Hoofstuk van die dag: Titus 3

Maar jy moet jou nie inlaat met dwase strydvrae en geslagsregisters en met getwis en stryery oor die wet van Moses nie, want dit is nutteloos en sinloos. (vers 9)

Paulus lê in hierdie brief baie klem daarop dat gelowiges ’n boodskap vir die wêreld het – in plaas van soos die wêreld lyk, moet gelowiges se lewe getuig van die goedheid van God en sy verlossing (vers 3-4 en 8). Maar, waarsku hy in vers 9, die kerk se getuienis kom in gedrang as lidmate hulle inlaat in dwase en sinnelose strydvrae (vers 9).
Daar is talle voorbeelde van hierdie soort geskille vandag. Die twis oor die Algemene Sinode van die NG Kerk is werklik nie ’n heilsame saak nie. Ongelowiges lag vir die kerk, en talle lidmate voel om te huil oor die onverkwiklike situasie.
Ek het ook al in die strik getrap om op sosiale media met mense te redeneer oor geloofskwessies. Ek kan terugskouend sê dat sulke gesprekke niemand oortuig om van standpunt te verander nie. Intussen gee jy skietgoed vir die alomteenwoordige ongelowige spotters.
Dis belangrik dat ons onwrikbaar vashou aan die belydenis dat Jesus die gekruisigde en opgestane Here is. Maar stry oor ander sake? Ag nee wat.

_Naskrif:_ Môre begin ons met 2 Samuel.




Hoofstuk van die dag: Titus 2

Hy het Homself vir ons as offer gegee om ons van alle ongeregtigheid vry te maak en ons van sonde te reinig, sodat ons sy eie volk kan wees wat ywerig is om die goeie te doen. (vers 14)

Uit die vorige hoofstuk kan dit dalk lyk asof Paulus al die onus op die ouderlinge lê, want hy gee daar talle voorskrifte vir hoe ’n ouderling moet wees. Dit gaan egter nie net oor die leiers van die gemeente nie, hoewel hulle natuurlik ’n onontbeerlike rol in die gemeente speel. In hierdie hoofstuk maak Paulus dit duidelik dat die karakter van die gemeente van elke enkele lid van die gemeente afhang – ouer mans (vers 2), ouer vroue (vers 3, jonger vrouens (vers 4), jonger mans (vers 6), slawe (vers 9) en, les bes, Titus self (vers 7).
Die samelewing kan net positief beïnvloed word as elke lidmaat “ywerig is om die goeie te doen” (vers 14). God se genade verlos ons immers, sodat ons met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld kan lewe (vers 11,12).
Paulus se strategie in ’n korrupte en verworde samelewing is dat Christene deur hulle lewe duidelik maak dat hulle God dien en vir die samelewing ’n aanwins is. Is dit van ons waar?




Hoofstuk van die dag: Titus 1

Een van hulle mense, hulle eie profeet, het gesê: “Die Kretensers is altyd leuenaars, ongediertes, lui vrate.” Hierdie getuienis is waar. Daarom moet jy hulle streng teregwys, sodat hulle gesond kan word in die geloof. (vers 12-13)

Paulus se brief aan Titus herinner ons aan ’n ontstellende tendens waaraan ons ook blootgestel is. Dit is dat die omgewing die karakter van die kerk en haar lidmate kan bepaal, en nie andersom (soos dit behoort te wees) nie. Dit is wat in Kreta gebeur het. Die losbandige, leuenagtige en lui gees van die mense van Kreta het oorgespoel na die kerk. Lidmate het ook so geword. Of miskien het die evangelie nie deurgedring tot hulle doen en late nie.
Dit bring my by die vraag: bepaal die omgewing en heersende kultuur die kerk, of andersom? Soms wonder ek of ons Afrikanerskap nie swaarder as die evangelie weeg by party lidmate nie. Dis wanneer liefde vir die eie groter gewig begin dra as liefde vir die naaste, of wanneer die naaste gedefinieer word as “ons mense”.
Net geloof en kennis van die waarheid bring hoop op die ewige lewe (vers 2) en verlos ons van ’n selfgerigte kerk. Vandag nog.




Hoofstuk van die dag: Titus (Inleiding)

Kyk gerus na hierdie video vir ’n goeie opsomming van die brief: