Hoofstuk van die dag: Spreuke 25

Goue appels wat in silwer gemonteer is, so is die regte woord op die regte tyd. ’n Goue ring, goue juwele, so is die wyse vermaning vir wie wil luister. (vers 11-12)

My liewe Jemen
Hoe kosbaar om ’n vriendin soos jy te hê! Dankie vir jou briefie, en veral vir jou vriendelike vermaning.
Jy is natuurlik reg, soos gewoonlik. Ek hét in my brief min laat blyk van die genadige voorsiening van die Here (trouens, ek het niks daarvan laat blyk nie!). En dit terwyl ek wéét dat my rykdom werklik ’n gawe uit God se hand is. Hy het alles wat ek aanpak, met oorvloedige seëninge oorlaai.
Snaaks hoe rykdom ’n mens laat vergeet om Boontoe te kyk, nè? Dit lyk my rykdom het die vermoë om ’n mens se afhanklikheid teenoor God, en ook jou erkentlikheid teenoor Hom, te verweer. Dan klop jy jouself op die skouer asof jou besittings jou eie prestasie is, en nie God se louter goedheid nie. Dit het met my gebeur, maar gelukkig het jy my reggehelp. Baie dankie.
Ek is baie opgewonde oor die vooruitsig dat ek julle al drie een van die dae weer sal sien. Julle teenwoordigheid sal werklik luister aan Rehabeam en Maäka se troue verleen. Dankie dat julle gaan kom.
Terloops, Omar het ook sy gelukwense oor die voorgenome troue gestuur, en geskimp dat hy baie graag die huwelik sal wil bywoon. Hy sal hom wat verbeel!
Dankie dat ek bevoorreg is om jou vriend te kan wees!
Groete vir jou mense. Ek sien julle een van die dae!
Salomo ben Dawid




Hoofstuk van die dag: Spreuke 24

Al val die regverdige hoeveel keer, hy staan weer op, maar die goddeloses word deur rampe vernietig. (vers 16)

Liewe Jemen
Ek verlang daarna om julle weer te sien. Is Adoniram dan nie al byna sewentien nie? Hy is seker al hoogs hubaar, of hoe? Ek is seker die vorste staan tou om hulle dogters aan hom voor te stel.
Intussen het Rehabeam ’n nuwe liefde: Maäka. Sy is die dogter van ’n halfbroer van my, Absalom. Jy onthou miskien, ek het jou vertel van hom, en hoe hy teen my pa ’n staatsgreep beplan het en toe gesneuwel het. In elk geval, Absalom het twee dogters gehad: Tamar, en Maäka, sy jongste. Sy is ’n lieflike kind. Hulle trou oor drie maande, op die 2e Abib. Ek hoop julle sal die huweliksfees kan kom bywoon.
Hier in Israel gaan dit maar ou stryk. Ek raak net ’n bietjie sat vir al die kansvatters wat by my aankom om geld te bedel. Nie dat ek onwillig is om ’n verdienstelike geval te help nie – dit weet jy tog self. Maar met iemand wat te lui is om te werk, het ek min simpatie. Ek het nou wel meer as genoeg, maar dit is nie van agteroor sit en laat slaap nie!
Ek hoor ook van my handelskontakte dat dit nou weer met julle geldsake baie goed gaan. Ek is bly. Ek het geweet julle sal weer uit julle ellende opstaan. ’n Flukse mens kry jy mos nie onder nie.
Groete vir Abimeleg en Adoniram. Sê hy moet maar goed kies tussen die skone geslag, want ’n goeie vrou is wonderlik, maar ’n verkeerde keuse kan die lewe vir jou bitter swaar maak.
Laat weet asseblief of julle by Rehabeam se troue kan wees.
Salomo




Hoofstuk van die dag: Spreuke 23

… wees altyd ywerig om die Here te dien; dan sal jy ’n toekoms hê en jou hoop sal jou nie ontneem word nie. (vers 17-18)

Liewe Jemen
Ek is so bly om te hoor dinge tussen jou en Abimeleg is nou beter as ooit. Ek het geweet dit sal regkom, want ek ken mos vir jou.
Interessant dat jy skryf dat jy die hele tyd geweet het die Here sien alles, en dat dit jou gehelp het om die regte ding te doen. Dis wat vir my so ongelooflik is van die Here se teenwoordigheid. Dit bring geborgenheid, nie waar nie?
Dit kon so anders gewees het. Ek onthou nog goed ’n voorval uit my kinderdae. Ons klein prinsies het ’n verskriklike kwaai onderwyser gehad. Sy bynaam was ou Kats. Ons het baie by my pa gekla oor hom, maar Pa wou niks verkeerds van hom hoor nie. Hy het net gesê as ons nie stout is nie, sal ons nie in die moeilikheid kom nie. In elk geval, ou Kats het die manier gehad om vir ons werk te gee, en dan het hy geloop. En dan sit ons daar in die binneplein, en ons weet ou Kats staan iewers op ’n balkon vir ons en dophou. En bewaar jou siel as jy gesels of iets anders as jou werk doen. Sy bynaam was nie verniet ou Kats nie!
Gelukkig is die Here nie soos ou Kats nie, nè. Hy kyk ook na ons, maar nie om ons vas te trap en te straf nie, maar om ons op te pas en voor te keer as ons op die verkeerde pad is. (Dis nou vir ons wat sy kinders is. Die goddeloses het nie dié voorreg nie; hulle braai in hulle eie vet.)
Koester jou elke dag in die Here se teenwoordigheid, Jemen. Dit bring geborgenheid en rustigheid in ’n gekke wêreld.
Jou geborge vriend, Salomo




Hoofstuk van die dag: Spreuke 22

Ek onderrig juis vir jóú vandag sodat jy op die Here kan vertrou. (vers 19)

My liewe Jemen
Ek is werklik bly dat jy die verhouding met prins Ismael verbreek het voor dit te laat is.
Jy vra hoe dit kon gebeur het dat jy, van alle mense, in so ’n slaggat kon trap. Nou maan ek myself om nie te maklike oplossings vir ’n baie teer saak te gee nie, en jy moet my asseblief vergewe as ek dit mis het.
Miskien moet jy ’n slag vir jouself afvra of jy en Abimeleg nog genoeg moeite doen met julle verhouding. Het julle nie mekaar as vanselfsprekend begin aanvaar en daarom opgehou om te werk aan julle huwelik nie? Of dalk het julle lanklaas iets interessants saam gedoen, en het julle verhouding vervelig geword. Of dalk was julle só besig om weer op die been te kom na julle terugslag, dat julle nie genoeg tyd vir mekaar gemaak het nie.
Hoe dit ook al sy, Satan staan die hele tyd gereed om dit wat mooi en kosbaar is, te verwoes. Jy kan maar aanvaar dat hy enige geleentheid wat mag voorkom, sal aangryp om ’n wig tussen jou en Abimeleg in te dryf. Daarom is dit belangrik dat jy en Abimeleg saam sal bly bou aan julle verhouding. Konsentreer op dit wat jou tot hom aangetrokke gemaak het, en doen weer die dinge wat jy so goed weet hy van hou.
Sterkte met jou huwelik. Ek weet julle sal slaag, en ek weet dat die Here julle sal help. Het Hy dan nie self die huwelik ingestel in Eden nie?
Jou vriend Salomo




Hoofstuk van die dag: Spreuke 21

Wie na reg en liefde strewe, aan hom word ’n vol lewe en eer geskenk. (vers 21)

Liewe Jemen
Ek is dankbaar dat jy jou groot probleem baie eerlik met my gedeel het, en ek wil graag net so eerlik soos jy antwoord. Ek hoop net hierdie brief is nie te laat nie!
Laat ek maar só begin: ek kan baie goed verstaan dat prins Ismael in jou geïnteresseerd is. Jy is immers ’n baie mooi vrou, en intelligent daarby. Ek sê dit nie om jou te vlei nie; jy weet mos dis waar. Om die waarheid te sê, ek moes myself al meermale herinner dat jy ’n getroude vrou is, anders het ek ook toenadering tot jou gesoek! Maar dit is die punt. Jy is ’n getroude vrou, en nie beskikbaar vir sulke avonture nie, hoe opwindend dit ook al mag lyk. Want die opwinding gaan oor, en dan sit jy met die pyn van selfverwyt en skuld teenoor God en Abimeleg. Dis nou as Abimeleg nie uitvind nie. En as hy uitvind, wat dan?
Nee, Jemen, sulke avonture is net nooit die moeite werd nie. En dit is natuurlik sonde.
Ek weet jy het nie daarvoor gesoek nie. Maar jy kán keer dat daar iets van kom. Jy kan nie keer dat daar ’n voël oor jou kop vlieg nie, maar jy gaan beslis nie toelaat dat hy in jou hare nesskop nie! Jy is nie die magtelose slagoffer van hierdie verhouding nie, Jemen. Jy kan, nee, jy móét dit beëindig. Ter wille van jouself, en Abimeleg, en Adoniram, en God! Asseblief.
Ek bid dat die Here vir jou die krag sal gee om sterk te wees.
Salomo ben Dawid




Hoofstuk van die dag: Spreuke 20

Wie kan sê: “Ek is rein, ek is onskuldig, sonder sonde”? (vers 9)

My liewe Jemen
Baie dankie vir jou brief, en vir die wonderlike jenewerhout. Ons orkesleier, Jonatan ben Korag, sê hy het nog nooit sulke puik jenewerhout gesien nie. Hy wil dit gebruik om nuwe harpe en liere te laat maak.
Jy het gevra oor my opmerking dat God gelukkig nie soos ons is nie, want jy sukkel so met jou skuldgevoelens. Ek moet met jou saamstem dat ’n mens se sondeskuld later ’n muur kan word tussen jou en die Here. En dié muur word mos al hoër en dikker, sodat jy later dink daar is geen hoop meer vir jou nie. Ons kan ook nie regtig self iets doen om dié muur te verwyder nie. Gelukkig hoef ons nie, want God belowe dat Hy self dié muur wegvat as ons in berou oor ons sonde na Hom toe kom. Want Hy weet dat ons maar net mense is, en Hy hou dit in gedagte dat ons stof is. My pa het ’n wonderlike psalm daaroor geskryf. Ek sluit ’n afskrif daarvan vir jou by dié brief in.
Daarom: moenie jou sonde vir God wegsteek nie. As jy jou sonde probeer wegsteek, moet jy niks goeds te wagte wees nie; maar as jy jou sonde bely en daarvan afsien, sal jy genade ontvang. Dan kan jy werklik van jou knieë af opstaan en nuut begin, want die sondemuur is weg!
Ons beur dikwels so bitter swaar – en so geheel en al onnodig! – onder ons sondelas, en dit terwyl God wag dat ons met ons sondes na Hom toe moet kom, sodat Hy die las kan afhaal. Dom, nè.
Sterkte en seën met dié saak!
Salomo ben Dawid