Akan, wat nie ’n versoeking kon weerstaan nie

Josua 7

Partykeer dink ’n mens: ag, niemand sal dit ooit uitvind nie. En dan vat jy ’n kans, soos Akan.

Terwyl Akan deur die koninklike paleis in Jerigo storm op soek na die vyand, sien hy dit: ’n versierde kis wat in die hoek van ’n vertrek staan. Hy steek vas. Watter soort goed bêre koninklikes in versierde kiste? Nuuskierig maak hy die kis oop. Bo-op in die kis is klere. Die materiaal is fyn en glad onder sy vingers, glad nie soos die growwe klere wat hy ken nie. Toe hy dit uit die kis lig, sien hy dat dit ’n rok is. Mirrie, sy oudste meisiekind wat volgende week vyftien word, sal darem mooi lyk in hierdie skepping. Hy sien al vir haar met ’n effense wieg van daardie fraai heupe deur die kamp stap. Hoe sal sy nie die manne se koppe laat draai met hierdie rok nie! En hy, Akan, sal swel van trots.

Hy grawe verder. Daar is nog klere, en dan, onder-in die kis, ’n versierde leersakkie wat met ’n riempie toegeknoop is. Met bewende vingers maak hy die riempie los en gooi ’n bietjie van die inhoud in sy handpalm uit. Die silwerklonte lê koel en begeerlik in sy hand. En dan sien hy dit: ’n staaf soliede goud! Sy asem jaag. Hier voor hom lê ’n fortuin soos hy in sy lewe nie weer bymekaar sal sien nie. Dis darem jammer die Here het beveel alles moet net so verbrand word. Dis so ’n vermorsing. Tensy …

Hy kyk rond, maar niemand het hom gesien nie. Blitsig prop hy die mooiste rok, die sakkie silwer en die goudstaaf in sy heupsak, en storm dan verder deur die paleis.

 


Niemand het Akan daardie dag gesien nie. Maar Gód het, en uiteindelik betaal Akan en sy gesin die hoogste prys vir sy ongehoorsaamheid. Al die klere en geld ter wêreld is dít nie werd nie!




Saffira, wat ander wou beïndruk

Handelinge 4:32-5:11

Ek het ‘n kollega gehad wat gesê het hy bid dat die liewe Heer hom net een gemeente sal gee waar die orrelis, die koster én die saakgelastigde almal tere kinders van die Here is.
Ek soek weer ’n gemeente waar al die lidmate liewe kinders van die Here is …

Ananias fluit vrolik toe hy by die huis inkom, sodat sy verras opkyk. “En as jy nou so vrolik fluit, ou man?” vra sy nuuskierig.

“Nee kyk, ek het darem ’n lekker vet slag geslaan met daardie lappie grond wat ons verlede jaar aangeskaf het.” Hy glimlag so breed dat jy net tande sien. “Ek het gewéét dis ’n goeie kopie toe ek dit verlede jaar aangeskaf het. Het ek dit nie toe al vir jou gesê nie?” Hy stoot sy bors uit. “Ek het die helfte meer gekry as wat ek daarvoor betaal het.”

Saffira spring op en slaan haar arms om haar man. “Jy is darem maar knap met geld, weet jy dit?”

“Ja, ek weet, en nou sal die hele gemeente ook weet. Ek sien al hulle gesigte as ek die geld vir Petrus gee – dis amper dubbeld soveel as wat ou Barnabas vir sy grond gekry het, en daaroor het die klomp amper ’n toeval gekry, so opgewonde was hulle.”

Saffira se gesig val, en sy sak in haar stoel terug. “Maar … gaan jy álles vir die gemeente gee? Ek het dan gedink ek kan vir my ’n nuwe weefstoel koop met ’n deel van die wins.”

Ananias aarsel ’n oomblik, en dan knik hy gemoedelik. “Nou goed, gaan koop vir jou die weefstoel. Daar sal meer as genoeg oor wees om vir die gemeente ook te gee. Om die waarheid te sê, dit sal nog steeds heelwat meer wees as wat Barnabas gegee het.”

“Maar wat gaan jy vir Petrus sê?”

Ananias trek sy skouers op. “Seker maar dat dit ’n bydrae is wat ons tot die gemeente se fonds wil maak.”

Saffira skud haar kop. “Nee, dit klink nie so goed nie. Die ding wat die mense beïndruk het met Barnabas se bydrae was dat hy gesê het dis die geld van die grond wat hy verkoop het. Dit klink darem baie beter as om net te sê hier is ’n bydrae wat ons wil maak.”

 


 

Dit lyk vir my ek sal lank soek na ’n gemeente sonder sonde. Selfs die heel eerste gemeente, waaroor Lukas nogal taamlik gloeiend is, was nie volmaak nie. Want die lidmate was tóé ook maar net gewone sondaar-mense soos ek en jy.

Saffira en Ananias was sulke sondaars. Hulle wou baie graag ’n goeie indruk by die ander lidmate van die gemeente skep. Daarmee kan ons seker nie fout vind nie. Maar as ons kyk na hoe hulle dit probeer doen het, duik daar ernstige vrae op. Petrus wil daar niks van weet nie, en uiteindelik word die twee by die kerk uitgedra, voete eerste.

’n Mens kan seker sê dis ’n bietjie kwaai, dié doodstraf vir ’n eenvoudige leuen. Maar as ons onthou dat dit die eerste gemeente was, ’n gemeente aan die begin van ’n heel nuwe bedeling, ’n gemeente wat ánders moes leef as die wêreld om hulle, maak dit meer sin. Christus wou van die begin af die grondtoon van sy kerk reg hê. Almal moes weet dat om aan die kerk te behoort, hoë eise stel. Almal kwalifiseer nie. Net dié wat die Here, en Hom alleen, in opregtheid liefhet, kan deel wees van die kerk. Vir grootdoenerigheid en spogtery en pronk en mekaar die loef afsteek is daar nie plek in die kerk nie. Die enigste een wat groot mag wees in die kerk, is die Here Jesus. Soos Johannes die Doper by geleentheid (in Joh. 3:30) gesê het: “Hy moet meer word en ek minder.”

O, dat dit waar mag wees, ook van my!




Noadja, die profetes wat haar seile na die wind gehang het

Nehemia 6:14

Ons weet niks meer van Noadja as die een enkele terloopse opmerking in Nehemia se vertelling nie. En tog is dit genoeg om haar by die lysie van slegte vroue te voeg. Want om in die Naam van die Here willens en wetens leuens te verkondig, is, wat my betref, verfoeilik.

Toe sy die deur oopmaak en die aantreklike gestalte van Tobija voor haar sien staan, slaan haar hart ’n slag oor. Wat sou hy, die konsul van Ammon, in haar nederige huis kom soek? Maar sy ruk haar vinnig reg en nooi hom in. ’n Mens laat nie belangrike gaste voor jou deur staan en wag nie!

Hulle gesels oor onbenullighede terwyl hulle ’n bekertjie heuningbier saam geniet, en ’n paar dadels. Toe hy sy leë beker neersit, is dit uiteindelik tyd om die rede vir sy besoek te verneem. Hy kyk haar in die oë en sê: “My skoonpa het my na jou toe aanbeveel. Ek verstaan julle is goeie vriende.”

Noadja glimlag innerlik, maar wys nie vir Tobija hoe in haar skik sy is nie. As Sekanja die man na haar toe gestuur het, kan dit net een ding beteken: geld. “Ons ken mekaar van ons kinderdae af, ja,” antwoord sy. Laat hy die praatwerk doen.

“Ek het verstaan dat jy ’n profetes is wat nogal aansien in die stad geniet.”

Sy trek haar skouers op. “Ek het al ’n keer of wat profesieë ontvang, ja,” antwoord sy beskeie.

“Jy is verniet so beskeie,” glimlag Tobija. “Soos ek gehoor het, tel jou uitsprake nogal swaar by julle geliefde hoëpriester Eljasib.”

“Ek is bly om dit te hoor.” Waarheen lei die gesprek dan nou?

“Wat dink jy van julle liewe goewerneurtjie?” verander hy die onderwerp.

“Ek ken hom nie goed genoeg om te veel van hom te dink nie,” hou sy haar stem neutraal. Sy wil eers sien hoe die wind waai voordat sy iets sê. Met magtige manne soos Tobija kruis ’n mens nie swaarde nie. Dan kan sy tog nie help om by te voeg nie: “Maar dat hy wondere met die stadsmuur uitgerig het, is waar. Die muur is al oor halfpad, en hulle het skaars drie weke gelede met die werk begin.”

Sy sien haar laaste opmerking staan hom nie aan nie, en sy voeg haastig by: “Maar hy is ’n koddige kêreltjie, of moet ek liewer sê persoontjie?”

Nou glimlag Tobija breed. Hy prop ’n dadel in sy mond en sê al kouende: “Persoontjie is reg, wat my betref. Ek moet eerlik sê ek kan nie verstaan hoe eerwaarde Eljasib ’n ontmande as goewerneur van die provinsie kan duld nie. Verbied die wet van God dan nie dat ’n ontmande deel van die gemeente mag wees nie?”

“Sekanja het so-iets gesê, ja. Maar dis nie juis my besigheid nie, u weet. Ek is maar net ’n eenvoudige ou vrou.”

Tobija leun vorentoe en sê: “En sê nou maar ek maak dit vir jou die moeite werd om dit jou besigheid te maak?” Hy haal ’n sakkie uit en gooi ’n hopie silwer voor haar op die tafel.

“Natuurlik mag ’n profeet van die Here nooit sê iets is nie sy of haar besigheid as dit oor gehoorsaamheid aan die wet van God gaan nie,” sê sy veelbetekenend, haar oë gretig op die klein fortuintjie voor haar op die tafel.

Tobija glimlag breed en staan op. “Dit lyk my ons twee verstaan mekaar baie goed, Noadja.” Hy beduie na die silwer op die tafel toe hy sê: “Daardie ou geskenkie is maar net ’n voorskot. Daar wag nog soveel as jy binne die volgende twee dae ’n profesie teen Nehemia lewer.”

Sonder ’n verdere woord loop hy by die deur uit. Net die sagte gloed van die silwer in die huisskemer vertel dat hy daar was.

Noadja laat die silwer deur haar vingers gly, ’n skewe glimlag op haar lippe. Sy weet presies wat sy sal doen …

***

Sy wag die hele oggend geduldig in die skaduwee van ’n wildevy, waar sy weet die goewerneur verby sal kom op sy rondtes om die bouwerk te inspekteer. Toe sy hom en sy broer Ganani sien aankom, begin sy haar strompelgang in die pad af. Haar kop is onbedek, en sover sy loop, kerm sy en gooi stof op haar hare. “Wee, wee die stad van God!” roep sy in ’n kermstem. Uit die hoek van haar oog merk sy tevrede dat haar geskree ’n hele groep nuuskieriges gelok het. Die bouers op die muur het ook hulle werk gestaak om te kyk wat aangaan.

Toe die goewerneur naderkom, steek sy verskrik vas en deins van hom af weg, hande afwysend voor haar opgelig. “Moenie naby my kom nie!” skree sy half histeries en wys met ’n krom wysvinger na Nehemia. “Daar is die man wat die toorn van die Here oor ons stad gaan afbring! So sê die Here God:

‘Wee julle, priesters van Jerusalem;
’n ontmande is op pad na my tempel
en julle keer hom nie.
Ellende wag vir jou, onteerde stad;
jy wat my verordeninge minag.
Solank ’n ontmande in Sion regeer
sal my toorn nie bedaar nie.
Ek gaan my hand uitsteek teen Juda
en teen al die inwoners van Jerusalem,
Ek gaan uit hierdie plek uitroei
elke goddelose wat ontmandes duld.
Jou mure sal ineenstort, stad van God;
jou skanse sal ’n murasie word
totdat jy jou bekeer en my verordeninge gehoorsaam.’”

As dít nie die goewerneur sal terugjaag na Susan nie, sal niks nie, dink sy tevrede toe hy bleek om die kieue omdraai en na sy goewerneuerswoning toe vlug. Ja-nee, Tobija sal baie tevrede wees met haar vertoning, dis nou maar klaar.


As ’n mens na Noadja kyk, word dit duidelik hoekom die Here Jesus by geleentheid gesê het ons kan nie God én Mammon (die geldgod) dien nie (Matt. 6:24). En op ’n ander plek (Luk. 12:15): “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ’n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.” Geldgierigheid beduiwel jou goeie oordeel, en besorg aan jou vennote wat jy nooit andersins sou gekies het nie. Hoe anders verklaar jy die feit dat ’n profetes van die Here soos Noadja die persoon wat die muur om die Godstad herbou, aanval?

Oor hierdie saak mag ’n mens nie maar jou skouers optrek nie. Paulus noem geldgieriges in dieselfde asem as onsedelikes, bedrieërs, afgodedienaars, kwaadpraters en dronkaards (1 Kor. 5:10,11), en in Efes. 5:5 skryf hy: “Dit moet julle goed besef: iemand wat ontug pleeg, onsedelik lewe of ’n gierigaard is – want gierigheid is afgodery – het nie deel aan die koninkryk van Christus en van God nie.”

Kras woorde. Maar dis wat die Bybel sê.

 

Naskrif: Ons gaan by ons dogter in die VSA kuier en sal eers weer in Augustus terug wees en my skrywery hervat. Vrede!




Is die NG Kerk die kluts kwyt?

’n Brief waarin die NG Gemeente Die Strand die rede vir hulle dolering weergee, het die land behoorlik aan die gons. In die brief maak Die Strand sewe stellings wat hulle as besluite van die Algemene Sinode voorhou, soos

  • dat God ’n mensgemaakte konsep is;
  • dat Satan en die sondeval nie deel van ons geloofsinhoud hoef uit te maak nie;
  • dat Jesus se maagdelike geboorte en fisiese opstanding nie geglo hoef te word nie;
  • dat Christus se soenverdienste maar net een van vele weë hemel toe is;
  • dat die Bybel ’n menslike boek is waarvan ons nie alles hoef te glo nie;
  • dat die huwelik as Goddelike instelling nie ekslusief tussen een man en een vrou is nie, en dat selfdegeslag-verhoudings dieselfde status moet geniet;
  • dat elke mens self sy of haar geslag kan bepaal en verander.

Dis ’n verskriklik ontstellende lys van dwalings en ’n mens wil jou hande in die lug gooi dat dié goed in die kerk (en van die kerk) gesê kan word. Dit is waar dat daar NG teoloë is wat hierdie standpunte huldig, maar dis nie die amptelike standpunt van die kerk nie (met die uitsondering van die besluite oor selfdegeslag-verhoudings).

Dis die kort antwoord. Die langer antwoord is dat die betrokke teoloë wel in ringstugsake oor hierdie afwykende, vrysinnige beskouings aangekla is, maar dat hulle ongelukkig op tegniese punte vrygespreek is. Wat ongelukkig óók waar is, is dat die kerk nie deur amptelike kanale hierdie teoloë gerepudieer het nie, en daarom kan die kerkleiding nie heeltemal van die beskuldigings wegstap nie.

 

Wat glo ek persoonlik?

Ek kan my nie met een van bg. dwalings vereenselwig nie. Dit is godslasterlike uitsprake wat nie in die kerk van die Here Jesus hoort nie en die einde van die kerk sal beteken as dit nie daadwerklik en ferm as dwaling afgewys word nie. So wat glo ek?

  • Ek glo in die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees. In Hom leef, beweeg en bestaan ek.
  • Die Vader is die almagtige Skepper wat hemel en aarde in sy wysheid uit niks gemaak het en steeds in stand hou. Hy is ook die Een wat my, sondaar, gekies het om aan Hom te behoort.
  • Ek glo dat Jesus die Seun van God is wat mens geword het en gebore is uit die maagd Maria, en dat Hy geen biologiese aardse pa gehad het nie. Hoe dit gebeur het, is ’n misterie en die werk van die Heilige Gees.
  • Ek glo dat Jesus vir my sonde aan die kruis op Golgota gely en gesterf het.
  • Ek glo dat die Here Jesus op die derde dag liggaamlik opgestaan het uit die dood.
  • Ek glo dat Hy hemel toe gevaar het, vanwaar Hy aan die regterhand van die Vader die kerk steeds regeer en vir ons intree. Hy is egter deur sy Gees ook in ons midde om ons te lei.
  • Ek glo dat Hy eendag weer sal kom om die nuwe hemel en nuwe aarde te kom vestig, en dat ek deur sy genade deel daaraan sal hê.
  • Ek glo dat die Heilige Gees (met die Vader en die Seun) die derde Persoon van die Drie-eenheid is, en dat Hy die geloof in my gewerk het, in my woon en my en die kerk lei.
  • Ek glo dat die Bybel God se Woord aan ons is, deur die Gees geïnspireer is en my rigsnoer vir die lewe is. Dit is nie ’n menslik uitgedinkte boek met woorde oor God nie, maar ’n goddelike boek waarin God se Woord vir ons opgeteken is.
  • Ek glo dat ons as kinders van die Here mekaar nodig het en hande moet vat, sodat ons as die Here Jesus se volgelinge saam agter Hom kan aanstap.
  • Ek glo die huwelik is die permanente verbintenis tussen een man en een vrou.

Toe ek die dag as predikant gelegitimeer is, het ek ‘n eed afgelê dat ek my gewete sal laat bind deur ons kerk se belydenisskrifte, omdat dit in ooreenstemming is met die Heilige Skrif. Ek het hierdie binding op my gewete nog nooit as knellend ervaar nie; inteendeel, dit is die bril waardeur ek die Skrif beter kan lees en verstaan.




Ons gesels met Rut

Die verhaal van Rut en Boas lees byna soos ’n sprokie. Wie ken nie Rut se gevleuelde woorde aan haar skoonma Naomi nie? “Waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God …”
Bybelkoerant het by dié merkwaardige vrou gaan kuier om te hoor hoe sy self haar verhaal vertel.

Rut ontvang my in die huis se binnehof, en beduie na die koelte onder ’n groot vyeboom. Op ’n lae tafeltjie het sy ’n hele verskeidenheid lekkernye uitgepak – roosterkoek en heuning, gedroogde vye, amandels, rosyntjies en dadels, en ’n groot beker dikmelk vir elkeen.

“Verskoon tog die overdaad,” glimlag sy blosend en vryf liggies oor haar geswolle buik. “Ek eet deesdae vir twee. Maar,” voeg sy vinnig by, “ek kla nie, hoor. En ons het genoeg, soos jy kan sien.”

Ek vat ’n slukkie van die koel dikmelk en hou Rut dop terwyl sy praat. Sy is fyn uitgevat in ’n delikaat-geweefde bokleed van duifgrys en ligbruin. Die onderkleed wat net-net uitsteek, is donkergrys, dieselfde kleur as haar haardoek.

 

Toevallige ontmoeting

“Ek het my man toevallig ontmoet,” vertel sy en frons dan. “Is toevallig die regte woord?” Sy skud haar kop en antwoord haar eie vraag. “Dit was God wat ons twee se paaie laat kruis het. Ek en my skoonma het hier aangekom uit Moab, en ons het niks gehad nie. Haar huis wat vir jare leeggestaan het, was in ’n treurige toestand, en ons het aanvanklik geleef van aalmoese wat die bure vir ons aangedra het.

Toe besluit ek om uit te spring en kos te gaan soek. Dit was net mooi die begin van die garsoes, en ek het gereken iewers op ’n land sal ek dalk ’n aar of twee kan kry wat die maaiers gemis het. Toe, by die eerste die beste land wat ek teëgekom het, het ek gevra of ek maar daar kan rondkrap vir ’n bietjie gars.”

Dit was harder werk as wat ek gedink het, maar wat kon ek doen?

