Hoofstuk van die dag: Numeri 11

Maar die Here het vir Moses gesê: “Dink jy Ek het nie die mag nie? Jy sal nou self sien of my woord bewaarheid word of nie.” (vers 23)

Moses het twee probleme gehad. Hy kon nie sy werklas hanteer nie. En hy was moedeloos, want hy kon nie die volk help met hulle vleislus nie.
Die Here se antwoord vang Moses onkant. Hy sê: Maar jy hét mos mense wat jou kan help. Bring sewentig van hulle na die tent van ontmoeting. En dan maak Hy Moses (en die leiers!) se oë daarvoor oop dat hulle ook, soos Moses, waardig is om die Gees van God te ontvang. Moses was nie so alleen soos hy gedink het nie! Hy was net nie gewoond om sy verantwoordelikhede met ander te deel nie.
Sy probleem was dat hy God probeer inperk het tot sy eie gebrekkige visie. Dit sien ons ook in sy reaksie toe God sê Hy sal genoeg vleis voorsien (vers 21).
Wat my verbaas, is die astrante manier waarop Moses met God praat (vers 11-15). Dis nie hoe ons dink ’n mens met God praat nie (vgl Pred 5:1). Tog verhoor God Moses se gebed!
Dalk is ons té vroom om openhartig voor God te wees?




Hoofstuk van die dag: Numeri 10

In die tweede jaar, op die twintigste van die tweede maand, het die wolk opgetrek van die tabernakel met die getuienis af. (vers 11)

Ná ’n verblyf van meer as ’n jaar by Sinaï, breek die tyd aan dat Israel haar reis na Kanaän voortsit. Dit moes nie ’n baie lang reis wees nie, maar dit het uiteindelik in ’n fiasko ontaard wat veertig jaar sou duur (Num 14:34).
Op aandrang van Moses gaan sy swaer Gobab saam (vers 29). ’n Mens wonder hoekom Moses sy dienste as gids nodig sou hê as God hulle reis bepaal het. Dalk skemer hier ’n stukkie kleingeloof deur? Of dalk het Moses geoordeel dat God se leiding nie die hulp van mense uitsluit nie. Dit is tog so dat die Here dikwels juis deur ander mense vir ons help en lei.
Die trek deur die woestyn verloop met militêre presiesheid, maar, uit ’n ander hoek gesien, is dit ook ’n godsdienstige prosessie onder leiding van die Here self. Daarom die dubbelsinnige gebed van Moses aan die einde. In vers 35 klink sy gebed soos ’n krygskreet, terwyl vers 36 getuig van die rus wat God se teenwoordigheid bring.
Ons kan ook onverskrokke op Christus se spoor loop, én ons rus in God vind.




Hoofstuk van die dag: Numeri 9

Moses het toe vir hulle gesê: “Wag tot ek verneem het wat die Here oor julle beveel.” (vers 8)

Die berig oor die reëlings vir die tweede paasfees (vers 1-14), asook die berig oor die wolk bo die tabernakel (vers 15-23) vertel van Israel se gehoorsaamheid en afhanklikheid van die Here. Soos die wolk bo die tabernakel beweeg het of gerus het, so het hulle beweeg of oorgestaan. Op bevel van die Here het hulle kamp opgeslaan, en op sy bevel het hulle weggetrek (vers 23).
Eweneens, wanneer Moses ’n uitspraak moes lewer oor ’n saak waaroor daar nie uitsluitsel was nie, het hy nie met eie wysheid opgetree nie. Hy het eers die Here geraadpleeg (vers 8). Só het hy seker gemaak dat hulle binne God se weë wandel.
Ons lees dat dit nie later so was nie. Toe Israel Kanaän beset het, het die Gibeoniete gekom om ’n verdrag met Josua-hulle te sluit, het die leiers dit gedoen sonder om ’n beslissing van die Here te vra (Jos 9:14), met katastrofiese gevolge.
Die Spreuke-digter se raad (Spr 3:5-6) is hier van pas, ook vir ons. Moenie op jou eie insig staatmaak nie. Ken die Here in alles. Dan sal Hy sorg dat jou pad reg loop.




