NB: Ek kon nie die preek self opneem nie. Hierdie is die gemeente se opname. Die vooraf-sake duur ongeveer 18 minuite, so luister gerus na die orrelspel, en kyk/luister van 18 minute af na die preek.
Kindertyd
Op ’n dag was Jesus besig om by die tempel (dit was daardie tyd se kerk) die mense te leer hoe om te lewe soos ’n kind van God. Baie mense het na Hom toe gekom. Terwyl Hy nog so besig was, bring daar ’n klomp mans ’n vrou na Jesus toe. Sy het vreeslik sleg gelyk soos sy al deur die mense geruk en gepluk was. Sien, sy het ’n baie verkeerde ding gedoen, en die mense het haar betrap terwyl sy dit doen. Toe stamp hulle haar tot voor Jesus en sê Hy moet nou sê wat hulle moet doen, want die Wet sê sy moet met klippe doodgegooi word oor die verkeerde ding wat sy gedoen het.
Weet julle, die mans het sommer klaar klippe in hulle hande! Nét sulke groot klippe, want hulle wou haar sommer net daar doodgooi!
Wat dink julle het Jesus gedoen?
Hy sê vir hulle: (wag, kom ek lees dit, dit staan in Johannes 8:7): “Laat die een van julle wat ’n skoon gewete het, eerste ’n klip op haar gooi.”
Wag nou, wag nou, wat is ’n skoon gewete? Dit beteken eintlik: jy het nog nooit in jou hele lewe iets verkeerds gedoen nie. Jesus sê: As jy regtig nog nooit self sonde gedoen het nie, kan jy maar die vrou doodgooi.
Toe hoor ’n mens net “doef” “doef” soos die manne die klippe uit hulle hande op die grond laat val, en hulle draai een vir een om en loop weg, tot die vrou alleen daar voor Jesus staan. Toe sê Jesus vir haar Hy is nie kwaad oor sy sonde gedoen het nie, maar sy moet dadelik daarmee ophou.
Julle sien, Jesus staan nie met klippe in sy hand, reg om ons dood te gooi as ons sonde doen nie. Nee, Hy is vriendelik, Hy het sagte hande waarmee Hy ons wil help om reg te leef. En dít is wat Hy van ons vra: dat ons ook soos Hy moet wees en met sagte hande mekaar sal help.
WET
Dit is ook wat Jesus in die Wet vir ons leer. Hy sê ons moet die Here ons God liefhê met ons hele lewe, met wat ons dink en wat ons voel en wat ons wil. En, sê Hy, wat net so belangrik is, is dat ons ander mense ook moet liefhê, net so lief soos ons vir onsself is.
Ons kan amper sê: ons moet met sagte hande aan mekaar raak.
Kom ons sê nou vir die Here ons is jammer dat ons dit nie regkry nie: 241:2.
Joh 8:1-11 Jesus, jy en ander mense
As ’n mens ’n verhaal soos hierdie lees, gebeur daar onbewustelik iets met jou. Die verhaal dwing jou as ’t ware om kant te kies. ’n Mens lees die verhaal, en dan vra jy jouself af: maar waar staan ék in hierdie verhaal? Hoort ek by die skrifgeleerdes en Fariseërs? Of dalk by die vrou? Of by die omstanders? Of, sekerlik, by Jesus en hoe Hy die hele situasie hanteer het?
Natuurlik skaar ons ons by Jesus, soos ek netnou vir die kinders gesê het: ons moet die klippe van veroordeling los en soos Hy met sagte hande aan mekaar vat. Hy het met deernis met die vrou gewerk, haar haar eer en waardigheid teruggegee in ’n situasie wat vir haar ’n baie traumatiese ervaring moes wees, en ’n groot verleentheid. In hierdie haglike situasie tree Jesus vir haar in die bres, en stuur haar op ’n nuwe pad, met hoop, terug toe Hy gesê het (vs 11): “Ek veroordeel jou ook nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.”
Natuurlik kan ons in dié verhaal ons ook nie van die vrou losmaak nie: in ’n sekere sin is ons almal soos sy, sondaars wat ontbreek aan die heerlikheid van God . As jy dít goed verstaan, kan jy óók Jesus se woorde vir jouself toeëien: “Ek veroordeel jou ook nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.” Wat ’n ongelooflike woord van bevryding! God veroordeel ons nie! En wat ’n heerlike woord van hoop, dat Hy ons op ’n nuwe pad van genade en oorwinning oor sonde stuur.
