Beroemdes en berugtes (3)
Demas kry koue voete
Ons lees van Demas se besluit in 2 Tim 4:10. Ander plekke waar hy genoem word, is Kol 4:14 en Filemon 1:24.
Ons lees van Demas se besluit in 2 Tim 4:10. Ander plekke waar hy genoem word, is Kol 4:14 en Filemon 1:24.
Lees alles van Simson se manewales in Rigters 13 – 16.
Jakob se stormagtige jare staan in Gen 25 – 32 opgeteken.
Ons word gebombardeer met die populêre sielkunde wat sê: Wees jou eie mens! Volg jou eie kop. Moenie dat ander namens jou besluite vir jou neem nie. Doen wat jý wil en wat vir jóú reg is. “Because you’re worth it,” soos die een of ander skoonheidshuis daagliks vir ons verseker.
’n Ander weergawe van dié ingesteldheid is die sg. carpe diem-benadering. Gryp die dag! Jy het net vandag. Haal uit hom uit wat jy kan. Moenie dat ander jou terughou nie. Leef jou droom. Trouens, jy kan alles bereik waarop jy jou hart sit. Niks is onmoontlik nie! Só het Novac Djokovitch die wêreld nou die dag verseker pas nadat hy die Franse Ope gewen het.
Jakob se tweelingbroer Esau sou saamgestem het. Hy was immers ’n dinamiese man wat dinge kon laat gebeur. Hy het nie gewag dat die wêreld in sy skoot val nie. Die nou, die onmiddellike, dís wat saak gemaak het. Daarom, toe hy op ’n dag honger en moeg uit die veld terugkom ná ’n jagtog, is die pot lensiesop wat Jakob gekook het, al wat vir hom saakgemaak het. “Ek wil dit hê, en ek wil dit nóú hê,” het hy gesê (Gen 25:30). Die toneel wat Genesis vir ons skilder, herinner ’n mens aan ’n honger dier sonder enige inhibisies, gulsig: “Laat my gou van die rooi goed wegsluk, van daardie rooi goed.” Niks anders maak vir hom op daardie oomblik saak nie; net sy maag.
Dís wat so ’n houding aan ’n mens doen. Dit ontmenslik jou. Jy word jou eie maatstaf, en dit is al wat vir jou belangrik is. Nie eers Esau se eersgeboortereg kon tussen hom en sy drange inkom nie.
Ek wil nie hiermee sê dat ideale en dryfkrag verkeerd is nie; dat jy nie groot drome mag droom of hard moet werk om dit te verwesenlik nie. Maar sonder die riglyne van die Skrif gaan dit lol. Ons het die korreksie van Bo nodig om deur die doolhof van keuses veilig anderkant uit te kom. Anders gaan ons ons vingers verbrand (of ons tong, soos Esau te laat uitgevind het). Daarom waarsku die Prediker in 11:9: “Jy wat jonk is, moet vreugde vind in jou jeug en jou jong dae ten volle geniet. Doen wat jy goedvind en waarvan jy hou, maar moenie vergeet dat God van jou rekenskap sal eis oor alles nie.”
Johannes die Doper was, in die woorde van die Here Jesus self, die grootste profeet van almal (Matt 11:11), maar as hy oor homself praat, merk ons geen sweem van selfbelangrikheid nie. Hy is maar net ’n stem, nie eens werd om Jesus se skoene los te maak nie (Joh 1:27). Sy grootste droom is dat Jesus meer word, en hy minder (Joh 3:30).As jy naby God leef, gebeur dit met jou ook. Nederigheid is immers vrug van die Gees (Gal 5:23).
Paulus het nie op sy eie gewerk nie. Sy bedieningsmetodiek was een van mentor-wees. Ons kan talle name opnoem van mense wie se mentor hy was: Timoteus, Lukas, Silas, Titus, Priscilla en Akwilla, Apollos …
’n Mens wonder of iemand soos Timoteus ooit die mas sou opkom sonder die ferm leiding van sy mentor Paulus. Dalk het ek en jy ook ’n mentor nodig? Of dalk kan jy vir iemand ’n mentor wees?