Hoe moet ek dit verstaan? 24

Die Uitverkiesing

Die UitverkiesingWanneer ’n mens oor die uitverkiesing begin praat, is dit dikwels asof mense ’n vaalte oor die oë kry. Party sê openlik hulle wil nie daaroor praat nie, want dit maak hulle onseker of selfs bang. Hoe weet jy jy is uitverkies? Hoe moet ons daaroor dink?

’n Mens sou baie dinge oor die uitverkiesing kon sê. In ons gereformeerde belydenis is daar selfs ’n hele belydenisskrif daaroor – die Dordtse Leerreëls. Dit het die lig gesien ná ’n lang stryd in Nederland oor die kwessie. Maar ek wil jou nie doodgooi met ’n opsomming van hierdie belydenis nie. Ek wil net enkele opmerkings maak.

Uitverkies vir ‘n doel

Die manier waarop die Bybel oor die uitverkiesing praat, maak dit duidelik dat dit nie ’n losstaande saak is nie. Mense word uitverkies vir ’n bepaalde taak. So is Israel verkies om ’n lig vir die nasies te wees (Jes 42:6). Abraham se hele roeping hang daarmee saam: hy is verkies om tot seën vir ander te wees (Gen 12:2). En dié verkiesing het ook sy nageslag se roeping geword. Dit geld van ons ook. Ons is nie uitverkies sodat ons in die hemel sal kom nie. Ons is uitverkies sodat ons werktuie in God se hand kan wees, kanale deur wie God sy genade na die wêreld wil laat vloei.

wie is uitverkies en wie nie

’n Taamlike debat oor die uitverkiesing gaan oor die vraag: wie is uitverkies en wie nie? Daar is teoloë wat sê almal is uitverkies. Uiteindelik, sê hulle, gaan alle mense tog in die hemel kom. Dit lyk my nie heeltemal so eenvoudig nie. Maar as jy nie dit wil sê nie, hoe werk dit? Op grond waarvan word party mense uitverkies? Dis eintlik maklik om te antwoord: dis God se soewereine genade, en geen prestasie van ons kant nie. Ons is immers van voor die grondlegging van die wêreld in Christus uitverkies (Efes 1:4), lank voordat ons enigsins iets kon doen om dit te regverdig of te verdien. Wat God se beweegredes was, is nie vir ons deursigtig nie, behalwe dat ons dankbaar kan wees vir sy genade.

Die fout wat mense maak, is om oor die uitverkiesing te praat los van die Here se genadewerk in hulle lewe. Die uitverkiesing maak net sin vir iemand wat klaar glo. Wanneer ’n mens die besluit neem om te glo, dink jy dis jy wat so besluit het, maar as jy terugkyk oor jou lewenspad, ontdek jy dat dit God is wat jou by geloof uitgebring het. Dis eintlik waaroor die uitverkiesing gaan: ’n belydenis dat jou geloof en verlossing ’n geskenk van God is en nie jou eie prestasie nie.

Dit beteken dat dit sinloos is om buite die geloof om oor die uitverkiesing te dink. Dit help nie om te vra: “Is dié of daardie persoon uitverkies?” nie. Of om te dink dit help nie om te getuig teenoor iemand wat nie uitverkies is nie, want dan sal hy of sy tog nie tot geloof kom nie. Ons moet God se genade-aanbod ernstig neem: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee,” het Jesus in Matt 11:28 genooi. Party reageer op die uitnodiging, maar party nie. Maar almal word genooi.

onherroeplik

’n Laaste opmerking: as die Here jou uitverkies het, sal Hy dit nie weer terugtrek nie. Paulus skryf in Rom 11:29: “As God eenmaal aan mense sy genadegawes geskenk en hulle geroep het, trek Hy dit nooit weer terug nie.” Daarom kan ons met hoop leef oor hulle wat deel van die verbondsvolk is maar iewers opgehou glo het. Wie weet? Dalk is daar vir hulle ’n pad terug.




Hoe moet ons dit verstaan? 23

Ons sal oor die wêreld en die engele oordeel

In 1 Korintiërs 6:2-3 sê Paulus: “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? … Weet julle nie dat ons selfs engele sal oordeel nie?”

Die onmiddellike konteks van Paulus se woorde is die volgende: Paulus praat met die Korintiërs wat mekaar voor heidense howe sleep oor alledaagse geskille. Hy sê: “Julle gaan eendag saam met Christus die hele wêreld oordeel – hoekom kan julle nie nou self klein sakies onder mekaar uitsorteer nie?” Dit is ’n argument van die groter na die kleiner. Die Korintiërs se onvermoë om selfs klein konflikte reg te hanteer, staan in skrille kontras met hulle toekomstige hoë posisie in God se koninkryk.

“Die wêreld oordeel” beteken nie dat gelowiges nou oor mense moet heers of veroordeel nie. Dit verwys na die eindtyd, wanneer gelowiges saam met Christus sal deel hê aan sy regverdige oordeel (vgl. Openbaring 20:4). Die oordeel oor die engele gaan veral oor die gevalle engele wat saam met Satan geoordeel sal word. Gelowiges sal op ’n manier deelneem aan hierdie oordeel (vgl ook Judas 6 en 2 Pet 2:4).

Gelowiges het ’n hoë roeping. Ons is reeds “in Christus” en sal eendag saam met Hom heers. Dit beteken ons moet nou al wysheid, regverdigheid en selfbeheersing openbaar – veral in ons verhoudings binne die gemeente. Los konflikte binne die kerk op. Moenie dadelik na die sekulêre wêreld hardloop vir reg nie. Die kerk behoort volwasse genoeg te wees om regverdig en wys te oordeel.
Dit is ’n groot motivering om heilig te lewe: ons gaan nie net geoordeel word nie – ons gaan self oordeel!

Paulus sê dus nie dat ons nou die wêreld moet veroordeel nie, maar dat ons in Christus geroep is tot regverdigheid en onderskeiding – ’n voorafskadu van die oordeel wat God eendag sal voltrek.




Hoe moet ek dit verstaan? 21

Kry wat jou hart begeer (Psalm 37:4)

Psalm 37:4 is nie ’n blinde belofte dat God enige begeerte van jou hart sal vervul as jy net genoeg bid of goed genoeg glo nie. Dit is deel van ’n lied oor vertroue in God te midde van onreg en bekommernis. Die hele lied kontrasteer die gelowige se lewenswyse en -ingesteldheid met dié van die goddelose, en die digter verseker ons dat die skynbare voorspoed van die goddelose nie iets is waaroor jy jou moet moeg maak nie (vers 3 en 7).

Die psalm as geheel (vgl vers 1) moedig jou aan om nie jaloers of bekommerd te wees oor die sukses van goddelose mense nie, maar om eerder op God te fokus. Teenoor die verganklikheid van die goddelose (vers 28) staan die gelowige se sekerheid en vertroue op die Here, wat aan sy kind gee wat hy nodig het.

Hoe om dit te verstaan:
“Hy sal jou gee wat jou hart begeer” is nie ’n “wenslysie”-belofte nie. Dit gaan eerder daaroor dat jy jou al hoe meer in God moet verlustig, want dan sal jou begeertes al hoe meer met God se wil ooreenstem. God gee dan dikwels daardie begeertes – nie omdat Hy ’n genie in ’n lamp is nie, maar omdat jou wil besig is om met sy wil saam te smelt. Jy begeer dinge wat Hom verheerlik en vir jou goed is.

Dit sluit aan by ander Skrifgedeeltes soos Matteus 6:33 (beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee) en Johannes 15:7 (As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry.)

Dit gaan dus oor hartverandering, en nie manipulasie van God nie. Baie mense dink die digter sê dat God ons hart se begeertes moet vervul as ons net genoeg vreugde in Hom vind. Maar die vers belowe eerder dat God ons hart self sal vorm sodat ons begeer wat Hy wil gee. Hy gee nie sonde, selfsugtige rykdom of dinge wat ons van Hom af wegneem nie. Hy gee dit wat pas by ’n lewe van vertroue en gehoorsaamheid.

Psalm 37:4 is ’n pragtige belofte van vervulling, maar dit begin by ’n veranderde hart wat in God self vreugde vind. Dan word sy wil jou begeerte – en Hy vervul dit getrou. Dit bring diep rus te midde van ’n wêreld vol bekommernis. Hierdie versekering is vir ons van onskatbare waarde wanneer ons dag vir dag gekonfronteer word met die gevolge van moord en doodslag, roof en geweld. Dit sê vir ons: Moenie aanvaar dat die bose tog sy sin gekry het nie. Moenie glo dat jy weerloos staan nie. En moet veral nie moed verloor, boedel oorgee of op ’n hopie gaan lê nie. Dieselfde God wat lank gelede al deur die psalmdigter vir gelowiges gesê het: “Laat julle lewe aan die Here oor”, sê daardie selfde ding ook nog vandag vir my en vir jou.




Hoe moet ek dit verstaan? 20

Elke ding het sy vaste tyd (Pred 3:1)

Met ’n vinnige lees van Pred 3:1-9 wil dit voorkom of die Prediker sê ons lewe is as ’t ware in beton gegiet, en daar is niks wat jy daaraan kan doen nie. God beheer die tye en seisoene van die lewe, insluitend geboorte en dood. As jou strepie getrek is, is dit getrek, sê mense dikwels. Jou lewe is voor jou geboorte al vasgestel, en jy moet dit bloot aanvaar.

Dis nie wat die Prediker wil sê nie. Dis nie asof die lewe outomaties voortgaan en ons is hulpelose toeskouers in ons eie lewe nie. Ons bely immers dat God ons met ’n vrye wil geskep het, sodat ons self kan én moet kies hoe ons paadjie loop. Jy kan nie onverskillig lewe en as jy dan probleme kry, sê dis God se wil nie. Só maklik kan ons nie aan ons verantwoordelikheid in die lewe ontkom nie. As jy bv. alles wat jy het, wegdobbel, kan jy nie sê dis nou maar eenmaal jou lot nie. Daarom waarsku die Prediker ons dat mense “voor hulle tyd” kan sterf deur dwaasheid, sonde of roekeloosheid (Pred 7:17 – “Wees nie te regverdig nie … waarom wil jy vóór jou tyd sterwe?”). Ons keuses en sonde het gevolge wat die lewe kan verkort.

Wat die Prediker sê, is dat daar seisoene in die lewe is wat jy nie kan versnel of stop nie. Jy kan byvoorbeeld nie die winter gouer laat omgaan nie. Daar is dinge in die lewe wat uitsluitlik in God se hand is en wat Hy bepaal. Ons is nie God nie. Die lewe bestaan uit siklusse en teenstrydighede, en die wysheid lê daarin om te onderskei watter tyd dit nou is. Om sinvol te leef, vra nederigheid en ’n erkenning dat God uiteindelik in beheer van sake is, maar ook die wysheid om te weet watter keuses vir jou gaan werk.

Ek dink graag oor die spanning tussen God se beheer en ons verantwoordelikheid as ’n dinamiese spanning, waarin God in beheer is, maar ook ruimte laat vir dit wat ons besluit, goed of sleg. Hy sal sy plan vir jou lewe aanpas sodat dit uiteindelik aan sy doel beantwoord. Dis die troos – ons behoort nie aan onsself nie en is ook nie aan die noodlot oorgelaat nie. Ons behoort aan ons troue Saligmaker. Hy bewaar my op so ’n wyse dat, sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. (Heidelbergse Kategismus Vr en Ant 1).

Prediker 3:1-9 sê dat God die tyd van sterwe bepaal het binne sy soewereine plan. Dit is nie noodlot nie, maar vertroue – die God wat jou geboortetyd geken het, ken ook jou sterftyd, en Hy is getrou. Dit help jou om te aanvaar dat jy nie alles kan dwing om volgens jóú skedule te gebeur nie. Daar is ’n tyd om te treur en ’n tyd om te lag; albei is deel van die lewe. Dit verskuif die beheer vanaf jou eie skouers na God se groter plan.




