Gen 13:1-18 OM DIE ONSIENLIKE TE SIEN

Daar is ’n ou spreekwoord wat lui: Geldgierigheid is die wortel van alle kwaad. Want rykdom en besittings het die manier om in jou hart te kom kruip, en só diep in jou hart in te kruip dat dit later jou optrede bepaal. Dit is ook wat hier in ons teksgedeelte gebeur het. Abram en Lot het ryk geword in die land Kanaän. Vers 2 en 5 spel dit pertinent vir ons uit: (lees dit)

En toe, soos dit maar gaan, het daar spanning ontstaan tussen Abram se mense en Lot s’n. Daar was net nie genoeg plek vir hulle albei nie. Die oorvloed van hulle besittings het begin om probleme tussen hulle te veroorsaak.

Nou laat ek sommer dadelik sê: As sodanig is daar natuurlik niks verkeerd met baie besittings en rykdom nie. Ook dit is gawes wat God in sy goedheid vir ’n mens kan gee. Tog leer die ervaring dat dit nie in die praktyk altyd so glad werk nie. Besittings dra inherent die kiem van versoeking met hom saam. In ons mensehande groei dit uit tot ongesonde proporsies. Dit vang ons vas en vul ons lewe sodat, voor ons ons kom kry, ons nie meer leef vir God en ons naaste nie, maar vir onsself en teen Hom en ons naaste. Dit is presies wat hier in ons teksgedeelte gebeur met Abram en Lot. Hulle mense begin onder mekaar stry, onder mekaar wedywer om die beste te kry. Onder die veewagters het die reël gegeld: Elke man vir homself. En as die ander een nou in die proses seerkry, is dit jammer, maar ongelukkig is dit nou eenmaal hoe dit gaan in die wêreld. Die lewe is hard, ou broer.

Julle sal weet, dit is nie so onbekend in ons eie tyd nie. Dit gaan so in die sakewêreld – die groot maatskappye druk eenvoudig almal uit die pad om die monopolie te bekom; dit gaan so in die verhoudingslewe – ’n persoon van wie ek nie van hou nie, loop ek uit die pad, ek sorg dat ek genoeg skietgoed kry om hom in die grond in te boor as die geleentheid hom voordoen; dit gaan helaas vir baie mense ook so in die politiek – ek eis alles in hierdie mooi land van ons vir myself en my eie mense op. Daarom ontstaan daar wrywing tussen die verskillende groepe in die land. Daarom is daar iets soos xenofobie.

Wat doen Abram dan? Abram tree na vore as ’n merkwaardige voorbeeld van sagmoedigheid en onselfsugtigheid. Hy wil tot elke prys ’n getwis vermy. Dis nogal baie anders as wat ons hom leer ken het in Gen 12. Daar dink hy net aan homself, vertel leuens oor sy huwelik met Sarai, net om sy eie bas te red, met die verskriklikste gevolge vir die mense van Egipte – gaan lees weer Gen 12! Maar hier sien ons ’n ander Abram. Abram het gaandeweg, ook deur sy eie foute en sonde (Gen 12!) geleer om anders oor die dinge te dink. Ons sien Abram hier as ’n man van vrede, ’n man wat vyandskap en onmin tot elke prys wil vermy.

So terloops, daar is rede om te vermoed dat hierdie gedeelte so pertinent hier vertel word as ’n waarskuwing, ’n les aan die latere konings van Israel wat dikwels baie bloeddorstig was, wat oorlog en geweld as die enigste oplossing vir hulle politieke probleme gesien het – die soort standpunt wat ’n mens vandag nog by party mense hoor.

Gen 13 is opgeteken om vir die konings van Israel te leer: Daar is ook ’n ander manier om jou sake te hanteer. Konfrontasie is nie die enigste oplossing nie, en beslis ook nie die Bybelse oplossing nie. Ons sien vir Abram hier as ’n man van vrede, wat onmin en vyandskap tot elke prys wil vermy.

Die rede vir Abram se optrede lê in sy verstaan van sy roeping. God het vir Abram in Gen 11 geroep om ’n seën vir die nasies te wees. En nou lees ons hier in 13:7: “Die Kanaäniete en die Feresiete het ook nog in die gebied gewoon.” Daarom wil Abram tot elke prys ’n getwis vermy: ter wille van sy roeping in hierdie wêreld, ter wille van sy getuienis, ter wille van die seën wat hy moes uitdra na die nasies, ter wille van God! Daarom was hy bereid om homself en sy belange tweede te stel. Omdat Abram met God en met God se doel met sy lewe erns gemaak het, kies hy die pad van versoening in hierdie wêreld, ook al moes hy baie in die proses (op tydelike gebied in elk geval) inboet.