Haar oë kry ’n veraf trek soos sy terugdink, haar mond sagter. “Dit was harder werk as wat ek gedink het, maar wat kon ek doen? Ek was honger, en ek moes aan my skoonma ook dink. Sy was nie in ’n toestand om iets vir haarself te doen nie.”

 

Eerste indrukke

Sy steek ’n dadel in haar mond en kou dit rustig voordat sy verder vertel: “Toe, met middagete, kom die eienaar van die grond daar aan, en ek sien hy beduie na my kant toe terwyl hy met die voorman praat. Ek het bietjie onder ’n boom gesit en rus, en ek dag toe hy gaan vir my sê ek moet padgee van sy grond af, want hy het reguit na my toe gekom. Ek was verskriklik gespanne en het begin skarrel om die bietjie gars wat ek opgetel het, bymekaar te skraap sodat ek die pad kon vat.”

“Wat kon ek doen? Hy het dan so mooi gevra.”

Sy hou die bak met roosterkoek na my toe uit. “Kry vir jou. Dis regtig heerlik. Skoonma het dit gebak, en ek moet jou sê, niemand kan bak soos sy nie!”

Sy skud haar kop. “Die oomblik toe ek in sy oë kyk, het ek geweet ek was verniet bang. Hy het sagte oë, jy weet?” Sy bloos en tik op haar maag. “Hierdie outjie is baie gelukkig om ’n pa soos hy te kry.”

“Toe bly jy die hele oestyd op Boas se lande,” por ek haar aan.

“Hy het daarop aangedring. Hy het gesê ek is nie veilig as ek vrou-alleen rondloop en kos soek nie.” Sy trek haar skouers op en glimlag. “Wat kon ek doen? Hy het dan so mooi gevra.”

 

Die dorsvloer

“Daar is stories dat dinge by die oes-af fees ’n bietjie handuit geruk het. Mense fluister dat hulle jou in sy bed gesien het daardie nag op die dorsvloer.” Ek voel soos ’n skurk om dié sensitiewe onderwerp te opper, maar die waarheid moet tog uit.

Sy knik. “My skoonma het my aangesê om dit te doen. Sy het gesê hy sal vrolik wees van die wyn en dan kan ek hom verlei. Dan sal hy nie ’n ander keuse hê as om met my te trou nie.”

“En?” dring ek aan toe sy nie verder praat nie.

Ek was verskriklik bang, want ek het nie gehou van Skoonma se plan nie.

“Ek het toe maar gemaak soos sy gevra het. Maar ek het nie langs hom gaan lê nie. Ek het by sy voete gaan lê. Ek was verskriklik bang, want ek het nie gehou van Skoonma se plan nie.” Sy neem ’n slukkie van die dikmelk.

“Ek het die hele nag wakker gelê en gebid dat dit reg moet uitwerk, soos God dit wil laat uitwerk.” Sy vat nog ’n sluk. “Toe, so net voor dagbreek se kant, word hy wakker en kom agter ek lê by sy voete. Ek was so benoud, ek het sommer dadelik begin babbel en gesê hy is my losser en toe vra ek of hy my en Skoonma sal help.” Sy glimlag dromerig. “Ag, hy was fantasties! Hy het ’n klomp ekstra kos vir my gegee en saam met my huis toe gestap. Hy wou nie hê mense moet my by hom sien nie, want dit sal onbehoorlik wees, het hy gesê.”

“So daar het niks dié nag gebeur nie?” wil ek weet, onseker of ek verlig of afgehaal is.

 

Twee lossers

“Daar het baie gebeur, maar nie wat jy dink nie,” antwoord sy beslis. “Hy het te alle tye soos ’n ware heer teenoor my opgetree, en belowe dat hy na my en Skoonma sal omsien, mits die eerste losser terugstaan. My man was die tweede losser.”

“En gelukkig het die eerste losser teruggestaan,” sê-vra ek.

“Gelukkig, ja, want Skoonma het gesê die eerste losser is ’n regte knorpot. Maar wag, ek wil nie oor daardie man praat nie. Die Here het die wonderlikste man vir my gegee. Hy is toe na die stadspoort om met die eerste losser te gaan onderhandel, en ek en Skoonma het die oggend omgebid terwyl ons op nuus wag.” Sy hou haar hande dramaties uit. “En – hier is ek nou! Sy bruid. Die gelukkigste vrou in die hele Betlehem.”

Ek vat ’n happie van die roosterkoek. “Jy is reg, jou skoonma se roosterkoek is uit die boonste rakke.”

“Ek sê mos!” glimlag sy ingenome.

 

Mooiste oomblik

“Wat was vir jou die heel mooiste oomblik van jou en Boas se verhouding?”

“Ag, daar is baie,” sug sy stralend. “Daardie eerste ontmoeting op die garsland sal altyd spesiaal wees, en toe hy kom vertel het dat die eerste losser nie kans sien nie. Dit was die eerste keer dat hy my omhels het, weet jy? En toe ons hier ingetrek het en hy gesê het ek kan die huis inrig soos ek wil, want dis nou my huis. En toe ek besef ek is swanger.”

Sy kyk dromerig na ’n wolk wat stadig deur die blou lug sweef. “Maar die heel mooiste oomblik was toe hy by ons troue gesê het: ‘Sy is my vrou en ek is haar man, van vandag af en vir altyd.’ En toe kyk hy my in die oë, en ek sien die nattigheid daar.” Sy knik. “Ja, dit was die mooiste oomblik van my lewe. Ek het die beste man in die hele wêreld gekry. Hy het ’n hart van goud.”




Die man is die hoof van die huis, dan nie?

’n Mens sou die vraag ook só kon vra: Watter gesag het die man in die huis en leer die Bybel ons dat die vrou gelyk is aan die man?

Dié vraag is so oud soos mensdom; of liewer, byna so oud. Dié vraag sou nooit in die Tuin van Eden ter sprake gekom het nie. Ons lees in die skeppingsverhale dat Adam en Eva as gelykes geskep is om mekaar te help en dat hulle in volkome harmonie geleef het (vgl Gen 2:18, NAV). Maar ná die sondeval verander alles, kom daar spanning in die verhouding en loop dit uiteindelik uit op ’n magstryd tussen man en vrou. God se woorde aan Eva ná die sondeval (Gen 3:16b) is verdoemend: “Na jou man sal jy hunker, en hy sal oor jou heers.” ’n Mens sou dit ook só kon vertaal: “Jy sal probeer om oor jou man baas te speel, maar hy sal oor jou heers.” Daarmee is die tafel gedek vir ’n voortdurende stryd om die baasskap en oneindige hartseer in die huis.

Aanvanklik het die man dié stryd maklik gewen, want die man is fisies sterker as die vrou en kon haar dus op haar plek (soos die man gemeen het) hou. Van die begin af is die vrou as ondergeskikte behandel: sy het nie ’n regspersoon gehad nie; sy kon nie ’n selfstandige beroep volg nie; sy is nie geskik geag om skoolopleiding te kry nie.

Minderwaardig

Ook op godsdienstige terrein is sy minderwaardig behandel. Sy mag byvoorbeeld nie die voorhof van Israel (die ruimte naaste aan die offer-altaar by die tempel) betree het nie. Die Joodse man het gebid: “Dankie dat ek nie ’n heiden of ’n hond of ’n vrou is nie”! In die vroeë kerk is by dié Joodse opvatting aangesluit, sodat Paulus sonder om te blik of te bloos reël dat ’n vrou in die gemeente haar mond moet hou (1 Kor 14:34-35 en 1 Tim 2:12). Dié houding is boonop uit die Bybel verdedig. Die man is eerste gemaak, en dit was tog die vrou wat vir die sondeval verantwoordelik was, het hulle geredeneer (vgl. 1 Tim 2:13,14). Daarom was ’n vrou se plek die huis, waar sy haar vervulling in moederskap moes vind (1 Tim 2:15).

In die eerste eeue na Christus het dié toedrag van sake nie noemenswaardig verander nie. Die manlike dominering het maar eers die afgelope twee eeue gaandeweg uit die samelewing begin verdwyn, en dit ná aansienlike druk van vroueregte-bewegings. Vroue het stemreg gekry, is toegelaat om ’n eie loopbaan te hê, word as regspersoon en as belastingpligtige erken. Vroue word ook toenemend in kerke op gelyke voet met mans behandel. Talle kerke (maar nie almal nie) laat vroue vandag toe om leraars te wees – ’n gebruik wat vyftig jaar gelede haas ondenkbaar was.

Die vraag is nou: wat het dit alles vir ons te sê oor die man se gesag in die huis?

Vir baie mans is die opkoms van die vrou ’n groot probleem, omdat hulle, op die voetspoor van Paulus en die Joodse opvattings van sy tyd, glo dat die man die hoof van die huis is en moet wees. Paulus skryf dit tog in soveel woorde in 1 Kor 11:13 dat die man die hoof is van sy vrou, sal hulle gou vir jou sê. Daarom is dit die man se Godgegewe roeping om die gesagsdraer in die huis te wees, sê hulle. Dit is een van die temas van Angus Buchan se “Mighty Men”-veldtog: dat mans weer hulle Godgegewe roeping om hoof van die huis te wees, ernstig moet opneem. Dit is ook ’n uitgangspunt van die Promise Keepers-beweging wat in 1990 in die VSA ontstaan het.

Dit klink so Bybels, dié standpunt. Jy kan tekste links en regs uitpluk om jou standpunt te ondersteun. Jy kan op ’n eeue-oue kerklike tradisie terugval om te bewys dat dit nog altyd so was. Maar dieselfde is destyds van slawerny gesê. Nêrens in die Bybel word die praktyk van slawerny veroordeel nie, en tog glo ons vandag onomwonde dat slawerny teen God se wil is. Bloot die feit dat ’n bepaalde saak nie in Bybelse tye bevraagteken is nie, beteken nog nie dat dié saak in lyn is met God se bedoeling met die wêreld en sy mense nie. Dit neem ons soms net baie lank om die betekenis van Christus se verlossing goed te verstaan en tot in die praktyk van elke dag deur te trek. Dit het agtien eeue gevat voordat die kerk anders oor slawerny begin dink het, en twintig voordat die posisie van die vrou aan die beurt gekom het.

Jesus se leiding

Tog het ons in die Bybel self al voorbeelde van hoe daar anders gedink kan word oor man-vrou-verhoudings. Jesus het al dié saak aangeraak toe Hy oor die geldigheid van egskeiding genader is (Matt 19:3-9). Die Fariseërs wou egskeiding regverdig omdat die Bybel dit toelaat (vgl. Deut 24:1). Jesus se antwoord is dat dié reëling bloot ’n noodmaatreël van Moses se kant was, maar dat dit nie God se wil weerspieël nie. Hy sê ons sien God se wil vir die huwelik in hoe dit vóór die sondeval was. Dáár moet ons gaan soek as ons vra na die verhouding tussen man en vrou.

Toe Jesus vir ons sonde kom sterf het, het Hy vir ons die voor-sondeval-toestand teruggekoop. Ons hoef nie vanuit na-sondeval omstandighede en gebruike te redeneer as dit oor man-vrou-verhoudings in die huwelik gaan nie. Die vloek dat die man oor die vrou sal heers (Gen 3:16) is deur Christus se kruisdood uitgewis. Die vrou is verlos om nou weer in alle opsigte gelyk aan die man te wees, ook in die huwelik. Daarom is kategorieë soos dat die man die hoof van die vrou en die huis is en dat die vrou na hom moet opsien vir leiding, vir my ’n probleem. Ek glo Christus het ons kom verlos van dié verknegtende standpunt, en in elke huwelik moet man en vrou self hulle verhouding uitwerk soos dit pas by hulle unieke persoonlikhede. Die man se rol in die huis mag nooit ’n statutêre geslagsrol wees wat die man weer moet terugvat, soos talle mense vra nie. Die man se rol in die huis moet wees soos een wat dien. Dis tog die voorbeeld wat Christus in Joh 13 gestel het, dan nie?