Hoofstuk van die dag: Sagaria 8

Wat julle moet doen, is dit: Praat die waarheid met mekaar, laat die waarheid en die reg geld in julle regspraak sodat daar vrede onder julle kan wees. (vers 16)

Hierdie is ’n onderwerp waarvoor die sprekers in die Bybel net nooit moeg word nie: sosiale geregtigheid as sigbare teken van ’n verloste lewe. Die klem val hier op dinge wat ’n mens teenoor jou naaste doen. Jou sosiale lewe word die ruimte waar jy jou godsdiens beoefen. ’n Lewe van dankbaarheid kan gesien word in die manier waarop mense die waarheid praat, in die manier hoe daar met die waarheid omgegaan word in die hofsake tussen mense. Dankbaarheid word gesien in die manier waarop mense oor mekaar dink, in die betroubaarheid en eerlikheid van mense. Egte vrede tussen mense is die gevolg van die verlossing wat mense van die Here beleef het.
Die Here Jesus het ook hieroor gepraat. In Joh 8:32 het Hy gesê die waarheid maak ons vry, en in Matt 5:37 herinner Hy ons daaraan dat ons woorde van eerlikheid en integriteit moet getuig.
God haat valsheid en rugstekery, sê Hy by monde van Sagaria (vers 17). Dit alleen is genoegsame rede hoekom ons, sy kinders, opreg en eerlik moet leef.




Hoofstuk van die dag: Sagaria 7

Sê vir almal in die land en vir die priesters: Julle vas en treur nou al sewentig jaar lank in die vyfde en in die sewende maand, maar vas julle tot my eer? (vers 5)

Dit is twee jaar ná die naggesigte. Die tweede tempel is byna voltooi, en die mense wil weet of hulle steeds die vasdag moet hou in herinnering van die verwoesting van die eerste tempel. Die Here se antwoord is skerp. Hulle wéét wat om te doen. Dit word al jare vir hulle gepreek (vers 7; vgl Jes 58:1-9).
Ons sit met dieselfde probleem. Ons hoor jare lank die boodskap, maar val alte maklik vas in ’n strakke godsdienstigheid. Kerklidmaatskap en selfs erediensbywoning alleen beïndruk nie die Here nie. Dit moet gepaard gaan met gehoorsaamheid. Gee vir mekaar om (vers 9) en moenie die kwesbares in die samelewing miskyk nie (vers 10).
Dis nie ’n nuwe boodskap nie. Ons kan dit almal uit die kop opsê: Ons moet God en ons naaste liefhê (Jesus se onderrig in Luk 10:27). Wat die Here by monde van Sagaria onderstreep, is dit: Eers as ons liefde vir Hom sigbaar word in ons verhouding en optrede teenoor ons naaste, aanvaar Hy dat ons Hom regtig liefhet.




Hoofstuk van die dag: Sagaria 6

Die engel het vir my geskree: “Kyk, dié wat noord gaan, bring die Gees van die Here daarheen!” (vers 8)

Daar is ’n opvallende ooreenkoms tussen hierdie laaste naggesig en die eerste (Sag 1:8-17). Beide gaan oor perde wat oor die aarde uitgestuur word. Maar waar die eerste gesig veral oor Jerusalem en die stede van Juda gaan, het die laaste gesig die hele aarde in die visier. Die hele aarde, en nie net Juda nie, behoort immers aan die Here (vers 5). Die Here is in volkome beheer. Eers wanneer Hy die bevel gee, kan die strydwaens vertrek om sy heerskappy oor die hele aarde te bevestig.
Die strydwa wat noord gaan, gaan na Babel. Dit neem die Gees daarheen, en bring oordeel én heil – oordeel oor Babel as setel van goddeloosheid, en heil vir die ballinge wat nog daar is. Hy versamel hulle en bring hulle na Juda toe.
Vandag nog kom daar verlossing en oordeel deur die werk van die Gees. Dié wat aan Hom gehoorsaam is, ontvang lewe, maar dié wat hulle teen Hom verset, gaan die dood tegemoet (Rom 8:13). Dié stryd woed ook in ons, want van nature is ons nie bereid om ons deur die Gees te laat lei nie (Gal 5:17).