Lot het hom nie gesteur aan hierdie dinge nie; met sy geloof het sy keuses in die lewe in elk geval niks te doen gehad nie. Maar dis weer ’n preek op sy eie. Lot kies ewe selfsugtig die beste deel vir homself. En dit terwyl dit tog die senior persoon se voorreg was om te kies. Lot kies ’n gebied wat so volop water het “soos ’n tuin van die Here”, en Abram sit met ’n stuk droë, half-woestynland oor. Soos die bekende Engelse gesegde lui: “Nice guys come second!”

En tog – so staan dit in 13:14 – na dit alles sê die Here vir Abram: Kyk tog rond … na alle kante. Alles wat jy sien, gee Ek aan jou en jou nageslag. Dít is die troos en die oorwinning van die geloof. Dat God vir jou sorg. Dat Hy na jou omsien, dat Hy jou belange behartig, dat Hy self jou sake bestuur.

Abram kon grootmoedig wees, onselfsugtig wees, omdat hy God se hand gesien het, omdat hy God vertrou het, God se beloftes vasgehou het. Omdat hy geweet het God sal sorg. Hier sien ons geloof, soos die Hebreërskrywer baie jare later sê, wat die Onsienlike sien; geloof wat weet dat die lewe meer is as kos en klere; geloof wat weet dat ‘n mens nie regtig leef van brood (of besittings of enigiets wat geld kan koop) alleen nie, maar van die Woord en die beloftes van God.

Abram het nog net beloftes gehad, en tog was dit vir hom genoeg om sy lewe en sy besluite daarvolgens in te rig. Ons het soveel meer as Abram. Ons het immers die bewys dat God ons liefhet en ons nooit in die steek laat nie: Jesus Christus, Immanuel, God met ons!

Amen.




Matt 28:18 Jesus stuur jóú

Verplaas jou vir ’n oomblik terug na die dag van die Here Jesus se hemelvaart. Die dissipels is saam op ’n berg bymekaar, op versoek van die Here. Hy wou ’n laaste woordjie met hulle praat en hulle groet voordat Hy terug sou keer na die hemel.

En daar staan die dissipels nou voor Hom in aanbidding. Jesus kyk hulle een vir een aan. Vir 3½ jaar was hulle dag en nag bymekaar, het Hy hulle geleer van die koninkryk van God en God se plan met die wêreld, het hulle gehoor hoe Hy preek, het hulle gesien hoe Hy wonders doen, hoe Hy blindes laat sien, kreupeles laat loop, melaatses genees, selfs dooies uit die dood opwek. Hulle was by toe Hy die storm op see laat bedaar het met ’n enkele woord; hulle het die 5 broodjies en 2 vissies uitgedeel en gesien hoe dit ’n hele skare voed. Hulle het ook gesien hoe Hy ly en aan die kruis sterf, en drie dae later weer opstaan uit die dood.

En nou staan hulle in aanbidding voor Hom, Jesus se eerstespan, maar party van hulle twyfel (vs 17)! Daar was Tomas wat geweier het om te glo Jesus het uit die dood opgestaan; daar was Petrus wat só bang was vir wat mense aan hom kan doen dat hy drie keer ontken het dat hy Jesus se dissipel is. En daar was Johannes en Jakobus, wat so op hulleself en hulle eie belangrikheid ingestel was dat hulle op die aand van Jesus se gevangeneming nog vir Hom kom vra het húlle wil die belangrikste plekke in sy koninkryk hê. Daar was Andreas, wat nooit ’n woord kon uitkry nie …

En vir dié groepie dissipels moet Jesus groet, en vra dat hulle sy taak op aarde voortsit. Húlle moet die hele wêreld ingaan en die mense sy dissipels maak. Hulle, hierdie klompie beteuterde, twyfelende dissipels. ’n Mens kan dit amper nie glo nie. Jy wil vir jouself sê: maar dit kan tog nie wees nie! Hoe kan Jesus dit selfs vir ’n enkele oomblik oorweeg dat dié treurige klompie sy taak kan voortsit? Hoe kan Hy die toekoms van sy kerk op aarde aan húlle toevertrou?

Weet jy wat dink ek? Ek dink, toe God die Vader uit die hemel afgekyk het en dié groepie dissipels gesien het, het Hy ’n groot glimlag op sy gesig gekry. ’n Mens kan nie anders nie; jy móét maar glimlag as jy sien met watter soort mense die Here opgeskeep sit in die kerk, want as jy nie daaroor glimlag nie, sal jy in trane uitbars.

Ja, die Here glimlag, want Hy weet watter groot verrassing daar op hulle wag. Hy weet hoe hulle gaan verander, krag gaan ontvang as Hy hulle met sy Gees aanraak. Hoe dieselfde groepie dissipels inderdaad die wêreld sou ingaan en die evangelie aan die ganse mensdom verkondig. Want jy sien, die Here verwag nie van hulle om in eie krag sy opdrag uit te voer nie.

Kom ons kyk weer na wat die Here Jesus hier sê: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe …” Die dissipels moes nie in eie krag uitgaan nie. Hulle moes in Christus se krag uitgaan. Daarom herinner Jesus hulle aan sy almag vóórdat Hy hulle uitstuur, want dis in sý krag dat hulle sou slaag. En om dit sommer dik te onderstreep dat Hy nie van hulle verwag om op hulle eie vir Hom te getuig nie, sluit Hy sy woorde af met ’n belofte: “Onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Die dissipels moes nie in eie krag uitgaan nie, en hulle het ook nie alleen gegaan nie. Hulle moes gaan in die krag van die Seun van God self, die Koning van die konings aan Wie alle mag in hemel en aarde gegee is, en boonop vergesel Hy hulle! Dáárom kon Jesus sy dissipels uitstuur, al het party getwyfel. Omdat Hý hulle die krag sou gee om die opdrag uit te voer, omdat Hy self saam met hulle sou gaan.

’n Mens dink partykeer, as jy aan die hemelvaart van Jesus dink, dat Jesus Christus nou daar in die hemel aan die regterhand van die Vader op sy troon sit, daar dóér ver weg in die hemel. Maar dis nie wat die Bybel ons leer oor die hemelvaart nie. Christus het nie opgevaar hemel toe en nou sit Hy daar en wag dat die tyd kan omgaan sodat die wederkoms kan aanbreek nie. Hoor wat sê die Woord: “Die Een wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het bo alle hemelruimtes uit om alles met sy teenwoordigheid te vul” (Ef 4:10).

Christus se hemelvaart beteken nie dat Hy nou in die hemel stil op sy troon sit nie. Dit beteken dat Hy tot die hoogste eer verhef is, sodat Hy vanuit die hemel alles met sy magtige teenwoordigheid kan vul; sodat Hy in hierdie wêreld teenwoordig kan wees, sodat Hy in ons lewens teenwoordig kan wees, by ons kan wees en ons kan besiel om getuies vir Hom te wees, sodat elke knie voor Hom kan buig en elke tong bely dat Hy die Here is.

“Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels,” sê die Here vir ons óók. Ja, vir my en vir jou.

Kyk ’n bietjie om jou. Wat sien jy? Sien jy Petrusse en Johannesse en Jakobusse? Sien jy geloofsreuse, of sien jy gewone mense wat soms ook maar twyfel en kleingelowig is? Gaan kyk as jy by die huis kom, in die spieël, en vra jouself af: sal die Here mý kan gebruik? Wat gaan jou antwoord wees? Gaan jy soos ’n Moses van ouds sê: Nee, Here, nou het U ’n groot flater begaan. Ek is die verkeerde ou. Gebruik liewer iemand anders. Ek kan nie. Of gaan jy verby jouself kyk, en die Een wat jou roep en wil gebruik in hierdie wêreld, raaksien waar Hy langs jou staan? Waar Hy sê: Aan My is alle mag gegee. En onthou, Ek is by jou …

Die Here Jesus se laaste opdrag op daardie heel eerste hemelvaartdag geld vandag, 20 eeue later, op hierdie hemelvaartdag nog net so vir ons elkeen. God stuur vandag ook vir jou en my uit, al is ons swakke mense, al wankel ons geloof ook soms, al voel ons soms so onwaardig en onbekwaam. Want ons is nie alleen nie. Ons, jy en ek, doen dit nie in eie krag nie.

Die opgestane Here Jesus, aan wie alle mag in hemel en op aarde gegee is, Hý stuur ons uit. Hý is deur sy Gees by ons om ons toe te rus en te lei – dis tog hoekom ons oor tien dae Pinksterfees vier – sodat elkeen van ons ons roeping as sy kinders kan vervul.

Is jy in?

Amen.




Gen 16 SIEN MEKAAR RAAK!

Ek het nogal simpatie met Sarai se worsteling oor ’n baba. Ek dink elke egpaar wat al gesukkel het om ’n baba te kry, sal haar optrede verstaan. Jy raak later desperaat en sal amper enige iets doen om ’n baba te kan hê. Vandag is daar natuurlik baie meer opsies beskikbaar as destyds, maar ek dink nie ons moet Sarai te gou veroordeel oor die plan wat sy gemaak het nie. Dit was ’n aanvaarbare gebruik in daardie tyd, hoe vreemd dit ook al vir ons klink.

Ek wonder net of sy en Abram met God gepraat het oor dié plan van haar. Ons lees nie iets daarvan nie. Dit beteken natuurlik nie noodwendig dat hulle nié daaroor gebid het nie. Maar ek dink ons kan redelik seker wees dat hulle God nie duidelik gehoor het nie, dis nou ás hulle daaroor gebid het, anders sou die Bybel ons daarvan vertel het.

Wat sou jý gedoen het as jy in hulle posisie was?

Ons lees dat Abram met Sarai saamgestem het, en dis nie lank nie, toe is Hagar swanger. Maar Hagar blyk toe glad nie die sagte, onderdanige slavin te wees wat Sarai gedink het sy is nie. Sy kan haar nuwe status as byvrou van Abram glad nie hanteer nie, en sy begin neersien op Sarai. Al plan wat Sarai het, is om Hagar te wys wie is baas en wie is slaaf.

En Abram? Ons geloofsheld het voete van klei. Hy wil nie pa staan vir sy besluite nie. Hy val maar ewe gedienstig in by alles wat Sarai voorstel en eis. En toe daar moeilikheid kom, trek hy sy skouers op en sê dit het niks met hom te make nie.

Ek wonder nogal oor Abram. Ek dink nie dit is ’n oomblik van glorie vir hom hierdie nie. Hier lyk hy darem maar alte veel vir my na dieselfde man wat destyds in Egipte ook maar net gestaan en toekyk het hoe Sarai in die farao se harem beland. Dis mos hoe dit gaan in die geloofslewe: net as jy dink jy het ’n ent gevorder, gebeur daar iets en jy besef opnuut jy is ’n sondaar.

Snaaks hoe ’n man wat nie bang is om die magtige leër van koning Kedorlaomer aan te durf nie, te bang is om iets te sê as dit kom by menseverhoudings en persoonlike krisisse. Snaaks hoe jy dinge met geweld kan regmaak, maar as dit by verhoudingsprobleme kom, jy nie die moed het om dit uit te praat nie.

Ek wonder of dit die rede is hoekom party ouers eerder op hulle kinders skree as om langs hulle te sit en gesels? Is dit dalk hoekom mense soms iemand by die werk eenkant toe stoot en uitdruk uit hulle verhoudings en gesprekke? Is dit hoekom mense soms so verskriklik katterig met ander is?

Dit was natuurlik Sarai se oplossing ook. Sy boor Hagar in die grond in. Sy kon, want sy was baas. Nie dat Hagar ’n engeltjie was nie; geensins. Sy is minstens net so verantwoordelik vir al die probleme. Hierdie hoofstuk wys vir ons baie duidelik dat konflik en probleme dikwels nie eenvoudig is nie. Dis nie so maklik om bloot ’n skuldige aan te wys en dan is die res onskuldig en dis die einde van die probleem nie.

Is dit nie presies die probleem in ons land nie? Dat ons gedurig op soek is na sondebokke sodat ons vlekkeloos kan bly. Dis húlle wat so is en sus maak. Dís hoekom dinge so treurig is. En so wys ons vingers vir mekaar en swaai vuiste na mekaar en trek laer en vat mekaar glad hof toe.

Probleme het dikwels nie ’n eenvoudige oorsaak nie, en daarom is die oplossings ook meestal nie eenvoudig nie. Ek onthou ek het ’n kollega gehad met wie ek moeilik saamgewerk het. Ek en Elmien het swaar gekry onder hom, en die maklikste was om te sê: Dis alles die kollega se skuld, want hy is ’n moeilike man. En solank ek dit kon sê, was ek mos ’n onskuldige slagoffer wat maar net myself kon jammer kry. Die moeilikheid was net: solank ek my kollega vir alles geblameer het, is ons probleme nie opgelos nie.

Wat ís die oplossing dan? In Genesis 16 gaan jy verniet na Abram of Sarai of Hagar kyk om ’n antwoord te kry. By hulle sien ons net wat ons nié moet doen nie. Maar wat moet ons doen om verder te kom met mekaar?

Uiteindelik is dit God wat ons hier weer kom help. Want dit is op die ou end Hý wat die hele situasie beredder. En hoe doen Hy dit? Hy doen wat Abram en Sarai van die begin af moes doen: Hy sien vir Hagar raak as mens. Dis al! Hy vat nie haar probleme weg nie. Hy onthef haar nie van haar verantwoordelikheid om aan Sarai onderdanig te wees nie. Hy sê gaan terug na jou eienares en onderwerp jou aan haar gesag (vs 9). En – dan gaan sy! Maar sy gaan met dié wete in haar hart: God het my gesien! Ek is iemand vir Hom. Hy ken my naam, Hy gee om wat met my gebeur!

Dís wat van die begin af moes gebeur het: Abram en Sarai moes Hagar raakgesien het as ’n mens. Sy was nie bloot ’n gebruiksartikel nie. Sy was nie maar net ’n slavin met wie hulle kon maak wat hulle wil nie, of soos Abram vir Sarai gesê het: “Doen met haar soos jy goeddink.”

Eers toe Hagar ontdek: ek word raakgesien, God gee om wat van my word en wat in my lewe aangaan, tóé eers was sy gereed om terug te gaan.

Miskien is hier vanoggend iemand wat soos Hagar daar in die woestyn voel. Miskien voel jy niemand gee vir jou om nie, niemand weet van jou seer of stryd nie. Miskien voel jy hulpeloos of magteloos of moedeloos. Vir jou sê die Woord vanoggend: Gód sien jou raak! Hy gee om! Hy weet wat in jou lewe gebeur. Jy is nié alleen nie.

