Hoofstuk van die dag: Romeine 13

Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit. (vers 8)

Die wet van God is daar om ons te help verstaan hoe ons moet leef, te midde van verskille en diversiteit. Ongelukkig is daar te veel Christene wat nie met liefde nie, maar met ’n vreemde arrogansie hulle geloofstandpunte in ander se kele wil afdruk.
Ons taak is nie om soldate vir Jesus te wees wat ander moet oorwin nie. Ek lees nie dat die Here Jesus dit ooit gedoen het nie. Om die waarheid te sê, Hy het Petrus ernstig berispe toe dié ’n swaard uitgepluk het (Matt 26:52).
Geweld van watter aard ook al behoort nie deel van ’n gelowige se optrede te wees nie. Jesus sê ons enigste wapen teen die Bose en teen ongeloof is die liefde: as ons liefhet, sal almal weet dat ons sy dissipels is (vgl Joh 13:35). Dis iets van dié woorde wat Paulus in vers 8 eggo.
Ons antwoord op mense wat anders as ons dink en glo, is die liefde. Lééf jou geloof. Wees die boodskap dat God die wêreld en al sy mense oneindig liefhet. Dít is wat ons ander skuld.




Hoofstuk van die dag: Romeine 12

Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. (vers 1)

Die Woord sê ons godsdiens, ons erediens, bestaan daarin dat ons onsself as lewende en heilige offers aan God gee. Ons diens aan die Here behels nie maar net ’n paar dinge wat jy elke dag of elke week moet doen nie, soos kerk toe gaan en stiltetyd hou en dankoffer gee nie. Dit omsluit ons hele lewe van dag tot dag. Ons hele lewe moet ’n erediens wees.
Wat gebeur as jy jouself weggee (vers 1)? Jy word God se besitting, sodat Hy jou beheer en jou hele lewe bepaal. Dan kan jy nie doen wat jy wil nie, want jy is God s’n, en jy doen wat Hý vra. Alles wat jy is en het, behoort dan aan God.
Hoe doen jy dit? Die Bybel sê: Ons moet verander. Want ons is nie vanself lewende heilige offers vir God nie. Jy sal weet dat dit onmoontlik is om te verander. Maar God kan dit doen (vers 2).
Gee jouself weg vir God, en gee Hom dan die kans om jou lewe te beheer en te verander! Dít is egte godsdiens.




Hoofstuk van die dag: Romeine 11

As God eenmaal aan mense sy genadegawes geskenk en hulle geroep het, trek Hy dit nooit weer terug nie. (vers 29)

Baie gelowiges het ’n geliefde wat nie (meer) glo nie. Dit is natuurlik ’n baie hartseer saak, en dit kan jou paniekerig maak as jy dink dat hy of sy nie saam met jou in die ewigheid sal wees nie. En dit is inderdaad so dat iemand wat Christus as Here verwerp (vir sover ons God se Raad kan verstaan), nie die ewige lewe sal smaak nie (Joh 3:36).
Gelukkig is dit nie die laaste woord nie. Paulus gee vir dié wat treur oor geliefdes wat nie glo nie, ’n sprankie hoop as hy ons daaraan herinner dat God nooit sy genadegawes terugtrek nie. Selfs die Jode wat Jesus gekruisig het, is hierby ingesluit.
In die Dordtse Leerreëls 1.11 bely ons dit só: “God self is alwys, onveranderlik, alwetend en almagtig, en daarom kan sy daad van uitverkiesing nie ongedaan gemaak, oorgedoen, verander, herroep of afgebreek word nie. Die uitverkorenes kan ook nie verwerp of in getal verminder word nie.”
Daar bly dus altyd hoop! Moenie ophou bid en ophou liefde gee vir hulle wat die spoor byster is nie.




Hoofstuk van die dag: Romeine 10

As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. (vers 9)

Die Jode het destyds geglo jy kan jou plek in die hemel verseker deur genoeg goeie dinge te doen (vers 3). Paulus trek ’n streep deur dié idee. Niks wat jy doen, kan jou in die hemel bring nie. Dit is wensdenkery om te dink jy kan God se hart sag maak deur jou vroom lewe.
Daar is net een manier, en dit is deur te glo dat Jesus Christus vir jou sondeskuld betaal het. Sy offerdood aan die kruis het al jou sondeskuld weggevee. “Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie” (vers 11).
Dis nie so dat jou lewe op die oordeelsdag soos ’n rolprent voor jou sal afspeel nie. Want ons oordeel hét al gekom: op Golgota. Daar het ons almal se skuld op Jesus afgekom. Dít is wat ons moet bely: dat ons Jesus nodig het. Dít is wat ons moet glo: dat sy dood ons sondeskuld betaal het; dat Hy Satan en sonde oorwin het aan die kruis, en daarom kon opstaan uit die dood as die groot Oorwinnaar.
Glo jy dit?




Hoofstuk van die dag: Romeine 9

Die besluit van God is gegrond op uitverkiesing; dit hang dus nie af van wat ’n mens doen nie, maar van Hom wat jou roep. (vers 11-13)

Wanneer die Bybel oor die uitverkiesing praat, is dit met verwondering. Dit gaan immers oor die wonder dat ons, wat sondaars is en niks by God verdien nie, dat juis óns deur Hom gered is. In die Bybelse spreke oor die uitverkiesing juig die gelowige oor God se liefde wat so groot is dat Hy sy enigste Seun nie gespaar het nie, maar Hom oorgelewer het om ons almal te red (Rom 8:32; vgl Joh 3:16).
Die uitverkiesing kan alleen vanuit die geloof verstaan word. Dit kom voort uit die ontdekking dat dit nie jou eie prestasie is dat jy glo nie, maar die werk van God in jou hart, ’n werk wat Hy lank voordat jy dit besef het, al in jou lewe begin het.
Die fout wat ons maak, is om teoreties oor die uitverkiesing te dink. God het nie ’n uittelrympie gebruik om mense te kies nie. Nee, Hy kies en roep mense om in sy diens te staan. Jy is uitverkies om God se werktuig op aarde te wees.




Hoofstuk van die dag: Romeine 8

Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. (vers 14)

God het ons verlos. Nou moet ons as verlostes leef; as die nuwe mense wat God ons gemaak het.
Dis net hier waar ons dikwels vassteek. Jy kan nie God se verlossing ontvang en sê jy is gered, maar jy leef soos altyd en dink nog soos iemand wat nie verlos is nie. Vers 6 (NLV) sê: “As jou sondige natuur jou denke oorheers, lei dit tot die dood.” En in vers 8 staan dat mense wat deur hulle sondige natuur beheer word, nie God se wil kan doen nie. “Want as die sondige natuur julle lewe beheer, gaan julle die dood tegemoet …” (vers 13, NLV)
Die evangelie, die goeie nuus, is dat God ons wil help om nuut te leef. Dis die hele betoog van Romeine 8: Die Heilige Gees is God se geskenk aan ons. Hý help ons om nuut te leef, om te verander sodat ons soos Jesus word, om nuut te dink (vers 5-6).
Augustinus het gebid: “Here, gee wat U vra, en vra dan net wat U wil.” Ons kan ook sê: Gee ons die nuwe lewe, dan sal ons nuut leef.