Hoofstuk van die dag: Spreuke 7

maak wat ek jou voorskryf jou eie, dat jy kan lewe, maak wat ek jou leer jou eie, so eie soos die appel van jou oog. (vers 2)

Liewe Jemen
Ek is bly dat die verdrag met Etiopië toe deur die mat geval het. Nadat ek laas vir jou geskryf het, het ek ook gehoor dat Omar agter die verdrag gesit het, sodat hy ’n verskoning kon hê om Egipte se hulp in te roep om jou man te onttroon. Maar voor ek julle kon waarsku, het ek jou briefie gekry waarin jy laat weet het dat Abimeleg teen die verdrag besluit het. Die Here het julle reg gelei!
Miskien is dit nou ’n goeie tyd om aan Hom die dank te bring vir sy hulp. Ons is mos maar so: gou om hulp te vra as ons in die nood is, maar so traag om dankie te sê as God uitkoms bring.
Oor wat ’n gepaste wyse sal wees om die Here te dank, moet julle self besluit. Maar ek wil jou graag van ’n insident uit my pa se lewe vertel. Dis nou ’n lang storie, en ek sal die hele verhaal vertel as ek later vanjaar (as die Here wil) by julle uitkom. In elk geval, Pa moes ’n dankoffer op ene Arauna se dorsvloer (waar die tempel vandag staan) bring. Arauna wou toe sy trekdiere en dorsslee vir Pa present gee sodat hy dit kon gebruik om aan die Here te offer. Pa het daarop aangedring om die diere en die slee en die dorsvloer teen die volle prys by hom te koop voordat hy offer. Hy het gesê hy bring nie aan die Here offers wat hom niks kos nie.
Ons kan natuurlik nie die Here se guns met ons offers koop nie. Maar op een of ander manier antwoord Hy ons offers tog met seëninge.
Salomo ben Dawid




Hoofstuk van die dag: Spreuke 6

Wat ek jou voorskryf, is ’n lamp, my onderrig is ’n lig; wie hom laat teregwys, is op die pad na die lewe toe. (vers 23)

My liewe koningin
Ek haas my om hierdie briefie betyds by jou te kry, want ek is so bang julle neem oorhaastig ’n besluit, en dat dit julle later berou.
Jy sê Abimeleg is oortuig daarvan dat ’n bondgenootskap met Etiopië teen Egipte tot julle voordeel is, en hy is vas van plan om volgende maand die verdrag te onderteken. Dit kan seker wees dat dit ’n goeie skuif is en dat dit sy hand teen Omar sal sterk. Maar dit kan net sowel ’n rampspoedige besluit wees. Hoe sal ons nou weet?
Dit is juis my probleem met die hele saak. Ons mense is altyd so oortuig dat ons reg is en reg optree. Maar ons insigte is beperk. Destyds toe ons volk die land Kanaän ingetrek het, het Josua-hulle oorhaastig met die Gibeoniete ’n verdrag gesluit, en te laat ontdek dat hulle bedrieg is.
Vra vir Abimeleg om ’n bietjie te wag voordat hy besluit, en bid dan saam met hom dat die Here julle die regte leiding sal gee. As jy dan, nadat julle oor die saak gebid het, vrede in jou hart kry oor die besluit, kan julle voortgaan met die wete dat die Here dit goedkeur. Maar as Hy julle deur sy Gees onrustig maak – soos dit vir my lyk nou met jou die geval is – dan moet julle liewer nog ’n bietjie wag.
Ek bid dat jou man na jou – en my! – goeie raad sal luister.
Bid asseblief vir my ook. Rehabeam gee my grys hare.
Jou ewige vriend,
Salomo ben Dawid




Hoofstuk van die dag: Spreuke 5

My seun, slaan ag op die wysheid wat ek jou leer, luister na my goeie raad. Dan sal jy self ook met oorleg kan optree en met die nodige kennis praat. (vers 1-2)

My liewe koningin Jemen
Ek is werklik jammer om te hoor van die spanning in julle ryk. Dis so ontsettend moeilik om jou teen ’n smeerveldtog te verweer, want op die ou end glo mense wat hulle graag wil glo, en dit is nie noodwendig die waarheid nie. Trouens, ek het ontdek dat mense juis eerder die leuen as die waarheid glo; eerder die slegte van jou wil hoor as die goeie.
In my jong dae het daar iets soortgelyks in Israel gebeur. My halfbroer Absalom het die volk vol gif gepomp oor my pa Dawid wat dan kwansuis so ongeërg was oor sy mense se lot. Hy het vir almal wat wou hoor en nie wou hoor nie, gesê Pa sal nie aan iemand met ’n probleem aandag gee nie – en die mense het hom geglo! So het hy die hele volk oortuig dat Pa ’n swak koning is, en toe hy ’n staatsgreep uitvoer, was die volk agter hom verenig. Ons moes uit Jerusalem vlug, en dit het ’n oorlog gekos om Pa weer op die troon te kry. En dit alles oor skinderstories.
Daar is net een manier om julle teen Omar se veldtog te verdedig: leef sy beskuldigings dood. Wys vir die volk dat julle hulle liefhet en vir hulle omgee, en wees julleself. Wees getrou aan julle woord, tree met integriteit teenoor almal op. Mense wil graag vingers na hoë bome wys, maar moenie vir hulle skietgoed gee nie. Dis wat Pa gedoen het, en hy het uiteindelik die volk se hart teruggewen.
Ek bid dat die Here julle wysheid in hierdie saak sal gee!
Salomo ben Dawid




