Eli, die pa wat nie sy kinders kortgevat het nie

1 Samuel 2:13-36

Ek onthou hoe ek op ’n keer by mense gekuier het. Hulle kind was verskriklik stout. Haar pa het haar so gekyk, sy kop geskud en half vir homself gemompel: “Jy kort ’n goeie pak slae, maar ek gaan dit nie vir jou gee nie.” Net soos Eli van ouds …

Die hoëpriester Eli waggel met stram bene na die ingang van die huis van God, en laat sy swaar lyf met ’n sug op die stoel neersak. Vir ’n hele ruk sit hy so, wag hy dat die brandende pyn in sy heupe bedaar. Sy asem hyg van die inspanning, en hy vee die sweet uit sy oë.
Een van die skoonmaaksters storm snikkend by die huis van God uit, by hom verby en af in die straat. Hy wil nog vra wat verkeerd is, maar sy is al weg. Net Hofni se koggellaggie hang hol in die lug.
Eli skud sy kop hartseer. Hy hoef nie meer te vra wat die vrou makeer nie. Hy weet maar te goed sy seuns slaap by die meisies wat in die huis van God werk. Hoeveel mense het nie al by hom daaroor gekla nie, en ook oor hoe hulle die mense se offers ontwy. Hy het al met hulle daaroor gepraat, maar hulle steur hulle nie aan hom nie.
Hy sug weer. Eintlike behoort hy hulle van hulle priesteramp te onthef, maar dis darem sy seuns …

Dis seker maar die gevolg van die sondeval, maar daar is nie ’n maklike manier om ’n kind ordentlik groot te maak nie. Dit bly pynlik vir jou én jou kind. Maar as jy jou kind regtig liefhet, sal jy nie daarvan wegdeins nie. Die Woord leer ons immers in Spreuke 22:15: “Onverstandigheid is eie aan ’n jongmens, maar ’n pak slae haal dit uit hom uit.”




Akan, wat nie ’n versoeking kon weerstaan nie

Josua 7

Partykeer dink ’n mens: ag, niemand sal dit ooit uitvind nie. En dan vat jy ’n kans, soos Akan.

Terwyl Akan deur die koninklike paleis in Jerigo storm op soek na die vyand, sien hy dit: ’n versierde kis wat in die hoek van ’n vertrek staan. Hy steek vas. Watter soort goed bêre koninklikes in versierde kiste? Nuuskierig maak hy die kis oop. Bo-op in die kis is klere. Die materiaal is fyn en glad onder sy vingers, glad nie soos die growwe klere wat hy ken nie. Toe hy dit uit die kis lig, sien hy dat dit ’n rok is. Mirrie, sy oudste meisiekind wat volgende week vyftien word, sal darem mooi lyk in hierdie skepping. Hy sien al vir haar met ’n effense wieg van daardie fraai heupe deur die kamp stap. Hoe sal sy nie die manne se koppe laat draai met hierdie rok nie! En hy, Akan, sal swel van trots.
Hy grawe verder. Daar is nog klere, en dan, onder-in die kis, ’n versierde leersakkie wat met ’n riempie toegeknoop is. Met bewende vingers maak hy die riempie los en gooi ’n bietjie van die inhoud in sy handpalm uit. Die silwerklonte lê koel en begeerlik in sy hand. En dan sien hy dit: ’n staaf soliede goud! Sy asem jaag. Hier voor hom lê ’n fortuin soos hy in sy lewe nie weer bymekaar sal sien nie. Dis darem jammer die Here het beveel alles moet net so verbrand word. Dis so ’n vermorsing. Tensy …
Hy kyk rond, maar niemand het hom gesien nie. Blitsig prop hy die mooiste rok, die sakkie silwer en die goudstaaf in sy heupsak, en storm dan verder deur die paleis.

Niemand het Akan daardie dag gesien nie. Maar Gód het, en uiteindelik betaal Akan en sy gesin die hoogste prys vir sy ongehoorsaamheid. Al die klere en geld ter wêreld is dít nie werd nie!




Aäron die leier wat sy hande in onskuld gewas het




Aäron, die man met ambisie

Ambisie is ’n wonderlike ding. Dit kan jou aanspoor om groot hoogtes te bereik. Maar dit kan ook gevaarlik wees, want dit kan jou oordeel aantas, soos met Aäron gebeur het toe hy ter wille van gewildheid die Israeliete hulle sin gegee het.

Die volk raak rusteloos. Moses het nou al byna ses weke gelede in die wolk op die berg verdwyn. Elke dag kyk hulle na die berg, hoop hulle om sy bekende figuur teen die helling te sien afkom. Maar niks.

“Waar bly jou broer so lank?” wil meer as een by Aäron weet.

“Hoe moet ek weet?” antwoord Aäron bot. Hy begin so stadigaan moeg raak vir die mense wat van hóm antwoorde vra.

’n Jongerige man skud sy kop. “Ek sê vir julle, Moses gaan nie weer terugkom nie. Wie kan vir ses weke sonder kos of water daar bo op die berg oorleef? En waar is die Here miskien noudat ons Hom nodig het? Wys Hom vir ons, dan sal ek dit glo.”