Hoe moet ek dit verstaan? 19

“Laat Ons mense maak na ons beeld …” Gen 1:26

Wat beteken dit om na die beeld van God geskape te wees (Latyn imago Dei)?
Daar is nie ’n kort, eenvoudige antwoord op dié vraag nie, omdat dit baie implikasies het. Die maklikste misverstand is om te dink ons is ’n kopie of foto van God. God is egter gees, en het nie ’n lyf soos ons nie. Dit gaan dus nie oor fisieke voorkoms nie, maar oor geestelike en morele eienskappe. Om na God se beeld geskape te wees beteken: Jy is gemaak om God te weerspieël in hoe jy leef, liefhet, dink, kies en vir die wêreld sorg. Dit beteken o.a.:

  1. Verteenwoordiging en heerskappy
    In die antieke Nabye Ooste is ’n koning se beeld (standbeeld) geplaas om sy gesag te wys. So beteken “beeld van God” dat mense God se verteenwoordigers op aarde is, om namens Hom te heers (Gen 1:28).
  2. Verhouding met God
    Om na God se beeld geskape te wees beteken mense is gemaak om in ’n persoonlike verhouding met God te leef. Ons kan God ken, ons kan met Hom kommunikeer, ons kan Hom liefhê en gehoorsaam. Dit onderskei mense van die res van die skepping.
  3. Morele en geestelike kapasiteit
    Die “beeld” sluit eienskappe in soos: gewete, keuses maak (vrye wil), soeke na waarheid en betekenis. Hierdie vermoëns reflekteer iets van God se eie natuur.
  4. Rasionaliteit en kreatiwiteit
    Mense dink, skep, beplan en bou, op maniere wat die skepping orden. Dit wys dat ons iets van God se skeppende verstand dra.
  5. Gemeenskap en liefde
    In Gen 1:27 word gesê: “man en vrou het Hy hulle geskape.” Die beeld van God word dus ook gesien in verhoudings tussen mense: liefde, samewerking, gemeenskap.
  6. Waardigheid van elke mens
    Een van die belangrikste implikasies is dat elke mens inherente waarde en waardigheid het, ongeag status, ras, geslag of vermoë. Daarom God se streng verbod op moord (Eks 20:13). Hierdie idee lê aan die basis van baie moderne konsepte van menseregte.



Hoe moet ek dit verstaan? 18

“Laat Ons mense maak na ons beeld …” Gen 1:26

Wie is die “Ons” waarna God hier verwys?
Verskillende verklarings is al gegee.
• In die Joodse tradisie word dit verstaan dat God hier met ’n engele-raad in gesprek gaan, baie soos dit in die antieke koninklike howe gegaan het waar die koning omring is van raadgewers (vgl Job 1:6 of 1 Kon 22:19-20). Die probleem hier is dat die “ons beeld” dan impliseer dat ook engele na die beeld van God is, wat nêrens in die Bybel gesê word nie.
• ’n Ander verklaring is dat God hier ’n koninklike meervoud gebruik om na Homself te verwys. Die Hebreeuse woord “Elohim” (God) is self ’n meervoudsvorm wat volheid uitdruk, nie getal nie. Maar die koninklike meervoud is nie tipiese antieke Hebreeus nie.
• Dit kan ook beteken dat God hier met Homself beraadslaag (die sg. deliberatiewe meervoud). Dit kom ook in Jes 6:8 voor, waar God vra: “Wie sal Ek stuur? Wie sal vir ons gaan?”
• Die beste interpretasie, m.i., is dat dit ’n vroeë aanduiding van die Drie-eenheid is. Vader, Seun én Heilige Gees was by die skepping betrokke. Die Nuwe Testament maak dit duidelik dat die Seun (Joh 1:1-3) deel was van die skeppingshandeling, en Gen 1:2 sê uitdruklik dat die Gees ook by die skepping betrokke was. Ons het hier met ’n gesprek binne die Goddelike Wese self te make. Ons kry dit ook in Gen 3:22 en 11:7, en Jes 6:8.

Ongeag die presiese grammatiese of historiese agtergrond, beklemtoon die teks een ding duidelik:
• Daar is net een God wat skep (Gen 1:27 gebruik konsekwent enkelvoud: “Hy het geskape … na sy beeld”).
• Die mens is uniek: gemaak na God se beeld en gelykenis (nie na engele of enigiets anders nie), met verantwoordelikheid om te heers oor die skepping.
• Die meervoud beklemtoon God se rykdom en volheid – Hy is nie ‘n eenvoudige, eensame wese nie.

Volgende keer: wat presies beteken dit om beeld van God te wees?