Hoofstuk van die dag: Spreuke 4

Die pad van die regverdiges is soos helder oggendlig wat groei en sterker word tot dit heeltemal dag is. (vers 18)

Liewe koningin Jemen
Dankie vir daardie wonderlike speserye wat jy gestuur het. Dit het net op die regte tyd hier aangekom, want my kok het my net verlede week laat weet dat die spens so-te-sê leeg is.
Jou geskenk het my weer na die wysheid teruggeneem. Ons het ’n sê-ding hier: “Wie die wil van die Here doen, is ’n bron van lewe; die mens wat wysheid het, red lewens.” Jou geskenk het my aan dié spreuk laat dink, en toe gaan my gedagtes baie ver terug, na ons ou wyse vader Abraham. In die Skrifte staan mos dat God hom geroep het sodat hy tot ’n seën kan wees vir dié wat oor sy pad kom. En so was hy. Toe hy die vyandelike magte van Kedorlaomer verslaan het, het hy ’n tiende van al die buit weggegee vir koning Melgisedek van Salem. Wys jou net. ’n Wyse mens lewe nie net vir homself nie, en diegene om hom ontvang daardeur seën.
Jy sal miskien wonder hoe dit werk. Eintlik is dit baie eenvoudig. Die wysheid iets is wat van God af kom, en ’n wyse mens is eenvoudig besig om hierdie stukkie goddelikheid (ek sou seker ook kon sê stukkie hemel) in sy omgewing in te dra. Hoe nader jy aan God lewe en hoe meer jy soos Hy word, hoe ’n groter seën bring jy vir ander.
Maar wag, ek het nou eers genoeg gepreek vir een dag!
Vrede vir julle, en mag jy voortgaan om aan hulle om jou seën te bring!
Salomo ben Dawid




Hoofstuk van die dag: Spreuke 3

Moenie dink jy het die wysheid in pag nie, dien die Here en vermy wat sleg is: dit is die geneesmiddel vir jou, die verkwikking vir jou liggaam. (vers 7-8)

Liewe koningin Jemen
Jou klagtes oor Adoniram laat my nogal baie aan my paleisopsigter Agisar dink. Ek het met hom gepraat, want die troonsaal se vloer was al weer morsig. Ek het al so baie met hom daaroor gepraat! Maar Agisar het in sy eie oë nog nooit in sy lewe ’n fout gemaak nie. Dis altyd die ander wat verkeerd is. Ek het op die ou end maar ophou probeer. Dit help nie om met hom te praat nie. Al wat sal help, is om ’n ander paleisopsigter te kry.
Die verskil tussen hom en Adoniram is natuurlik dat hy al ’n ou man is en teen dié tyd van beter behoort te weet. Maar dit lyk my as ’n mens eers dink hy weet alles, is dit hopeloos. Daarom moet jy maar ferm met Adoniram wees. As jy hom nou toelaat om te dink hy is altyd reg, sal hy nooit leer om na ander se raad te luister nie. En dan kan jy self dink wat sal gebeur as hy eendag op die troon van Skeba sit!
Maar dis natuurlik ’n les wat ons ook maar voortdurend weer moet leer. Ons het mos maar almal die manier om te dink net ons is reg. Daarom probeer ons so hard om die splinter uit ons buurman se oog te haal, en – al die tyd sit daar ’n balk in ons eie oog! En die Here het ook maar ’n moeilike taak om ons te leer en te lei as ons glo ons is volleerd, of hoe?
Sterkte met jou taak met Adoniram. Sê vir hom ek dink die wêreld van hom, en glo dat hy eendag net so wys soos sy ma sal wees.
Jou vriend,
Salomo ben Dawid




Hoofstuk van die dag: Spreuke 2

Dit is die Here wat die wysheid gee, uit sy mond kom die kennis en die insig. (vers 2)

Liewe koningin Jemen
Dankie vir jou briefie. Ek bid baie vir jou, en dat die Here jou wysheid sal gee oor Adoniram.
So van wysheid gepraat. Ek bly maar met die wysheid besig. Jy sal my seker nie glo nie, maar ek wens ook ek het meer wysheid gehad. Dan sou ek baie minder probleme gehad het, veral in my verhouding met ander mense. Maar ek betrap myself so dikwels dat ek te vinnig reageer en mense in die proses wegstoot, in plaas van aantrek na my toe. Soos die anderdag, toe ek en my seun Rehabeam mekaar so lelik misverstaan het. Ek het al die verkeerde goed gesê, en terwyl ek dit sê, wéét ek ek moenie. En tog, partykeer kry ek nie myself gekeer nie.
Jy sal onthou dat ek gesê het wysheid begin by die vrees van die Here. Ek het so skaam geword toe ek weer daaraan dink, want ek het net skielik besef dat dit my eie skuld is dat ek nie die regte wysheid het nie. Ek laat my nie genoeg deur die Gees van God lei nie. Dis dié dat ek aangaan om die verkeerde goed te sê, al weet ek dis verkeerd. Want ek wil my nie deur die Gees laat voorskryf nie. Ai, jy moet maar vir my ook bid, soos ek vir jou.
Bid elke dag, my liewe vriendin, en stel jouself elke dag van voor af weer in op die leiding van die Gees van God in jou lewe. ’n Mens moet maar elke dag weer oefen om Hom gehoorsaam te wees.
Jou onwyse vriend,
Salomo ben Dawid