“Hy is daar bo op die berg, in die wolk.”

“Sê wie? Jou dierbare boetie Moses met sy Egiptiese paleismaniertjies? Nee, ek wil met my eie oë sien dat ons god by ons is. Ek wil dit nie maar net raai en hoop nie.”

Aäron hou sy hande op. “Bedaar, mense. Dit sal ons nêrens bring as julle hier op my staan en skree nie.”

“Nou maar dan moet jy iets aan die situasie doen.”

Aäron wil eers kwaad raak, maar dan bedink hy hom. ’n Plan het in sy kop vorm aangeneem. Hier is sy kans om die leisels oor te neem. “Goed,” sê hy en sprei sy hande versoenend oop. “Gee vir my julle vrouens en kinders se goue oorringe, dat ek vir julle ’n beeld kan maak wat julle kan sien.”




Jakob, wat ’n witbroodjie gehad het

Genesis 37:1-11

Elke ouer het iewers in sy of haar hart ’n ekstra sagte plekkie vir een van hulle kinders. Jy soek nie daarvoor nie, dit is net daar.

Dis vir Jakob die beste deel van die dag: hier waar hulle almal saam om die vuur sit, klaar geëet, en hy vir hulle die verhale van God se pad met hulle vertel: van oupa Abraham en ouma Sara, van pa Isak en ma Rebekka en sy stryd met Esau, van sy jare as vlugteling in Haran by skoonpa Laban en hoe sy skoonpa hom telkens ingeloop het … Ja, hy hou daarvan om vir sy kinders die verhale te vertel; te vertel hoe God vir hulle sorg en hulle bewaar.

Sy oog beweeg van een seun na die ander, en sy hart swel van trots. Twaalf bul-seuns, elkeen van hulle. Ja, die Here is goed vir hom. ’n Mens se rykdom lê nou maar eenmaal in jou kinders. Dan beweeg sy oog terug na Josef, liefste Ragel se eersteling. Hoe lank het hulle nie gewag op sy koms nie! En nou is Ragel nie meer daar nie. Al wat hy van haar oor het, is Josef en Benjamin. En hulle is sy hart se punt.

Josef is ’n mooi seun, soos sy ma, met ’n lieflike geaardheid. Goed, hy is partykeer nie lekker by nie, en droom sulke fantastiese drome, maar hy is sy hart se punt. Hy móét ekstra mooi na Josef kyk, want hy het nie meer ’n ma nie, arme kind.

Jakob glimlag by homself as hy die ingewing kry. Ja, dis wat hy sal doen. Hy sal vir Josef ’n lang rok met moue laat maak, net soos die koningskinders altyd dra. Dan sal almal weet hoe spesiaal hy is.

Jakob se voortrekkery het uiteindelik daartoe gelei dat sy ander seuns vir Josef gehaat het en van hom ontslae geraak het. Een van jou kinders voortrek? Dis malligheid!




Lameg, wat homself laat geld het

Genesis 4:19-24

’n Klompie jare gelede het ’n insident in die Skiereiland die land geskok. ’n Motoris het ’n ander motoris met ’n hokkiestok doodgeslaan omdat hy aanmekaar vir hom getoet en sy ligte geflits het. Iemand vermoor omdat hy jou kwaad gemaak het?

Ada kyk verskrik op toe sy haar man se bebloede hande sien. “Lameg! Wat het gebeur? Het jy seergekry?”

Lameg skud sy kop vererg. “Dis daai klein niksnuts van ’n Erok. Hy het sowaar as wragtag vir my met ’n klip gegooi. Kyk hier,” beduie hy na ’n kneusplek op sy bobeen.

“Ag nee! Wat sal die kind besiel het?” wil Silla, Lameg se ander vrou, weet.

“Ek weet nie, maar hy sal dit nie weer probeer nie. Ek het hom vrekgemaak met hierdie twee hande van my. Ek laat niemand met my sukkel nie. Nie ék nie.”

“Lameg! Hy is maar net ’n kind,” sê Ada sag.

Lameg skud sy kop en swaai sy vinger dreigend na sy vrouens se kant toe. “Luister julle twee vandag na my, en luister goed: ’n mens wat met my sukkel – of hy nou oud is of jonk, traak my nie – vir hom maak ek net daar op die plek vrek.” Hy slaan met ’n bebloede vuis teen sy bors as hy byvoeg: “My oor-oupagrootjie Kain is sewe maal gewreek, maar ek is tien maal meer van ’n man as wat hy was. Ek wreek my sewe en sewentig maal. Ek, Lameg, vat nie nonsens nie, en klaar!” Toe draai hy om en stap kop-in-die-lug af rivier toe om die bloed van sy hande te gaan afwas.

Ons kom almal in situasies waar ons voel genoeg is genoeg, en die man moet op sy plek gesit word. Onthou dan dat die Here Jesus ook van sewentig maal sewe keer gepraat het – maar dan nie van wraak nie, maar van vergifnis (Matteus 18:22).