Hoe moet ek dit verstaan? 20

Elke ding het sy vaste tyd (Pred 3:1)

Met ’n vinnige lees van Pred 3:1-9 wil dit voorkom of die Prediker sê ons lewe is as ’t ware in beton gegiet, en daar is niks wat jy daaraan kan doen nie. God beheer die tye en seisoene van die lewe, insluitend geboorte en dood. As jou strepie getrek is, is dit getrek, sê mense dikwels. Jou lewe is voor jou geboorte al vasgestel, en jy moet dit bloot aanvaar.

Dis nie wat die Prediker wil sê nie. Dis nie asof die lewe outomaties voortgaan en ons is hulpelose toeskouers in ons eie lewe nie. Ons bely immers dat God ons met ’n vrye wil geskep het, sodat ons self kan én moet kies hoe ons paadjie loop. Jy kan nie onverskillig lewe en as jy dan probleme kry, sê dis God se wil nie. Só maklik kan ons nie aan ons verantwoordelikheid in die lewe ontkom nie. As jy bv. alles wat jy het, wegdobbel, kan jy nie sê dis nou maar eenmaal jou lot nie. Daarom waarsku die Prediker ons dat mense “voor hulle tyd” kan sterf deur dwaasheid, sonde of roekeloosheid (Pred 7:17 – “Wees nie te regverdig nie … waarom wil jy vóór jou tyd sterwe?”). Ons keuses en sonde het gevolge wat die lewe kan verkort.

Wat die Prediker sê, is dat daar seisoene in die lewe is wat jy nie kan versnel of stop nie. Jy kan byvoorbeeld nie die winter gouer laat omgaan nie. Daar is dinge in die lewe wat uitsluitlik in God se hand is en wat Hy bepaal. Ons is nie God nie. Die lewe bestaan uit siklusse en teenstrydighede, en die wysheid lê daarin om te onderskei watter tyd dit nou is. Om sinvol te leef, vra nederigheid en ’n erkenning dat God uiteindelik in beheer van sake is, maar ook die wysheid om te weet watter keuses vir jou gaan werk.

Ek dink graag oor die spanning tussen God se beheer en ons verantwoordelikheid as ’n dinamiese spanning, waarin God in beheer is, maar ook ruimte laat vir dit wat ons besluit, goed of sleg. Hy sal sy plan vir jou lewe aanpas sodat dit uiteindelik aan sy doel beantwoord. Dis die troos – ons behoort nie aan onsself nie en is ook nie aan die noodlot oorgelaat nie. Ons behoort aan ons troue Saligmaker. Hy bewaar my op so ’n wyse dat, sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. (Heidelbergse Kategismus Vr en Ant 1).

Prediker 3:1-9 sê dat God die tyd van sterwe bepaal het binne sy soewereine plan. Dit is nie noodlot nie, maar vertroue – die God wat jou geboortetyd geken het, ken ook jou sterftyd, en Hy is getrou. Dit help jou om te aanvaar dat jy nie alles kan dwing om volgens jóú skedule te gebeur nie. Daar is ’n tyd om te treur en ’n tyd om te lag; albei is deel van die lewe. Dit verskuif die beheer vanaf jou eie skouers na God se groter plan.




Hoe het die helde geval

Ek het grootgeword in ’n era toe veral twee lande vir ons soos bakens van hoop en vooruitgang was. Die VSA was die eerste een. Ek het alles bewonder wat Amerikaans was: die Apollo-maanlanding, hulle magtige ekonomie, en hulle morele kompas in ’n tyd toe Europa en Brittanje die kerke een na die ander begin toemaak het. Ek het vas geglo Amerika is die een land wat die wêreld ’n beter plek maak. Maar nou voel dit vir my of hulle president en sy binnekring vasbeslote is om alles wat daardie land goed gemaak het, af te breek. Hulle het die boelies van die wêreld geword. Hulle Departement van Verdediging het ’n Departement van Oorlog geword, en dit stuit my teen die bors hoe hulle die Bybel misbruik om politieke agendas te regverdig.

Die ander land vir wie ek die hoogste agting gehad het, is Israel. Ek het hulle gesien as ’n wonderland van verstommende prestasies – van uitstaande landboutegnologie tot van die beste verdedigingstelsels ter wêreld. Hulle intelligensiediens, Mossad, was die absolute ideaal. Maar net soos in die VSA, is hulle premier en kabinet vinnig besig om die respek van die wêreld te verloor. Dit is vir my bitter om te sien hoe skietstakings telkens verbreek word, hoe skole en hospitale in die proses vernietig word, en hoe vrede oënskynlik nie meer nagejaag word nie.

Laat ek egter een ding heeltemal duidelik stel: my diepe teleurstelling in die optrede van die VSA en Israel beteken glad nie dat ek die dade van terreurgroepe soos Hamas en Hezbollah, of die regimes soos dié van Iran, enigsins goedpraat of regverdig nie. Hulle brutaliteit en ekstremisme is verwerplik. Maar juis daarom het ek van Israel en die VSA – as demokratiese lande met ’n morele erfenis – beter verwag as van hulle.

In plaas daarvan het hierdie twee eertydse simbole van hoop ’n vennootskap gevorm wat vernietigende gevolge het, sonder om die langtermyn-impak van hulle oorloë te deurdink. Die hele wêreld betaal die prys. Gaan gooi jou motor vol as jy my nie glo nie. Vra jou huishulp hoeveel die taxi haar nou kos om by die werk te kom. Vra die boere met hoeveel hulle insetkoste gestyg het. Wag maar net tot die reserwebank rentekoerse wéér verhoog.

Ek moet erken, ek moes my basiese standpunt oor Israel radikaal heroorweeg. Hulle is lank nie meer die Israel van die Bybel aan wie God al daardie wonderlike beloftes gemaak het nie. Die huidige politieke leierskap herinner eerder aan die historiese nageslag van die volk wat die profete teëgestaan het en Jesus oorgelewer het om gekruisig te word. Hulle staan nie meer aan die kant van die goeie nie. Ek het my respek vir hulle verloor, en solank Netanyahu en sy regering aan bewind is, sien ek nie dat dinge gaan regkom nie.

En die VSA? Hoe het dit gebeur dat iemand soos Donald Trump hulle president kon word? ’n Man wat openlik beweer dat hy nie sonde doen nie – dalk net ’n fout of twee, maar beslis nie sonde nie. ’n Man wat spog dat die Bybel sy gunsteling-boek is, maar nie ’n enkele vers daaruit kan opnoem nie. ’n Man wie se morele karakter gekenmerk word deur skandale soos dié rondom Stormy Daniels.

Maar ek moenie net oor die water kyk nie; ek moet ook hand in eie boesem steek. Ek het grootgeword in ’n tyd toe ons gedink het die Afrikaners is God se spesiale geskenk aan Suid-Afrika en dat die Nasionale Party die antwoord is. En later? Toe die growwe onreg van die vorige bedeling en Apartheid op die lappe gekom het? Toe ons besef watter onmeetlike skade die Groepsgebiedewet aan die sosiale samehorigheid en die lewens van ander mense in ons land berokken het?

Hoe het die helde nie geval nie! Daar is so min in die nuus waaroor ’n mens vandag nog opgewonde of trots kan wees. Hoe skrikwekkend reg is die Woord nie waar dit sê daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie (Ps 14:3; Rom 3:9-12). Nee, nie een nie. Nie daardie lande of leiers nie, nie ek nie, en ook nie jy nie.

Dit is tyd dat ons met absolute eerlikheid die ou smeekgebed van die kerk bid: Kyrie eleison! Here, wees ons genadig.




Hoe moet ek dit verstaan? 19

“Laat Ons mense maak na ons beeld …” Gen 1:26

Wat beteken dit om na die beeld van God geskape te wees (Latyn imago Dei)?
Daar is nie ’n kort, eenvoudige antwoord op dié vraag nie, omdat dit baie implikasies het. Die maklikste misverstand is om te dink ons is ’n kopie of foto van God. God is egter gees, en het nie ’n lyf soos ons nie. Dit gaan dus nie oor fisieke voorkoms nie, maar oor geestelike en morele eienskappe. Om na God se beeld geskape te wees beteken: Jy is gemaak om God te weerspieël in hoe jy leef, liefhet, dink, kies en vir die wêreld sorg. Dit beteken o.a.:

  1. Verteenwoordiging en heerskappy
    In die antieke Nabye Ooste is ’n koning se beeld (standbeeld) geplaas om sy gesag te wys. So beteken “beeld van God” dat mense God se verteenwoordigers op aarde is, om namens Hom te heers (Gen 1:28).
  2. Verhouding met God
    Om na God se beeld geskape te wees beteken mense is gemaak om in ’n persoonlike verhouding met God te leef. Ons kan God ken, ons kan met Hom kommunikeer, ons kan Hom liefhê en gehoorsaam. Dit onderskei mense van die res van die skepping.
  3. Morele en geestelike kapasiteit
    Die “beeld” sluit eienskappe in soos: gewete, keuses maak (vrye wil), soeke na waarheid en betekenis. Hierdie vermoëns reflekteer iets van God se eie natuur.
  4. Rasionaliteit en kreatiwiteit
    Mense dink, skep, beplan en bou, op maniere wat die skepping orden. Dit wys dat ons iets van God se skeppende verstand dra.
  5. Gemeenskap en liefde
    In Gen 1:27 word gesê: “man en vrou het Hy hulle geskape.” Die beeld van God word dus ook gesien in verhoudings tussen mense: liefde, samewerking, gemeenskap.
  6. Waardigheid van elke mens
    Een van die belangrikste implikasies is dat elke mens inherente waarde en waardigheid het, ongeag status, ras, geslag of vermoë. Daarom God se streng verbod op moord (Eks 20:13). Hierdie idee lê aan die basis van baie moderne konsepte van menseregte.



Hoe moet ek dit verstaan? 18

“Laat Ons mense maak na ons beeld …” Gen 1:26

Wie is die “Ons” waarna God hier verwys?
Verskillende verklarings is al gegee.
• In die Joodse tradisie word dit verstaan dat God hier met ’n engele-raad in gesprek gaan, baie soos dit in die antieke koninklike howe gegaan het waar die koning omring is van raadgewers (vgl Job 1:6 of 1 Kon 22:19-20). Die probleem hier is dat die “ons beeld” dan impliseer dat ook engele na die beeld van God is, wat nêrens in die Bybel gesê word nie.
• ’n Ander verklaring is dat God hier ’n koninklike meervoud gebruik om na Homself te verwys. Die Hebreeuse woord “Elohim” (God) is self ’n meervoudsvorm wat volheid uitdruk, nie getal nie. Maar die koninklike meervoud is nie tipiese antieke Hebreeus nie.
• Dit kan ook beteken dat God hier met Homself beraadslaag (die sg. deliberatiewe meervoud). Dit kom ook in Jes 6:8 voor, waar God vra: “Wie sal Ek stuur? Wie sal vir ons gaan?”
• Die beste interpretasie, m.i., is dat dit ’n vroeë aanduiding van die Drie-eenheid is. Vader, Seun én Heilige Gees was by die skepping betrokke. Die Nuwe Testament maak dit duidelik dat die Seun (Joh 1:1-3) deel was van die skeppingshandeling, en Gen 1:2 sê uitdruklik dat die Gees ook by die skepping betrokke was. Ons het hier met ’n gesprek binne die Goddelike Wese self te make. Ons kry dit ook in Gen 3:22 en 11:7, en Jes 6:8.

