Hoofstuk van die dag: Rut 4

Die Here het haar swanger laat word, en Rut het ’n seuntjie in die wêreld gebring. (vers 13b)

As jy dié verhaal lees om te sien waar God iets gedoen het in Naomi en Rut se lewe, moet jy lank soek. Ons lees baie van God, maar dis elke keer die mense wat oor Hom praat, soos Naomi ook oor Hom gepraat het, of wanneer mense mekaar die Here se seën toewens. Maar dat Hy self iets doen, dit lees ons nie. Dis eers hier in vers 13, tien verse voor die einde, dat God uiteindelik agter die skerms uitkom en self iets doen. “Die Here het haar swanger laat word, en Rut het ’n seuntjie in die wêreld gebring.”
Of liewer, dis eers hier dat die skrywer ons aandag pertinent op God se optrede vestig. Natuurlik was Hy nie weg tot hier nie, maar Naomi het dit nie besef nie, sy kón dit nie sien nie, want sy was verblind deur haar eie hartseer en probleme.
God is nie weg nie. Hy is aan die werk op baie verskillende maniere, deur omstandighede, deur dinge wat oor jou pad kom, deur die mense vet wie Hy jou omring. Moenie dit miskyk omdat jy sit en wag op ’n wonderwerk nie!

_Naskrif:_ Môre begin ons weer Psalms lees. Ons gaan aan by Ps 81. Seënwense!




Hoofstuk van die dag: Rut 3

Was jou, maak jou mooi en trek jou netjies aan en gaan na die dorsvloer toe. […] Dan gaan jy soontoe en kruip by sy voete in. (vers 3-4)

Naomi se plan is eenvoudig: Rut moes stilletjies in Boas se bed gaan klim en haarself vir hom aanbied. Die feestelike stemming by die oes-af fees sal vir die res sorg. As Boas by Rut slaap, was hy moreel (en wetlik) verplig om met haar te trou.
Naomi het haar vertroue dat God sake reg sal reël, verloor. Vir haar was God nie ’n hulp nie, maar ’n vyand (Rut 1:21). En daarom sien sy nie kans om haar lot in God se hande te los nie.
Dis ons dilemma. Ons kan nie vooruit seker weet dat God sake sal reël soos óns dit wil hê nie. Moenie dan kortpaaie vat soos Naomi nie! Boas het ook nie geweet wat sou gebeur nie. Daarom sê hy (vers 13): “As hy dan moreoggend bereid is om as jou losser op te tree, goed …”
Wat is goed daarin? Dat dit Gód se besluit is, en nie joune nie. Dat Hý beskik. Paulus sê hieroor (Rom 8:28): “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet …”




Hoofstuk van die dag: Rut 2

Sy het toe geloop om in die land te gaan are optel agter die graansnyers aan. Sy het uitgekom by dié deel van die land wat behoort het aan Boas, die familielid van Elimelek. (vers 3)

Toe Rut by die voordeur uitstap, het daar nie ’n waentjie vol brood op haar gewag nie. God se guns werk meestal nié so opspraakwekkend nie. Meestal werk Hy agter die skerms waar ons Hom nie sien en dikwels ook nie verwag nie. Maar dit beteken nie dat Hy afwesig is nie. Om die waarheid te sê, elke toneel van hierdie verhaal jubel dit uit dat God in beheer is en vir sy kinders sorg en voorsien, maar nêrens tree Hy op die voorgrond nie. Nêrens lees ons van manna uit die hemel of kwartels, of water uit die rots nie. Dit kan Hy natuurlik óók doen. Maar meestal doen Hy dit nié.
Hy voorsien op ’n ander manier. Hy sorg dat Rut “toevallig” by Boas se land uitkom. Hy sorg dat Boas “toevallig” juis op daardie dag gaan kyk hoe dit met die oes vorder.
God se genade vir Rut en Naomi se naam is Boas. Boas is die een wat die daaglikse brood waarvoor Rut en Naomi gebid het, voorsien.




Hoofstuk van die dag: Rut 1

My lewe was vol toe ek hier weg is, maar die Here het my leeg laat terugkom. Waarom noem julle my nog Naomi? Die Here het dan teen my gedraai, die Almagtige het ’n ramp oor my gebring. (vers 21)

Naomi was aan die ontvangkant van ramp op ramp. En die ergste van alles is dat Naomi nie net alles en almal wat vir haar dierbaar is, verloor het nie – God is afwesig. Hy het teen haar gedraai, sê Naomi.
Hoe beleef jý vir God in jou krisis? Dat Hy afwesig is, of dalk jou vyand geword het? Wil jy ook jou vuis in die lug bal omdat die hemel vir jou leeg geword het? Of hou jy net op om te bid en op om te glo, omdat dit tog nie help nie?
Natuurlik was God nie afwesig nie. Naomi het net op die verkeerde plekke na Hom gesoek. As Naomi beter verstaan het hoe God werk, sou sy dalk vir Rut raakgesien het. Sy het verwag Hy moet vir haar sorg deur alles reg te dokter. Maar God se sorg kom dikwels uit ander oorde as wat ons verwag. Deur mense soos Rut wat bereid is om die laste van ander te dra (Gal. 6:2).




Inleiding tot die boek Rut

Kyk gerus na hierdie skitterende uiteensetting van die boek Rut: