Wat ons ander skuld: liefde

’n Paar jaar gelede is die land geruk deur ’n organisasie met die moedswillige akroniem-naam OGOD, wat in ’n hofinterdik vra dat ses skole verbied word om Christelike godsdiens in die skool te bedryf. Soos ’n mens kan dink, was feitlik die hele Christelike gemeenskap in rep en roer oor die aangeleentheid.

Dit het my laat dink oor die vraag vra hoe ons in hierdie wêreld moet leef, te midde van verskille en diversiteit. Want, en dis wat ek raak lees in die hele aangeleentheid, daar ís mense (Christene) wat met ’n vreemde arrogansie hulle geloof in ander se kele wil afdruk.

Ek wonder nogal waar in die Bybel mense lees dat ons só moet maak; dat ons soldate vir Jesus moet wees wat ander moet oorwin. En dan mense wat nie soos hulle glo nie, viktimiseer en selfs fisiek aanval. Dis nie ons taak nie. Ek lees nie dat die Here Jesus dit ooit gedoen het nie. Om die waarheid te sê, Hy het Petrus ernstig berispe toe dié ’n swaard uitgepluk het, die nag waarin Jesus verraai en gevange geneem is.

Geweld van watter aard ook al, hetsy dit met wapens of met woorde of met aksies is, behoort nie deel van ’n gelowige se optrede te wees nie. Nou aanvaar ek dat ’n drukgroep soos OGOD moedswillig kan wees, maar ek weet ook dat party Christene, sonder dat hulle dit noodwendig bedoel, met hulle houding en woorde dit vir ander duidelik maak dat hulle tweedeklas burgers is.

Jesus sê ons enigste wapen in ons stryd teen die Bose en teen ongeloof is die liefde: as ons liefhet, sal almal weet dat ons sy dissipels is (vgl Joh 13:35) – vandaar ook die gelykenis van die barmhartige Samaritaan, wat dit uitmuntend onderstreep (Luk 10:25-37). Dis iets van dié woorde wat Paulus in Rom 13:8 ook eggo: “Wees aan niemand iets verskuldig nie behalwe die verpligting om mekaar lief te hê.” Op ander plekke staan dit ook: “Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde.” (Efes 4:2). En in 1 Pet 2:17 skryf Petrus: “Julle moet alle mense respekteer en julle medegelowiges liefhê. Vrees God. Eer die keiser.”

Ons heel eerste, en dikwels enigste, antwoord op die mense wat anders as ons dink en glo, is die liefde. Lééf jou geloof. Wees die boodskap dat God die wêreld en al sy mense oneindig liefhet. Die teksversies en prekies wat party mense so graag uitdeel, is nie die antwoord nie. Liefde is die antwoord. Dít is wat ons ander skuld, sê die Woord. Want, so verduidelik Paulus Rom 13:10, die liefde doen die naaste geen kwaad nie, daarom is die liefde die vervulling van die wet.

Ons Christene het ongelukkig ’n manier om ander mense wat nie soos ons dink en glo nie, te veroordeel, en dan meen ons ons moet hulle regkry deur hulle te konfronteer. Jesus se werkswyse is anders: wen hulle deur liefde, nie deur preke of intimidasie nie. Deur liefde.

Ek dink waar party mense die fout maak, is dat hulle dink as ons liefhet, beteken dit ons moet ruggraatlose sluipers in die wêreld wees. Maar dis nie wat die evangelie van ons vra nie. Paulus sê dit immers in soveel woorde – dat ons nie aan hierdie wêreld gelykvormig moet wees nie (Rom 12:2). Maar wanneer ons standpunt inneem vir wat reg is, wanneer ons ons rug styf maak ter wille van die evangelie, moet dit steeds in liefde wees, sonder om aanstoot te gee, soos Paulus in 1 Kor 10:32 ev skryf: “Moenie aanstoot gee nie, nie aan Jode of aan Grieke of aan die gemeente van God nie. Maak soos ek: ek probeer om almal in alles tegemoet te kom. Ek soek nie my eie belang nie maar dié van baie ander, sodat hulle gered kan word.”

