Die lewe is soos ’n damp wat jy probeer vasgryp, maar op die ou end sit jy met leë hande. Die lewe is vlietend, vlugtig, verganklik. Dit kom tot niks (1983-vertaling). Dís hoe die wêreld geword het ná die sondeval.
Daar is ook ’n ander opsie: om die lewe as ’n gawe uit die hand van God te geniet (2:24).
Ons kan nie van die vlietendheid van die lewe ontsnap nie, maar ons kan wel kies hoe ons dit leef.