Hoofstuk van die dag: Spreuke 13

Selfverheffing lei altyd tot twis; dié wat goeie raad aanneem, het wysheid. (vers 10)

Liewe Jemen
Ek het die besoek by julle werklik terdeë geniet. Daar is ’n kalmte in die lug van Skeba, en ek voel sommer weer verkwik nadat ek jou heerlike gasvryheid kon geniet. Baie dankie.
Die res van my reis het ook baie voorspoedig verloop, en as ek daarop terugkyk, dink ek dit was die moeite werd, die lang tyd wat ek weg was, ten spyt. En gelukkig het Rehabeam in my afwesigheid die fort hier goed gehou. Ek dink dit was vir hom ’n waardevolle leerskool. Natuurlik het dit hom ’n bietjie van ’n groot kop gegee, want hy begin nou skimp dat ek gerus maar ten gunste van hom moet abdikeer! Beskeidenheid is nou nie juis sy sterk punt nie.
Dis nogal ’n eienskap van jou wat ek bewonder, weet jy: jou beskeidenheid. Dis mos nie eintlik ’n karaktertrek wat onder ons koninklikes baie algemeen is nie. En daar is soveel waarop jy met reg trots kan wees en sou kon spog, en jy het nie. Ek het my verwonder aan julle paleis, aan die lieflike, skoon stad, aan die effektiewe manier waarop jy julle huishouding behartig. Abimeleg is bevoorreg om ’n vrou soos jy te hê.
My pa het ’n broertjie dood gehad aan hoogmoedige mense. Dit was juis sy eerste vrou, Mikal (sy was koning Saul se dogter), se hoogmoed wat ’n onherstelbare kloof tussen hulle gebring het. Daarom is ek ook nogal sensitief oor dié saak.
Nou is dit jou beurt om weer in Jerusalem te kom kuier, hoor!
Jou nederige vriend Salomo




Hoofstuk van die dag: Spreuke 12

’n Goeie mens geniet die Here se goedkeuring, maar iemand met slinkse planne veroordeel Hy. (vers 2, 2020-vertaling)

My liewe koningin Jemen
Dis darem nie nodig om my só vreeslik te bedank vir die geskenk nie! Dis mos nie asof ek dit nie kan bekostig nie, en ek weet julle het die goud nodig. Toe dink ek: ek kan julle help, en julle het dit nóú nodig, nie later nie. Ek is net dankbaar dat dit julle veilig en betyds bereik het, veral met Omar se bendes wat op Skeba se grense ronddwaal. Maar hy sal nog sy verdiende loon kry!
Die goeie nuus is dat ek uiteindelik my program so kon reël dat ek in die lente uit Jerusalem sal kan wegkom. Ek beplan om al my belangrike handelsvennote te besoek, en ek sal, as die Here so wil, baie beslis daar by julle ook uitkom. My plan is om net na die Pasga-fees te vertrek, sodat ek teen die middel van die maand Sif by julle sal wees. Dit is nou as dit julle sal pas, natuurlik. Ek moet sê, ek sien baie daarna uit om Abimeleg en Adoniram te ontmoet.
Ek bring niemand uit die paleis saam nie. Ek sien nogal daarna uit om ’n tydjie weg van al my vrouens te wees, want hulle kan op die lang duur nogal veeleisend raak! En ongelukkig sal Rehabeam ook hier moet bly om in my plek die landsake te hanteer.
Dra asseblief my groete oor aan jou mense.
Jou ewige vriend,
Salomo ben Dawid




Hoofstuk van die dag: Spreuke 11

Die Here het ’n afsku van ’n skaal wat nie reg weeg nie; net die regte gewig dra sy goedkeuring weg. (vers 1)

My liewe koningin Jemen
Ek verstaan julle dilemma. Maar ek stem glad nie saam met julle oplossing nie. Op geen manier mag julle uit julle geldelike verknorsing probeer kom deur slenters en agteraf-konkelry nie. Julle goeie naam is baie kosbaarder as die goud wat julle uit die saak kan maak. En dan praat ek nie eers van julle lewe voor die lewende God nie!
Ek gee toe; vir iemand soos ek is dit maklik om vreeslik vroom te wees as dit by hierdie sake kom, maar op die ou end gaan dit nie om die vraag of ek ryk of arm is nie. Dit gaan om wat reg is en wat verkeerd is; wat wys is en wat nie. En dis tog waarom jy vir my geskryf het, of hoe?
Ek wil graag ’n vers aanhaal uit ’n lied wat my pa geskryf het:

Die Here bepaal die koers van die mens met wie se pad Hy tevrede is,
en Hy ondersteun hom.
As so iemand val, bly hy nie lê nie, want die Here help hom op.
Ek was jonk en ek het oud geword,
maar nooit het ek ‘n regverdige verlate gesien
of dat sy nageslag brood soek nie.
Hy is altyd vrygewig, hy leen uit sonder rente:
met sy nageslag sal dit goed gaan.

Die vraag is natuurlik of jy en Abimeleg dit glo.
Salomo ben Dawid




Hoofstuk van die dag: Spreuke 10

Dit is die seën van die Here wat rykdom bring; jou geswoeg laat dit nie meer word nie. (vers 22)

Liewe Jemen
Ek is verskriklik jammer om van julle groot verlies te hoor. ’n Hele vloot vol kosbare handelsware tot niet! Nadat ek jou brief gekry het, het ek navraag gedoen, en jy is reg: dit wás Omar se werk. Ek hoor hy het ’n bende deugniete gehuur om julle vloot aan die brand te steek.
Jy sê dit het julle finansieel geruïneer, en ek glo dit ook. Dit sal jare se harde werk en toewyding neem om van dié terugslag te herstel. Met die Here se seën sál dit gebeur.
Ek kan jou nie eintlik troos nie, behalwe om te sê dat rykdom en geld tog op die ou end nie alles is nie. By God maak dit in elk geval geen snars verskil of jy nou skatryk of brandarm is nie. Hy het ons almal gemaak, en so het Hy ons almal lief.
Ek dink nogal dat dit baie help as ’n mens se perspektief oor jou geld en jou goed reg is. Rehabeam se dinge het my gedwing om weer oor die sin en betekenis van alles na te dink. Ek was self skuldig daaraan dat ek só besig was om skatte bymekaar te maak, dat ek my sin vir waardes verloor het. En in die proses het ek so byna-byna my eie kind ook verloor. Maar dank die Here, hy is terug! Hy het gister doodluiters hier in die stad opgedaag. Toe hy my kom groet het, was sy woorde: “Ek het nooit besef dat ek Pa so sal mis nie.” Is dit nie die mooiste woorde wat ’n mens ooit kan hoor nie? Dís mos nou rykdom!
Ek bid dat die Here julle sal vashou in julle beproewing, en dat julle opnuut julle rykdom in mekaar sal ontdek.
Salomo ben Dawid




Hoofstuk van die dag: Spreuke 9

Moenie ’n ligsinnige mens probeer opvoed nie, hy sal jou daarvoor haat. Voed ’n wyse op, en hy sal lief wees vir jou. (vers 8)

My liewe koningin Jemen
Rehabeam is nog steeds in Ammon. Ek moet sê, dis vir my baie moeiliker om te verwerk as wat ek gedink het. Ek verlang na hom, maar ek is ook kwaad vir hom, en seer hier binne, omdat sy sin vir waardes so skeef is.
Nou moet ek toegee dat dit seker moeilik vir ’n kind soos hy is om nie ’n verwronge sin vir waardes te hê nie, want van kleins af was daar niks wat ons hom ontsê het nie. Net die beste en duurste was vir ons goed genoeg as ons aan hom gedink het. Maar so tussen al die weelde en rykdom het hy begin glo dat geld en goed die hoogste doel in die lewe is.
Ai, as ek maar so oor dié dinge gedink het toe hy nog klein was! Dan sou ek hom heeltemal anders opgevoed het, dink ek. Maar nou is dit seker te laat. Geld en goed bring nie geluk nie, en as jou siel daaraan vaskleef, sal jy nooit regtig gelukkig wees nie. Geluk lê in die geborgenheid wat ’n mens in God se voorsiening van elke dag ontdek. Met al my rykdom het die stomme Rehabeam nooit geleer om boontoe te kyk vir sy daaglikse brood nie. En hy het ook nooit geleer dat daar ander dinge is wat kosbaarder is as rykdom en besittings nie: ’n goeie naam, integriteit, ordentlikheid, ootmoed voor God, vrede in jou gemoed …
Bid asseblief nog altyd vir hom (en vir my!), soos ek vir jou en Abimeleg en Adoniram bid.
Jou vriend,
Salomo ben Dawid




Hoofstuk van die dag: Spreuke 8

Om die Here te dien, is om te haat wat verkeerd is. Daarom haat ek hoogmoed en hovaardigheid, ’n verkeerde lewe en slinkse woorde. (vers 13)

My liewe vriendin
Ek wil vandag my lot by jou bekla. Dis Rehabeam. Ons, ek en hy, het woorde gehad, want hy loop soos ’n kapokhaantjie hier in die stad rond en verwag almal moet spring as hy sy vingers klap. Tot my skande en verdriet moet ek erken dat hy ’n bedorwe brokkie is. Hy wil altyd sy sin hê en steur hom nie aan goeie raad nie – nie eens myne nie! Toe ek hom gister vastrap oor sy onaanvaarbare gedrag, wip die mannetjie hom mos vir my. Die uiteinde van die saak is dat hy sak en pak hier weg is om by sy oupa in Ammon te gaan bly. Wat hy nie verstaan nie, is dat ek nie probeer om sy pret te bederf nie. Ek wil hom help en sy karakter bou sodat hy eendag ’n goeie koning sal wees.
Ek wonder nogal hoe God daaroor voel as Hy ons tugtig, en ons wip ons vir Hom soos Rehabeam met my gemaak het. Hy sal seker ook maar seerkry? Ons is tog so lief daarvoor om ons eie kop te volg, en dan móét God ons partykeer voorkeer voor ons ons eie ondergang bewerk. Maar in plaas daarvan om dankbaar te wees dat Hy oor ons besorg is, raak ons kwaad vir Hom en sê ons verstaan Hom nie.
Ag ja, miskien pas hierdie hele ongelukkigheid met Rehabeam ook iewers in God se Raad in, en is Hy besig om aan my en Rehabeam te vorm. Bid asseblief dat Hy sy doel met my en my kind sal bereik!
Jou moedelose vriend,
Salomo ben Dawid