Hoofstuk van die dag: Spreuke 19

Wie prys stel op die gebod van die Here, stel prys op sy eie lewe; wie nie omgee hoe hy lewe nie, sterf. (vers 16)

Liewe Jemen
Jy sal ook dink ek kerm die hele dag net al om die een draai, en jy is reg ook, want Rehabeam se dinge bly steeds by my spook. Sy hart is stukkend oor sy vriendinnetjie, maar ek vrees dié verhouding is vir goed verby. Haar pa weier dat daar enige kontak tussen hulle twee is, en het haar nou verloof aan ’n Sidoniese prins.
Ek hoop net Rehabeam leer uit die hele fiasko sy les. ’n Mens kan nie met die sonde speel en dink ’n paar woorde van berou gaan alles weer regmaak nie. Sonde het mos maar die manier om dit wat mooi is, stukkend te breek. Sekere dinge kan nie reggemaak word nie, al het jy ook hoeveel berou, net soos jy nie ’n erdekruik kan heelmaak as hy eers flenters geval het nie.
Ek dink ons sal almal baie versigtiger optree as ons dít mooi besef. Veral ons verhoudings met die mense wat vir ons kosbaar is, is so kwesbaar. Ek verbaas my partykeer hoe mense met ander kan mors en daar niks van dink nie. En dan wonder ek ook hoe God moet voel as ons Hom ignoreer of seermaak – en ons doen dit elke dag! En al wat my dan tot rus bring, is die wete dat God gelukkig nie soos ons is nie. Anders was ons almal verlore.
Dink asseblief maar aan Rehabeam. Hy kry baie swaar.
Groete aan Abimeleg en Adoniram.
Jou vriend vir altyd,
Salomo ben Dawid




Hoofstuk van die dag: Spreuke 18

Die Naam van die Here is ’n sterk vesting; die regverdige vind daar skuiling. (vers 10)

My liewe Jemen
Baie dankie vir jou brief en die raad oor Rehabeam. Dit het vir my meer beteken as wat jy ooit sal weet. Ek sou nie verbaas wees as jy vermakerig of meerderwaardig was oor my ellende nie; ek is dan altyd die een wat presies weet hoe om te maak! Dankie dat ek egte deernis by jou gekry het.
Ek het toe weer met my kind gepraat nadat ek jou brief gekry het, en ons het saam besluit dat daardie deel van die stad vir hom taboe is. Hy het saamgestem dat hy makliker teen die vrou se verleiding kan stry as hy haar nie sien nie. Deur die Here se genade gaan dit op die oomblik nog goed. Maar die sondige drifte is ’n moeilike saak om te beteuel.
Ek het gehoop dinge sal vanself regkom as hy dalk trou, maar die verhouding met die vriendinnetjie wat hy gehad het en oor wie hy nogal erg was, is nou van die baan. Haar pa het gehoor van sy manewales en is glad nie meer so geneë vir die verhouding soos vroeër nie.. Ek sou seker ook so gevoel het as dit my dogter was.
Ek het ook, soos jy my aangeraai het, met Rehabeam gepraat oor sy lewe voor die Here, en hoe hy reken God oor die hele saak sal oordeel. Hy het teenoor my erken dat hy liewer nie daaroor wil dink nie. As hy tog maar met die Here daaroor wil praat! God sál hom help, as hy net by Hom skuil.
Bid tog maar steeds vir hom, Jemen! Daar is soveel mooi dinge in die lewe waarmee hy hom besig kan hou; dinge wat sy karakter sal bou en vir ander iets kan beteken.
Salomo ben Dawid




Hoofstuk van die dag: Spreuke 17

’n Dwase seun is ’n verdriet vir sy vader en bitter smart vir haar wat hom gebaar het. (vers 25, 1953-vertaling)

My liewe vriendin
Ek is bevrees Rehabeam is op ’n verkeerde pad. Destyds nadat hy uit Ammon teruggekeer het, het ek gedink dit gaan beter, maar ek was seker maar soos alle ouers. Ek het my oë vir die werklikheid gesluit, want ek wou nie weet dat hy gruwelik is nie.
Hy het skaars van sy beserings met die strydwa-ongeluk herstel (ek het mos vir jou daarvan geskryf, nè?), en nou dit. Een van my amptenare het my vertel dat hy gereeld by ’n prostituut in die gure deel van die stad opgemerk word. Toe ek hom daarmee konfronteer, het hy eers alles ontken, maar later tog erken dat hy haar besoek. Toe ek verder met hom daaroor praat, het hy in trane uitgebars en gesê hy weet dis verkeerd en dit pla hom verskriklik, maar hy kan nie van haar af wegbly nie. As hy hom weer kom kry, dan is hy by haar voordeur.
Ek is radeloos. Hoekom is sonde tog so aanloklik? Jy weet jy speel met vuur, en jy weet jy gaan jou brand, maar tog doen jy dit. Dis asof ’n mens ophou om te dink as die versoeking oor jou pad kom.
Op die ou end is dit net die Gees van God wat ’n mens in versoekings staande kan hou. Ek bid net dat Rehabeam die Gees sal toelaat om hom te lei, anders gaan hierdie vrou nog sy einde beteken.
Bid asseblief saam met my vir hom, Jemen!
Jou bekommerde vriend,
Salomo ben Dawid




Hoofstuk van die dag: Spreuke 16

Wie ag gee op die woorde van die Here, sal voorspoed geniet; wie op die Here vertrou, met hom gaan dit goed. (vers 20)