Dit bring ons by die derde groep in die verhaal: die Fariseërs en Skrifgeleerdes. Ek meen die meeste van ons vind ons heel gemaklik tuis by die vrou, en by Jesus. Ons voel erg ongemaklik met die optrede van die Fariseërs en skrifgeleerdes. Ons voel hulle optrede was laakbaar. Só gaan ons nie met ander om nie. Of hoe?
Toe ek oor hierdie gedeelte gedink het in die week om te hoor wat die Here in hierdie verhaal vir ons wil leer, was ek verleë om te ontdek dat ek heel dikwels in die Fariseërs se hoek is. Hoekom? Omdat ander mense dikwels nie regtig vir my saak maak soos hulle vir Jesus saak maak nie.
Ek het ook gedink ek is soos die omstanders wat kyk wat aangaan, maar niks doen om die situasie te ontlont nie. Ek bly te maklik onbetrokke.
Miskien sal dit help as ek die volgende vra: Hoekom het die mense die vrou na Jesus gebring? Tog nie omdat hulle vir haar omgegee het nie! Tog nie omdat hulle oor haar sieleheil besorg was nie! Of omdat hulle hulle oor haar huwelik bekommer het nie. Dit het vir hulle selfs nie eers gegaan oor die morele welstand van die samelewing nie. Vir hulle het die vrou, en wat van haar gaan word, en hoe sy deur hulle optrede geraak word, nie eintlik saak gemaak nie. Want as hulle regtig omgegee het oor die situasie, waar was die man dan? Hoekom is hy nie ook ingebring nie? Vir hulle was sy bloot ’n middel om hulle eie doel te bereik, en dit is om Jesus by te kom.
Miskien moet ek dit weer sê, want dit is ’n belangrike punt: Vir hierdie mense het dit eintlik nie om die vrou gegaan nie. Hulle het haar gebruik, misbruik, om hulle eie doel te bereik.
Dis op dié punt dat ons dalk nie so ver van die Fariseërs se hoek is as wat ons dalk dink nie. Dikwels is ander mense vir ons bloot pionne wat ons wil gebruik ter wille van onsself. Kom ek gebruik ’n voorbeeld. Ons hoor dikwels die versugting dat die kerk weer vol moet wees. Hoekom wil ons die kerk vol hê? Is dit omdat ons omgee vir die mense wat sonder God en sonder ’n kerk tussen ons lewe? Of wil ons die kerk vol hê omdat ons dan ’n baie beter erediensbelewing sal hê?
Is ek dalk nou ’n bietjie hard op ons? As dit vir ons om die mense se sieleheil gegaan het, sou ons mos harder gewerk het om hulle in die kerk te kry en nie net gesê het ons wens hulle was hier nie!
Nog ’n voorbeeld: toe ek nog jonk was, het ek ’n versekeringspolis by ’n man gekoop. Die man was ’n baie suksesvolle versekeringsagent wat elke jaar die topverkoper in die provinsie was. Later het ek agtergekom die polis wat hy aan my verkoop het, was nie regtig wat ek nodig gehad het nie. Maar dit het meer kommissie vir die agent ingehou. Hy het nie regtig mý belange eerste gestel nie, maar sy eie. Vir hom was ek ’n manier om geld te verdien.
En dís die vraag waarmee hierdie gedeelte ons konfronteer: Wat is ander mense vir jou? Sien jy hulle raak as mense? Hoe kyk jy na hulle?
Die Fariseërs tel klippe op. Jesus het nie klippe in sý hande nie. Hy raak mense aan met sagte hande, met deernis, om versoening te bring.
Die vraag is: hoe kyk jy na ander mense; wat is ander mense vir jou. Die familiehoofde het nie regtig die vrou raakgesien nie. Hulle het in die vrou bloot ’n geleentheid gesien om punte aan te teken in hulle stryd teen Jesus. Dit het vir hulle glad nie om die vrou gegaan nie. Wat van haar moes word, skeel hulle min. Sy was maar net ’n middel tot ’n doel, húlle doel. Daarom staan hulle met klippe in die hande voor haar.
Hoe kyk jý na ander? Hoe dink jy oor ander? Wat is hulle vir jou? Wie gooi jy met klippe om ’n punt te bewys?
Jesus het die vrou raakgesien, ’n mens voor Hom sien staan, iemand vir wie Hy omgegee het. Iemand wat sy liefde, sy deernis, sy ontferming nodig gehad het.
Vir my en jou gee Hy ook sy liefde en omgee. Sal ons Hom nie hierin volg nie?
Amen.
Views: 4