Natuurlik mag ons vir ongelowiges bid. Natuurlik mag ons teenoor hulle getuig, veral met ons dade, eerder as met ons woorde. Maar ons mag op geen manier ons standpunt op ander afdwing nie, want dan verbreek ons die eis van die liefde.

Die geheim om dit reg te kry, sê Paulus in Rom 13:14, is dat ons ons met die Here Jesus Christus moet beklee; Hom as ’t ware moet aantrek sodat Hy ons bedek, sodat ons soos Hy kan lyk en optree en wees.

Miroslav Volf, die bekende Kroatiese teoloog van Yale, sê hy het iets hiervan verstaan toe hy sy geboorteland besoek het. Hy en ’n vriend het op ’n soektog gegaan, amper ’n soort pelgrimstog, na ’n spesifieke soort Kroatiese wors. Hulle pelgrimstog het hulle geneem na die huis van ’n ou man in ’n afgeleë dorpie. Toe hulle sy kombuis binnegaan, het hulle ’n oop Bybel op sy tafel gesien, en dit was duidelik dat die Bybel dikwels deur die man gelees word. Die ou man het hulle iets te drinke aangebied en hulle het aan die gesels geraak. Nie oor wors nie, maar oor die Christelike lewe.

“Kies altyd die moeiliker pad,” het die ou man gesê. Volf het vir hom gevra om te verduidelik wat hy daarmee bedoel. Hy het toe gesê: “Dit is altyd makliker vir ons om gedien of bedien te word, eerder as om te dien, en om te neem eerder as om te gee. Dien is die moeiliker pad, gee is die moeiliker pad. Omdat ons van nature meer selfsugtig is, is die pad van die liefde altyd moeiliker, en dít is die pad wat ons moet kies.”

Miroslav Volf was verwonderd oor wat die ou man gesê het. Hy was verras deur die soort gesprek wat hulle gehad het in plaas van die gebruiklike verwisseling van oppervlakkighede soos sport of die weer. Toe besef Volf dat as die Bybel op jou kombuistafel is, dan sal hierdie soort gesprekke gebeur.

Hierdie ou man in Kroasië het hom duidelik met die Here Jesus Christus beklee, hy het sy Bybel geken, gelees en geleef, en daarom was hy gefokus op ’n lewe van diens, gefokus op die pad van liefde, al is dit die moeiliker pad.

Ek en jy gaan dit moeilik regkry om ons met die Here Jesus te beklee en liefde uit te deel as ons nie ook, soos die man van Kroasië, mense van die Bybel is nie. Dís waar ons Jesus leer ken. So kom ons lees die Bybel, kom ons oordink dit, kom ons leef dit, in plaas daarvan om ander daarmee by te kom en te veroordeel.




SIENER STRIEM RYKES OOR UITBUITING

Ou Testament redaksie

BET-EL. – ’n Skaapboer uit Tekoa in Juda het hom die gramskap van die geestelikes hier op die hals gehaal oor sy veroordeling van die land se rykes.

Die boer Amos het dit veral teen die rykes se uitbuiting van arm mense. “’n Mens wat sy rykdom op die ellende van andere bou, moenie dink God sal daaroor swyg nie,” het hy gesê. “Ek was tot in my siel geskok oor wat ek op ’n sakereis hierheen gesien het. Hoe kan jy dit ooit regverdig dat ’n skatryk man iemand wat hom ’n paar sandale skuld, laat verkoop as slaaf net omdat hy hom nie dadelik kan betaal nie? Of dat jy ’n stomme man se enigste bokleed as pand vat totdat hy sy skuld betaal?”

Amos het dit egter nie net teen die onderdrukking van die armes nie. Hy het hom ook uitgespreek teen die geestelike verval in die land en die verkragting van die reg.

Intussen het dit aan die lig gekom dat priester Amasia van die koninklike heiligdom hier in Bet-El ’n klag van insurgensie by koning Jerobeam ingedien het oor Amos se bedrywighede. Volgens priester Amasia is Amos besig om ’n komplot teen die koning te smee en oor die algemeen ’n oorlas van homself te maak met sy prediking. “G’n mens kan dit met dié kwasieprofeet uithou nie,” het Amasia gesê. Hy het Amos belet om langer in Bet-El by die staatstempel te preek.

In ’n verklaring wat Amos na die voorval uitgereik het, het hy gesê hy is nie ’n gewone profeet wat uit ’n profetekring kom nie. Hy is ’n boer. Maar die Here het hom agter sy skape weggevat en beveel om as profeet teen Israel op te tree. “As ’n leeu brul – wie sal nie bang wees nie? En nou het die Here God gepraat. Wie sal dan nie as profeet optree nie?” het die beskeie boer gesê.

 

Boeteprediker lok talle mense na die Jordaan om hulle te laat doop

Nuwe Testament redaksie

JERUSALEM. – ’n Nuwe prediker het onlangs in die Jordaanstreek begin optree. Met sy dinamiese boete-prediking lok hy daagliks groot getalle mense.

Die prediker is Johannes seun van Sagaria, oftewel Johannes die Doper. Hy het dié bynaam gekry omdat hy die mense wat berou het oor hulle sonde in die Jordaan doop.

’n Kenmerk van sy prediking is dat hy niks of niemand ontsien nie; hy het selfs koning Herodes aangespreek oor sy buite-egtelike verhouding met sy skoonsuster Herodias.

Johannes het die volk se verbeelding aangegryp met sy besliste standpunt teen dit wat verkeerd is. Daar is selfs mense wat wonder of hy nie dalk die Messias is nie. Hieroor is Johannes egter baie beslis. “Die Messias is in ons midde, maar dit is nie ek nie. Ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie,” het hy gesê.

 


Neus in die lug?

God was van die begin af begaan oor die lot van gewone mense, hulle wat in eerlikheid en eenvoud elke dag opkyk na Hom vir hulp. Daarom dat Hy by monde van sy profeet Amos vir hierdie mense in die bres tree. En wanneer God mens word, is dit dadelik duidelik dat hierdie sagte plek wat Hy vir gewone mense het, ook in Jesus se lewe sigbaar sal word. Daarom dat die herders die eerste mense is wat die blye tyding verneem dat Jesus gebore is.

In Luk. 3 lees ons van Jesus se eerste openbare optrede. Hier begin sy bediening op aarde amptelik. En die plek waar Jesus sy bediening begin, is baie veelseggend: Hy gaan meld Hom nie aan by die geleerdes en geestelikes in Jerusalem nie; Hy sluit Hom aan by die stroom mense wat na die Jordaan op pad is om hulle te laat doop as teken van hulle berou en hulle begeerte om van hulle sondes gereinig te word.

Jesus laat Hom ook doop, nie omdat Hy vol sonde is en nodig het om skoon gewas te word nie, maar omdat Hy Hom volledig met ons, sondaars, vereenselwig – só volledig dat Hy in ons plek ’n sondaar gemaak is, soos Paulus skryf in 2 Kor. 5:21: “Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.”

Jesus se eerste amptelike daad as die Messias was om Hom te vereenselwig met die gewone mense. En dit sou die kenmerk van sy hele bediening bly. Daarvoor is Hy later deur die Jode verwyt, en uitgeskel as ’n vriend van tollenaars en sondaars.

Moet ons dan nie ook iets van hierdie gesindheid van Jesus openbaar nie – dat ons ons die lot van die eenvoudiges en die geringes aantrek? Ons is immers tog Christene – volgelinge van Christus!

O, om soos Christus te wees!




Goed-doen

Ek lees anderdag ‘n aangrypende woord Jeremia 4:22: My volk tree dwaas op, hulle erken My nie, hulle is moedswillige kinders, sonder enige begrip  van wat Ek doen. Hulle is net slim as dit kom by verkeerd-doen, van goed-doen wil hulle niks weet nie.

Dié uitspraak van God het my laat wonder. Hoe sou die Here vandag oor ons oordeel? Weet ons genoeg van goed-doen?

Op een of ander manier het ons dit in die NG Kerk iewers gemis. Vir baie jare het ons ’n steriele evangelie verkondig. Al wat jy moet doen om gered te word – so het ons gedink – is om te bely dat Jesus jou persoonlike Verlosser is. Dan is jou saak reg. Natuurlik het ons ook gepraat van goeie dade en liefde vir die naaste en al daardie mooi-klinkende goed, maar ons hart was nie daarin nie. Die kerk het dit nooit van lidmate verwag nie (en verwag dit selfs nou nog nie); dit was as ’t ware opsioneel vir ’n paar yweriges. En as ander kerke baie klem gelê het op die nood van armes en maatskaplike euwels en so aan, het ons half neerhalend gesê hulle is met ’n “social gospel” besig, so asof húlle die kat aan die stert beet gehad het.

Vandag kan ek maar net my kop in verbystering skud. Hoe kon ons só verkeerd gedink het oor die eis van die evangelie? Hoe het ons byvoorbeeld die gelykenis van die barmhartige Samaritaan (Lukas 10:25-37) verstaan? Jesus het daar immers die vraag geantwoord oor wat ons moet doen om die ewige lewe te verkry (Lukas 10:25). As iemand in die NG Kerk dié vraag sou gevra het, sou die antwoord sonder huiwering gekom het: jy moet glo dat Jesus vir jou sondes op Golgota betaal het. Dis natuurlik nie verkeerd nie, maar Jesus sou byvoeg: En dan moet jy Hom navolg in goed-doen aan ander, soos die Samaritaan. Want as Jesus se verbintenis aan ’n verlore-gaande wêreld net by ’n belydenis gebly het …

Goed-doen, uitreik na ander – dit is die hart van die evangelie en ’n onlosmaaklike deel van ons geloofslewe. Daarsonder, sê Jakobus in sy brief (2:26), is ons geloof morsdood. Dít is immers die dinge waarna Jesus eendag by die Groot Oordeelsdag sal kyk (lees gerus weer Matteus 25:31 en verder).

Gelukkig dink en lyk die kerk nie meer soos 30, 40 jaar gelede nie. Baie het verander; ook ons verstaan van geloof. Maar ek vermoed dat ons nog ’n hele entjie het om te vorder voordat goed-doen ’n integrale deel van die NG Kerk se DNS sal wees.




Lyding en hoop

’n Vriend herinner my op ’n dag, toe ek by hom raad gesoek het oor ’n diep drif waardeur ek gaan, aan Hebreërs 12:1-3. Daar roep die skrywer ons op om Jesus in die oog te hou, omdat Hy die weg vir ons gebaan het. Maar dan voeg hy ’n merkwaardige woord by. Hy herinner ons daaraan dat, wanneer ons Jesus in die oog hou, ons ook sy lyding helder moet sien. Dán sal ons nie geestelik moeg word en uitsak nie. Op ’n manier word jou eie lyding in Christus s’n opgevang en dra Hy jou deur jou krisis.

Hierdie selfde gedagte word deur ander Bybelskrywers op ander maniere uitgedruk. Op ’n manier wat ons nie altyd verstaan nie, is ons swaarkry deel van God se goeie pad met ons. Deur ons swaarkry – en hierin lê daar ’n groot misterie – deel ons in Christus se lyding. Paulus skryf daaroor in 2 Timoteus 2:3: “Dra jou deel van die ontberings soos ’n goeie soldaat van Christus Jesus.” Op ’n ander plek skryf hy (Kolossense 1:24): “Ek is nou bly oor al die lyding wat ek ter wille van julle moet verduur, want die vervolging van Christus het nog nie geëindig nie. Ek verduur my deel daarvan ter wille van sy liggaam, die kerk.” Paulus gaan sover om die lyding te begeer! In Filippense 3:10 skryf hy: “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood …”

Dus: nie net moet ons ons lyding sien as deel van Christus se lyding en dit daarom Stoïsyns verduur nie; ons moet daaroor bly wees. Dié tema van blydskap te midde van lyding loop reg deur die Nuwe Testament. Jakobus skryf in Jak 1:2: “My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard.” 1 Petrus 4:13 het dieselfde boodskap: “Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid.”

Trouens, lyding ter wille van Christus is ’n voorreg. Só herinner Paulus die gemeente in Filippi. In Fil 1:29 skryf hy: “God het julle die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly.” En Petrus praat dieselfde taal as hy in 1 Pet 3:14 skryf: “Maar selfs as julle sou ly omdat julle doen wat reg is, moet julle dit as ’n voorreg beskou. Moenie vir mense bang wees of julle laat afskrik nie.” Dit eggo natuurlik die woorde van ons Here Jesus self in Matteus 5:11-12: “Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.”

Ek het lank gesukkel om my kop om dié gedagte te kry. Vir my was lyding ter wille van Christus net sleg, en ek het by tye myself baie jammer gekry. Maar hoe langer ek oor dié saak nadink en met die Here worstel, hoe meer besef ek dat daar inderdaad vreugde in lyding kan lê, en dat dit ’n voorreg is om te ly. In God se hande word my lyding ’n instrument waardeur Hy my nader aan Hom trek.

Natuurlik is dit nie maklik nie. Die ou mens in my wil die hele tyd opspring en skree dat dit onregverdig is, en vra hoekom, hoekom, hoekom. Maar diep binne my begin daar algaande ’n vreugde groei, want te midde van alles weet ek God is met my besig, en deur my swaarkry kry ek hoe langer meer deel aan Christus se lyding en groei ek vaster aan Hom. Wat ’n ongelooflike gedagte!

Daarom leef ek met hoop, en volg ek daarin die Here Jesus, wat sy lyding verduur het sonder om vir die skande daarvan terug te deins, omdat Hy geweet het dat daar vir Hom vreugde in die vooruitsig was (Hebreërs 12:2).




Hoe trek jou offerrook?

’n Prentjie uit die Kinderbybel bly my by: Kain en Abel is albei besig om te offer. Abel se offerrook trek hemelwaarts, maar Kain s’n dwarrel sommer so op die grond langs terwyl hy met haat in sy oë na Abel gluur. Dis natuurlik net die kunstenaar se interpretasie van wat by die offers gebeur het, want die Bybel sê nie vir ons hoe Kain geweet het dat die Here Abel se offer aanvaar het, maar nie syne nie. Dalk het hy dit agtergekom toe die Here Abel se boerdery geseën het, terwyl sy graan nie wou groei nie. Ons weet nie al daardie besonderhede nie, want die Bybel vertel dit nie vir ons nie.

Die beeld van offerrook wat opstyg na God toe, is in Openbaring 8:4 ook te kry, waar die gebede van die gelowiges saam met die wierook uit die offerbak opstyg voor die troon van God, as teken dat God dit aanvaar en hoor.

Dis duidelik uit Genesis 4 dat daar heelwat dinge in Kain se lewe geskort het, en dit het alles te make met sy verhouding met Abel en sy verhouding met God. Die twee is onlosmaaklik aan mekaar verbonde. As dinge met jou broer verkeerd is, loop dit met God ook verkeerd. Lees gerus hoe astrant hy met God praat. Die omgekeerde is natuurlik ook waar: as dinge met God skeefloop, werk dit deur na jou verhouding met ander, soos Genesis 3 duidelik wys.

God is besorg oor beide verhoudings. In Genesis 3:9, ná Adam en Eva van die verbode vrug geëet het, kom Hy na hulle en roep: “Waar is jy?” En in Genesis 4:9 vra God vir Kain: “Waar is jou broer Abel?” Dis hoekom die Wet van die Here twee kante het: liefde tot God (die eerste 4 gebooie) én liefde tot die naaste (die laaste 6). Die twee hoort bymekaar; dis twee kante van dieselfde muntstuk. Jy kan nie God liefhê en jou naaste haat nie, en jy kan nie jou naaste verwerp en meen dit het geen invloed op jou lewe voor God nie. Johannes spel dit in soveel woorde uit in 1 Johannes 4:20-21: “As iemand sê: ‘Ek het God lief,’ en hy haat sy broer, is hy ’n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie. En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet ook sy broer liefhê.”

Die verhaal van Kain behoort ons baie onrustig te stem oor die skynbare gemak waarmee ons gebroke verhoudings met ander mense verdra. Die lysie kan nogal lank raak, maar begin dikwels in die eie gesin en skoonfamilie, of kollegas, of werkgewers of werknemers. Genesis 4 sê dit is nie by God goed genoeg nie. Hy wil weet waar is jou broer, jou skoonseun, jou kollega, jou buurman …

Kain het sy skouers hieroor opgetrek, en die uiteinde is dat hy weg van God, in die wildernis, beland het (4:16). Gelukkig hou die verhaal van die Bybel nie daar op nie. Dit loop deur na ’n ander verhaal, waar ons oudste Broer nie soos Kain sy skouers opgetrek het oor dié vraag nie, maar ons kom opsoek het, die hemel verlaat het en langs ons kom staan het, tussen hemel en aarde gehang het en gebid het (Lukas 23:34): “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”

Dalk voel jy ongemaklik by die lees van dié verhaal. Dalk het daar ’n naam in jou gedagtes opgespring terwyl jy dit gelees het. (Dis wat met my gebeur het toe ek hieroor begin dink het.) Dan weet jy mos nou wat God van jou verwag. Doen iets daaraan voordat jou offerrook ook begin dwarrel.




Tot die mure omval

Jy het dit dalk ook al beleef: jy lees ’n Bybelgedeelte, maar dit praat nie lekker met jou nie. Dis of daar mure om die teks is wat keer dat jy in die teks inkom. En dit is inderdaad so: daar ís mure wat ons keer om die teks te lees en te verstaan soos die eerste lesers en hoorders dit verstaan het – mure van tyd, van kultuur, van wêreldbeeld …

’n Teologie-professor van my, wyle prof. Nico Smit, het ’n beeld gebruik wat my al baie gehelp het as ek met ’n teks worstel en dit voel vir my die mure hou my buite. Hy sê in eksegese (die aktiwiteit om ’n teks te verstaan) moet ’n mens met die teks omgaan soos die Israeliete destyds vir Jerigo aangeval het. Jy onthou mos: ses dae lank moes hulle elke dag om die stad loop, en op die sewende dag sewe keer, en daar val die mure van Jerigo om en lê die stad oop voor hulle. Só, sê prof. Nico, is dit met eksegese ook. Soms moet jy maar om die teks loop, en weer, en weer, en dalk nóg ’n paar keer, totdat die mure om die teks omval en jy verstaan: dís wat God vir my wil sê!

Wat ’n wonderlik WOW-gevoel is dit nie om só by die boodskap van ’n gedeelte uit te kom nie! Nie wat ander gehoor of raakgesien het nie, maar wat jyself ontdek het. Dis soos die verskil tussen kitskoffie en varsgemaalde, varsgemaakte cappucino. Dis meer moeite om die ware Jakob te kry, maar dis oor en oor die moeite werd.