Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God. 2 Kor 5:17-18a
Ek onthou hoe ek in my kinderdae baie keer gedroom het oor as ek eendag groot is. Dan gaan ek dít doen en dát bereik. Ek gaan ’n wonderlike vrou en fantastiese kinders hê. Ek gaan ryk wees en die wêreld vol reis. Ek gaan hierdie wonderlike dominee wees wat die kerk vol preek. Ek gaan ’n boek skryf wat ’n internasionale beste verkoper is.
Ons het in 1994 gedroom van ’n nuwe Suid-Afrika waar daar vir almal plek in die son sal wees …
Nouja, die moeilikheid met drome is, hulle word heel dikwels (meestal) nie waar nie. Van al my drome het net die een oor ’n wonderlike vrou en kinders waar geword. Van rykdom en die wêreld vol reis en al die ander goed het daar dadels gekom.
Daarom, hoe ouer ’n mens word, hoe minder droom jy oor die toekoms. Die lewe het ’n manier om jou te ontnugter. Om die blink uit jou oë te haal. Dis ongelukkig so dat baie mense langs die pad sinies word oor die lewe, nie meer werklik opgewonde kan raak oor enige iets nie. Jy het al te veel keer in die lewe teleurstellings beleef, en so het die opwinding van die lewe iewers langs die pad verflou en vervaag. Jy droom nie meer oor die lewe nie. Of droom jy nog? Oor jou huisgesien? Oor jou kinders? Oor jou toekoms?
Of het jy opgehou droom, en jy laat maar die lewe oor jou gaan?
Daar is een droom wat ons nooit mag laat vaar nie, en dit is die droom om hoe langer hoe meer soos Christus te word. Paulus het daarvan geskryf in Fil 3:10-11: “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.”
Dis natuurlik nie ’n eenvoudige droom nie, want dit praat van deel hê in Christus se lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood. Die Here het mos self by geleentheid gesê as ons Hom wil volg, moet ons onsself verloën en ons kruis opneem.
Daar is niks glorieryk aan hierdie droom nie. Dis nie een van armpies gevou sit en hoop dit gaan met jou gebeur nie. Dis sterwe aan jouself, daagliks. Dis ’n droom waarin dit nie gaan oor jou eie roem en plesier en grootsheid nie. Soos Johannes die Doper gesê het: Hy moet meer word en ek minder.
Dis óók ’n droom wat ek het. Een wat ek vurig begeer, maar nie hierdie kant van die graf volledig sal bereik nie. Paulus sê self hy het dit nog nie bereik nie, maar hy jaag daarna asof hy dit kan gryp.
GOD KAN VIR JOU ’N NUWE TOEKOMS SKEP
Gelukkig is dit ’n droom waarin ons nie alleen verantwoordelik is vir die uitkoms nie. Trouens, dis iets wat God in ons laat gebeur. Hý verander ons, maak ons nuut, werk in ons, vorm ons. 2 Kor 5:17 sê: Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God.
Ons aanbid ’n wonderlike God wat vir ons ’n nuwe toekoms skep, ’n God wat Hom nie laat keer deur teleurstellings en doodloopstrate en moedeloosheid en hopeloosheid nie.
Paulus het alles van hierdie nuwe toekoms geweet wat God vir ’n mens kan bewerk. Hy, wat eers ’n vervolger van die kerk was, word die grootste sendeling, want God het hom verander en nuut gemaak. “Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God,” skryf hy in 2 Kor 5:17.
AS JY AAN GOD BEHOORT, GEE HY JOU ’N NUWE KANS
As God met ’n mens besig is, word jy nuut, splinternuut. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Daarom kan jy die lewe sonder vrees en bewing ingaan, al is jy nie besonder dapper nie, omdat jy glo in ’n wonderlike Here wat vir ons ’n nuwe kans gee om gelukkig te wees, om voluit te lewe, om ons drome te verwesenlik. Ons hoef nie met ’n klomp hartseer bagasie oor mislukkings van die verlede onsself voort te sleep nie, want God het die oue weggevee. Dit is verby.
GOD MAAK JÓÚ NUUT, ’N NUWE SKEPPING
Maar dis nie net dat God die ou, stukkende verlede wegvee en ons ’n nuwe kans gee, ons as ’t ware ’n nuwe blaadjie laat omslaan nie. Nee, Hy maak óns nuut, oor. Paulus skryf eintlik letterlik dat iemand wat aan Christus behoort, ’n nuwe skepping is. Christene is anders as ander mense, want, in die woorde van die Here Jesus aan Nikodemus (Joh 3), ons is twee keer gebore, opnuut gebore deur die werk van die Heilige Gees. In Christus is ons nuwe skeppings, sê Paulus. Hy gebruik hier dieselfde woord wat die Bybel gebruik as dit van die skepping van hemel en aarde vertel. God het ons nuut geskep, oor gemaak, sodat ons al meer en meer soos Christus kan lyk, soos Christus kan optree, soos Christus kan wees. In dieselfde brief, presies een hoofstuk vroeër (2 Kor 4:16) skryf Paulus dat God ons innerlik van dag tot dag vernuwe. En in 3:18 skryf hy dat ons al hoe meer verander word om aan die beeld van Christus gelyk te word. Dit doen die Here wat die Gees is.
Julle het al seker almal ’n TV-program gekyk waar mense ’n “complete makeover” kry: ’n nuwe haarstyl, ’n nuwe klerestyl, ’n ander bril, nuwe tande … Maar dis alles kosmeties en uiterlik, want geen mens kan iemand anders oormaak nie. Daarom sê ons ook mos: ’n jakkals verander van hare maar nie van streke nie.
MAAR: God kan jou heeltemal oor maak, nuut maak, van vooraf maak. In Christus het die ou jy as ’t ware gesterwe. Nou is dit ’n nuwe jy wat saam met Hom uit die graf opgestaan het. Dis wat God in jou doen (vers 18)!
FOKUS OP DIÉ GOD WAT NUWE MOONTLIKHEDE BRING
Daarom, as daar nou één droom is wat ek vir myself ten doel stel, is dit dat ek opnuut op God sal fokus: op die God wat nuwe lewe bring waar ek moed opgee, wat nuwe moontlikhede oopmaak waar ek net toe deure sien, die God wat die oue en verkeerde uitvee en vir my nuwe kanse gee. Die God wat ook vir mý nuutgemaak het. Want ek behoort aan Christus, en daarom is ek ook ’n nuwe mens, ’n nuwe skepping.
Mag dit waar wees van ons elkeen!