Maar dalk is jy nie soos Hagar nie. Vir jou en my vra die Woord of ons mekaar nog raaksien as mense wat saam met ons onder God se vriendelike oë leef. Ons kan nie alles oplos nie. Dikwels kan ons baie min doen aan probleme. Maar ons kan iet doen: ons kan begin om, soos God, mekaar raak te sien en ons hande na mekaar uit te steek.

O, dat ons meer soos God sal wees! Dat ons mekaar sal raaksien! Dat ons nie vingers en vuiste vir mekaar sal wys nie, maar mekaar sal omhels soos God ons in Christus Jesus omhels!

Amen.




Gen 15:6 GELOOF

Die gedeelte wat ons gaan lees, speel af ’n hele paar jaar nadat Abram en Sara uit Ur van die Galdeërs weggetrek het na Kanaän toe. Julle onthou mos hoe God beloof het dat Hy Abram sal seën en hom ’n man van groot betekenis maak, en aan hom ’n groot nageslag sal gee (Gen 12:1-3). En nou is hy al etlike jare in Kanaän, en steeds kinderloos.

Dis in dié omstandighede dat die Here aan Abram verskyn. Kom ons lees dit:

Skriflesing: Gen 15:1-21.

Abram het toe in die Here geglo, en die Here het dit goedgevind …

As ’n mens hierdie woorde lees, dan wil ’n mens sommer sug en wens jy het ook so ’n geloof soos Abram gehad. Miskien het jy ook al die versugting uitgespreek: “Dit sou tog wonderlik wees as ek so kon glo. As ek net ’n geloof soos Abram kon hê, hy wat die vader van die gelowiges genoem word, dan sou ek ’n goeie Christen wees.”

Maar tog was Abram nie van die begin af die geloofsheld wat ons graag van hom wil maak (en wat hy inderdaad op sy oudag geword het) nie. Langs die pad moes hy baie van God en oor God leer. En een van die belangrikste dinge wat hy moes leer, is die feit dat ’n gelowige uit die geloof moet lewe, en nie in aanskoue nie. Dit is so anders as wat ons gewoond is in die alledaagse lewe. Daar sorg ons dat ons alles haarfyn uitwerk, dat ons al die voordele en nadele van elke saak teen mekaar opweeg. Maar met die geloof werk dit nie so nie. Abram moes dit ook leer. Hier het jy nie klinkklare feite nie, net God se woord en belofte. Abram moes in die leerskool van geloof die kuns aanleer om met hierdie beloftes en uit hierdie beloftes te lewe. Abram moes leer dat God se beloftewoord goed genoeg is, al het jy geen sigbare bewyse om aan vas te hou nie, omdat dit God is wat die belofte maak.

Dit is natuurlik nie so ’n eenvoudige les om te leer nie. Ek vermoed die meeste van ons sukkel daagliks daarmee. Met Abram was dit ook nie anders nie. Ook hy het twyfel en teleurstellings en oomblikke van moedeloosheid geken. So sien ons hom hier in Gen 15 op moedverloor se vlakte, omdat hy nie kon verstaan waarom God se beloftes aan hom dan nie in vervulling gaan nie, maar net maar beloftes bly.

Kom ons kyk weer na vers 1-3:
Hierna het die woord van die Here in ’n gesig tot Abram gekom: “Moenie bang wees nie, Abram, Ek beskerm jou! Jou beloning sal baie groot wees.”
Toe sê Abram: “Here my God, wat kan U vir my gee? Ek sal kinderloos sterf, en Eliëser die man uit Damaskus sal my besittings kry.”
Abram het verder gesê: “U het nie vir my ’n nageslag gegee nie. ’n Slaaf uit my huis sal my erfgenaam wees.”

Die meeste van ons het ook al hierdie soort twyfel beleef en met hierdie soort verwyt in ons hart gesit: Dat ’n mens nie kan verstaan waarom God dan nie sy beloftes waar maak nie, waarom Hy dan nie sy koninkryk duideliker en gouer laat kom in jou lewe, in ons land, in die wêreld nie. Dalk worstel jy op die oomblik hiermee.

Hoe antwoord God vir Abram in sy twyfel? Die maklike pad sou seker wees dat God sy beloftes aan Abram net daar in vervulling laat gaan, dat Hy aan Abram ’n konkrete bewys gee dat sy beloftes nie net woorde is nie. Maar dit doen God nie. Want Abram moes leer om God se plan met hierdie wêreld, en ook God se tyd daarvoor, te aanvaar. Hy moes leer om God op sy woord te neem. Daarom neem Hy vir Abram na buite, wys hom die sterre en herhaal die belofte aan hom.

In ons teksvers lees ons Abram se reaksie op God se woord: Abraham het toe in die Here geglo, en die Here het dit goedgevind … Langs die pad, tussen die teleurstellings en die wag deur, het hy geleer dat geloof van jou vra om God te vertrou. Geloof vra van jou om God te vertrou, en niks anders nie. Op grond van God se woord glo Abram, en dít vind God goed. Dit is geloof: Om God te vertrou en Hom op sy woord te vat en jou rus daarin te vind. Geloof is om God toe te laat om te werk, sy plan met hierdie wêreld en met jou lewe uit te werk.

