Hoofstuk van die dag: 2 Korintiërs 3

Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is. (vers 18)

Wat sien mense as hulle na jou kyk? Sien hulle die glans van die Here uit jou uitstraal?
Paulus verwys hier na iets wat in die woestyntyd met Moses gebeur het (Eks 34:28-35). Sy nabye kontak met God het ’n na-gloed veroorsaak, sodat sy gesig geblink het. Hy moes sy gesig met ’n doek toemaak om die glans weg te steek.
Die heerlikheid wat van óns uitstraal, oortref dit wat uit Moses gestraal het, sê Paulus (vers 10). En dis nie net van sekere super-gelowiges waar nie. Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here (vers 18). In ons intieme wandeling met God kan dit nie anders nie as dat die heerlikheid van Jesus uit ons straal, hoe langer hoe meer, deur die werk van die Gees.
Sien mense die Here Jesus in jou? Sy liefde, integriteit en krag? Of versluier jy dit onder ’n masker van selfsugtige ambisies of wêreldse sorge?




Hoofstuk van die dag: 2 Korintiërs 2

Maar aan God die dank! Hy voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus. Deur ons versprei Hy die kennis van Christus oral soos ’n aangename geur. (vers 14)

Wanneer ’n Romeinse generaal destyds as oorwinnaar van ‘n veldtog af terugkeer, was dit die gebruik dat hy ’n triomftog deur die strate van Rome, en ook van sy eie stad, hou. Saam met hom was die stadsvaders, die priesters, ’n hele orkes, sy soldate, en ook die krygsgevangenes. Musiek het deur die hele stad weerklink, en dan was die stad se lug ook gevul met die soet geur van wierook. Niemand in die stad moes onkundig bly oor die roemryke oorwinning van die groot generaal nie.
Só, sê Paulus, trek Christus ná Golgota op ’n segetog deur die wêreld. God wil hê die hele wêreld moet in Christus se oorwinning deel. Nie net ’n handvol dissipels nie.
God werk deur mense. Daarom sê vers 14-15: “Deur ons versprei Hy die kennis van Christus … Ons is die wierook …” Deur óns.
As mense na jou kyk, sal hulle dan die lieflike geur van Jesus se oorwinning bespeur? Sal hulle iets van die opgewondenheid dat Jesus Here is, in jou lewe bemerk?




Hoofstuk van die dag: 2 Korintiërs 1

Jesus Christus, die Seun van God, […] is nie “ja” en “nee” tegelyk nie. Hy is die “ja” van God, die “ja” op al die beloftes van God. Daarom is dit ook deur Christus dat ons tot eer van God daarop “Amen” sê. (vers 19-20)

Dit klink alles mooi, maar partykeer sukkel ’n mens om dit te glo. Partykeer lyk dit nie vir ons of God “ja” sê nie, maar “nee”. Partykeer lyk dit vir jou of God jou vergeet het, of Hy ingesluimer het terwyl jy Hom so bitter nodig het. As die teleurstellings en frustrasies en hartseer oor jou kom, voel dit nie altyd of sy beloftes van sorg en liefde veel werd is nie, voel dit of God se “ja” skielik in ’n “nee” verander het.
Dis juis dán dat ons aan hierdie bewys van God se opregtheid moet vasklou. Dis dán dat ons na Jesus moet kyk, en weet: God ís getrou. God hóú sy woord. Hy het dit tot in die dood en graf gehou. Tóé het Hy nie sy woord gebreek nie. Hoekom sal Hy dit nou doen? Al verstaan ek nie mooi hoe die dinge inmekaarsteek nie; al kan ek nie sien waarheen God met my op pad is nie, kan ek dít weet: God is met my op pad. Hy het sy woord gegee, en ek kan Hom glo.




Hoofstuk van die dag: 2 Korintiërs Inleiding

Hierdie video sal jou help om ’n goeie oorsig oor die brief te kry: