Gebed oor misdaad en geweld

Here, onse Here!

In ’n wêreld wat U nie ken en eer nie, in ’n wêreld waarin dit vir ons lyk asof die duiwel baas is, in ’n wêreld waarin ons onseker en ook onveilig voel – in hierdie wêreld wil ons U dien. En daarom staan ons met stukkende harte voor U, met soveel vrae, en met opstand in ons gemoed:

∙ mense is in die afgelope week in hierdie land vermoor

∙ ander is van hulle motors en ander besittings beroof

∙ onskuldige babatjies is geaborteer

∙ vroue en dogters is verkrag

∙ mense het hulle werk verloor, en ander soek tevergeefs na werk

∙ mense en selfs kinders slaap in die winter buite in die nat en die koud

∙ ons land se regering kom nie die mas op nie

∙ misdaad, geweld, korrupsie en anargie is aan die orde van die dag

∙ daar is siekes in ons gemeente wat week na week sien hoe hulle liggame al verder en verder deur die siekte afgetakel word

∙ party van ons is hartseer omdat die dood oor ons pad gekom het

∙ party sleep hulle dag na dag voort, vasgevang in ’n huwelik waarmee hulle nie meer raad het nie, met ’n huweliksmaat wat geen maat meer is nie

∙ ander is so ontsettend eensaam –

Here, ons roep na U! Ons wil vanoggend aan U kom vasklou in die geloof, want U is die God wat gister en vandag en tot in ewigheid dieselfde is! Ons het U nodig, Here, ons het U nodig!

Sonder U kan ons nie van dag tot dag leef nie. Sonder U is hierdie kerk leeg, Here, en sonder U is ons leeg.

Daarom, o Heilige van Israel, vlug ons na U toe! Kom raak ons tog aan met u Woord en deur u Gees, dat ons kan lewe! Open ons verstand dat ons kan verstaan en kan glo, open ons harte dat ons kan liefhê en kan hoop!

Amen.




’n Gebed vir Nasionale Vrouedag

Hemelse Vader,

Op hierdie Nasionale Vrouedag kom ons met dankbare harte na U. Ons dank U vir elke vrou wat U na u beeld geskape het – elke moeder, ouma, dogter, suster, eggenoot en vriendin. Dankie vir die unieke gawes waarmee U hulle toegerus het: liefde wat versorg, wysheid wat rigting gee, moed wat volhard en geloof wat bly hoop, selfs wanneer die pad moeilik word.

Here, ons bring vandag al die vroue van ons land voor U. Ons bid vir dié wat vreugde beleef, maar ook vir dié wat swaar dra. U ken die vrou wat in stilte huil, wat oor haar kinders bekommerd is, wat eensaam is, wat siekte dra, wat geweld of onreg ervaar het, of wat moed verloor het. Wees U hulle Skuilplek, Trooster en Sterkte. Omvou hulle met u liefde en laat hulle weet dat hulle kosbaar is in u oë.

Ons bid vir moeders wat hul kinders grootmaak, vir vroue wat alleen verantwoordelikheid dra, vir weduwees, vir jong meisies wat nog hul plek in die wêreld soek, en vir oumas wie se wysheid geslagte verryk. Gee aan elkeen die genade om hulle roeping met vreugde en getrouheid uit te leef.

Skenk aan die mans in ons gemeenskappe harte van respek, eer en liefde, sodat elke vrou met waardigheid behandel sal word. Laat ons as samelewing opstaan teen mishandeling, vernedering en onreg. Maak ons instrumente van u vrede, waar geregtigheid en barmhartigheid mekaar ontmoet.

Vader, vorm die vroue van ons land na die voorbeeld van die godvresende vroue waarvan u Woord getuig – vroue wat U vrees, wat met wysheid praat, met sagmoedigheid leef en met geloof die toekoms tegemoetgaan. Mag hulle ligdraers wees in hul huise, kerke, werkplekke en gemeenskappe.

Ons bid ook vir die jong meisies van Suid-Afrika. Bewaar hulle teen verkeerde invloede. Gee hulle die wysheid om hul identiteit in U te vind en nie in die stemme van hierdie wêreld nie. Laat hulle groei tot vroue van karakter, integriteit en onwrikbare geloof.

Here, laat u seën rus op elke vrou vandag. Vernuwe hulle krag, versterk hulle geloof en vul hulle harte met hoop. Mag hulle weet dat U saam met hulle stap – elke dag, deur elke seisoen van die lewe.

Ons vra dit alles in die Naam van Jesus Christus, ons Here.

Amen.




Gebed ná die prediking

Ons dank U, Here, vir u Woord, wat ons vanoggend opnuut weer diep laat nadink. Ons dank U, Here, vir u Wet, wat vir ons die pad aandui waarop ons moet loop. Ons dank U, Here, vir Uself. Dankie dat U dit nog steeds met ons waag, al is ons mense wat u telkemale teleurstel en bedroef.

Gee, Here, vir ons die moed en die wil om anders te lewe, want ons moet bely dat sonder U wat in ons werk, sonder U wat ons gewillig en bekwaam maak, ons nie u wil sal kan doen nie. Gee ons ook die blymoedigheid om met vreugde as u kinders te lewe. Help ons om nie onder die beproewings en versoekings wat oor ons pad kom, te gaan lê nie. Help ons om met blymoedigheid standvastig te bly, omdat ons weet dat U deur alles heen met ons besig is en ons vorm tot bruikbare kinders in u diens.

Ons bid vir hulle wat in hierdie week by ’n oop graf moes staan, vir troos; ons bid vir hulle wat in die week mediese behandeling en operasies moet ondergaan, vir bemoediging en genesing; ons bid vir hulle wat stukkend is omdat die lewe hard en wreed is, vir heling.

Ons bid dat ons oë oop mag wees, dat ons daders van u Woord mag word wat U en ons naaste dien.

Ons bid vir ons kinders, veral hulle wat in hierdie dae eksamens moet aflê. Help hulle om ook in dié beproewing blymoedig te bly.
En nou, Here – word verheerlik in ons lewens!

Amen.




Epiklese-gebed nav (onder andere) Openb 1:12-20

Here ons God
Ons aanbid u vanoggend as die Heer van alle here, as die Koning van die konings. Ons aanbid U as die Skepper en Onderhouer van die heelal, U wat gepraat het, en dit was daar, U wat met ’n enkele magswoord die ganse skepping in aansyn geroep het. Hoe groot is U, Here, hoe groot is U! Voor U is ons so klein, so onbeduidend nietig. U is die Heilige van Israel, wat woon waar die lofsange van u volk opklink.
Ons aanbid U, Here Jesus, as die Koning van die kerk, wat die gemeentes in u regterhand vashou. U is die Leeu uit die stam van Juda, met mag en heerlikheid gekroon. U is die Een wie se oë soos vuur vlam, voor wie niks bedek is nie. U is die Een met die stem soos die gedruis van ’n groot watermassa.
Maar U is ook die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegdra, die Lam wat op Golgota vir ons geslag is, sodat ons deur u bloed bevry kon word. U is die Een vir Wie die dood onmoontlik gevange kon hou. U was dood, maar U het die doodse bande gebreek en U lewe tot in alle ewigheid. Ons prys U, Jesus Christus!
Dis tot U, Here God, dat ons ons vanoggend rig. Ons bring u gemeente, vanoggend voor u troon, Here, en bid dat u Koning sal wees van u gemeente en van ons harte. Ons bid vir die kerkraad wat die gemeente moet regeer, vir wysheid. Help ons, Here, om u gemeente so te regeer en in te rig dat U verheerlik sal word en die gemeente gebou sal word, sodat ons vir U en vir mekaar sal ken, sal liefhê, sal dien, en ’n oog vir die nood van die wêreld sal ontwikkel.
Ons bid vir hulle wat in nood is: siek en afgetakel na liggaam of gees; hulle wat hartseer is omdat hulle ’n geliefde verloor het of sien hoedat ’n geliefde wegkwyn; hulle wat oud geword het en swak. Ons bid vir hulle wat worstel met vasgeloopte huwelike, hulle wat werkloos en uitsigloos is. Ag, Here, as ons aan die nood in ons midde en om ons dink, raak ons verslae. Help tog, Here, en leer ons hoe ons ook kan help.
Ons bid vir ons jeug. Ons weet, Here, van al die versoekings op die pad. Ons weet hoe die tye verander het, en daarom dank ons U dat ons ons jongmense aan U kan opdra, kan weet dat hulle U s’n is. Help hulle om U lief te hê, Here, en help hulle om vir U te lewe. Skenk ons wat nog kinders in die huis het, die wysheid om hulle vir U groot te maak, en seën hulle kategete en onderwysers. Ons bid ook vir die koshuispersoneel wat die groot taak het om kinders in die week te versorg en te help. Dankie vir gelowige koshuispersoneel, Here.
En nou, o Gees van God, is ons stil voor U, sodat U ons kan aanspreek met u Woord. U is die Een wat die heilige profete met u vuur gevul het en gedrywe het, sodat hulle u woorde op skrif gestel het. U is die Een wat deur die eeue manne en vroue se lippe aangeraak het, sodat hulle u mondstuk kon word. Doen dit vanoggend weer, o Heilige Gees!
Amen.




Gebed vir hemelvaart

Ons eer U, Here van hemel en aarde,
aan U kom toe die heerlikheid en lof vir ewig.
Uit die duisternis van die dood het U u Seun verhoog
tot aan die regterhand van u majesteit omhoog.
Die Wegbereider van ons geloof het sy lyding volbring.
Hy het die pad hemel toe vir ons gebaan
en aan ons die beloofde Gees gestuur.
Mag ons gewillig wees om die Weg te volg
en só in die heerlikheid van sy teenwoordigheid te kom
waar liedere van oorwinning vir altyd opklink.
Ons eer U, Vader, Seun en Heilige Gees.

vertaal uit The Archbishops’ Council of the Church of England




Waar is Jesus nou?

Jesus is nie meer hier nie. Hy’s weg.
’n Wolk het Hom hemel toe gevat.
Jesus, waar is U? Ons het U hier op aarde nodig;
u vriendelike oë, u helende hande, u troostende teenwoordigheid.
U is nie meer op aarde nie, Here. En tog –
U raak steeds die stukkendes aan met sagte hande,
U kyk steeds ontfermend na mense in nood,
U deel steeds brood uit aan die hongeriges,
U soek steeds die eensames op …
U het nie meer hande of voete of oë op aarde nie,
maar U het tog: myne, en joune; ons s’n.
Óns is nou u hande en voete en stem en oë,
óns is u liggaam, u teenwoordigheid.
Óns bring troos in hartseer, ontferming in nood.
U is steeds hier, nou, op aarde.
Deur ons.

na ’n gedig van Teresa van Avila