Hoofstuk van die dag: Numeri 5

Die priester moet haar dan nader bring en in die teenwoordigheid van die Here laat staan. (vers 16)

Ons sal vandag heelwat vrae oor die metode hê waarop die waarheid vasgestel is, o.a. oor die feit dat slegs die vrou se woord só getoets is. Maar met een aspek van hierdie ondersoek kan ons nie fout vind nie, en dit is dat dit nie in die openbaar geskied het nie. Net die priester was teenwoordig, en natuurlik die Here. So is enige moontlikheid van massahisterie vermy. Die optrede van Josef, toe hy uitgevind het Maria is swanger, was in lyn hiermee (Matt 1:19).’n Geval waar dit heeltemal anders verloop het, is natuurlik waar die skrifgeleerdes en Fariseërs ’n vrou in ’n openbare verhoor voor Jesus gebring het (Joh 8).
Mense is nie geneig om billik en regverdig te wees wanneer hulle seergemaak, kwaad of jaloers is nie. In só ’n geval wil mense terug seermaak en verwond. Maar, soos Paulus ons herinner, die wraak kom ons nie toe nie. Dit is God se prerogatief (Rom 12:19).
Daarom leer Jesus ons om mense nie in die openbaar oor hulle sonde te konfronteer nie (Matt 18:15-22). En as jy dit doen, onthou dan dat God, nie jy nie, die Regter is.




Hoofstuk van die dag: Numeri 4

Op die bevel wat die Here deur Moses gegee het, is hulle getel en is aan elkeen sy besondere taak en verantwoordelikheid toegewys. (vers 49)

God is ’n God van orde (1 Kor 14:33). Wanneer die Israeliete versit het, moes alles van die heiligdom volgens God se streng instruksies opgepak en gedra word. Dit was nie net ’n paar indiwidue wat daarvoor verantwoordelik was nie. Elke Leviet het sy taak gehad en presies geweet waar hy in die groter prentjie inpas.
Dié beginsel geld ook vir die kerk van vandag. Enersyds beteken dit dat elke lidmaat in die kerk nie sommer self kan besluit hoe dinge behoort te gebeur nie. Andersyds beteken dit ook dat die funksionering van die kerk nie net op ’n paar indiwidue se skouers mag rus nie. Paulus maak heelwat hiervan in 1 Kor 12:12-30, waar hy die kerk met ’n liggaam vergelyk wat weliswaar baie lede het, maar elke lid ’n unieke plek en funksie in die liggaam verrig.
In God se wêreld is daar nie plek vir passasiers nie. Elkeen van ons het ’n taak. As jy nie duidelikheid het oor wat jou verantwoordelikheid in God se wêreld is nie, sal jy biddend jou plek moet vind, want jy is nodig.




Hoofstuk van die dag: Numeri 3

Moses, Aäron en Aäron se seuns het aan die oostekant voor die tabernakel, voor die tent van ontmoeting, kamp opgeslaan. (vers 38)

Hierdie hoofstuk beklemtoon die heiligheid van God, en die noodsaak dat die Israeliete hulle afstand van die heiligdom moes behou. Hulle kon nie direk tot God nader by die tent van ontmoeting met hulle offers nie; die priesters moes dit namens hulle doen. Boonop was daar ’n buffer tussen die Israeliete en die heiligdom, waar God simbolies teenwoordig was. Dié buffer is beman deur die priesters en Leviete. Hulle het rondom die tabernakel hulle kampe gehad, met die priesters en Moses aan die oostekant, teenoor die ingang van die tent van ontmoeting.
Ons lewe voor God vandag is natuurlik heeltemal anders, want Jesus het vir ons die afstand tussen God en ons oorbrug. Dit is die betekenis van die voorhangsel in die tempel wat geskeur het met Jesus se sterwe (Matt 27:51). Ons het nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom (Heb 10:19), skryf die Hebreër-skrywer (vgl ook Ef 2:18). God hou ons nie meer op ’n afstand nie. Deur Jesus se bloed het ons wat vroeër ver van God was, nou naby gekom (Ef 2:13).
Naby God. Dit is jou realiteit en voorreg.




Hoofstuk van die dag: Numeri 2

Die Israeliete moet kamp opslaan, elkeen by sy vaandel, by sy familieteken. Hulle moet die kamp rondom die tent van ontmoeting opslaan, so ’n entjie daarvandaan. (vers 2)

Die Israelitiese kamp is met groot presisie opgeslaan in die vorm van ’n vierkant. Aan elke sy van die vierkant is drie stamme geplaas, en in die middel van die vierkant was die tent van ontmoeting, die simbool van God se teenwoordigheid onder sy volk. In dié vierkant het die priesters en Leviete hulle plek gehad.
Die stamme se posisie rondom die tent van ontmoeting was só dat Juda aan die oostekant was, teenoor die ingang van die tabernakel. Dit was die ereposisie (vgl Gen 49:8-12).
Ook as hulle kamp opgeslaan het en verder getrek het, het hulle dié formasie behou: die tent van ontmoeting in die middel van die volk, met die twaalf stamme daar rondom geposisioneer om die tent van ontmoeting te beskerm, maar ook om hulle oë daarop te rig. So het die Israeliete die Here as middelpunt van hulle kamplewe en hulle reis erken.
Vandag sê dit vir ons dat die Here, en ons diens aan Hom, in die middelpunt van ons lewe en gemeenskapslewe moet wees, en dat ons met die oë op Hom gerig moet leef.




Hoofstuk van die dag: Numeri 1

Altesaam was die getelde Israeliete 603 550. (vers 45)

Die getal weerbare Israeliete het geleerdes al lelik laat kopkrap. Saam met die vroue, kinders en slawe sou hulle dan tussen 2 en 3 miljoen mense wees.
Dis nie só ver van Egipte na Kanaän nie. Met 2 miljoen mense sou die voorste groep al in Kanaän aangekom het voordat die laaste klomp uit Egipte kon vertrek. Daarom sê party geleerdes dat ons nie die getal letterlik kan opneem nie. Ander meen dat ’n veel latere sensus-opname (bv uit Dawid se tyd) gebruik is. Dit is ook moontlik dat die Hebreeuse woord “duisend” eerder ’n groep mense (bv familiegroep) kan beteken.
In elk geval is so ’n groot getal mense in die woestyn net nie prakties moontlik nie. As jy die sewentig nakomelinge van Jakob wat Egipte toe is, as basis gebruik, was die Israeliete ten tyde van die uittog waarskynlik ongeveer tien duisend. Dit maak meer sin, ook organisatories, as die Israeliete minder was.
Ons sal nooit weet wat die skrywer met die groot getal bedoel het nie. Dalk was dit bloot ’n manier om ons te laat verstaan hoe groots die uittog was. Dit was God se werk, en God is groter as wat ons dink!




Hoofstuk van die dag: Inleiding tot Numeri

Kyk gerus na hierdie kort video om ’n oorsig oor die boek te kry: