Hoe moet ek dit verstaan? 22

God wou Moses doodmaak

En op pad, by die oornagplek, het die HERE hom teëgekom en hom probeer doodmaak. Toe neem Sippora ‘n vuursteen, besny haar seun en raak sy voete daarmee aan en sê: ‘Jy is vir my ‘n bloedbruidegom.’ Toe het Hy hom met rus gelaat.
Eks 4:24-26

Hierdie is ’n baie vreemde en raaiselagtige gebeurtenis, wat ek nie nou volledig kan behandel nie. Maar ek dink die hoofgedagte is dat die HERE Moses wil gebruik as leier om sy volk uit Egipte uit te lei. Maar op pad terug Egiipte toe keer die HERE hom voor omdat hy ongehoorsaam was aan die bevel om sy seuns te besny. Dit sou ondenkbaar wees dat hy self ongehoorsaam is aan een van die mees basiese bepalings van die verbond.

Ons weet nie hoekom Gersom nie besny is nie. Dalk omdat Sippora, ’n Midianiet, nie daarvoor geneë was nie? Of dalk omdat Moses die besnydenis uitgestel het? Die teks gee ons nie ’n antwoord hierop nie.

Moses se voete is waarskynlik ’n eufemistiese verwysing na sy geslagsdele. Deur die bloed van Gersom se besnydenis red Sippora nou vir Moses deurdat sy die verbondseis wat Moses nagelaat het, nagekom het.

Dié gebeurtenis staan opgeteken om ons te herinner dat God se uitverkore werktuie nie bokant die eise van die verbond staan nie. Hoe groter die roeping, hoe groter die verantwoordelikheid. Jakobus skryf later (Jak 3:1) dat leiers strenger as ander beoordeel word: “My broers, julle moenie almal leermeesters wil wees nie, want julle moet weet dat ons wat leermeesters is, strenger as ander beoordeel sal word.”

Samevattend kan ons sê:
• God neem sy verbond ernstig op.
• Gehoorsaamheid begin by die leier.
• God se genade hef nie sy heiligheid op nie.
• Die teken van die verbond is nie bloot simbolies nie; dit vra verbondstrou.
• Sippora tree onverwags op as die een wat deur haar daad Moses se lewe red.




Gen 13:1-18 OM DIE ONSIENLIKE TE SIEN

Daar is ’n ou spreekwoord wat lui: Geldgierigheid is die wortel van alle kwaad. Want rykdom en besittings het die manier om in jou hart te kom kruip, en só diep in jou hart in te kruip dat dit later jou optrede bepaal. Dit is ook wat hier in ons teksgedeelte gebeur het. Abram en Lot het ryk geword in die land Kanaän. Vers 2 en 5 spel dit pertinent vir ons uit: (lees dit)

En toe, soos dit maar gaan, het daar spanning ontstaan tussen Abram se mense en Lot s’n. Daar was net nie genoeg plek vir hulle albei nie. Die oorvloed van hulle besittings het begin om probleme tussen hulle te veroorsaak.

Nou laat ek sommer dadelik sê: As sodanig is daar natuurlik niks verkeerd met baie besittings en rykdom nie. Ook dit is gawes wat God in sy goedheid vir ’n mens kan gee. Tog leer die ervaring dat dit nie in die praktyk altyd so glad werk nie. Besittings dra inherent die kiem van versoeking met hom saam. In ons mensehande groei dit uit tot ongesonde proporsies. Dit vang ons vas en vul ons lewe sodat, voor ons ons kom kry, ons nie meer leef vir God en ons naaste nie, maar vir onsself en teen Hom en ons naaste. Dit is presies wat hier in ons teksgedeelte gebeur met Abram en Lot. Hulle mense begin onder mekaar stry, onder mekaar wedywer om die beste te kry. Onder die veewagters het die reël gegeld: Elke man vir homself. En as die ander een nou in die proses seerkry, is dit jammer, maar ongelukkig is dit nou eenmaal hoe dit gaan in die wêreld. Die lewe is hard, ou broer.

Julle sal weet, dit is nie so onbekend in ons eie tyd nie. Dit gaan so in die sakewêreld – die groot maatskappye druk eenvoudig almal uit die pad om die monopolie te bekom; dit gaan so in die verhoudingslewe – ’n persoon van wie ek nie van hou nie, loop ek uit die pad, ek sorg dat ek genoeg skietgoed kry om hom in die grond in te boor as die geleentheid hom voordoen; dit gaan helaas vir baie mense ook so in die politiek – ek eis alles in hierdie mooi land van ons vir myself en my eie mense op. Daarom ontstaan daar wrywing tussen die verskillende groepe in die land. Daarom is daar iets soos xenofobie.

Wat doen Abram dan? Abram tree na vore as ’n merkwaardige voorbeeld van sagmoedigheid en onselfsugtigheid. Hy wil tot elke prys ’n getwis vermy. Dis nogal baie anders as wat ons hom leer ken het in Gen 12. Daar dink hy net aan homself, vertel leuens oor sy huwelik met Sarai, net om sy eie bas te red, met die verskriklikste gevolge vir die mense van Egipte – gaan lees weer Gen 12! Maar hier sien ons ’n ander Abram. Abram het gaandeweg, ook deur sy eie foute en sonde (Gen 12!) geleer om anders oor die dinge te dink. Ons sien Abram hier as ’n man van vrede, ’n man wat vyandskap en onmin tot elke prys wil vermy.

So terloops, daar is rede om te vermoed dat hierdie gedeelte so pertinent hier vertel word as ’n waarskuwing, ’n les aan die latere konings van Israel wat dikwels baie bloeddorstig was, wat oorlog en geweld as die enigste oplossing vir hulle politieke probleme gesien het – die soort standpunt wat ’n mens vandag nog by party mense hoor.

Gen 13 is opgeteken om vir die konings van Israel te leer: Daar is ook ’n ander manier om jou sake te hanteer. Konfrontasie is nie die enigste oplossing nie, en beslis ook nie die Bybelse oplossing nie. Ons sien vir Abram hier as ’n man van vrede, wat onmin en vyandskap tot elke prys wil vermy.

Die rede vir Abram se optrede lê in sy verstaan van sy roeping. God het vir Abram in Gen 11 geroep om ’n seën vir die nasies te wees. En nou lees ons hier in 13:7: “Die Kanaäniete en die Feresiete het ook nog in die gebied gewoon.” Daarom wil Abram tot elke prys ’n getwis vermy: ter wille van sy roeping in hierdie wêreld, ter wille van sy getuienis, ter wille van die seën wat hy moes uitdra na die nasies, ter wille van God! Daarom was hy bereid om homself en sy belange tweede te stel. Omdat Abram met God en met God se doel met sy lewe erns gemaak het, kies hy die pad van versoening in hierdie wêreld, ook al moes hy baie in die proses (op tydelike gebied in elk geval) inboet.

Lot het hom nie gesteur aan hierdie dinge nie; met sy geloof het sy keuses in die lewe in elk geval niks te doen gehad nie. Maar dis weer ’n preek op sy eie. Lot kies ewe selfsugtig die beste deel vir homself. En dit terwyl dit tog die senior persoon se voorreg was om te kies. Lot kies ’n gebied wat so volop water het “soos ’n tuin van die Here”, en Abram sit met ’n stuk droë, half-woestynland oor. Soos die bekende Engelse gesegde lui: “Nice guys come second!”

En tog – so staan dit in 13:14 – na dit alles sê die Here vir Abram: Kyk tog rond … na alle kante. Alles wat jy sien, gee Ek aan jou en jou nageslag. Dít is die troos en die oorwinning van die geloof. Dat God vir jou sorg. Dat Hy na jou omsien, dat Hy jou belange behartig, dat Hy self jou sake bestuur.

Abram kon grootmoedig wees, onselfsugtig wees, omdat hy God se hand gesien het, omdat hy God vertrou het, God se beloftes vasgehou het. Omdat hy geweet het God sal sorg. Hier sien ons geloof, soos die Hebreërskrywer baie jare later sê, wat die Onsienlike sien; geloof wat weet dat die lewe meer is as kos en klere; geloof wat weet dat ‘n mens nie regtig leef van brood (of besittings of enigiets wat geld kan koop) alleen nie, maar van die Woord en die beloftes van God.

Abram het nog net beloftes gehad, en tog was dit vir hom genoeg om sy lewe en sy besluite daarvolgens in te rig. Ons het soveel meer as Abram. Ons het immers die bewys dat God ons liefhet en ons nooit in die steek laat nie: Jesus Christus, Immanuel, God met ons!

Amen.




Drome – Waaroor droom jy?

Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God. 2 Kor 5:17-18a

Ek onthou hoe ek in my kinderdae baie keer gedroom het oor as ek eendag groot is. Dan gaan ek dít doen en dát bereik. Ek gaan ’n wonderlike vrou en fantastiese kinders hê. Ek gaan ryk wees en die wêreld vol reis. Ek gaan hierdie wonderlike dominee wees wat die kerk vol preek. Ek gaan ’n boek skryf wat ’n internasionale beste verkoper is.

Ons het in 1994 gedroom van ’n nuwe Suid-Afrika waar daar vir almal plek in die son sal wees …

Nouja, die moeilikheid met drome is, hulle word heel dikwels (meestal) nie waar nie. Van al my drome het net die een oor ’n wonderlike vrou en kinders waar geword. Van rykdom en die wêreld vol reis en al die ander goed het daar dadels gekom.

Daarom, hoe ouer ’n mens word, hoe minder droom jy oor die toekoms. Die lewe het ’n manier om jou te ontnugter. Om die blink uit jou oë te haal. Dis ongelukkig so dat baie mense langs die pad sinies word oor die lewe, nie meer werklik opgewonde kan raak oor enige iets nie. Jy het al te veel keer in die lewe teleurstellings beleef, en so het die opwinding van die lewe iewers langs die pad verflou en vervaag. Jy droom nie meer oor die lewe nie. Of droom jy nog? Oor jou huisgesien? Oor jou kinders? Oor jou toekoms?

Of het jy opgehou droom, en jy laat maar die lewe oor jou gaan?

Daar is een droom wat ons nooit mag laat vaar nie, en dit is die droom om hoe langer hoe meer soos Christus te word. Paulus het daarvan geskryf in Fil 3:10-11: “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.”

Dis natuurlik nie ’n eenvoudige droom nie, want dit praat van deel hê in Christus se lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood. Die Here het mos self by geleentheid gesê as ons Hom wil volg, moet ons onsself verloën en ons kruis opneem.

Daar is niks glorieryk aan hierdie droom nie. Dis nie een van armpies gevou sit en hoop dit gaan met jou gebeur nie. Dis sterwe aan jouself, daagliks. Dis ’n droom waarin dit nie gaan oor jou eie roem en plesier en grootsheid nie. Soos Johannes die Doper gesê het: Hy moet meer word en ek minder.

Dis óók ’n droom wat ek het. Een wat ek vurig begeer, maar nie hierdie kant van die graf volledig sal bereik nie. Paulus sê self hy het dit nog nie bereik nie, maar hy jaag daarna asof hy dit kan gryp.

GOD KAN VIR JOU ’N NUWE TOEKOMS SKEP

Gelukkig is dit ’n droom waarin ons nie alleen verantwoordelik is vir die uitkoms nie. Trouens, dis iets wat God in ons laat gebeur. Hý verander ons, maak ons nuut, werk in ons, vorm ons. 2 Kor 5:17 sê: Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God.

Ons aanbid ’n wonderlike God wat vir ons ’n nuwe toekoms skep, ’n God wat Hom nie laat keer deur teleurstellings en doodloopstrate en moedeloosheid en hopeloosheid nie.

Paulus het alles van hierdie nuwe toekoms geweet wat God vir ’n mens kan bewerk. Hy, wat eers ’n vervolger van die kerk was, word die grootste sendeling, want God het hom verander en nuut gemaak. “Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God,” skryf hy in 2 Kor 5:17.

