Hoofstuk van die dag: Sefanja 3

Die Here jou God is in jou midde, ‘n held wat verlos. Hy verheug Hom met blydskap oor jou, Hy maak jou stil met sy liefde. Hy sal oor jou juig met jubelkrete. (vers 17, 2020-vertaling)

’n Mens kan dit byna nie glo dat die Here steeds só kan praat nie. As jy die voorafgaande twee hoofstukke lees, is dit immers duidelik dat daar ’n groot skroef los is onder die Godsvolk. En tog! Hy verheug Hom met blydskap oor sy mense – oor jou!
Die woorde van Joh 3:16 kom onwillekeurig by my op: So lief het God die wêreld gehad … Sefanja maak dit nog meer persoonlik. So lief het God vir jóú. Hy juig oor jóú. Of, in die woorde van die engelekoor aan die skaapwagters in Luk 2:14: die goeie nuus is vir die mense in wie God ’n welbehae het.
Te midde van die onrus en die rumoer van ons wêreld maak Hy jou stil met sy liefde.
Ek wil in dié dae stil word voor Hom en sy liefde bedink. En waar daar storms en onrus in my gemoed dwarrel, weet ek: Hy sal my storms stilmaak. Sy liefde sal dit uitwis (vgl 1 Joh 4:18). Hý wis dit uit. Dit is Kersfees!

Naskrif: Ons begin môre met die Evangelie volgens Matteus.




Hoofstuk van die dag: Sefanja 2

Soek die Here, al die nederiges van die land wat sy opdrag uitgevoer het. Soek geregtigheid, soek nederigheid; miskien vind julle ‘n skuilplek op die dag van die Here se toorn. (vers 3, 2020-vertaling)

Ná sy grafiese profesie oor die Dag van die Here in hoofstuk 1 kom Sefanja met die dringende oproep tot bekering (vers 1 en 2), met die belofte dat daar uitkoms uit die oordeel moontlik is (vers 3b). Dié regruk het egter implikasies vir die bekeerde: ’n hernude gerigtheid op die Here en sy wil en ’n doen wat Hy wil hê; ’n strewe na dit wat reg is, en nederigheid.
Bonhoeffer het gewaarsku teen goedkoop genade wat verlossing en die ewige lewe predik, sonder die eis van navolging van die Here Jesus. Bekering is nooit afgehandel nie en ook nie die een en al van Christen-wees nie. Dis ’n proses van daaglikse draai na God, ’n daaglikse soeke na sy wil, ’n voortdurende fokus op wat reg is, ’n sterwe aan jouself.
Christus se offer neem ons sonde weg, maar sy eis van selfverloëning, jou kruis opneem en Hom volg (Luk 9:23) geld steeds vir ons elkeen.




Hoofstuk van die dag: Sefanja 1

Daardie tyd sal Ek Jerusalem met lampe deursoek en die mense straf wat in hulle selftevredenheid dink: die Here doen nie goed óf kwaad nie. (vers 12)

’n Lidmaat het eenkeer vir my gesê sy wil nie in die erediens hoor sy is ’n sondaar nie. Sy wil hoor sy is oulik. Ek het ’n idee dat meer mense so dink. Die Jode het ook so geredeneer. Hulle het hulle skouers opgetrek oor die sonde in hulle midde en in hulle eie lewe. Dis asof hulle wou sê: Waaroor al die bohaai?
Maar God se oordeel is ’n werklikheid, en dit sal nie net die heidene tref nie. God gaan sy hand uitsteek teen Juda en Jerusalem ook, waarsku die profeet (vers 4). Net so het Petrus ook gewaarsku dat God se oordeel by die huisgesin van God sal begin (1 Pet 4:17).
Dis ’n boodskap wat ons vandag baie ernstig moet opneem, al is dit ’n baie ongewilde boodskap. Lidmate wil nie van oordeel hoor nie, en verwag dat predikante net moet preek oor God se liefde en genade, en dat Hy in al ons behoeftes sal voorsien as ons na Hom toe kom. Maar só verloor ons ’n wesenlike deel van God se boodskap.




Hoofstuk van die dag: Sefanja (Inleiding)

Kyk gerus na hierdie kort video oor die boek: