Hoe moet ek dit verstaan? 4

Is die duiwel se naam regtig Lucifer?

Die kort antwoord op dié vraag is: nee.

“Lucifer” is die Latynse naam vir die planeet Venus, die helderste ster in die hemelruim. In die volksmond word dit die môrester én die aandster genoem, omdat dit net voor sonsopkoms en net na sonsondergang so helder skyn.

In Jes 14:12 word die koning van Babel spottenderwys “die helder môrester” (in die Latynse vertaling “Lucifer”) genoem, en sê Jesaja hy het uit die hemel geval, as beskrywing van sy ondergang. Dit is egter nie ’n direkte verwysing na Satan nie. Daarvoor moet ons na die Nuwe Testament blaai.

In Luk 10:18 verbind Jesus hierdie ster wat uit die hemel geval het, met Satan, en in Op 9:1 en 12:9 kry ons dieselfde gedagte. Daarom het “Lucifer” ’n simboliese naam geword vir Satan voor sy val — ’n engel wat trots geword het en teen God gerebelleer het, en daarom uit die hemel geskop is.




Hoe moet ek dit verstaan? 3

Tot alles in staat?

Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. (Fil 4:13, AFR83)

Filippense 4:13 word dikwels gebruik as iemand voel hy of sy kan ’n groot uitdaging te bowe kom, of ’n moeilike toets slaag, ens. Die AFR83-vertaling laat dit lyk asof dit presies is wat Paulus vir ons sê: Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. Die AFR20 help ons om dit beter te verstaan: Tot dit alles is ek in staat deur Hom wat my krag gee.

Die sleutel vir die regte verstaan van Paulus se woorde lê in die “dit”. Die “dit” verwys na die voorafgaande verse, waar Paulus vertel van sy lewe van ontbering (vers 11 en 12). Die gemeente Filippi het hom ondersteun in die tronk, en nou bedank hy hulle daarvoor (vers 10), maar sê ook dat sy vreugde en krag nie afhanklik is van omstandighede nie. Hy het geleer om in alle omstandighede tevrede te wees, of dit nou gebrek is, of oorvloed. As hy dus in vers 13 skryf dat hy tot alles in staat is, gaan dit daaroor dat hy alles wat na sy kant toe kom, kan hanteer, of dit met hom goed gaan of sleg, omdat Christus hom die krag daartoe gee.

Christus se krag is nie superkrag nie, maar volharding te midde van swaarkry. Hy sê nie, soos dikwels verkeerdelik afgelei word, dat hy enige iets kan doen wat hy wil nie. Sy geheim lê nie in oormatige selfvertroue nie, maar in nederige vertroue in Christus.

Paulus nooi jou uit om jou identiteit en krag nie in sukses of gemak te vind nie, maar in ’n lewende verhouding met Christus. ’n Beeld wat my help om dit te verstaan, is dié van ’n boom wat diep in die grond gewortel is. Of dit nou reën of droog is, die boom bly staan, want sy krag kom van die bron onder die oppervlak.

Só leef Paulus. En só kan jy ook.




Hoe moet ek dit verstaan? 2

Was daar regtig reuse?

Toe die Here sien hoe groot die verdorwenheid van die mens op aarde is en dat hy sy lewe lank net slegte dinge bedink, was die Here bedroef daaroor dat Hy die mens op die aarde gemaak het. (Gen 6:5)

Aan die begin van Genesis 6 lees ons ’n baie vreemde verhaal, van hemelwesens wat met aardse vroue getrou het, en by hulle kinders verwek het wat tot die geboorte van reuse gelei het, die helde uit die ou tyd, beroemde mense (Gen 6:4). Dis ’n vreemde vertelling wat ons eerder in die antieke Griekse mitologie sou gaan soek (dink bv aan Achilles). Wat maak dié mite in die Bybel?

Deur die eeue is baie verklarings voorgestel. In die apokriewe Boek van Henog word dit verduidelik dat die hemelse wesens gevalle engele was. ’n Ander verklaring is dat die “seuns van God”, soos dit letterlik in die Hebreeuse teks staan, die nageslag van Set was, terwyl die “dogters van mense” die nageslag van Kain was. Dié huwelike is ’n simbool van die morele verval en vermenging van heiligheid met goddeloosheid, volgens hierdie siening.

Ek verkies ’n derde verklaring: Hierdie vertelling wil vir ons laat verstaan waarom die sondvloed Gen 6 – 8) moes plaasvind. Vers 5 sê God was jammer dat Hy die mens gemaak het, omdat die mens só verdorwe geword het.

Dié bisarre verhaal is dus nie deel van die oergeskiedenis waaraan ons as gelowiges waarde moet heg nie; dis ’n voorbeeld van hoe arrogant die mense in Noag se tyd was, en die slegte dinge wat hulle bedink het (Gen 6:5a). Hulle het halfgode uitgedink en selfs geglo dit is moontlik om die straf van God op die sonde te omseil deur met dié versinde gode te trou en so onsterflikheid te verkry.

Die Bybel vertel hierdie storie, nie omdat dit waar is nie, maar as voorbeeld van die slegte bedinksels, versinsels, van die mens. Dáárom het God ingegryp met die sondvloed, waarvan ons verder in die hoofstuk lees. Om die boosheid van die mense te beëindig.




Hoe moet ek dit verstaan? 1

In die volgende paar weke kyk ons na enkele gedeeltes of konsepte in die Bybel wat dikwels verkeerd verstaan word, of wat moeilik is om te begryp. Ons begin met die vraag:

Hoekom het Saulus later Paulus geword?

Maar Saulus, oftewel Paulus, het hom stip aangekyk en, vervul met die Heilige Gees … (Hand 13:9)

Dikwels word gesê dat die groot sendeling-apostel Saulus van Tarsus ’n nuwe naam gekry het met sy bekering op die Damaskuspad; dat hy voor sy bekering Saulus genoem is, en ná sy bekering die naam Paulus gekry het (soos Abram Abraham geword het, en Jakob Israel).

Dit is egter nie korrek nie. Saulus, of dan Saul, was sy Joodse naam (Hand 9:4); vernoem na die grootste man uit die stam Benjamin – koning Saul, die eerste koning van Israel (1 Sam 9; vgl Fil 3:5). Saul het egter ook ’n Romeinse naam, Paulus, gehad wat hy gebruik het in sy omgang met nie-Jode. Waarskynlik het hy dié naam ook met geboorte gekry, aangesien hy ’n Romeinse burger was. Ons ken dié gebruik goed in Suid-Afrika, waar baie Afrikane ’n tradisionele naam én ’n Westerse naam het. Onder sy of haar eie mense word die tradisionele naam gebruik, bv. Rolihlahla, maar Westerlinge weet dikwels nie eers wat dié naam is nie, want by die werk is hy Nelson (om maar ’n voorbeeld te noem). Dit was die geval met Saul ook (in Afrikaans word die nominatiewe Latynse uitgang -us, soos in Latyn, behou; vandaar Saulus; in Engels het die nominatief weggeval en is die naam net Saul, of Mark, of Luke).

Waar Saul hoofsaaklik in ’n Joodse omgewing opgetree het, gebruik die skrywer Lukas sy Joodse naam, maar toe hy onder nie-Jode begin werk, skakel Lukas in sy vertelling oor na sy Griekse naam, Paulus (Hand 13:9). Die Romeinse naam het beter gewerk in ’n nie-Joodse omgewing. Dalk het hy dit gedoen omdat hy vir almal alles geword het (1 Kor 9:22) sodat nie-Jode beter met hom kon identifiseer. Daarom dat hy sy briewe ook met sy Romeinse naam onderteken.




Bybelkoerant gesels met Josef

Ek moes met ’n swanger vrou trou

 
Sy donkerbruin oë wyk nie voor jou blik nie. Om sy oë is daar baie lagplooitjies, sodat jy dadelik weet: hierdie man se hart is vol vreugde. Maar hy is stillerig, ongemaklik oor die aandag wat skielik op hom val. Af en toe vee hy effens gespanne met ’n growwe skrynwerkershand oor sy ruie baard of oor sy hare. “Ek sal liewer vir jou ’n tafel maak as om ’n onderhoud te doen,” erken hy skamerig.
 
Josef ben Jakob is aan al ons lesers goed bekend, nie soseer oor wie hý is nie, maar oor wie sy vróú is. Hy is die man van Maria die ma van Jesus.
 
Josef vertel: “Dit bly my steeds verbaas dat die Here God vir Maria en vir my uitgekies het om sy Seun groot te maak. Wie is ons nou eintlik, per slot van sake? Ons is albei eenvoudige mense, sonder danige geleerdheid of status. Goed, ons kan albei ons afkoms terugvoer na koning Dawid, maar ek sou myself nou nie juis uitsonder as een van die elite in Israel nie. My ouers was ook maar bitter eenvoudig. Pa was net soos ek ’n skrynwerker. Dit is die enigste lewe wat ek ooit geken het. Vroom, ja, dit was Pa-hulle, en so het hulle ons ook grootgemaak: met ’n heilige ontsag vir die Here God en vir die dinge van die Here en vir die wette van Moses. Hy het altyd gesê die vrese van die Here is die beginsel van die wysheid. Dit het vir my as jong kind baie vreemd geklink, dié ouerige sê-ding, en dan het ek gewonder of dit beteken ons moet vir die Here bang wees? Later eers het ek besef dat daar ’n verskil is tussen bang wees en ontsag en respek hê.”
 

my kop wou dit nie vat nie

Josef pluk-pluk aan sy baard voordat hy aangaan: “So jy sien, ek was baie gesteld daarop om streng volgens die wette van Moses te lewe. Dis hoe ek geleer is. Jy kan jou voorstel watter skok dit vir my was toe ek uitvind my verloofde is swanger. Ek onthou tot vandag nog hoe naar ek was toe Maria dit vir my vertel het, en hoe teleurgesteld ek in haar was. Want jy moet weet, ék was nie die pa van haar baba nie, daarvan was ek baie seker. Sy het vir my vertel dat sy nie by ’n man was nie, en dat die lewe in haar van God self kom, maar my kop wou dit nie vat nie. Ek het gedink dis ’n liegstorie wat sy uitgedink het om haarself te verontskuldig. Ek was in ’n bitter groot dilemma. Ek was lief vir haar – sy is ’n wonderlike mens, jy weet – maar ek het nie kans gesien om met haar te trou as sy al voor ons huwelik begin rondslaap het nie. My ma het altyd vir my gesê ’n mens verander nie ten goede na die huwelik nie, so as ek voor die huwelik goed ontdek waarvan ek glad nie hou nie, moet ek die meisie los, want dit sal nie na die huwelik eensklaps regkom nie.”
 
Josef kyk met daardie bruin kykers van hom diep in my oë, asof hy by my begrip soek, en ek knik onwillekeurig. Dan vertel hy verder: “Ek kon haar seker by die stadsvaders gaan verkla het as ek wou. Hulle sou haar op die daad gestenig het, daarvan is ek seker. Hulle het nie tyd vir vroue met losse sedes nie. Dít wou ek darem ook nie hê nie. Toe besluit ek om liewer ons verlowing stilletjies te verbreek. Dit was nie ’n maklike besluit nie, want ek was lief vir haar, maar ek het gedink dis die beste onder die omstandighede.
 
“Toe, een nag, verskyn ’n engel aan my en sê ek moenie bang wees om met Maria te trou nie, want dit is die waarheid wat sy gepraat het. Haar baba kom van God af. Ek was so verlig, ek het net daar opgespring en na haar huis toe gegaan. Sy was baie bly, soos jy kan dink.
 

Mense kan nogal wreed wees

“Maar soos die tyd aangestap het, het ek besef dis nie ’n maklike ding om aan ’n swanger meisie verloof te wees nie. Almal het geglo ek is die pa van Maria se ongebore kind. Mense kan nogal wreed wees. Skimpe en openlike beskuldigings, werkskontrakte wat skielik en sonder verduideliking opgesê word, vriende wat jou die rug toekeer, al daardie dinge is ek deur.
 
“Partykeer het ek getwyfel. Ek het dikwels gewonder of ek nie die droom van die engel opgemaak het omdat ek graag vir Maria wóú glo nie. Dan sê ’n stemmetjie hier in my agterkop vir my ek moet haar los, die swangerskap is háár probleem, nie myne nie, en dat ek nie die komplikasies van haar swangerskap nodig het nie. Maar die Here gee baie genade vir ’n mens. Hy vra nie van jou om iets te doen sonder om ook vir jou die krag daarvoor te gee nie. Dit het ek uitgevind. En dis wonderlik om te ontdek dat sy genade vir jou genoeg is. Dit maak al die swaarkry dubbel en dwars die moeite werd.”
 
Sy glimlag is breed as hy sê: “Of ek dit weer sal doen? Maar natuurlik! Niks is meer opwindend as om deel te wees van God se plan nie. Jesus was van die begin af net een groot vreugde in ons huis. En buitendien, ek is lief vir Maria. Sy is ’n vrou duisend.”
 
 

Profiel van Josef:

Hoe het jy jou vrou ontmoet?
Ek ken haar al van kleins af, maar daar was niks tussen ons nie. Toe, een middag laat, was ek baie dors. Ek is af na die spruit om ’n bietjie water te gaan skep. Sy het op ’n rotsbank langs die water gesit, met die laatmiddagson in haar hare … Toe was alles oor. Ek het op daardie oomblik my hart verloor.
 
Watter eienskap van jou vrou is vir jou die mooiste?
Haar toewyding aan God.
 
Watter dinge maak jou bly?
My vrou se glimlag, ’n mooi sonsondergang, ’n voltooide meubelstuk.
 
Wat maak jou bang?
Ek is bang ek sal nie die Here se vertroue in my om sy Seun groot te maak waardig wees nie.
 
Wat maak jou kwaad?
Onbeskofte mense.
 
Wat is jou gunsteling gereg?
Lensiesop en roosterkoek.
 
En jou gunsteling drankie?
’n Sluk water uit die bergstroom agter Nasaret.
 
Stokperdjies?
Ek hou daarvan om in die veld te gaan stap, veral vroegoggend as die dou nog op die blare blink en daar so ’n byt in die lug is. Dit maak jou kop skoon.
 
Wat is die grootste fout wat jy nog gemaak het?
Die dag toe ek besluit het om ons verlowing stilletjies te verbreek. Gelukkig het God dit verhoed!
 
Wat was die grootste oomblik in jou lewe?
Sekerlik die nag toe Jesus gebore is, daar in Betlehem. Ek sal dit nooit vergeet nie. Alles was so stil, en dit het om ons na vars strooi geruik. Vreemde mense was by om Maria te help met die geboorte. Ek was baie senuweeagtig en bang iets loop verkeerd, en ek het baie gebid. Toe ek weer hoor, klink ’n babastemmetjie in my ore op, en Maria roep my om na haar Baba te kom kyk. Ek het my vinger in sy handpalmpie gesit, toe vat Hy my vinger vas. Toe was dit asof die hemelse vrede oor my neerdaal.
 
En die benoudste oomblik?
Dit was die nag nadat ’n paar geleerde manne uit die Ooste ons kom besoek het. ’n Engel het my in ’n droom gewaarsku dat ons moet vlug, want Herodes wou Jesus doodmaak. Ons het sommer daardie selfde nag nog na Egipte gevlug. Net buite Betlehem het ons ’n afdeling soldate teëgekom, en ek het gedink dis klaarpraat, maar hulle het hulle nie aan ons gesteur nie. Ongelooflik, nè?
 
Waarvan hou jy die minste?
Om te draf. Ek haat dit. My pa het altyd gesê mense wat draf, sal kinders ook eet!
 
Wat is jou ideaal in die lewe?
Om ’n goeie man vir Maria te wees, en ’n goeie voorbeeld vir ons kinders.
 
Watter raad wil jy vir ons lesers gee?
Behalwe dat jy die Here jou God moet liefhê met alles wat jy het? Ag nee wat, ek is nou nie juis ’n ou wat vir ander raad kan gee nie, ek sukkel self te veel. Maar as ek iets móét sê, sou ek sê: Dink aan die mooi dinge in die lewe. Moenie op die lelike goed om jou konsentreer nie.
 
Josef se storie word in Mat 1:18-23 vertel.



Bybelkoerant gesels met Daniël

Moenie met die stroom saamswem nie

Een van die siektes van ons tyd is ruggraatloosheid; ’n houding van “almal maak so, daarom gaan ek ook”. Dit is natuurlik baie maklik om so te lewe, want jy hoef nie standpunt in te neem oor enige saak nie, en jy hoef nie op te staan vir wat jy glo nie. So dikwels sien ek dat mense nie meer vra na wat reg is en wat God in die Skrifte eis nie, maar eenvoudig kyk wat ander doen en wat die minste probleme in die samelewing sal besorg.

In die goeie ou dae toe ons nog in Juda gebly het, kon so ’n uitkyk jou miskien nog gehelp het om die regte ding te doen. Ons het toe immers in ’n samelewing gewoon waar die Skrifte as norm vir die gemeenskapslewe gegeld het. Maar dié dae is verby. Ons is nou in Babel, en die Skrif geld nie hier as norm nie. Mense leef volgens ’n ander kode, en jy kan nie meer kyk wat ander mense doen om te besluit of ’n saak reg is of nie. Jy moet vra wat sê God.

Ek gee toe dat ’n mens nie in die samelewing kan leef asof jy die enigste een is wat ’n sê het nie. Ek weet ons moet ander mense in ag neem en nie ons geloof aan hulle opdring nie. Maar in die proses mag ons nie ons geloof en ons Here versaak nie. Ek glo met my hele hart dat ons selfs hier in die vreemde aan God getrou kan bly in woord en daad. Goed, dit kan jou moontlik laat uitstaan, en hier en daar kan dit ongemaklik wees omdat jy nie inpas en wegraak tussen die massas nie. Maar as ons aan die God van die hemel getrou wil bly, het ons nie ’n keuse nie.