’n Mens kan dit met ’n beeld vergelyk. Almal wat al leer swem het, weet hoe vreemd die gedagte dat ’n mens op water kan dryf, in die begin klink. Wat ’n mens uit ervaring weet, is dat jy bodem toe sal sink sodra jy in die diep water kom, en dat slegs die wildste en inspannendste watertrappery jou kop bo die water sal hou. Om te leer dryf, vra van jou om jou op ’n manier aan die water oor te gee en te vertrou dat die water alleen, sonder inspanning van jou kant, jou bo kan hou. Net so vra geloof van ons ook dat ons ons aan God sal oorgee, ons op Hom sal verlaat, Hom sal vertrou om ons te red. En dit is wat Abram ook moes leer.

Maar hierdie gedeelte wil nie net vir ons iets van Abram en sy geloof vertel nie, maar ook vir ons iets van God leer. Ons sien hier dat God nie ’n onsimpatieke en onbetrokke toeskouer in ons lewens is nie, maar ons tegemoetkom en ons in ons swakheid help. God staan nie op die kant en kyk hoe Abram spartel nie. Dit is ook nie vir Hom om ’t ewe of Abram dit gaan maak of nie. Hy wil hê dat Abram sal slaag. Hy wil Abram help om te glo. Daarom praat Hy met hom, daarom gee Hy aan hom die tekens van die sterre, en later ook die vuur uit die hemel wat die offers verteer. God is hierdeur besig om Abram by die hand te vat en te help om te glo.

God wil dit ook vir jou en my doen. God wil nie dat ons vol twyfel sal lewe nie. Daarom kom Hy ons tegemoet. En sy antwoord aan ons is veel meer as wat Hy vir Abram gegee het. Hy het ons sy Seun gegee. Jesus is God se antwoord op ons vrae oor wat God dan doen. In Jesus het Hy uit die hemel getree om langs ons te kom staan en deel van ons lewe te word. Ons het Golgota. Ons het die leë graf. Ons het Jesus se belofte in Matt 28:20: “Ek is by julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.”

God sê vir Abram: Kyk na die sterre. Vandag sê Hy vir ons: Kyk na Jesus. Heb 12:3 sê dit in soveel woorde: “Hou Hom voor oë … Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.”
Amen.




1 Pet 1:17-23 Losgekoop deur Christus

Ek dink om goed te verstaan wat die Here in hierdie gedeelte vir ons wil sê, moet ons eers weer ons gedagtes verfris oor wat ’n slaaf is. Waaraan dink julle as julle die woord slaaf hoor?

☞   ’n Slaaf was ’n besitting wat jy gekoop het, soos wat jy vir jou ’n perd sal koop om mee te ry, of ’n motor vandag. So het ’n mens in daardie dae ook slawe gehad wat vir jou moes werk. Hulle het aan jou behoort, en moes alles doen wat jy sê. Hulle was nie vry om te gaan waar hulle wil, of te doen wat hulle wil, of te trou of so nie. Hulle moes altyd by hulle baas bly en alles doen wat die baas sê.

’n Tyd gelede het ek hierdie verhaal gehoor:
Op ’n keer, terwyl pres. Abraham Lincoln van Amerika deur die land gereis het, kom hy in ’n dorp met die naam Charleston in die staat Suid-Carolina. Terwyl hy so deur die middedorp stap, kom hy op ’n slaweveiling af. ’n Mens kan jou dit amper nie indink hoe dit moes gewees het nie. Mense het op die slawe gebie, soos boere vandag nog op veeveilings op skape en beeste bie om hulle te koop. Die hele veiling waar die arme slawe soos diere uitgestal en verkoop is, het die Amerikaanse president diep ontstel. En toe doen hy ’n baie ongewone ding. Hy stap nader en terwyl die mense bie op ’n slavinnetjie, begin hy saam te bie. Dit was die een bod teen die ander, en die prys het opgegaan en opgegaan, totdat dit later baie hoër as gewoonlik is. Maar Lincoln het nie opgehou nie, totdat die bod uiteindelik op hom toegeslaan is.
Hy het betaal, en toe die meisie na hom gebring is, het sy senuweeagtig vir hom gevra wat hy van plan is om met haar te gaan doen. “Ek gaan jou vrylaat,” het Lincoln tot haar verbasing gesê.
“Vry? Vry om wat te doen?” wou sy verbaas weet.
“Wel, vry om te maak wat jy wil,” het hy geantwoord.
“Beteken dit ek kan gaan waar ek wil?” vra sy.
“Ja!”
“Sê wat ek wil en wees wat ek wil?”
“Ja!” het Lincoln haar elke keer verseker.
Die slawemeisie het so ’n oomblik nagedink, en toe het sy Lincoln se hand vasgegryp, hom in die oë gekyk, geglimlag, en gesê: “In daardie geval wil ek by Meneer bly!” Want sy het geweet dat hierdie man, wat so baie betaal het om haar vry te koop, baie, baie goed vir haar sou wees en vir haar sou sorg.

