Daardie eerste vonkie …

Saam lees:
Lees Gen. 2:4-25
Saam oordink:
Dit was die wonderlikste oomblik in Adam se jong lewe, daardie moment toe hy uit die slaap wakker word, en hier kom die mooiste lewende wese wat hy nog gesien het, na hom toe aangestap: die vrou wat die Here vir hom gemaak het. Só verruk is hy met hierdie vrou, dat hy op die plek ’n minnelied vir haar komponeer! Die wysie ken ons ongelukkig nie, maar die woorde het vir ons behoue gebly (Gen. 2:23):
“Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek.
Daarom sal sy ‘vrou’ genoem word;
sy is uit die man geneem.”
In elke verhouding is daar só ’n eerste kyk. Miskien was dit regtig die eerste keer dat julle mekaar gesien het. Of miskien was dit net die eerste keer dat julle mekaar regtig raakgesien het, ontdek het dat daar ’n vonk tussen julle is. Dié vonk, die eerste ontwaking van die liefde, is een van die wonderlikste gawes wat God in sy skepping ingebou het. Want Hy wil nie hê dat mense alleen deur die lewe moet gaan nie. Daarom bewerk Hy dit so dat ons lewensmaats ontmoet.
Saam praat:
♡ Hoe het dit gebeur dat julle mekaar “ontdek” het? Kan julle nog onthou wanneer daardie eerste liefdesvonk geskiet het?
♡ Vertel vir mekaar wat dit was wat jou die eerste keer aangetrokke tot jou lewensmaat gemaak het.
♡ Adam het ’n lied gesing om aan sy liefde en verrukking uiting te gee. Hoe het júlle dit destyds teenoor mekaar gedoen?
Saam bid:
♡ Dank die Here vir daardie eerste vonk van die liefde.
♡ Dank die Here vir die lewensmaats wat julle in mekaar gevind het.
♡ Bid dat Hy julle sal help om daagliks dié liefdesvonk weer aan te blaas.
❝ Liefde word nie gemeet aan hoeveel kere julle mekaar aanraak nie, maar aan die aantal kere wat julle mekaar bereik. ❞
Cathy Morancy
uit my en Elmien se boek “Voor ons gaan slaap“



Hoe moet ek dit verstaan? 24

Die Uitverkiesing

Die UitverkiesingWanneer ’n mens oor die uitverkiesing begin praat, is dit dikwels asof mense ’n vaalte oor die oë kry. Party sê openlik hulle wil nie daaroor praat nie, want dit maak hulle onseker of selfs bang. Hoe weet jy jy is uitverkies? Hoe moet ons daaroor dink?

’n Mens sou baie dinge oor die uitverkiesing kon sê. In ons gereformeerde belydenis is daar selfs ’n hele belydenisskrif daaroor – die Dordtse Leerreëls. Dit het die lig gesien ná ’n lang stryd in Nederland oor die kwessie. Maar ek wil jou nie doodgooi met ’n opsomming van hierdie belydenis nie. Ek wil net enkele opmerkings maak.

Uitverkies vir ‘n doel

Die manier waarop die Bybel oor die uitverkiesing praat, maak dit duidelik dat dit nie ’n losstaande saak is nie. Mense word uitverkies vir ’n bepaalde taak. So is Israel verkies om ’n lig vir die nasies te wees (Jes 42:6). Abraham se hele roeping hang daarmee saam: hy is verkies om tot seën vir ander te wees (Gen 12:2). En dié verkiesing het ook sy nageslag se roeping geword. Dit geld van ons ook. Ons is nie uitverkies sodat ons in die hemel sal kom nie. Ons is uitverkies sodat ons werktuie in God se hand kan wees, kanale deur wie God sy genade na die wêreld wil laat vloei.

wie is uitverkies en wie nie

’n Taamlike debat oor die uitverkiesing gaan oor die vraag: wie is uitverkies en wie nie? Daar is teoloë wat sê almal is uitverkies. Uiteindelik, sê hulle, gaan alle mense tog in die hemel kom. Dit lyk my nie heeltemal so eenvoudig nie. Maar as jy nie dit wil sê nie, hoe werk dit? Op grond waarvan word party mense uitverkies? Dis eintlik maklik om te antwoord: dis God se soewereine genade, en geen prestasie van ons kant nie. Ons is immers van voor die grondlegging van die wêreld in Christus uitverkies (Efes 1:4), lank voordat ons enigsins iets kon doen om dit te regverdig of te verdien. Wat God se beweegredes was, is nie vir ons deursigtig nie, behalwe dat ons dankbaar kan wees vir sy genade.

Die fout wat mense maak, is om oor die uitverkiesing te praat los van die Here se genadewerk in hulle lewe. Die uitverkiesing maak net sin vir iemand wat klaar glo. Wanneer ’n mens die besluit neem om te glo, dink jy dis jy wat so besluit het, maar as jy terugkyk oor jou lewenspad, ontdek jy dat dit God is wat jou by geloof uitgebring het. Dis eintlik waaroor die uitverkiesing gaan: ’n belydenis dat jou geloof en verlossing ’n geskenk van God is en nie jou eie prestasie nie.

Dit beteken dat dit sinloos is om buite die geloof om oor die uitverkiesing te dink. Dit help nie om te vra: “Is dié of daardie persoon uitverkies?” nie. Of om te dink dit help nie om te getuig teenoor iemand wat nie uitverkies is nie, want dan sal hy of sy tog nie tot geloof kom nie. Ons moet God se genade-aanbod ernstig neem: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee,” het Jesus in Matt 11:28 genooi. Party reageer op die uitnodiging, maar party nie. Maar almal word genooi.

onherroeplik

’n Laaste opmerking: as die Here jou uitverkies het, sal Hy dit nie weer terugtrek nie. Paulus skryf in Rom 11:29: “As God eenmaal aan mense sy genadegawes geskenk en hulle geroep het, trek Hy dit nooit weer terug nie.” Daarom kan ons met hoop leef oor hulle wat deel van die verbondsvolk is maar iewers opgehou glo het. Wie weet? Dalk is daar vir hulle ’n pad terug.




Hoe moet ons dit verstaan? 23

Ons sal oor die wêreld en die engele oordeel

In 1 Korintiërs 6:2-3 sê Paulus: “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? … Weet julle nie dat ons selfs engele sal oordeel nie?”

Die onmiddellike konteks van Paulus se woorde is die volgende: Paulus praat met die Korintiërs wat mekaar voor heidense howe sleep oor alledaagse geskille. Hy sê: “Julle gaan eendag saam met Christus die hele wêreld oordeel – hoekom kan julle nie nou self klein sakies onder mekaar uitsorteer nie?” Dit is ’n argument van die groter na die kleiner. Die Korintiërs se onvermoë om selfs klein konflikte reg te hanteer, staan in skrille kontras met hulle toekomstige hoë posisie in God se koninkryk.

“Die wêreld oordeel” beteken nie dat gelowiges nou oor mense moet heers of veroordeel nie. Dit verwys na die eindtyd, wanneer gelowiges saam met Christus sal deel hê aan sy regverdige oordeel (vgl. Openbaring 20:4). Die oordeel oor die engele gaan veral oor die gevalle engele wat saam met Satan geoordeel sal word. Gelowiges sal op ’n manier deelneem aan hierdie oordeel (vgl ook Judas 6 en 2 Pet 2:4).

Gelowiges het ’n hoë roeping. Ons is reeds “in Christus” en sal eendag saam met Hom heers. Dit beteken ons moet nou al wysheid, regverdigheid en selfbeheersing openbaar – veral in ons verhoudings binne die gemeente. Los konflikte binne die kerk op. Moenie dadelik na die sekulêre wêreld hardloop vir reg nie. Die kerk behoort volwasse genoeg te wees om regverdig en wys te oordeel.
Dit is ’n groot motivering om heilig te lewe: ons gaan nie net geoordeel word nie – ons gaan self oordeel!

Paulus sê dus nie dat ons nou die wêreld moet veroordeel nie, maar dat ons in Christus geroep is tot regverdigheid en onderskeiding – ’n voorafskadu van die oordeel wat God eendag sal voltrek.




Hoe moet ek dit verstaan? 22

God wou Moses doodmaak

En op pad, by die oornagplek, het die HERE hom teëgekom en hom probeer doodmaak. Toe neem Sippora ‘n vuursteen, besny haar seun en raak sy voete daarmee aan en sê: ‘Jy is vir my ‘n bloedbruidegom.’ Toe het Hy hom met rus gelaat.
Eks 4:24-26

Hierdie is ’n baie vreemde en raaiselagtige gebeurtenis, wat ek nie nou volledig kan behandel nie. Maar ek dink die hoofgedagte is dat die HERE Moses wil gebruik as leier om sy volk uit Egipte uit te lei. Maar op pad terug Egiipte toe keer die HERE hom voor omdat hy ongehoorsaam was aan die bevel om sy seuns te besny. Dit sou ondenkbaar wees dat hy self ongehoorsaam is aan een van die mees basiese bepalings van die verbond.

Ons weet nie hoekom Gersom nie besny is nie. Dalk omdat Sippora, ’n Midianiet, nie daarvoor geneë was nie? Of dalk omdat Moses die besnydenis uitgestel het? Die teks gee ons nie ’n antwoord hierop nie.

Moses se voete is waarskynlik ’n eufemistiese verwysing na sy geslagsdele. Deur die bloed van Gersom se besnydenis red Sippora nou vir Moses deurdat sy die verbondseis wat Moses nagelaat het, nagekom het.

Dié gebeurtenis staan opgeteken om ons te herinner dat God se uitverkore werktuie nie bokant die eise van die verbond staan nie. Hoe groter die roeping, hoe groter die verantwoordelikheid. Jakobus skryf later (Jak 3:1) dat leiers strenger as ander beoordeel word: “My broers, julle moenie almal leermeesters wil wees nie, want julle moet weet dat ons wat leermeesters is, strenger as ander beoordeel sal word.”

Samevattend kan ons sê:
• God neem sy verbond ernstig op.
• Gehoorsaamheid begin by die leier.
• God se genade hef nie sy heiligheid op nie.
• Die teken van die verbond is nie bloot simbolies nie; dit vra verbondstrou.
• Sippora tree onverwags op as die een wat deur haar daad Moses se lewe red.




Drome – Waaroor droom jy?

Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God. 2 Kor 5:17-18a

Ek onthou hoe ek in my kinderdae baie keer gedroom het oor as ek eendag groot is. Dan gaan ek dít doen en dát bereik. Ek gaan ’n wonderlike vrou en fantastiese kinders hê. Ek gaan ryk wees en die wêreld vol reis. Ek gaan hierdie wonderlike dominee wees wat die kerk vol preek. Ek gaan ’n boek skryf wat ’n internasionale beste verkoper is.

Ons het in 1994 gedroom van ’n nuwe Suid-Afrika waar daar vir almal plek in die son sal wees …

Nouja, die moeilikheid met drome is, hulle word heel dikwels (meestal) nie waar nie. Van al my drome het net die een oor ’n wonderlike vrou en kinders waar geword. Van rykdom en die wêreld vol reis en al die ander goed het daar dadels gekom.

Daarom, hoe ouer ’n mens word, hoe minder droom jy oor die toekoms. Die lewe het ’n manier om jou te ontnugter. Om die blink uit jou oë te haal. Dis ongelukkig so dat baie mense langs die pad sinies word oor die lewe, nie meer werklik opgewonde kan raak oor enige iets nie. Jy het al te veel keer in die lewe teleurstellings beleef, en so het die opwinding van die lewe iewers langs die pad verflou en vervaag. Jy droom nie meer oor die lewe nie. Of droom jy nog? Oor jou huisgesien? Oor jou kinders? Oor jou toekoms?

Of het jy opgehou droom, en jy laat maar die lewe oor jou gaan?

Daar is een droom wat ons nooit mag laat vaar nie, en dit is die droom om hoe langer hoe meer soos Christus te word. Paulus het daarvan geskryf in Fil 3:10-11: “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.”

Dis natuurlik nie ’n eenvoudige droom nie, want dit praat van deel hê in Christus se lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood. Die Here het mos self by geleentheid gesê as ons Hom wil volg, moet ons onsself verloën en ons kruis opneem.

Daar is niks glorieryk aan hierdie droom nie. Dis nie een van armpies gevou sit en hoop dit gaan met jou gebeur nie. Dis sterwe aan jouself, daagliks. Dis ’n droom waarin dit nie gaan oor jou eie roem en plesier en grootsheid nie. Soos Johannes die Doper gesê het: Hy moet meer word en ek minder.

Dis óók ’n droom wat ek het. Een wat ek vurig begeer, maar nie hierdie kant van die graf volledig sal bereik nie. Paulus sê self hy het dit nog nie bereik nie, maar hy jaag daarna asof hy dit kan gryp.

GOD KAN VIR JOU ’N NUWE TOEKOMS SKEP

Gelukkig is dit ’n droom waarin ons nie alleen verantwoordelik is vir die uitkoms nie. Trouens, dis iets wat God in ons laat gebeur. Hý verander ons, maak ons nuut, werk in ons, vorm ons. 2 Kor 5:17 sê: Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God.

Ons aanbid ’n wonderlike God wat vir ons ’n nuwe toekoms skep, ’n God wat Hom nie laat keer deur teleurstellings en doodloopstrate en moedeloosheid en hopeloosheid nie.

Paulus het alles van hierdie nuwe toekoms geweet wat God vir ’n mens kan bewerk. Hy, wat eers ’n vervolger van die kerk was, word die grootste sendeling, want God het hom verander en nuut gemaak. “Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God,” skryf hy in 2 Kor 5:17.

AS JY AAN GOD BEHOORT, GEE HY JOU ’N NUWE KANS

As God met ’n mens besig is, word jy nuut, splinternuut. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Daarom kan jy die lewe sonder vrees en bewing ingaan, al is jy nie besonder dapper nie, omdat jy glo in ’n wonderlike Here wat vir ons ’n nuwe kans gee om gelukkig te wees, om voluit te lewe, om ons drome te verwesenlik. Ons hoef nie met ’n klomp hartseer bagasie oor mislukkings van die verlede onsself voort te sleep nie, want God het die oue weggevee. Dit is verby.

GOD MAAK JÓÚ NUUT, ’N NUWE SKEPPING

Maar dis nie net dat God die ou, stukkende verlede wegvee en ons ’n nuwe kans gee, ons as ’t ware ’n nuwe blaadjie laat omslaan nie. Nee, Hy maak óns nuut, oor. Paulus skryf eintlik letterlik dat iemand wat aan Christus behoort, ’n nuwe skepping is. Christene is anders as ander mense, want, in die woorde van die Here Jesus aan Nikodemus (Joh 3), ons is twee keer gebore, opnuut gebore deur die werk van die Heilige Gees. In Christus is ons nuwe skeppings, sê Paulus. Hy gebruik hier dieselfde woord wat die Bybel gebruik as dit van die skepping van hemel en aarde vertel. God het ons nuut geskep, oor gemaak, sodat ons al meer en meer soos Christus kan lyk, soos Christus kan optree, soos Christus kan wees. In dieselfde brief, presies een hoofstuk vroeër (2 Kor 4:16) skryf Paulus dat God ons innerlik van dag tot dag vernuwe. En in 3:18 skryf hy dat ons al hoe meer verander word om aan die beeld van Christus gelyk te word. Dit doen die Here wat die Gees is.

Julle het al seker almal ’n TV-program gekyk waar mense ’n “complete makeover” kry: ’n nuwe haarstyl, ’n nuwe klerestyl, ’n ander bril, nuwe tande … Maar dis alles kosmeties en uiterlik, want geen mens kan iemand anders oormaak nie. Daarom sê ons ook mos: ’n jakkals verander van hare maar nie van streke nie.
MAAR: God kan jou heeltemal oor maak, nuut maak, van vooraf maak. In Christus het die ou jy as ’t ware gesterwe. Nou is dit ’n nuwe jy wat saam met Hom uit die graf opgestaan het. Dis wat God in jou doen (vers 18)!

FOKUS OP DIÉ GOD WAT NUWE MOONTLIKHEDE BRING

Daarom, as daar nou één droom is wat ek vir myself ten doel stel, is dit dat ek opnuut op God sal fokus: op die God wat nuwe lewe bring waar ek moed opgee, wat nuwe moontlikhede oopmaak waar ek net toe deure sien, die God wat die oue en verkeerde uitvee en vir my nuwe kanse gee. Die God wat ook vir mý nuutgemaak het. Want ek behoort aan Christus, en daarom is ek ook ’n nuwe mens, ’n nuwe skepping.

Mag dit waar wees van ons elkeen!




Hoe moet ek dit verstaan? 21

Kry wat jou hart begeer (Psalm 37:4)

Psalm 37:4 is nie ’n blinde belofte dat God enige begeerte van jou hart sal vervul as jy net genoeg bid of goed genoeg glo nie. Dit is deel van ’n lied oor vertroue in God te midde van onreg en bekommernis. Die hele lied kontrasteer die gelowige se lewenswyse en -ingesteldheid met dié van die goddelose, en die digter verseker ons dat die skynbare voorspoed van die goddelose nie iets is waaroor jy jou moet moeg maak nie (vers 3 en 7).

Die psalm as geheel (vgl vers 1) moedig jou aan om nie jaloers of bekommerd te wees oor die sukses van goddelose mense nie, maar om eerder op God te fokus. Teenoor die verganklikheid van die goddelose (vers 28) staan die gelowige se sekerheid en vertroue op die Here, wat aan sy kind gee wat hy nodig het.

Hoe om dit te verstaan:
“Hy sal jou gee wat jou hart begeer” is nie ’n “wenslysie”-belofte nie. Dit gaan eerder daaroor dat jy jou al hoe meer in God moet verlustig, want dan sal jou begeertes al hoe meer met God se wil ooreenstem. God gee dan dikwels daardie begeertes – nie omdat Hy ’n genie in ’n lamp is nie, maar omdat jou wil besig is om met sy wil saam te smelt. Jy begeer dinge wat Hom verheerlik en vir jou goed is.

Dit sluit aan by ander Skrifgedeeltes soos Matteus 6:33 (beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee) en Johannes 15:7 (As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry.)

Dit gaan dus oor hartverandering, en nie manipulasie van God nie. Baie mense dink die digter sê dat God ons hart se begeertes moet vervul as ons net genoeg vreugde in Hom vind. Maar die vers belowe eerder dat God ons hart self sal vorm sodat ons begeer wat Hy wil gee. Hy gee nie sonde, selfsugtige rykdom of dinge wat ons van Hom af wegneem nie. Hy gee dit wat pas by ’n lewe van vertroue en gehoorsaamheid.

Psalm 37:4 is ’n pragtige belofte van vervulling, maar dit begin by ’n veranderde hart wat in God self vreugde vind. Dan word sy wil jou begeerte – en Hy vervul dit getrou. Dit bring diep rus te midde van ’n wêreld vol bekommernis. Hierdie versekering is vir ons van onskatbare waarde wanneer ons dag vir dag gekonfronteer word met die gevolge van moord en doodslag, roof en geweld. Dit sê vir ons: Moenie aanvaar dat die bose tog sy sin gekry het nie. Moenie glo dat jy weerloos staan nie. En moet veral nie moed verloor, boedel oorgee of op ’n hopie gaan lê nie. Dieselfde God wat lank gelede al deur die psalmdigter vir gelowiges gesê het: “Laat julle lewe aan die Here oor”, sê daardie selfde ding ook nog vandag vir my en vir jou.