Hoofstuk van die dag: 2 Korintiërs 1

In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons weer ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig … (2 Kor 1:4)

Wat maak ’n mens as jy in ’n krisis kom? Die maklikste is natuurlik om daaroor te kla. Of te sug en te sê dit lyk vir jou God stel nie eintlik in jou nood belang nie. Maar Paulus wys hier vir ons dat daar ’n beter manier is: dat jy wéér sal kyk, en God se teenwoordigheid in jou krisis sal raaksien. En dat jy dan nie net sal opkyk en Hom dank nie, maar ook om jou sal kyk, en sal raaksien dat daar ander mense is wat ook in die nood is; ander mense vir wie jy iets kan beteken. Want ongelukkig is dit so dat ons dikwels so bewus is van ons eie probleme en swaarkry dat ons God en ander miskyk.
Op ’n manier wat ons nie altyd waardeer nie, is God in ons nood teenwoordig, júís dan, en gebruik Hy ons beproewing om ons te vorm. Nood brei ons, sodat ons al meer na ons hemelse Vader begin lyk; sodat ons kan leer om ons oor ander te ontferm.




Hoofstuk van die dag: 2 Korintiërs Inleiding

Hierdie video sal jou help om ’n goeie oorsig oor die brief te kry:




Hoofstuk van die dag: 2 Korintiërs 13

Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees. (vers 13)

Ons ken hierdie woorde baie goed. Dit word baie gereeld gebruik as die seën aan die einde van ’n erediens uitgespreek word, en met rede: dit is die mees omvattende seën van almal in die briewe. God Drie-enig, in al sy volheid, word hier aan die gemeente in Korinte, en ook steeds aan ons, toegebid. Jy kan dit vir jou vat.
Iemand het gesê as ons oor God praat, kan ons dit nie in een woord sê nie, want God is Vader, Seun en Gees. Jy moet dit in drie woorde sê, soos Paulus dit hier doen. Die seënende, blywende teenwoordigheid kom in drie gestaltes na ons: in die genade wat die Here Jesus Christus vir ons gekoop het aan die kruis; in die liefde wat die Vader vir ons het, en in die gemeenskapstigtende werk van die Gees, wat ons nie net aan God bind nie, maar ook aan mekaar.
Ons is geneig om een van die drie Persone uit te sonder. Meestal is ons Jesus-mense. Maar onthou dat die Vader en die Gees ook by jou is. Dit is die evangelie.

Naskrif:
Ons begin môre met die boek Jesaja, wat ook al die Evangelie van die Ou Testament genoem is. Mag dit vir jou goeie nuus wees, en tot seën.




Hoofstuk van die dag: 2 Korintiërs 12

Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” (vers 8-9)

In hierdie wêreld is krag en mag alles – die fisieke krag van atlete, die finansiële krag van maatskappye en rykes, die politieke mag van partye … Maar Paulus het geleer om anders te dink oor dié saak: swakheid kan ’n mens sterk maak, en daarom roem hy in sy swakhede (vers 9).
Ons weet ongelukkig nie wat die doring in sy vlees (vers 7) was nie. Wat ons wel weet, is dat God dit in diens geneem het om Paulus ’n bruikbare werktuig vir Hom te maak, want sy swakheid het hom gedwing om nie op homself nie, maar op God staat te maak.
Dit is hoekom dit dikwels die swakkes van hierdie wêreld is, eerder as die blinkes en die sterkes, wat deernis met ander het.
As jy swak is, bid dat God jou swakheid sal gebruik in die lewe van ander. En as jy een van die blinkes is, vlug na God, want ook jý het Hom daagliks nodig.




Hoofstuk van die dag: 2 Korintiërs 11

Satan self doen hom voor as ’n engel van die lig. Daarom is dit ook nie snaaks dat sy dienaars hulle voordoen as mense wat die wil van God doen nie. (vers 14-15)

Deesdae is daar teoloë wat ’n saak daarvoor probeer uitmaak dat Satan nie ’n persoon is nie, maar slegs ’n boosheid. Maar hulle lees hulle Bybel maar sleg. Satan is ’n sluwe, slinkse verleier wat baie maskers dra.
In die tyd van die wrede vervolging van die kerk het hy soos ’n brullende leeu rondgeloop op soek na iemand om te verslind (1 Pet 5:8). Deur vrees in te boesem, probeer hy om mense afvallig te maak. Maar sy taktiek is nie altyd vreesaanjaend nie. Soms tree hy soos ’n engel van die lig op. Dit het hy ook gedoen toe hy Jesus probeer verlei het (Matt 4:1-11). Hy het selfs uit die Bybel aangehaal om sy praatjies vroom te laat klink.
Dis in dié gedaante dat hy in die Korinte-gemeente gewerk het. En ongelukkig volg sy dienaars dieselfde taktiek. Ek steek my nek nou ver uit, maar die teoloë wat Satan as bloot ’n boosheid afmaak, tree vir my alte veel op soos Satan self, wat deur mooipraatjies mense paai en verlei.
Wyk, Satan!




Hoofstuk van die dag: 2 Korintiërs 10

Ek self, Paulus – wat glo bedees is wanneer ek by julle teenwoordig is, maar ewe manhaftig teenoor julle wanneer ek afwesig is – doen ’n ernstige beroep op julle, met die sagmoedigheid en vriendelikheid van Christus. (vers 1, 2020-vertaling)

Paulus se trant verander baie in die laaste vier hoofstukke van sy brief. Hy kan dit doen omdat hy nou in sy eie naam skryf en nie namens hom én Timoteus (2 Kor 1:1) nie. Dit is immers hy as persoon wat deur sekere leiers in die gemeente aangeval en verdag gemaak word. Dit is sý integriteit wat op die spel is, en hy praat hier nie soseer met die gemeente nie, as met diegene wat hom aanval.
Dis belangrik om te sien hoe hy homself verdedig. Hy doen dit, soos die Here Jesus, met sagmoedigheid en vriendelikheid. Sagmoedigheid was by uitstek die kenmerk van Jesus se lewe (Matt 11:29 en 21:5). Hier gaan dit nie oor eie eer of selfbelang nie, maar daarom dat jy deur selfverloëning die weg van vrede soek.
Vriendelikheid is groothartigheid teenoor iemand anders, soos die Here Jesus vir ons voorgeleef het (1 Pet 2:21).
Dit bring my by die vraag: hoe handhaaf jy jouself in hierdie stukkende wêreld?