AS JY AAN GOD BEHOORT, GEE HY JOU ’N NUWE KANS

As God met ’n mens besig is, word jy nuut, splinternuut. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Daarom kan jy die lewe sonder vrees en bewing ingaan, al is jy nie besonder dapper nie, omdat jy glo in ’n wonderlike Here wat vir ons ’n nuwe kans gee om gelukkig te wees, om voluit te lewe, om ons drome te verwesenlik. Ons hoef nie met ’n klomp hartseer bagasie oor mislukkings van die verlede onsself voort te sleep nie, want God het die oue weggevee. Dit is verby.

GOD MAAK JÓÚ NUUT, ’N NUWE SKEPPING

Maar dis nie net dat God die ou, stukkende verlede wegvee en ons ’n nuwe kans gee, ons as ’t ware ’n nuwe blaadjie laat omslaan nie. Nee, Hy maak óns nuut, oor. Paulus skryf eintlik letterlik dat iemand wat aan Christus behoort, ’n nuwe skepping is. Christene is anders as ander mense, want, in die woorde van die Here Jesus aan Nikodemus (Joh 3), ons is twee keer gebore, opnuut gebore deur die werk van die Heilige Gees. In Christus is ons nuwe skeppings, sê Paulus. Hy gebruik hier dieselfde woord wat die Bybel gebruik as dit van die skepping van hemel en aarde vertel. God het ons nuut geskep, oor gemaak, sodat ons al meer en meer soos Christus kan lyk, soos Christus kan optree, soos Christus kan wees. In dieselfde brief, presies een hoofstuk vroeër (2 Kor 4:16) skryf Paulus dat God ons innerlik van dag tot dag vernuwe. En in 3:18 skryf hy dat ons al hoe meer verander word om aan die beeld van Christus gelyk te word. Dit doen die Here wat die Gees is.

Julle het al seker almal ’n TV-program gekyk waar mense ’n “complete makeover” kry: ’n nuwe haarstyl, ’n nuwe klerestyl, ’n ander bril, nuwe tande … Maar dis alles kosmeties en uiterlik, want geen mens kan iemand anders oormaak nie. Daarom sê ons ook mos: ’n jakkals verander van hare maar nie van streke nie.
MAAR: God kan jou heeltemal oor maak, nuut maak, van vooraf maak. In Christus het die ou jy as ’t ware gesterwe. Nou is dit ’n nuwe jy wat saam met Hom uit die graf opgestaan het. Dis wat God in jou doen (vers 18)!

FOKUS OP DIÉ GOD WAT NUWE MOONTLIKHEDE BRING

Daarom, as daar nou één droom is wat ek vir myself ten doel stel, is dit dat ek opnuut op God sal fokus: op die God wat nuwe lewe bring waar ek moed opgee, wat nuwe moontlikhede oopmaak waar ek net toe deure sien, die God wat die oue en verkeerde uitvee en vir my nuwe kanse gee. Die God wat ook vir mý nuutgemaak het. Want ek behoort aan Christus, en daarom is ek ook ’n nuwe mens, ’n nuwe skepping.

Mag dit waar wees van ons elkeen!




Hoe moet ek dit verstaan? 21

Kry wat jou hart begeer (Psalm 37:4)

Psalm 37:4 is nie ’n blinde belofte dat God enige begeerte van jou hart sal vervul as jy net genoeg bid of goed genoeg glo nie. Dit is deel van ’n lied oor vertroue in God te midde van onreg en bekommernis. Die hele lied kontrasteer die gelowige se lewenswyse en -ingesteldheid met dié van die goddelose, en die digter verseker ons dat die skynbare voorspoed van die goddelose nie iets is waaroor jy jou moet moeg maak nie (vers 3 en 7).

Die psalm as geheel (vgl vers 1) moedig jou aan om nie jaloers of bekommerd te wees oor die sukses van goddelose mense nie, maar om eerder op God te fokus. Teenoor die verganklikheid van die goddelose (vers 28) staan die gelowige se sekerheid en vertroue op die Here, wat aan sy kind gee wat hy nodig het.

