Hoofstuk van die dag: Rigters 4

In daardie tyd was Debora, die vrou van Lappidot, die leier van die Israeliete. (vers 4)

Om regtig te verstaan hoe dramaties en verrassend anders hierdie verhaal is, moet ons kyk na die destydse kultuur. Dit was een waar die vrou se plek in die kombuis was, punt. ’n Vrou het geen regstatus gehad nie en is as minderwaardig beskou. Dit was immers ’n vrou (Eva) wat sonde en ellende in die wêreld ingebring het, het hulle redeneer. Wat ons verder moet weet, is dat die Keniete (vers 11) nie Israeliete was nie, maar Midianiete.
Desondanks verlos die Here Israel deur twee vroue. Debora was ’n rigter en profetes. Jael was ’n Keniet. En tog was húlle die werktuie van God se redding. Want God kyk anders na mense as wat ons dikwels doen. Ons takseer mense op hulle baadjie en ken geykte rolle aan mense toe. Dié een is te sus en daardie een weer te so. Maar God deurbreek hierdie vooropgestelde kategorieë waarmee ons mense in hokkies plaas.
Jesus se optrede teenoor vroue was ook so. Hy het Hom nie gesteur aan sy tyd se vooroordele nie. Daarom was vroue van sy getrouste volgelinge.
My en jou roeping is om God hierin na te volg.




Hoofstuk van die dag: Rigters 3

Toe het hulle tot die Here geroep om hulp, en Hy het ’n redder vir hulle na vore laat kom … (vers 15)

Twee feite staan vir my uit. Die een is die dodelike houvas van sonde en afvalligheid. Dis soos ’n herhalende tema. In hierdie hoofstuk staan dit twee maal (vers 7 en 12): “Die Israeliete het (weer) gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here …” Sonde klou soos ’n neet aan ons vas, en dis nie so maklik om sy versoekings te weerstaan nie.
Die ander feit is God se oneindige geduld. Ondanks alles tree Hy telkens vir Israel in.
Die verteller wys ons daarop dat God die ander volke toegelaat het om Israel te verdruk, en hulle gebruik om Israel te leer dat hulle Hom nodig het (vers 1,2 en 4). Dis vandag nog hoe die Here werk. Hy laat dinge en mense in ons lewens toe sodat ons telkens weer ons oë na Hom kan draai.
Ons het egter ’n groot voordeel bo oud-Israel. Die Here het sy Gees vir ons gegee om ons te help om aan Hom vas te hou. Die Gees werk nie meer net in sekere mense soos die rigters nie (vers 10). Hy werk in ons almal. In jou ook.




Hoofstuk van die dag: Rigters 2

Al die mense van sy leeftyd het gesterf, en die volgende geslag se mense het nie die Here geken nie. Hulle het ook nie geweet van sy groot dade wat Hy gedoen het om vir Israel te help nie. (vers 10)

Hier is rooi ligte net waar jy kyk. En dit begin by die huis. Die ouers het nie hulle geloof en geloofskennis aan hulle kinders oorgedra nie, met die gevolg dat Israel binne een geslag heidene geword het. Hulle het nie die Here geken of veel van Hom geweet nie.
Dit was Israel se probleem. Oor en oor word hulle gevra om met hulle kinders te praat (Eks 10:2, 13:8, Deut 4:9), maar dit het nie gebeur nie.
Dit is uiters ontstellend. Ek het dit as predikant ook beleef dat ’n familie binne een geslag kerkloos en Godloos word. Dit is, helaas, ook dikwels my ervaring in die kategeseklas. Baie kinders weet so min van God, dis om van te huil.
As God en jou geloof in Hom en jou getuienis oor wat Hy in jou lewe beteken, nie deel van jou gesprekke in die huis is nie, kan dit gebeur dat jou kinders besluit God is nie regtig belangrik nie. En dan is die skrif aan die muur.




Hoofstuk van die dag: Rigters 1

Die mense van Aser het tussen die Kanaäniete wat daar gebly het, gaan woon, want Aser het hulle nie verslaan nie. (vers 32)

Die boek Rigters begin waar dit groot veggeneraal Josua dood is. Soos dit ongelukkig dikwels gaan, kom daar ná ’n tyd van groot sukses en oorwinning ’n tyd van kwesbaarheid. Mense verslap hulle waaksaamheid. Dit kan tot heelwat probleme en selfs verval lei.
Dit is die verhaal van die Rigtertyd, wat ook al Israel se Donker Eeue genoem is. Morele en maatskaplike anargie tree in, en die kern van die probleem was dat gehoorsaamheid aan God en sy wet ontbreek het. Elkeen doen wat reg is in sy eie oë (Rig 21:25).
Ons sien die verval reeds in hoofstuk 1, waar die stamme nie daarin kon slaag om die land behoorlik te verower nie. Berig ná berig vertel die verhaal, en hierin het die kiem van hulle probleme gelê. Die ander volke se vreemde kultuur en afgodsdiens het uiteindelik vir Israel ’n te groot versoeking geword. Dit het Israel van God afvallig laat word.
Die waarskuwing van hierdie hoofstuk is dat ’n mens nie saam met goddeloosheid kan leef en dink jy gaan ongeskonde anderkant uitkom nie.




Hoofstuk van die dag: Inleiding tot die boek Rigters

Kyk gerus na hierdie skitterende (maar ook ontstellende) uiteensetting van die boek Rigters: