Hoofstuk van die dag: Sagaria 14

Daarna sal die Here teen daardie nasies gaan oorlog maak net soos op die dag toe Hy destyds die oorlog gevoer het. (vers 13)

Baie van ons het grootgeword met die idee dat daar aan die einde van die tyd ’n groot verdrukking sal aanbreek. Van die uitsprake in die Ou Testament (soos hier) en Openbaring word dan genoem, asook Jesus se profetiese rede (o.a. Matt 24). Hiervolgens sal oorlog, vervolging en kosmiese ontwrigting die wederkoms voorafgaan.
Hierteenoor het ons, óók uit die woorde van Jesus (Matt 24:36-44), ’n prentjie van ’n normale samelewing, waar mense hulle gewone gang gaan, wanneer die wederkoms aanbreek.
Ons moet onthou dat ’n profesie soos ’n teleskoop werk. Dinge wat ver weg is, lyk skielik naby en selfs by mekaar. Die kyker kan nie noodwendig die afstand tussen dinge skat of onderskei nie. Net so kan die profeet nie weet presies hoe dinge sal verloop, of hoe lank uitmekaar goed gaan gebeur nie.
Die verantwoordelike verstaan van hierdie dinge is dat ons nou al in die laaste dae leef. Ons moenie wag (of bang wees) vir groot ontwrigting of vervolging nie; Jesus kan enige dag kom en die nuwe hemel en nuwe aarde kom vestig. Ons moet gereed wees daarvoor, nou al.

Naskrif: Môre begin ons (DV) met die boek Filippense.




Hoofstuk van die dag: Sagaria 13

Dwarsoor die land, sê die Here, sal twee derdes van hulle uitgeroei word en omkom. Daar sal net ’n derde van hulle oorbly in die land… (vers 8)

Dit is ’n hartseer feit dat nie almal wat deel van die kerk is, dit gaan maak nie. Twee derdes sal wegraak (vers 8). Dié wat oorbly, sal gelouter en gesuiwer word (vers 9).
Dis nie hoe ons dink nie. Ons is geneig om inklusief te dink, asof almal dit behoort te maak. God is egter eksklusief as dit by sy kinders kom. Daarom gaan die meeste dit nie maak nie. Dié gedagte het die Here Jesus ook onderstreep met sy uitspraak oor die breë en smal pad (Matt 7:13-14).
Dalk moet ons ons stem helderder laat hoor en minder polities korrek wees. Dit is so dat die oordeel ons nie toekom nie, en dat die Here Jesus gesê het ons moet die onkruid laat staan tot die koring ingesamel word (Matt 13:24-30), want ons weet eenvoudig nie wie almal aan God behoort nie. Maar sonde is afskuwelik in God se oë, en ek glo dis tyd dat ons ophou om anderpad te kyk as ons buurman of vriend dinge doen wat nie rym met die evangelie nie.




Hoofstuk van die dag: Sagaria 12

Dan sal die leiers van Juda vir hulleself sê: “Die krag van die inwoners van Jerusalem lê in hulle God, die Here die Almagtige.” (vers 5)

In Sag 12 begin ’n nuwe deel van die boek. Die profeet praat oor die eindtyd, en lig ons oë op, verby die probleme van ons dag. Want probleme is daar genoeg. Dit lyk asof al minder mense in God glo. Kerke loop leeg. Dit lyk asof die boodskap van die Bybel sy impak op mense verloor. Dit lei daartoe dat mense dink ons is in ’n verloorspan.
Sagaria sê: kyk na die eindtelling. Die wedstryd is nog nie verby nie, en ons weet nou al wat die uitslag gaan wees. Die Een wat die uitslag waarborg, is God, die Skepper van alles en van ons (vers 1). Hy het die verlede gemaak, en Hy het ook die toekoms in sy hand.
Die uiteindelike oorwinning lê nie in ons wat so sterk is nie; dit lê in ons God. Hý is die Almagtige (vers 5). Daarom kan ons ons kop optel (vgl Luk 21:28). Ons is aan die wenkant! Ons kan uitsien na ’n tyd wanneer ’n gees van welwillendheid onder mense sal posvat, en ons in harmonie met God en mekaar sal leef.




Hoofstuk van die dag: Sagaria 11

Ook die skape se herders gee vir hulle niks om nie. (vers 5c)

Geleerdes is dit met mekaar eens dat hierdie gedeelte een van die moeilikste dele in die Ou Testament is om te verklaar. Dit het egter heelwat vir ons vandag te sê, ook wat die kerkleiding betref. Swak leiers lei tot verdeeldheid en uiteindelik tot ’n kerk se ondergang.
In simboliese taal praat Sagaria oor ’n tyd waarin elkeen maak soos hy of sy wil, en daar nie goeie leiers is wat dinge bymekaar hou nie. Die leiers dien hulle eie belange en nie dié van die mense wat hulle veronderstel is om te lei nie. Die Here waarsku dat Hy Hom aan só ’n gemeenskap onttrek en hulle aan hulle eie lot oorlaat (vers 6).
Tog probeer God weer. Hy stel sy profeet as die nuwe herder aan. Die kierie “Vriendelikheid” is simbolies van God se toegeneentheid teenoor sy volk. Die ander kierie, “Vereniging”, dui op die gesindheid van eenheid wat onder die lede van die volk van die Here behoort te heers.
Die nuwe herder raak egter moedeloos, want die mense wil nie sy leiding volg nie, en hy gee huur op. Bid dat dit nie ons voorland is nie!




Hoofstuk van die dag: Sagaria 10

Ek, die Here, sal by my volk wees en hulle sterk maak. Hulle sal in my Naam voortgaan. Die Here het dit gesê. (vers 12)

Mense sê soms dis nie nodig om die Ou Testament te lees nie, want ons leef in die tyd van die Nuwe Testament. Dit is egter so dat ons verstaan van wat in Jesus en in die Nuwe Testament gebeur, ingekleur en verryk word deur die Ou Testament.
Ons lees op meer as een plek in die Ou Testament dat God se teenwoordigheid die verskil gemaak het. Op ’n keer, toe God kwaad was vir die Israeliete en gedreig het om Hom aan hulle te onttrek, het Moses vir Hom gesê (Eks 33:16): “Dit is juis deurdat U met ons saamgaan dat ons, ek en u volk, anders is as al die ander volke op die aarde.” God se versekering in vers 12 is nie ’n vanselfsprekendheid nie.
As Jesus dus belowe dat Hy by ons is, al die dae (Matt 28:20) moet ons dit verstaan teen die agtergrond dat God se teenwoordigheid onder sy volk wel in die verlede ’n kwessie was. Jesus se versekering het ’n nuwe era vir God se volk laat aanbreek. Hy is Immanuel! Vandag ook.




Hoofstuk van die dag: Sagaria 9

Ek sal die strydwaens in Efraim vernietig, die perde uit Jerusalem uitroei. Die pyl en boog waarmee oorlog gemaak word, sal gebreek word. Die koning sal vrede vir die nasies afkondig en hy sal regeer van see tot see, van die Eufraat af tot in die uithoeke van die aarde. (vers 10)

Sagaria het in ’n oorlog-deurdrenkte wêreld geleef. Selfs nadat die ballingskap beëindig is, het die Jode gebuk gegaan onder terreur-aanvalle. Geweld was alledaags, en die verarmde nasie kon haarself nie beveilig nie.
In só ’n tyd is Sagaria se profesie merkwaardig. Daar kom ’n tyd wanneer die Here self die oorlogswapens sal vernietig en die koning in vrede, nie met oorlogsgeweld nie, sal regeer.
Ons weet vandag dat dié Koning die Here Jesus is. Matteus 21:5 sê dit uitdruklik. Die Messias-koning het drie eienskappe: Hy is regverdig (in die regte verhouding met God en billik teenoor sy mense), Hy regeer in vrede omdat God vir Hom die oorwinning behaal, en Hy is nederig en gee om vir die geringes en hulpbehoewendes.
Dit is hoe ons die Here Jesus leer ken in die Evangelies. Dis ook hierin wat ek en jy Hom moet volg.