Hoe om dit te verstaan:
“Hy sal jou gee wat jou hart begeer” is nie ’n “wenslysie”-belofte nie. Dit gaan eerder daaroor dat jy jou al hoe meer in God moet verlustig, want dan sal jou begeertes al hoe meer met God se wil ooreenstem. God gee dan dikwels daardie begeertes – nie omdat Hy ’n genie in ’n lamp is nie, maar omdat jou wil besig is om met sy wil saam te smelt. Jy begeer dinge wat Hom verheerlik en vir jou goed is.

Dit sluit aan by ander Skrifgedeeltes soos Matteus 6:33 (beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee) en Johannes 15:7 (As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry.)

Dit gaan dus oor hartverandering, en nie manipulasie van God nie. Baie mense dink die digter sê dat God ons hart se begeertes moet vervul as ons net genoeg vreugde in Hom vind. Maar die vers belowe eerder dat God ons hart self sal vorm sodat ons begeer wat Hy wil gee. Hy gee nie sonde, selfsugtige rykdom of dinge wat ons van Hom af wegneem nie. Hy gee dit wat pas by ’n lewe van vertroue en gehoorsaamheid.

Psalm 37:4 is ’n pragtige belofte van vervulling, maar dit begin by ’n veranderde hart wat in God self vreugde vind. Dan word sy wil jou begeerte – en Hy vervul dit getrou. Dit bring diep rus te midde van ’n wêreld vol bekommernis. Hierdie versekering is vir ons van onskatbare waarde wanneer ons dag vir dag gekonfronteer word met die gevolge van moord en doodslag, roof en geweld. Dit sê vir ons: Moenie aanvaar dat die bose tog sy sin gekry het nie. Moenie glo dat jy weerloos staan nie. En moet veral nie moed verloor, boedel oorgee of op ’n hopie gaan lê nie. Dieselfde God wat lank gelede al deur die psalmdigter vir gelowiges gesê het: “Laat julle lewe aan die Here oor”, sê daardie selfde ding ook nog vandag vir my en vir jou.




Epiklese-gebed nav (onder andere) Openb 1:12-20

Here ons God
Ons aanbid u vanoggend as die Heer van alle here, as die Koning van die konings. Ons aanbid U as die Skepper en Onderhouer van die heelal, U wat gepraat het, en dit was daar, U wat met ’n enkele magswoord die ganse skepping in aansyn geroep het. Hoe groot is U, Here, hoe groot is U! Voor U is ons so klein, so onbeduidend nietig. U is die Heilige van Israel, wat woon waar die lofsange van u volk opklink.
Ons aanbid U, Here Jesus, as die Koning van die kerk, wat die gemeentes in u regterhand vashou. U is die Leeu uit die stam van Juda, met mag en heerlikheid gekroon. U is die Een wie se oë soos vuur vlam, voor wie niks bedek is nie. U is die Een met die stem soos die gedruis van ’n groot watermassa.
Maar U is ook die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegdra, die Lam wat op Golgota vir ons geslag is, sodat ons deur u bloed bevry kon word. U is die Een vir Wie die dood onmoontlik gevange kon hou. U was dood, maar U het die doodse bande gebreek en U lewe tot in alle ewigheid. Ons prys U, Jesus Christus!
Dis tot U, Here God, dat ons ons vanoggend rig. Ons bring u gemeente, vanoggend voor u troon, Here, en bid dat u Koning sal wees van u gemeente en van ons harte. Ons bid vir die kerkraad wat die gemeente moet regeer, vir wysheid. Help ons, Here, om u gemeente so te regeer en in te rig dat U verheerlik sal word en die gemeente gebou sal word, sodat ons vir U en vir mekaar sal ken, sal liefhê, sal dien, en ’n oog vir die nood van die wêreld sal ontwikkel.
Ons bid vir hulle wat in nood is: siek en afgetakel na liggaam of gees; hulle wat hartseer is omdat hulle ’n geliefde verloor het of sien hoedat ’n geliefde wegkwyn; hulle wat oud geword het en swak. Ons bid vir hulle wat worstel met vasgeloopte huwelike, hulle wat werkloos en uitsigloos is. Ag, Here, as ons aan die nood in ons midde en om ons dink, raak ons verslae. Help tog, Here, en leer ons hoe ons ook kan help.
Ons bid vir ons jeug. Ons weet, Here, van al die versoekings op die pad. Ons weet hoe die tye verander het, en daarom dank ons U dat ons ons jongmense aan U kan opdra, kan weet dat hulle U s’n is. Help hulle om U lief te hê, Here, en help hulle om vir U te lewe. Skenk ons wat nog kinders in die huis het, die wysheid om hulle vir U groot te maak, en seën hulle kategete en onderwysers. Ons bid ook vir die koshuispersoneel wat die groot taak het om kinders in die week te versorg en te help. Dankie vir gelowige koshuispersoneel, Here.
En nou, o Gees van God, is ons stil voor U, sodat U ons kan aanspreek met u Woord. U is die Een wat die heilige profete met u vuur gevul het en gedrywe het, sodat hulle u woorde op skrif gestel het. U is die Een wat deur die eeue manne en vroue se lippe aangeraak het, sodat hulle u mondstuk kon word. Doen dit vanoggend weer, o Heilige Gees!
Amen.