Hoofstuk van die dag: Numeri 8

Die kandelaar is so gemaak: van die voetstuk af tot by die kroonblare is dit van geslae goud. (vers 4)

Die sewearmkandelaar, oftewel menora (vers 1), wat in die vorm van ’n gestileerde boom of plant gemaak is (vgl die kroonblare in vers 4), roep assosiasies van lewe en vrugbaarheid op. Daarom is dit só geplaas dat die kandelaar se lig op die versoendeksel geval het. Dit was waarvandaan die stem van God opgeklink het (7:89). So het die inrigting van die Tent van Ontmoeting die volk voortdurend herinner waar hulle lewe en groei vandaan gekom het: van God en die leiding wat Hy gee.
Om te verstaan hoe Israel oor God se leiding in hulle lewe en samelewing gedink het, kan jy gerus Psalm 119 lees. Elke enkele vers (op een uitsondering na) in dié langste van psalms jubel oor God se leiding. Die digter gebruik verskillende uitdrukkings daarvoor: God se verordeninge, wet, lering, onderwysing, vermaning, sy woord, beloftes, beslissings ens. In Ps 119:105 trek die digter die lyn deur na die kandelaar in die tabernakel as hy sê: “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my lewenspad.”
Kom ons leef dan in die lig wat vanuit die Woord op ons skyn!




Hoofstuk van die dag: Numeri 7

Telkens wanneer Moses in die tent van ontmoeting ingegaan het om met die Here te praat, het hy die stem van die Here met hom hoor praat. Die stem het van die deksel af gekom tussen die twee gerubs uit, die deksel op die ark waarin die getuienis was. So het die Here met Moses gepraat. (vers 89)

Toe ek hierdie vers gelees het, was ek nogal jaloers. Om te dink dat die Here met ’n hoorbare stem met Moses gepraat het! In Eks 33:11 lees ons boonop dat die Here direk met Moses gepraat het soos ’n man met sy vriend. Dis mos die opperste weelde.
Natuurlik het hierdie voorreg met baie groot verantwoordelikheid gepaard gegaan. Moses het nie ’n maklike taak gehad nie, en hy het al die hulp wat hy kon kry, nodig gehad. Dis die een ding waaraan ek gedink het toe ek oor hierdie uitspraak gedink het. Die ander ding is dat God met ons óók praat. Party mense getuig dat die Gees van God met hulle praat deur ’n hoorbare stem. Ek het dit nog nooit beleef nie. Maar tog, die stem van die Here is so naby soos jou Bybel. Dit is immers God se Woord, en Hy praat inderdaad daardeur met ons.




Hoofstuk van die dag: Numeri 6

Wanneer iemand, ’n man of ’n vrou, ’n besondere nasireërgelofte aflê om hom aan die Here te wy, moet hy hom weerhou van wyn en bier. (vers 2-3)

Die bepalings rondom die nasireërgelofte het die gebruik onder Israeliete gereguleer, maar die gebruik self het waarskynlik heelwat verder teruggegaan as die Uittog. Ons lees ook op ’n paar ander plekke van hierdie gebruik; die bekendste dié van Simson (Rig 13:5,7 en 16:17) en Samuel (1 Sam 1:11). Dit is ook later in die Noordelike Ryk toegepas (Am 2:12), en vermoedelik het ook Paulus dié gelofte by geleentheid afgelê (Hand 21:22-26). Soms was dit ’n lewenslange verbintenis (soos Simson en Samuel), maar nie altyd nie, en mans én vroue kon dit doen (vers 2).
Die nasireërgelofte is nie só vreemd nie. Vandag is daar nog mense wat hulle lewenslank verbind aan diens aan die Here met ’n gelofte (bv die nonne in die Katolieke Kerk). Ons ken ook die gebruik om vir ’n sekere tyd ons besonder aan die Here te wy, soos bv. om te vas in Lydenstyd.
Dié soort toewyding is nuttig vir ons persoonlike geestelike verdieping, en kan ’n sterk getuienis wees in ’n wêreld waar opregtheid en vertroue op God al dunner gesaai is.