Die Bybel sê ons was almal soos daardie slavinnetjie. Ons was slawe van die sonde. Ons kon nie maak wat ons wil nie, want die sonde het oor ons baas gespeel. Ons moes alles doen wat die duiwel en die sonde wou hê. Maar toe het die Here Jesus gekom en ons losgekoop van die sondemag. In die gedeelte wat ons gelees het, staan dit dat ons nie met geld losgekoop is nie. Ons is losgekoop met sy eie bloed (vers 18-19).

Dit het natuurlik op Golgota gebeur. Daar het Hy in ons plek gehang om vir ons te betaal – verskriklik duur betaal. Hoor wat staan daar in vers 19: “Julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is.”

Dink julle vir ’n oomblik in in hoe jou lewe sou wees as jy nié vrygekoop was nie, maar ’n slaaf van die sonde en sinloosheid; as elke versoeking jou baas was; as jy niks en niemand gehad het om voor te lewe nie.

(gee tydjie van stilte)

Die Heidelbergse Kategismus vra in vraag 1 wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe, waarop die baie bekende antwoord volg:
Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ’n wyse dat, sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.”

Die 2e vraag sluit hierby aan: Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe?
Drie dinge: Ten eerste hoe groot my sonde en ellende is; ten tweede hoe ek van al my sonde en ellende verlos kan word en ten derde hoe ek God vir so ’n verlossing dankbaar moet wees.

Die slavinnetjie het geweet. En dit lyk my Petrus het ook nie daaroor gehuiwer nie. Hy omraam as ’t ware die uitspraak dat ons losgekoop is, met twee riglyne hieroor.
∙ Hy skryf in vers 15 en 16: Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig.” En in die volgende vers spel hy dit ’n bietjie verder uit: … lewe dan in eerbied vir Hom …
∙ En in vers 22 skryf hy: Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het om mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê.

Hoe lewe ’n mens wat verstaan dat hy losgekoop is deur die bloed van Jesus? Hoe lyk ons dankbaarheid? Petrus sê
∙ so ’n mens leef ’n heilige lewe, in eerbied vir God, en
∙ so ’n mens leef in liefde met ander.

Christus het die dood oorwin. Hy het opgestaan. Hy het ons met sy bloed losgekoop uit ons oorgeërfde sinnelose bestaan. Daarom kan ons as ver-los-te mense leef. Daarom kan ons ook nuut leef, oorwinnend leef, dankbaar leef. En ons kan nie net nie, ons word daartoe geroep en uitgedaag. Kom ons doen dit!

Amen.




Luk 19:29-44 Palmsondag

Uit ’n menslike oogpunt, dink ek, was hierdie feestelike binnekoms van die Here Jesus in die stad Jerusalem in seker die hoogtepunt van die Here Jesus se lewe hier op aarde. ’n Mens sou regtig dink: Hier het ons nou uiteindelik die vrug op Christus se prediking. Uiteindelik sien die mense Hom aan vir Wie Hy regtig is: die Koning van hemel en aarde! Nooit elders in sy lewe is Hy só met oorgawe geëer en besing nie. Mense het langs die pad gestaan en juig, palmtakke geswaai en God uit volle bors geprys, soos vs 37-38 dit so treffend beskryf: Toe Hy al naby die afdraande teen die Olyfberg kom, het die hele skare dissipels God vol vreugde hardop begin prys oor al die kragtige dade wat hulle gesien het. Hulle het uitgeroep:
“Geseënd is die Koning, Hy wat kom in die Naam van die Here!
Vrede in die hemel n heerlikheid in die hoogste!”

Maar dan gebeur daar ’n baie vreemde ding: Wanneer die Here die stad voor Hom sien, huil Hy. Ons sou verwag dat Hy so bly sou wees oor die erkenning wat Hy uiteindelik kry, dat niks sy vreugde kan demp nie. Maar in plaas van blydskap oor die erkenning, is daar trane.

Wat is dan hier verkeerd?

Dit lyk my die antwoord lê hier in vs. 42 en 44, waar die Here sê: “As jy maar op hierdie dag dié dinge besef het wat vir jou vrede kan bring! Maar nou is dit vir jou oë verberg … Jy (het) nie hierdie beslissende tyd toe God jou besoek het, herken … nie.”

Die Here Jesus huil, omdat die mense van Jerusalem nie besef het wat aan die gebeur is nie. Omdat hulle nie die betekenis van sy koms verstaan het nie, blind was vir wat voor hulle oë gebeur. Omdat hulle net gesien het wat hulle wóú sien, net geglo het wat hulle wóú glo, en daarom die aankoms van die Here totaal verkeerd verstaan het. Want as die Here hier op sy geleende donkie die stad inry, sien die volk nie ’n nederige Man op ’n donkie nie, maar sien hulle net hulle held wat die stad inry om Jerusalem te bevry van die Romeinse regering, sien hulle ’n koning wat vir hulle sal help om die Romeinse soldate te verdryf, ’n wonderwerker wat vir Pontius Pilatus, die Romeinse goewerneur, met ’n wonderwerk sal laat terugkeer na Rome, sodat hulle weer vry kan wees, vrede kan hê. Vir die feestelike skare is daar net een antwoord: Jesus is hulle koning, uit die geslag van Dawid, wat God gestuur het om hulle te bevry van hulle onderdrukkers, die Romeine.

Maar hulle was so ver van die waarheid af! Jesus is juis nie ’n aardse koning nie, Hy het juis nie gekom om ’n aardse regering saam te stel nie. Daarom ry Hy nie op ’n oorlogsperd, vol prag en praal, soos dit ’n koning van daardie tyd sou pas nie, maar ry Hy op ’n geleende donkie, in nederigheid, in eenvoudigheid, omdat Hy nie gekom het om deur aardse mag en wêreldse gesag te regeer nie. Matteus is baie bang dat sy lesers ook die betekenis van hierdie dag verkeerd sal verstaan, en daarom, as hy oor hierdie intog skryf, haal hy aan uit Sag.9:9: Sê vir Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe; Hy is nederig en Hy ry op ’n donkie, op die vul van ’n pakdier.

Die Here Jesus kom wel in die Naam van die Here God, soos die skare sing. Hy ís die Gesalfde van God, maar dan nie gesalf deur ’n groot profeet soos wat ’n Samuel van ouds vir Dawid gesalf het nie, maar deur ’n vrou (Matt 26:6-13). Hy kóm om vrede te bring, maar dan so anders as wat hulle verwag. Nie met ’n goue kroon vol skitterende juwele nie, maar met ’n doringkroon, vol van sy eie bloed; nie met ’n koninklike septer in sy hand nie, maar met ’n swakke riet wat maklik kan knak; Hy regeer nie deur sy vyande te dood nie, Hy regeer deur self te sterf aan die kruis. Só is die Here Jesus. Daarom het Hy vir Pilatus gesê: My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie. As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het … Maar nou is my koninkryk nie van hier nie. (Joh 18:36)

Daarom huil die Here, want sy eie mense, hulle wat juis in ’n posisie was om te verstaan, verstaan nie; wíl nie verstaan nie. Hulle is blind, hulle sien net wat hulle wil sien, hulle verstaan net wat hulle wil verstaan.

Só het die wêreld gelyk vir wie die Here Jesus aan die kruis kom hang het.

En vandag? Ek sou seker heelwat kon sê oor mense wie se name op die kerk se boeke is, maar jy sien hulle nooit in die kerk nie. Ons sou maklik die vinger na hulle kon wys en sê: Dís die ouens wat Hosanna! in die koor sing as dit hulle pas, maar nêrens is as Jesus gevolg moet word nie. Maar dis darem te maklik om die teks só te lees, want dan gaan ons huis toe, tevrede dat ons nie soos die Jode van destyds is nie.

So, dalk moet ons vanoggend vir onsself vra: wat verwag ék van Jesus? Verstaan óns wat Jesus kom doen het? Wat Hy vir ons wil wees? O, ons wil almal hê Hy moet Homself bewys as die groot Koning, die Oorwinnaar, die Leeu uit die stam van Juda wat Satan en sonde oorwin het. En Jesus is dit alles. Hy hét oorwin. Hy hét opgestaan uit die dood. Hy sít aan die regterhand van die Vader. Hy regéér die wêreld. Maar sy regering lyk so totaal anders as wat ons graag wil hê. Sy regering is dié van diens. Van nederigheid. Van selfverloëning. Daarom sien ons Hom, ’n paar aande later, vir oulaas in die bovertrek met sy dissipels, handdoek om die lyf en skottel in die hand, besig om sy dissipels se voete te was.

Jesus het geleer dat as ons agter Hom wil aankom, moet ons bereid wees om onsself te verloën en ons kruis opneem. Dis nie ’n glorieryke pad nie. Die geloofspad is een van selfprysgawe. Dís hoe Jesus is. Dís hoe ons moet wees.

En daarom huil die Here Jesus, omdat Hy geweet het hoe die mensdom is. Hoe óns is. Omdat ons van Hom ’n aardse koning wil maak het wat inpas by óns sieninge, óns begeertes. Ons hou van ’n sterke Oorwinnaar, ’n beste Vriend. Ons weet nie wat om met ’n nederige Christus te maak nie, want netnou moet ons ook so word.

Die Here Jesus het op pad na Jerusalem gaan staan en huil, omdat die mense Hom toegejuig het in die hoop dat Hy hulle aardse redder gaan wees. Daarom het Hy skaars 5 dae ná hierdie gebeurtenis aan die kruis gehang: verwerp deur dieselfde mense wat daardie dag uit volle bors gesing het: Loof Hom!

Wat verwag jý van die Here?

Amen.