Hoofstuk van die dag: Psalm 20

Mag die Here u gebed verhoor op die dag van nood, mag die Naam van die God van Jakob u beskerm. (Ps 20:2)

’n Mens kan die werkwoorde wat in verse 2-5 as wense uitgespreek is, ook as stellings vertaal. Dan word dit: Die Here sal u gebed verhoor; die Naam van die God van Jakob sal u beskerm; Hy sal u te hulp kom en bystaan; Hy sal u graanoffers onthou; Hy sal u gee wat u hart begeer en al u voornemens laat geluk.
Jy kan as kind van God hierdie stellings vir jouself toeëien. Jy mag en moet jou hulp en troos by die Here soek. Hy is groter as Satan of siekte of benoudheid of gevaar, soos Paulus ons in Rom 8:31-39 verseker. Weet dit, en kom tot rus.
Die keersy van hierdie versekerings is dat dit nie los staan van jou eie verantwoordelikheid nie. Na die mate wat jy op Hom fokus as Here van jou lewe, na dié mate sorg Hy vir jou.
Sê dit saam met die psalm (vers 8,9): “Ék, ek vertrou op die Naam van die Here my God. Daarom sal ek regop en vas bly staan.” En kom tot rus.




Hoofstuk van die dag: Psalm 19

Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees, Here, my Rots en my Verlosser. (Ps 19:15)

Daar is mense wat die Bybel lees en sê: Dis interessant, maar dis darem ’n bietjie dik vir ’n daalder. Ander, soos die digter van Ps 19, kyk na God se wêreld en lees God se Woord, en kniel in nederige verwondering voor die Skepper van die wêreld en die Bybel en bely: Wat ’n wonderlike God!
Psalm 19 wil ons laat verstaan dat God se Woord daar is om ons te help om in vreugde voor God te lewe as heel mense. Dit wil ons wysheid gee, koers gee, insig gee, bewaar van dwaling. Daarom is die Bybel ’n kosbare boek, soet op die tong (vers 11).
Mense dink te veel van hulleself, te veel van hulle eie vermoëns en insigte. Daarom dat hulle dit waag om hulleself teen God en teen sy Woord op te stel. Dis ’n gevaar waaraan ons almal blootgestel is. Die Psalmis weet dat ook hy nie gevrywaar is van dié versoeking nie, en daarom bid hy aan die einde dat sy woorde en gedagtes iets van sy ontsag vir God sal weerspieël (vers 15).
Bid jy dit ook vandag!




Hoofstuk van die dag: Psalm 18

Hy het sy pyle afgeskiet en die vyand uitmekaar gejaag, hulle met ’n menigte weerligstrale op loop gejaag. (Ps 18:15)

In dié danklied prys Dawid die Here wat vir hom uitkoms bewerk het (vers 7). In sy beskrywing van hoe God hom gehelp het, lees ons van ’n geweldige donderstorm met hael en weerlig (vers 13).
Ek wonder hoe mense vandag so ’n situasie sal beskryf waar ’n natuurverskynsel hulle situasie omgekeer het. Ek vermoed baie sou sê: “Gelukkig het ’n donderstorm losgebars, net mooi toe ek gedink het dis klaarpraat met my.” Dis nie wat Dawid sê nie. Hy jubel daaroor dat God in die storm teenwoordig was en dat Hy sy hand uitgesteek het om hom te red (vers 17).
Goed, ons weet vandag baie meer wat weerverskynsels veroorsaak, maar dit maak die natuur nie skielik ’n outonome mag nie. Agter natuurverskynsels en ander “toevallighede” kan ons, nee, móét ons God se aktiewe betrokkenheid in ons lewe sien. Dan sal ons ook, soos Dawid, kan bely dat Hy Hom getrou betoon aan die getroue (vers 26). Hý is die Een wat ons in staat stel om al die uitdagings van die lewe die hoof te bied (vers 33).




Hoofstuk van die dag: Psalm 17

Toon u wonderlike trou, U wat almal help wat vir hulle vyande by U skuil. (Ps 17:7)

Dit gaan nie noodwendig voor die wind met gelowiges nie, al wil die voorspoedsteoloë ons dit laat glo. Daar is ook tye van swaarkry. Ons lewe in ’n wêreld waar jy letterlik nie jou lewe seker is nie. Ons lees nie net daarvan in die koerant nie; elkeen van ons het op persoonlike vlak al met die Bose en met booswigte te doene gekry. Dit beteken nie dat God afwesig is, of nie omgee nie. Hy wil ons immers beskerm soos ’n hen haar kuikens (vgl Jesus se woorde in Matt 23:37).
Ons lewe nou eenmaal in ’n gebroke wêreld waar die gevolge van die sonde ons almal raak. Dit het God óók geraak. Sy eie Seun is vermoor omdat God omgee vir sy kinders, vir jóú. Jesus het as ’t ware voor jou ingespring om die booswigte se koeëls met sy eie liggaam te keer. Sy troue liefde omvou jou ook (vers 7).
Wie is hierdie booswigte waarvan die psalmis praat? Dit kan die inbreker in jou huis wees, of die gladdebek-swendelaar, of selfs jou vriend; enige iemand. Onthou vir Judas Iskariot!
Skuil daarom, soos die psalmis, daagliks by God.




Hoofstuk van die dag: Psalm 16

U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is. (Ps 16:11)

Oorvloedige blydskap by God. Dít is mos die evangelie! Dít is waarvan Christus ons verseker in sy laaste woorde in Matt 28:20, net voor Hy hemel toe is: “Onthou, Ek is by julle al die dae …” – By ons om ons te leer, die pad te wys, die koers aan te dui, rigting te gee, soos die digter in vers 11 sê: “U leer my hoe om te lewe”; maar ook om ons te beskerm (vers 10).
Hy maak dat ons veilig is, Hy hou ons vas wanneer ons siek is, wanneer ons finansies druk, wanneer daar spanning in die huwelik is, as ek nie meer raad weet met my opstandige kind nie, as dinge by die werk of die skool net nie wil uitwerk nie, dan is Hy daar om te sorg, te beskerm – ook dán kan ons weet: Die lewende Here is by my! Ook vir die sorge van elke dag, vir kos en klere en huis en werk, ook hiervoor sorg die Here, soos Hy vir die digter gesorg het in sy nood.
Dis mos rede om te juig en bly te wees!




Hoofstuk van die dag: Psalm 15

Hy wat onberispelik wandel en doen wat reg is, wat met sy hele hart die waarheid praat … (Ps 15:2)

Oor die jare het twee ekstreme standpunte ontwikkel as antwoord op die vraag van die digter in vers 1. Aan die een kant was daar mense wat die heiligheid van God só beklemtoon het dat gewone sterflinge gevoel het dis onmoontlik om God in gebed te nader. Aan die ander kant was daar weer mense wat die vrye toegang tot God (Rom 5:2) só oorbeklemtoon het, dat die bidder sonder skroom of nadenke in die teenwoordigheid van God getree het, asof dit iets alledaags is.
Die waarheid, sê die digter, lê iewers tussen-in: ons hét wel toegang tot God in gebed (vers 2), maar dit moet steeds met huiwering, skoorvoetend gedoen word, met die nodige voorbereiding en ontsag (vers 3-5b).
Aanbidding is ons voorreg en opdrag, en ons kan met vrymoedigheid tot God nader (vgl Heb 10:22 en Jak 4:8). Bely daarom opnuut weer in gebed jou geloof in, en verbondenheid aan die Here. Besluit dan wat in jou lewe jy sal moet verander sodat jy met vreugde in die Here se teenwoordigheid kan leef.