Ongeag die presiese grammatiese of historiese agtergrond, beklemtoon die teks een ding duidelik:
• Daar is net een God wat skep (Gen 1:27 gebruik konsekwent enkelvoud: “Hy het geskape … na sy beeld”).
• Die mens is uniek: gemaak na God se beeld en gelykenis (nie na engele of enigiets anders nie), met verantwoordelikheid om te heers oor die skepping.
• Die meervoud beklemtoon God se rykdom en volheid – Hy is nie ‘n eenvoudige, eensame wese nie.

Volgende keer: wat presies beteken dit om beeld van God te wees?




Hoe moet ek dit verstaan? 17

Die Apokriewe Boeke

Die Bybel soos ons dit in die Protestante tradisie ken, bestaan uit altesaam 66 kanonieke boeke (39 in in die Ou Testament en 27 in die Nuwe Testament). Kanonieke boeke word so genoem omdat dit deur die kerk as die maatstaf (kanon) vir die geloof erken word. Apokriewe boeke is geskrifte wat nie in ons Bybel ingesluit is nie, maar wat aanvullende stories en perspektiewe oor Bybelse gebeure bied.
Die term “apokrief” kom van die Griekse woord apókruphos, wat beteken “om iets weg te steek”. Apokriewe boeke word nie amptelik as deel van die Bybel erken nie en word dus as nie-kanoniek beskou. Hulle sluit dikwels by Bybelse verhale aan of is aan bekende Bybelse figure toegeskryf, maar hulle is nie deur die vroeë kerk as geïnspireerd aanvaar nie.

Verskille in Aanvaarding
Protestante beskou die Ou- en Nuwe-Testamentiese apokriewe boeke as nie deel van die Bybel nie, omdat hulle nie ooreenstem met die 66 kanonieke boeke nie.

Die Rooms-Katolieke Kerk het in 1546 by die Konsilie van Trente formeel bevestig dat sommige ekstra Ou Testamentiese boeke, soos Tobit en 1 en 2 Makkabeërs, gesaghebbend is en as deel van die Bybel aanvaar kan word.
Beide Protestante en Katolieke verwerp egter die sogenaamde Nuwe Testamentiese apokriewe, soos die Evangelie van Tomas en die Evangelie van Maria, as nie-kanoniek.

Hoekom is daar verskil?
Die Jode het ná die tyd van Jesus die Hebreeuse kanon vasgestel sonder hierdie boeke.
Die vroeë Christelike kerk het die Griekse vertaling (Septuaginta) gebruik, wat hierdie boeke wél ingesluit het.
Tydens die Reformasie (16de eeu) het Martin Luther en ander protestante teruggekeer na die Hebreeuse kanon en die Apokriewe uit die Bybel gehaal en gesê dit is “goed om te lees” maar dis nie Skrif nie.

Voorbeelde van Apokriewe Boeke
Ou Testamentiese Apokriewe
Die Wysheid van Salomo
Die Wysheid van Ben Sirag
Tobit
1 en 2 Makkabeërs
Henog
Die Boek van die Opregte (Jasher)
Jubileë, Barug, 2 Esdras

Nuwe Testamentiese Apokriewe
Die Evangelie van Tomas
Die Evangelie van Maria
Die Didagé
Die Openbaring van Paulus

Belangrikheid en Gebruik
Apokriewe boeke bied vir ons insig in die intertestamentêre tyd, die denke van vroeë Christene en die vroeë kerkvaders, en help om Bybelse verhale beter te verstaan. Hulle bevat dikwels legendariese verhale, briewe van bemoediging en dokumentasie van vroeë Christelike praktyke, wat nie in die kanonieke Bybel voorkom nie. Alhoewel hulle nie as gesaghebbend beskou word deur alle Christene nie, kan hulle ‘n waardevolle bron wees vir studie en begrip van die Bybelse konteks.




Wat ons elke dag doen, maak saak in die hiernamaals