Hoe moet ek dit verstaan? 10

Ek weet wat Ek vir julle beplan …

Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting!
Jer 29:11

Hierdie teksvers word dikwels aangehaal om vir mense ’n spesiale toesegging te maak; so asof God hier met elkeen van ons persoonlik praat. Om die woorde van Jer 29:11 só te gebruik, hou ongelukkig nie rekening met die konteks waarin die woorde staan nie.

Jer 29 is ’n skrywe van die profeet, in opdrag van die Here, aan die ballinge in Babel. In Babel was daar vals profete (29:8) wat die balllinge verseker het dat hulle ballingskap van korte duur sal wees. Maar die Here sê nee, dit sal 70 jaar duur, en daarom moet hulle nie in Babel sit en die tyd omwens nie. Hulle moet hulle daar inburger en aan die heil van Babel help bou (29:5-7).

Dus: die eerste saak wat ons moet raaksien, is dat hierdie woorde nie aan indiwidue gerig is nie, maar aan die Judese ballinge as geheel. Sy boodskap is: God het ’n plan van vrede en hoop vir hulle, selfs al moes hulle vir 70 jaar in ballingskap bly. Die vers herinner ons dat God se planne nie rampspoed bring nie, maar ’n toekoms en ’n verwagting. Hy bring hoop vir sy mense.

Die tweede ding wat ons moet hoor, is dat God se tydsberekening anders werk as wat ons wil hê. Dit gaan nie hier om ’n kitsoplossing vir al jou probleme nie, of dat elke indiwidu ’n blink toekoms in die afsienbare toekoms belowe word nie.

Soos vir die Jode, wil God ons in hierdie belofte bemoedig om vas te byt, voluit te lewe en die toekoms met hoop en verwagting in te gaan.




Hoe moet ek dit verstaan? 9

Alles werk ten goede mee …

Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.
Rom 8:28

Hoe moet ons dit verstaan dat daar so baie ellende in die wêreld is; dat ook gelowiges swaarkry en teenslae beleef?

Die eerste ding wat ons moet raaksien, is: God is in beheer. Dis Hý wat dinge laat gebeur. Ons is nie uitgelewer aan die Bose, of aan ’n blinde noodlot, of aan onsself oorgelaat nie. Nee, ons lewens is in die hande van die groot en goeie God van hemel en aarde, die God wat in Jesus Christus ook ons Vader geword het. Daarom kan Paulus sê: Dit is Gód wat alles laat gebeur.

Die tweede wat ons moet besef, is dat Paulus nie hier ’n algemene uitspraak maak nie. Dit geld vir dié wat God liefhet en aan Hom behoort.

Derdens moet ons nie die “alles” verstaan as slegs materiële voorspoed nie, hoewel dit natuurlik dit ook insluit. Die “ten goede” gaan in die eerste plek om ons geestelike groei.

Verder: In God se hand word alles wat na ons toe aankom, goed én kwaad, tot ’n seëning vir ons. God vang die kwaad op wat na ons toe aankom, Hy buig dit om, en laat daaruit iets goeds spruit, reglynig teenoor die sleg wat die kwaad bedoel het. Hy vorm ons daardeur, sodat ons al hoe meer soos Jesus sal lyk. Hy het ons immers bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun (vers 29).

Dít is ons troos: Ook in ons swaarkry bly God met ons besig. Hy hou ons vas, ook vandag.




Hoe moet ek dit verstaan? 8

Sonde teen die Heilige Gees

Dit verseker Ek julle: Alles sal die mense vergewe kan word, al die sondige lastertaal wat hulle praat. Wie egter teen die Heilige Gees laster, word tot in ewigheid nie vergewe nie maar bly ewig skuldig aan die sonde.
Mark 3:28-29
Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering kan die mense vergewe word, maar die lastering teen die Heilige Gees kan nie vergewe word nie. As iemand iets teen die Seun van die mens sê, kan dit hom vergewe word; maar as iemand iets teen die Heilige Gees sê, kan dit hom nie vergewe word nie, nie in hierdie bedeling nie en ook nie in die toekomstige nie.
Matt 12:31-32

Hierdie waarskuwing van Jesus kom nadat die Fariseërs gesê het dat Jesus se krag om duiwels uit te dryf van Beëlsebul (Satan) kom. Die werk van die Heilige Gees is dus, volgens hulle, die werk van die duiwel.

Laster teen die Heilige Gees is om:
Die werk van die Heilige Gees doelbewus te verwerp; die waarheid van Christus te ken, maar dit met oorgawe te ontken; die Gees se getuienis oor Jesus toe te skryf aan boosheid. Dit is nie ’n eenmalige fout nie, maar ’n volgehoue, opsetlike en hardnekkige verwerping van God se genade.

Waarom is dit onvergeeflik?
Vergifnis kom deur berou en geloof. As iemand hul hart so verhard dat hulle nie meer berou wil hê nie, is daar geen pad na vergifnis oor nie. Die sonde teen die Heilige Gees is dus nie onvergeeflik omdat God nie wil vergewe nie, maar omdat die persoon nie meer wil verander nie.

Moet ek bang wees dat ek dit dalk gedoen het?
Nee, as jy bekommerd is daaroor, is dit ’n teken dat jy dit nie gedoen het nie. Diegene wat teen die Heilige Gees sondig, het geen berou of vrees meer vir God nie. Jou gewetensbewustheid en soeke na waarheid wys dat die Gees nog aan jou werk.




Hoe moet ek dit verstaan? 7

Is God ’n harde meester?

‘n Slaaf wat sy opdrag uitgevoer het, word mos nie bedank nie, of hoe? So is dit ook met julle: as julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê dan: Ons is slawe wat niks verdien nie. Ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.”
Luk 17:9-10

In Luk 17:7-10 lyk dit darem maar na ’n harde en ongenaakbare heer van wie hier gepraat word. En as Jesus dit nou op ons geloofslewe toepas, lyk dit asof God ’n harde en wrede God is, wat net heeldag werk uitdeel, en ons het niks te sê nie.

Gelukkig is dít nie die boodskap van Luk 17 nie. Hierdie gedeelte wil nie vir ons iets sê van hoe God is nie; dit wil vir ons iets sê van hoe ons behoort te wees. Daarom mag ons nie hier allerlei afleidings maak oor God nie – dan mis ons die hele boodskap van Jesus se vertelling.

Die Here Jesus sê: Ons is onverdienstelike slawe. Ons kan nie ons verlossing by God verdien nie. Ons mag ook nooit moeg word of in selfvoldaanheid agteroor gaan sit nie. Ons is slawe wat niks verdien nie. Ons doen maar net wat ons verplig is om te doen.

Dit beteken natuurlik nie dat God hard en ongenaakbaar is nie, en nie raaksien wat ons doen nie. God is nie ’n slawedrywer nie. Hy sien wel deeglik raak wat ons doen. Daarom sê Jesus in Luk 12:37: Gelukkig is die slawe vir wie die eienaar by sy koms wakker sal aantref. Dit verseker Ek julle: Hy sal hulle aan tafel laat sit, self ’n voorskoot aansit en hulle kom bedien.

God is geen slawedrywer nie; Hy is ons Vader in Christus Jesus. Hy sorg vir ons.




Hoe moet ek dit verstaan? 6

‘n Wildevyeboom wat vlieg?

En die Here antwoord: “As julle geloof soos ‘n mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie wildevyeboom gesê het, ‘Trek jou wortels uit die grond en gaan plant jouself in die see,’ en hy sou na julle geluister het.
Luk 17:6 AFR20

Nie een van ons kon al ’n wildevyeboom in die see gaan plant nie? Beteken dit dan nou dat ons nie genoeg geloof het nie? Want selfs al is jou geloof so klein soos ’n mosterdsaadjie, sal jy dit kan doen, sê die Here Jesus.

Dis immers hoe dit klink as ’n mens dit hier lees. Maar, en dit is een van die belangrikste dinge wat ’n mens moet onthou as jy die Bybel lees: die Bybel is nie vol losstaande teksverse wat ’n mens sommer so kan uithaal en apart hou nie. Die Bybelse uitsprake pas bymekaar, en daarom moet ons kyk wat staan by hierdie uitspraak van Jesus. Hoekom het Hy dit gesê?

Hierdie gedeelte begin met die uitsprake van die Here wat daarop neerkom dat ons dit nie vir ander moeilik moet maak om die Here te volg nie. Hy sê as jy die oorsaak is dat ander struikel in die geloof, is dit vir jou beter dat jy in die see verdrink (vers 2). Een van die grootste struikelblokke wat ons as Christene in ander se geloofspad kan rol, is liefdeloosheid en onvergewensgesindheid.

Dit ís baie moeilik om iemand te vergewe wat jou te na gekom het. En tog vra die Here dat ons dit moet doen, selfs sewe keer op een dag (vers 4)!

Die dissipels hoor dit, en hulle voel moedeloos. Wie kan nou só leef? Daarom kom hulle na Jesus toe en vra vir Hom: Here, gee ons meer geloof (vers 5). As ons net meer geloof het, dan sal ons beter in staat wees om ons naaste te vergewe.

Dis dan dat Jesus in vers 6 sê: “As julle geloof soos ‘n mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie wildevyeboom gesê het, ‘Trek jou wortels uit die grond en gaan plant jouself in die see,’ en hy sou na julle geluister het.” Jesus se antwoord wil vir hulle sê dat jy nie meer geloof nodig het om ander te vergewe nie. Om mekaar te vergewe, vra nie groot geloof nie, want Hy vra nie van ons om wildevyebome in die see te gaan plant nie. Hy vra van ons om mekaar te vergewe, en daarvoor het jy nie geloof nodig nie, maar net gehoorsaamheid.

Jesus sê vir sy dissipels: moenie sit en wag dat iets bonatuurliks, iets wonderliks met julle gebeur sodat julle in vrede met mekaar kan leef nie. Rol julle moue op en begin net doen!

’n Groot deel van ons kind-van-God-wees is nie soseer ’n saak van groot geloof nie, maar doodeenvoudig gehoorsaamheid.




Hoe moet ek dit verstaan? 5

Jabes se gebed

Jabes het die God van Israel aangeroep met die woorde: “Stort u seën oor my uit, vergroot my grondgebied, neem my onder u beskerming en weerhou onheil van my sodat geen smart my tref nie.”
1 Kron 4:10

Jy het waarskynlik al van Jabes se gebed gehoor. Bruce Wilkinson se boekie hieroor was ’n topverkoper. Daarin maak hy van Jabes se gebed ’n soort mantra, ’n formule waarmee jy God se seën kan verseker. Baie gelowiges het na aanleiding hiervan begin om daagliks Jabes se gebed te bid, in die verwagting dat God hulle sal seën.

Ek dink nie ons behoort Jabes se gebed só te misbruik nie. Dan eerder die Ons Vader, waarin die Here Jesus ons leer om te bid vir ons daaglikse brood (God se voorsiening vir ons tydelike behoeftes).

Ons moet Jabes se gebed in konteks verstaan. “Jabes” beteken “smart”, verwysende na sy traumatiese geboorte (1 Kron 4:9). Sy ma het hom met dié naam opgesaal, maar Jabes het geweier om onder die oordeel van só ’n naam te leef, en hom tot God gewend.
So word Jabes simbool van iemand wat eerder op God vertrou as om deur ’n slegte naam beheers te word. En God het hom gehoor!