Hoe moet ek dit verstaan? 20

Elke ding het sy vaste tyd (Pred 3:1)

Met ’n vinnige lees van Pred 3:1-9 wil dit voorkom of die Prediker sê ons lewe is as ’t ware in beton gegiet, en daar is niks wat jy daaraan kan doen nie. God beheer die tye en seisoene van die lewe, insluitend geboorte en dood. As jou strepie getrek is, is dit getrek, sê mense dikwels. Jou lewe is voor jou geboorte al vasgestel, en jy moet dit bloot aanvaar.

Dis nie wat die Prediker wil sê nie. Dis nie asof die lewe outomaties voortgaan en ons is hulpelose toeskouers in ons eie lewe nie. Ons bely immers dat God ons met ’n vrye wil geskep het, sodat ons self kan én moet kies hoe ons paadjie loop. Jy kan nie onverskillig lewe en as jy dan probleme kry, sê dis God se wil nie. Só maklik kan ons nie aan ons verantwoordelikheid in die lewe ontkom nie. As jy bv. alles wat jy het, wegdobbel, kan jy nie sê dis nou maar eenmaal jou lot nie. Daarom waarsku die Prediker ons dat mense “voor hulle tyd” kan sterf deur dwaasheid, sonde of roekeloosheid (Pred 7:17 – “Wees nie te regverdig nie … waarom wil jy vóór jou tyd sterwe?”). Ons keuses en sonde het gevolge wat die lewe kan verkort.

Wat die Prediker sê, is dat daar seisoene in die lewe is wat jy nie kan versnel of stop nie. Jy kan byvoorbeeld nie die winter gouer laat omgaan nie. Daar is dinge in die lewe wat uitsluitlik in God se hand is en wat Hy bepaal. Ons is nie God nie. Die lewe bestaan uit siklusse en teenstrydighede, en die wysheid lê daarin om te onderskei watter tyd dit nou is. Om sinvol te leef, vra nederigheid en ’n erkenning dat God uiteindelik in beheer van sake is, maar ook die wysheid om te weet watter keuses vir jou gaan werk.

Ek dink graag oor die spanning tussen God se beheer en ons verantwoordelikheid as ’n dinamiese spanning, waarin God in beheer is, maar ook ruimte laat vir dit wat ons besluit, goed of sleg. Hy sal sy plan vir jou lewe aanpas sodat dit uiteindelik aan sy doel beantwoord. Dis die troos – ons behoort nie aan onsself nie en is ook nie aan die noodlot oorgelaat nie. Ons behoort aan ons troue Saligmaker. Hy bewaar my op so ’n wyse dat, sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. (Heidelbergse Kategismus Vr en Ant 1).

Prediker 3:1-9 sê dat God die tyd van sterwe bepaal het binne sy soewereine plan. Dit is nie noodlot nie, maar vertroue – die God wat jou geboortetyd geken het, ken ook jou sterftyd, en Hy is getrou. Dit help jou om te aanvaar dat jy nie alles kan dwing om volgens jóú skedule te gebeur nie. Daar is ’n tyd om te treur en ’n tyd om te lag; albei is deel van die lewe. Dit verskuif die beheer vanaf jou eie skouers na God se groter plan.