Hoofstuk van die dag: Sagaria 5

Ek het gevra: “Wat is dit?” en hy het gesê: “Dit is ’n graanmandjie wat aankom.” Hy het bygevoeg: “Dit bevat die sonde van almal op aarde.” (vers 6)

Die sesde en sewende gesig sluit by mekaar aan. Dit handel oor sonde, wat die potensiaal het om die land te verwoes. In die nuwe era waar die Here deur sy Gees werk (Sag 4:6), is daar nie plek vir sonde nie, en dit moet uit die gemeenskap gesuiwer word.
Die twee gesigte beklemtoon dat God ernstig is oor sonde. Die agtergrond vir die sesde gesig is dit: die mense wat met die ballingskap in Juda agtergebly het, het die grond van hulle wat weggevoer is, ingepalm en het nou met vals verklarings en bedrog probeer om dit te behou en nie aan die regmatige eienaars terugbesorg nie. God self reken met hulle af (vers 4).
In die sewende gesig gaan dit in die eerste plek oor sonde, en nie oor mense nie. Sonde en goddeloosheid, nie die sondaars nie, word na Sinar (Babel, simbool van goddeloosheid) verban (vers 11). Daarom kan ons as verlostes lewe, want deur Jesus het God met die sonde afgereken.




Hoofstuk van die dag: Sagaria 4

Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige. (vers 6)

Serubbabel was goewerneur in Jerusalem, en hy het die taak gehad om die tempel te bou nadat dit deur Nebukadnesar verwoes is. Maar die mense se moed was laag, en die bouwerk het min of meer tot stilstand gekom. Met dié naggesig sê die Here sy werk hang nie af van menslike inisiatief en motivering nie. Hy bring sy werk tot stand deur sy Gees wat in mense werk.
Ons moet deeglik van hierdie boodskap kennis neem. Nuwe lewe onder lidmate van die kerk kry ’n mens nie reg met menslike inspanning nie. Kerke en kerkvergaderings kan nie besluit mense moet hulle godsdiens met groter ywer beoefen nie. Allerlei programme en aksies sal ook nie werk nie. As dit so gedoen word, is dit kunsmatig en hou ook nie lank nie. Egte toewyding aan die Here is iets wat deur die Gees in mense bewerk word. Net God kan dit doen. Mense beskik nie oor die mag om die Gees te manipuleer om Hom te laat doen wat hulle graag wil hê Hy moet doen nie.
Ons moet die Gees toelaat om nuwe lewe te bring. Vir jou ook.




Hoofstuk van die dag: Sagaria 3

Ek het die hoëpriester Jesua voor die engel van die Here sien staan, en regs van hom het die Satan gestaan, besig om Jesua aan te kla. (vers 1)

In hierdie gesig is Sagaria in die troonsaal in die hemel, waar hy sien hoedat die hoëpriester Jesua deur Satan by die Here aangekla word. Dit is vir ons ’n vreemde gedagte dat Satan enigsins in die hemel toegelaat is. Maar ons lees ook in die boek Job (1:6-12 en 2:1-8) dat Satan met sy aanklagwerk in die hemel doenig is. En vir Petrus sê Jesus Satan het daarop aangedring om hulle soos koring te sif, maar Hy het vir Petrus gebid dat sy geloof hom nie begeef nie (Luk 22:31-32).
Vandag sal jy verniet na Satan in die hemel soek. Met Jesus se oorwinning oor Satan (met sy versoeking, Luk 4:1-13 en veral op Golgota) is Satan verslaan en vir goed uit die hemel geban. Jesus praat daarvan in Luk 10:18.
Satan het sy staanplek as aanklaer voor God verloor. Hy het niks meer oor jou en my te sê nie; nie vir God nie, maar ook nie vir jou nie. Jy hoef nie na hom te luister of met hom in gesprek te gaan nie. Jy is verlos!