As jy aan sukses dink, wat is die woorde wat by jou opkom?

In die meeste van ons se denke vereenselwig ons sukses met groot of blink of magtig of invloedryk of ryk of baie. In die kerk is dit nie anders nie. Die gemeente met die meeste lidmate, of die modernste kerkgebou, of die indrukwekkendste programme … In die ou Westerse stede was die grootste en imposantste geboue die katedraal. Hierdie kerkgebou waarvoor ons almal so lief is, vertel ook iets van hierdie soort denke: as jy God wil eer, moet jy groot dink, en indrukwekkend. Dit troon uit bokant al die ander geboue in die dorp.

Ek het ’n spotprent gesien, jare gelede, van ’n biskop wat met al sy wonderlike klerikale klede en goue kettings en kruise en dinge voor die altaar staan in die fantastiese katedraal, en dan bid hy: “Here, hou ons nederig en beskeie.” Dit skrei ten hemele! Maar ons is al só deel van die blink kultuur dat ons dikwels nie eers die ironie van die situasie raaksien nie.

En dis nie asof ons nie gewaarsku is nie!

Vat nou maar vir Jesus. Wat sien julle in Hom wat blink en spoggerig is? Net mooi niks nie! Hy was ’n nederige man met niks wat Hy sy eie kon noem nie. Hy het nie in ’n spoggerige paleis gewoon of op ’n blinkswart hings gery om sy werk te doen nie. Hy het nie eers ’n huis gehad nie, en Hy moes loop om te kom waar Hy wou wees. Dis hoe die Een wat gesê het: “Volg My” geleef het.

En as ons na die dissipels kyk wat Hy gekies het om die koninkryk verder te vat, is dit ook nie die blinkste seuns in die ganse Palestina nie. Dis vissers, tollenaars, twyfelaars …

Later, as Jesus met Johannes op die eiland Patmos praat oor die verskillende gemeentes in Klein-Asië, is die gemeente wat die verdoemendste oordeel moes hoor, Laodisea, die rykste gemeente wat gespog het dat hulle niks meer nodig het nie (Op 3:17).

En in ons Skrifgedeelte sê Jesus dit weer. Dis nie die grootste en indrukwekkendste waarmee Hy die koninkryk van die hemel vergelyk nie, maar ’n mosterdsaadjie, die kleinste landbousaad van sy dag, onaansienlik, amper ignoreerbaar. Of, sê Hy, die koninkryk is soos suurdeeg wat ’n vrou in ’n groot skottel meel inwerk. Dit lyk nie juis na iets as jy daarna kyk nie. Jy sou nooit kon raai dat dit enige verskil aan die deeg gaan maak nie.

Ek dink ons moet dit vanoggend opnuut in Jesus se gelykenisse hoor: God het nie groot en blink en indrukwekkende dinge nodig om sy koninkryk te laat groei nie. ’n Mosterdsaadjie is vir Hom genoeg. Of ’n bietjie suurdeeg.

Kom ek stel dit anders: God het nie groot en imposante en dinamiese super Christene nodig in sy koninkryk nie. Ek en jy is vir Hom genoeg. Want vir die groot en wonderlike en indrukwekkende van die koninkryk sorg Hý. Hý gee die groei. Hý verander mense. Nie ek en jy nie. Nie Dealesville gemeente nie. God.

Kom ek sê dit weer: ek en jy is vir God genoeg. Hy sal sy koninkryk in hierdie wêreld vestig en uitbou deur ons. Mits ons natuurlik in Hom geanker is, en toelaat dat Hy deur ons werk. Want dis die geheim van die koninkryk: dit kom nie deur die opspraakwekkende nie. Dit kom deur God. Hý is die geheim van die koninkryk.

Daarom gaan ons vanoggend weer die nagmaal vier. Dis nie ’n feesmaal in wêreldse terme nie – net ’n stukkie brood en wyn. Maar in God se genade word dit ons toerusting, verenig dit ons met Christus, sodat ons in ons klein dade van gehoorsaamheid deel kan word van God se bouwerk aan sy koninkryk.

So kom ons neem vanoggend die tekens van brood en wyn en sê daarmee vir die Here: “Here, hier is ek. Ek gee myself. Gebruik my.”

Maar kom ons bid ook: “Here, ek het U nodig. Vul my, verander my, besiel my!”

image_pdfimage_print

Views: 62

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.