My liewe Jemen
Ek kan dit amper nie glo dat Adoniram al ’n volle vyftien jaar oud is nie! Toe ek laas by julle gekuier het, was hy nog so seunskind, en nou is hy ’n jongman! En ’n belowende jongman daarby. Baie geluk. Ek dink jy en Abimeleg het eer van julle opvoedingstaak.
Nie dat dié taak nou verby is nie; elke fase van jou kind se lewe het vir jou as ouer sy eie uitdagings, en ’n mens se kommer oor jou kroos word algaande meer, nie minder nie. Want as hulle eers groot is, dink hulle jy is oud en weet niks. Soos my liewe Rehabeam. Hy jaag altyd so woes met sy strydwa deur die veld. Ek het hom al wie-weet-hoeveel kere daaroor vermaan en gesê hy moet op die pad bly, maar hy weet mos van beter. Toe is hy en ’n vriendin gister weer met die wa stad uit. Laat gistermiddag eers het die vriendin hom hier aangebring, die ene bloed. Sy linkerarm is ook gebreek, sê die dokter. Sy vriendin vertel dat hy haar afgelaai het en toe vir haar gewys het hoe vinnig hy deur die veld kan jaag. Toe hy by haar verbyjaag, het hy na haar gekyk en gewaai, en toe vang die strydwa se wiel ’n groot klip. Ek is net dankbaar by lewe nog.
Maar so gaan dit met die lewe ook as jy rondkyk en nie jou oë op die pad hou nie. Het Eva tog maar destyds gekyk na die goed waarna sy moes kyk! Maar nee, sy kyk toe na die verbode boom se vrugte, en net daar het ons moeilikheid begin.
Leer tog vir Adoniram om voor hom te kyk en die reguit pad te kies.
Jou vriend Salomo




Hoofstuk van die dag: Spreuke 15

Dit gaan altyd sleg met ’n bedrukte mens; die blymoedige mens se hele lewe is ’n fees. (vers 15)

My liewe Jemen
Omar se besoek het my meer ontstel as wat ek aanvanklik besef het. Ek bly die hele tyd wonder hoe dit gekom het dat een mens soveel lelikheid in homself kan hê. Waar het dit met hom verkeerd geloop?
Hoe meer ek oor die saak dink, hoe duideliker besef ek dat ’n mens is wat jy dink. Dit waarmee jy jou gedagtes en jou hart vul, bepaal uiteindelik watter soort mens jy is. As jy die hele dag aan die mooie en verblydende dinge om jou dink, is jyself ook mooi en bly, en aangenaam om by te wees. Maar as jy die hele tyd besig is om ander te kritiseer, om kwaad te wees en wrokke te vertroetel, word jyself lelik en bitter, soos Omar.
Ek dink ons harte is baie soos ’n kruik. As ’n mens die hele dag lank vrot goed in ’n kruik gooi, moet jy regtig nie verwag dat jy heerlike, geurige wyn daaruit sal kan skink nie.
Ek dink ek het jou al van my paleisopsigter Agisar vertel. Omar het my ’n bietjie aan hom laat dink. Hy is net vyf minute in jou geselskap, dan het hy al weer iets gekry waaroor hy kan kla. Ek verstom my daaroor dat hy net altyd ontevrede of kwaad is! Maar ek dink hy is ook al so volgestop met lelike gedagtes dat daar nie meer plek vir die mooie is nie.
Nee. Ek het besluit, van nou af gaan ek my nóg meer daarop toelê om die mooie in God se wonderlike skepping te waardeer, en om my te verlustig in sy Wet. As ek daarvan vol is, sal ek ’n mooi mens wees.
Die mooiste wens ek vir jou en jou mense!
Salomo ben Dawid




Hoofstuk van die dag: Spreuke 14

Wie kort van draad is, begaan dwaashede; ’n agterbakse mens maak hom gehaat. (vers 17)

My liewe koningin Jemen
Jy sal nooit raai wie vandag vir my kom spreek het nie. En dit nogal in die grootste geheimhouding: Omar! Nogal – ja, jy het reg geraai – om my hulp te vra om Skeba aan te val. Ek moet vir hom ’n afdeling ruitery verskaf, en as betaling bied hy tien jaar se voorraad speserye vir my aan.
Ek was nogal nuuskierig om die man wat julle al soveel hartseer en ellende besorg het, te ontmoet, en daarom het ek hom nie sommer dadelik by die deur uitgejaag nie. Maar is die mannetjie verwaand! Vandat hy by die paleis ingekom het totdat ek die onderhoud redelik ferm kortgeknip het, het hy nooit opgehou om te vertel hoe gelukkig ek is dat hy nou juis vir mý gekies het as bondgenoot in sy stryd om Arabië te bevry nie. As ek hom moes glo, is hy min of meer ’n gawe van God self aan die mensdom.
Ek was later skoon naar van dié glibberige vent se grootpratery. Kry die man dan nie skaam om homself so te prys nie? Nee wat, laat ’n ander jou maar prys as hy dink jy verdien dit. En laat jou optrede, eerder as jou woorde, vir andere vertel watter soort mens jy is. Ons het ’n sê-ding in Israel: “Selfverheffing bring vernedering; wie nederig is, het wysheid.” Omar is nie een van die mense wat wysheid het nie. Ek hoop nie ek hoef ooit weer met hom te praat nie.
Ek het hom duidelik laat verstaan dat hy nie by my hulp gaan kry nie; inteendeel. Maar toe wip die man hom mos vir my en raak beledigend! Ek het hom belowe dat, as hy ooit weer Israel se grondgebied besoedel, ek hom só diep sal opsluit dat hy nooit weer daglig sal sien nie.
Wag, ek groet eers. Groete vir Abimeleg en Adoniram.
Salomo ben Dawid