Petrus, wat nie pa wou staan vir wat hy glo nie
Ons weet almal van Petrus wat die Here drie maal verloën het. Ek het hom altyd verskoon omdat ek gereken het dit was vóór die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag. Ná Pinkster was Petrus ’n ander mens. Hy het onverskrokke voor die Joodse Raad sy verbintenis met Jesus bely. Maar tog, sestien jaar later in Antiogië, vang hy weer ’n ding aan wat my laat wonder …
Petrus wou niemand seermaak nie, en daarom trek hy hom terug; eet hy nie meer soos vroeër met nie-Jode nie, want die Jode sal aanstoot neem. In die proses gee hy egter aanstoot aan die nie-Jode. Paulus sê sommer reguit hy huigel.Jy sien, partykeer móét ons standpunt inneem en daarby staan, anders laat ons mense in die steek, en, erger nog, die Here self.
Nehemia, die man met ondernemingsgees
“Wat dink jy?” vra Nehemia vir sy broer toe hulle die vervalle stadsmuur geïnspekteer het.
“Die muur lyk vir my plek-plek baie sleg, maar dis seker nie onmoontlik om dit te herstel nie,” antwoord hy, en sy stem hang onseker in die lug.
“So?”
“Waar gaan ons die mense kry om dit te doen, en die geld kry om hulle te betaal? Ek weet nie hoe groot jou beursie is nie, my ou boetie, maar dit gaan ’n werkspan van sê vyftig man ’n baie lang tyd vat om dié muur te herstel.”
“Dis omdat almal tot nou toe soos jy geredeneer het dat daar nog niks gebeur het nie.”
Ganani kyk verras op. “Het jy ’n plan?”
“Natuurlik. Ek gaan die hele volk by die herstelwerk betrek. Dis iets wat almal saam moet doen.”
Hy skud sy kop treurig. “Ons mense is ’n klomp dwarstrekkers, my ou broer. Net as jy dink nóú het jy hulle hier mooi bymekaar, dan spring daar anderkant ’n paar uit, en teen die tyd dat jy daardie klompie gepaai en gepamperlang het, is die klomp hierdie kant weer uit. Dís die moeilikheid.”
“So wat jy eintlik sê is dat die groot uitdaging nie die herstel van die muur is nie, maar om ons mense te laat saamwerk?”
“Dis wat ek dink, ja.”
Die omvang van die uitdaging rys soos ’n groot monster voor Nehemia op. “Dan is daar twee dinge wat ons sal moet doen, Ganani: baie bid, en fyn beplan.”
Feitlik almal hét gehelp, en die stadsmuur is in ’n rekordtyd herstel – binne slegs twee en vyftig dae. Dit wys jou net wat vermag kan word as ’n mens ’n saak biddend en in geloof aanpak.
Absalom, wat nie sy pa wou vergewe nie
2 Samuel 15:1-5
“Dis ongewoon om ’n besoekie van die koning te kry,” sê Absalom sarkasties toe ’n slaaf vir Dawid na sy binnehof bring. Hy staan lui op, en buig vermakerig.
“Ja, en vrede vir jou ook, Absalom,” kap Dawid terug, en wil dan sy tong afbyt. Hy het hom voorgeneem om ten alle koste kalm te bly, en hier het hy al in sy heel eerste sin droog gemaak. Hy wil sy seun gaan omhels, maar kom nie sover nie.
Die stilte hang swaar tussen hulle. Absalom kyk uitdrukkingloos na hom, sodat hy later ongemaklik sy keel skoonmaak en sê: “Ek het kom vrede maak, my kind.”
“O.”
Toe Absalom nie verder praat nie, sukkel Dawid voort: “Ek verlang na jou, Absalom. Ek dink baie aan jou, sien jou so af en toe op ’n afstand, en dan pyn my hart.” Hy glimlag selfbewus. “Ek begin nou oud word, en ’n mens word seker maar meer sentimenteel soos die jare aanstap. Ek wil … ek kan nie langer so aangaan nie. Dis dié dat ek gekom het.”
“Is dit nie nou ’n bietjie laat daarvoor nie, Pa?” vra Absalom, ongeroer deur Dawid se woorde.
Dis nooit te laat om te vergewe nie, selfs al kom die ongelukkigheid soos dié tussen Absalom en sy pa Dawid ’n lang pad. Absalom het rede gehad om kwaad te wees (Dawid het nie vir Amnon gestraf toe dié Absalom se suster Tamar verkrag het nie), maar sy verhaal skreeu dit uit dat wraak op die lang duur nie baat nie. Dit vernietig almal in die proses.
Nie vergelding nie, maar vergifnis, is die Here se boodskap. In Romeine 12:18-21 staan: “Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God … Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.”
Dawid, die vrot pa
2 Samuel 13
“Ek kan nie meer by my susters in die paleis bly nie,” sê Tamar, haar stem koud en dood. “Ek is … gebruikte goedere.” Sy sit in rougewaad op ’n bankie in die paleis se agterplaas, met stof op haar kop.
“Die vark! Ek maak hom vrek,” brul Absalom sy woede en ontsteltenis oor sy suster uit. Hy vat haar teer om die skouers. “Toemaar, Sussie. Jy kan by my kom bly. En moet jou nie oor Amnon bekommer nie. Pa gaan slange vang as hy uitvind wat gebeur het. Ek is seker hy sal dit nie daar los nie. Amnon sal hierdie dag nog berou, jy sal sien. Hy gaan boet. Gee maar net kans.”
Dawid ís ook woedend toe hy van alles hoor, maar hy doen niks.
Absalom wag twee jaar dat sy pa aan Tamar se saak aandag gee, maar wat die koning betref, is die hele insident verby en vergete.
Koning Dawid was ’n begaafde man: ’n goeie koning, ’n uitsonderlike strateeg, ’n briljante veggeneraal, ’n wonderlike digter, ’n geloofsheld, die man na God se hart. Maar Dawid was ’n vrot pa. Sy seuns het die een ná die ander sleg uitgedraai – Amnon, die oudste, verkrag sy eie halfsuster; Absalom vermoor sy halfbroer Amnon, en later lei hy die staatsgreep teen sy pa; Adonia roep homself as koning uit …
Dawid was sonder twyfel baie lief vir sy seuns (minder so vir sy dogters?), maar hy het hulle nie getug nie. Lees gerus 1 Konings 1:6! In Spreuke 22:15 staan nie verniet nie: “Onverstandigheid is eie aan ’n jongmens, maar ’n pak slae haal dit uit hom uit.”
Dawid se lewe is ’n blywende waarskuwing aan ons almal: ’n Goeie pa (of ma) gee nie net liefde nie. Hy gee homself, sy tyd, sy energie, om sy kinders te vorm.
