Hoofstuk van die dag: Numeri 30

As iemand aan die Here ’n gelofte doen of met ’n eed ’n verpligting op hom neem, mag hy sy woord nie breek nie; hy moet hom aan alles hou wat hy beloof het. (vers 2)

Hier is twee beginsels ter sake. Die eerste is dat ’n gelofte nie veronderstel is om in isolasie afgelê te word nie; veral nie as dit ander mense ook raak nie. As lid van ’n gesin of gemeenskap kan jy nie goed plegtig onderneem op jou eie nie. Daarom het die gesinshoof ’n vetoreg. In die destydse patriargale stelsel was dit natuurlik die man of pa wat die laaste sê gehad het. Vandag dink ons nie meer só oor die saak nie, maar die beginsel wat God hier neerlê, bly van krag. Jy kan nie ’n bindende besluit neem sonder om die mense om jou in ag te neem nie.
Die tweede beginsel is dat God betroubaarheid van ons verwag. Jou “ja” moet “ja” wees, en jou “nee” “nee”, het Jesus gesê (Matt 5:37) en gewaarsku dat jy nie ’n eed ligtelik moet aflê nie (Matt 5:34). Daarom moet jy mooi dink voordat jy ’n gelofte aflê (vgl Deut 23:23 en Pred 5:1-6).
Oppas vir daardie beloftes aan God as jy benoud is!




Hoofstuk van die dag: Numeri 28-29

Dit is dan die brandoffers, die graanoffers, die drankoffers en die maaltydoffers wat julle in julle feestye vir die Here moet bring, julle gelofteoffers en vrywillige offers. (vers 29:39)

Die voorgeskrewe offers van Israel het die feit baie deeglik beklemtoon dat die hele lewe ’n gawe uit God se hand is – elke dag, elke week, elke maand, elke jaar. Die offers by die jaarlikse feeste het hulle herinner dat God op talle maniere in hulle behoeftes voorsien – met die uittog (paasfees) en tydens die woestynverblyf (huttefees). Dan was daar die oesfees (fees van die weke), die nuwejaarsfees en die groot versoendag – alles vaste instellings om hulle lewe en afhanklikheid van God se voorsiening te beklemtoon en te vier.
Ons aanbidding lyk vandag heeltemal anders, hoofsaaklik omdat Jesus se groot offer op Golgota alle offers van die ou verbond vervang het (Heb 10:1-18). Dit beteken nie dat ons geen offer meer hoef te bring nie. Daaraan herinner die Hebreërskrywer ons dadelik in Heb 10:19-25. Ons offers bestaan uit ons aanbidding, ons gereelde samekomste, en ons uitreik na ander deur liefde en goeie dade. Ons bely immers, net soos die gelowiges van die ou verbond, dat ons hele lewe ’n gawe uit God se hand is.




Hoofstuk van die dag: Numeri 27

Selofgad se dogters het gelyk. Jy moet beslis vir hulle hulle eie grond tussen dié van hulle pa se familie gee. Gee vir hulle die grond wat hulle pa sou gekry het. (vers 7)

Om te verstaan wat agter die Selofgad-dogters se versoek lê, moet ons weet dat dogters normaalweg nie as erfgename geag is of besitreg op grond gehad het nie. Daarom gee die Here nou ’n reëling wat hierdie gebruik in sekere omstandighede ophef (vers 8).
Die tweede belangrike saak om te weet, is dat erfgrond in Israel nie verhandelbaar was nie. Dit moes vir altyd in die erfgenaam en dié se nageslag se besit bly. Dit kon, in geval van geldnood, aan iemand verpand word, maar met die jubeljaar het die grond na die oorspronklike eienaar teruggeval (Lev 25:8-23). Dit verklaar ook hoekom Nabot nie bereid was om sy grond aan koning Agab af te staan nie (1 Kon 21). Die Here se reëling oor die dogters van Selofgad se erfgrond word daarom in Num 36:1-13 verder verfyn.
God se voorsiening is nie só dat daar nie vir uitsonderings voorsiening gemaak word nie. Vir elkeen van ons, met ons unieke omstandighede, sorg die Here. Moenie huiwer om Hom met jou eiesoortige behoeftes te nader nie!




Hoofstuk van die dag: Numeri 26

Ná die ramp het die Here vir Moses en vir Eleasar seun van die priester Aäron gesê: “Neem ’n sensus op van die hele volk Israel, van elke Israeliet van twintig jaar en ouer wat vir militêre diens geskik is. Julle moet dit familiegewys doen.” (vers 1-2)

Dié sensus kom byna 40 jaar na die vorige sensus by Sinai (Num 1). Ek kan my voorstel dat Moses hieroor emosioneel moes wees. Niemand wat by Sinai getel is, het meer geleef nie (vers 64), behalwe hy, Josua en Kaleb. En sy eie sterwe was naby, het hy geweet.
Die twee sensusse omspan ’n leeftyd van woestynverblyf, vreugdes en ook baie verdriet en ontbering. Maar nou was dit so te sê verby. Nou moes hulle regmaak vir die inname van die land, en daarvoor was dit nodig om militêr voorbereid te wees. Hulle moes weet hoeveel mense nog oor was ná die 40 jaar. Vandaar die sensus.
Die sensus moes ook ’n ander boodskap oordra aan die mense wat nou vir die eerste keer by Kanaän aangekom het. Hulle was 1820 minder weerbare mans as by Sinai, maar die Here trek steeds saam met hulle. Hy sal hulle nie in die steek laat nie, want Hy hou altyd sy woord.




Hoofstuk van die dag: Numeri 25

Terwyl Israel in Sittim was, het van die Israelitiese mans met Moabitiese vrouens gemeenskap gehad. (vers 1)

Balak het geweier om die ooreengekome waarsêersloon aan Bileam te betaal (24:11). Uit 24:25 wil dit lyk of Bileam druipstert terug is na sy land, maar dit is nie die volle verhaal nie. As ’n mens tussen die lyne lees, het Bileam, om wel sy geld te kry, vir Balak gehelp om tóg die Israeliete by te kom (vgl 31:16 en Op 2:14). Hulle het ’n groot afgodsfees vlak langs die Israeliese kamp gereël, waar Moabitiese meisies die Israeliete verlei het om aan die seksorgie deel te neem. Prostitusie was deel van hulle aanbidding (vgl Eks 34:15). So het die Israeliete nie net gehoereer nie, maar ook Baäl-Peor aanbid (vers 2-3).
Soos te verwagte, het die toorn van die Here teen Israel ontvlam (vers 3). Wat sake vererger het, is dat dit nie net Moabitiese meisies was nie. ’n Vooraanstaande Midianitiese vrou was ook betrokke (vers 6, 14 en 15). Vier en twintig duisend Israeliete het as gevolg van dié sonde omgekom (vers 9). Dit het waarskynlik die laaste oorlewende Israeliete wat uit Egipte weggetrek het, ingesluit.
God verwag onverdeelde trou aan Hom (Eks 20:5). Dis nie onderhandelbaar nie.




Hoofstuk van die dag: Numeri 24

Ek sien hom, maar hy kom nie nou al nie, ek kyk na hom, maar hy is nie naby nie, daar kom ’n ster uit Jakob, daar staan ’n heerser in Israel op. Hy verpletter die voorkop van Moab, hy vernietig al die opstandiges. (vers 17)

God open Bileam se oë nou (vers 15,16) om ook die toekoms van Moab te sien. Hy sien dat daar in Israel ’n koning sal kom wat Moab én die omringende volke sal verpletter. Ons weet uit die latere geskiedenis dat dié koning koning Dawid was. Hy het al die omringende volke onderwerp en só ’n magtige ryk opgebou. God is die Een wat besluit oor die nasies, en soos Hy besluit, gebeur dit.
Dié voorspelling van Bileam het ook ’n verdere vervulling gehad in Jesus Christus. Hý is die helder Môrester (Op 22:16) van Bileam se waarsegging, hoewel Bileam dit natuurlik nooit kon weet nie. God het die mag om die toekoms oop te breek vir sy koninkryk en sy kinders. Dit het Hy in Christus gedoen, veral toe Jesus Satan op Golgota verslaan het. Niks kan Hom stuit nie, en daarom kan ons met hoop lewe, selfs te midde van ’n deurmekaar en selfs vyandige wêreld.