Luk 1:26-38 MARIA SE GELOOF

Ons het so ’n week of wat gelede ook by hierdie gedeelte stilgestaan. Toe was ons fokus op God, wat gewag het dat Maria instem voordat Hy sy plan in werking gestel het. Vandag kyk ons weer na hierdie gebeurtenis, maar ons fokus hierdie keer op Maria.

Watter prentjie het jy in jou kop as jy aan Maria dink?

Elke jaar in die Kerstyd duik Maria as ’t ware weer van voor af op in ons gedagtes. Party mense het ’n baie romantiese beeld van haar, maar ek het ’n vermoede dat die werklikheid van dié meisie van Nasaret glad nie so wonderlik was as die prente wat ons op Kerskaarte en in ons gedagtes van haar het nie. Want in die eerste plek was Maria waarskynlik nie ouer as so 12,13 of dalk 14 jaar nie: iemand van gr 7of 8, dus. Std 5 of 6.

Jonk; eintlik nog kind, nie waar nie? ’n Kind met wie die ongelooflikste ding gebeur. ’n Engel verskyn aan haar, wat natuurlik al klaar raar is. Ek bedoel, aan wie van julle het daar al ’n engel verskyn? In Bybelse tye was dit nie anders nie. Engele het nie sommer om elke hoek en draai vir jou gestaan en wag nie!

En wat die engel vir haar vertel het, moes haar, om die minste te sê, onkant gevang het. “Jy gaan ’n baba hê, al het jy nie by ’n man geslaap nie.” Dink julle in in haar situasie. Wat sou haar ouers sê? Wat sou haar verloofde sê? Ek weet wat ék sou gedink het, en heel waarskynlik gesê het ook: Maria was gruwelik. Sy het oor die tou getrap, en noudat sy verwag, soek sy uitkomkans. Dis dié dat sy sulke nonsens loop en vertel. Josef, so weet ons uit die Matteus-verhaal, het daar en dan besluit om die verlowing stilweg te verbreek. Ek meen, as dit mý verloofde was wat swanger was, sou ek sekerlik ook so gereageer het.

I
So, Maria moes op die minste besef het dat die engel se aankondiging ingrypende implikasies vir haar lewe vorentoe sou hê; dat haar hele lewe op daardie moment onherroeplik verander het. Natuurlik sou sy nog nie verder as die geboorte kon dink nie; natuurlik sou sy nie op daardie stadium al planne agtermekaar kon hê oor wat haar te doen staan met die buite-egtelike swangerskap nie. Maar sy het geweet dis nie ’n eenvoudige ding wat die engel – wat God – vir haar kom sê en van haar verwag nie. Sy sou sekerlik daarmee rekening gehou het dat Josef haar sou los en dat sy die baba as ongehude ma sou moes grootmaak. En in daardie dae was dit nie eintlik iets wat ’n mens gedoen het nie.

En tog, nadat Maria die engel aangehoor het en ’n vraag of wat gevra het om seker te maak sy verstaan wat die engel vir haar gesê het, antwoord sy: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het” (v 38 AFR83).

Kom ons probeer ons in Maria se skoene plaas. Nee, dis tog nie moontlik nie. Maar kom ons probeer ons indink in ’n situasie waar God van jou ’n moeilike ding vra; ’n ding wat jy voor jou siel weet baie van jou gaan verg; ’n ding wat jou hele toekoms op sy kop gaan keer. Wat sal jy vir God antwoord? Sal jy kans sien om ja te sê vir God, al beteken dit dat jy jou eie toekomsdrome moet laat vaar? Al beteken dit dat hulle vir wie jy die liefste is, dalk teen jou gaan draai?

Maria se antwoord op die engel se boodskap is nie vanselfsprekend nie. Dit het moed gekos om so te antwoord. En laat ons dit maar weer vanoggend vir mekaar sê: Geloof verg moed. Geloof kos jou iets. Koning Dawid sê in 2 Sam 24:24: Ek bring nie aan die Here my God offers wat my niks kos nie. Om gelowig vir God ja te sê, kom teen ’n prys. Want geloof vra dat jy God toelaat om sy wil vir jou lewe uit te werk. Sý wil, nie joune nie. Dís waartoe Maria hier instem.

II
Maar – en dit is baie belangrik dat ons dit goed hoor vanoggend – instem beteken nie gelatenheid nie. Geloof beteken nie dat jy sê: As dit dan nou nie anders kan nie, sal ek maar moet ingee nie. Want as ons dít in Maria se antwoord hoor, het ons nie goed geluister nie. Of miskien moet ek sê, die AFR83-vertaling help ons nie op dié punt om Maria se antwoord goed te verstaan nie. In Maria se antwoord slaan daar ’n opgewonde klank deur. Sy spreek ’n wens uit dat God se woord in haar lewe uitgewerk sal word. Daarom vertaal die NLV haar antwoord só: “Ek is die Here se dienares en gewillig om te aanvaar wat Hy ook al wil hê. Mag alles wat jy gesê het, waar word.” Die Boodskap, weer, vertaal haar woorde só: “Ek is in die Here se hand. Sy wil moet in my lewe geskied. Laat alles met my gebeur presies soos u gesê het.” En AFR20 vertaal: ‘Toe sê Maria: “Kyk, ek is die diensmeisie van die Here. Mag met my gebeur volgens u woord.”’

Hier is niks van gelatenheid nie. Niks van ’n “ag, arme ek”-houding nie, of van “ek moet maar tevrede wees” nie. Ons hoor in haar antwoord ’n opgewondenheid, ’n blydskap, omdat God ook deur haar lewe aan die werk is. Daarom, in die volgende paragraaf, hoor ons haar sing, hoor ons hoe sy haar opgewondenheid en vreugde in die Here uitjubel: Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God, my Verlosser, omdat Hy na my in my geringheid omgesien het. Kyk, van nou af sal elke nuwe geslag my gelukkig noem, omdat Hy wat magtig is, groot dinge aan my gedoen het. Heilig is sy Naam!

Oor 4 dae is dit Kersfees. Dis natuurlik nie moeilik om in hierdie dae opgewonde te wees oor die Kind in die krip en oor God se dade met ons nie. Wie word nie aangegryp deur die eenvoudige verhaal van Josef en Maria en die stal en die sterrekykers en die herders nie?

Maar, liewe gemeente, is jy opgewonde saam met Maria oor wat God besig is om in en veral deur jou lewe te doen? Is jy saam met haar opgewonde oor die jaar wat kom, oor wat 2026 gaan inhou vir jou as gelowige? Is jy nou al vol blye verwagting oor al die dinge wat die Here se pad vir jou persoonlik beteken?

Want dít is die soort geloof wat God by ons soek. Dis by sulke mense wat Hy tuis is en woning maak – mense soos Maria, wat hulleself tot God se beskikking stel, sodat Hy sy plan in hulle lewens kan uitwerk; mense wat met blydskap en entoesiasme deel wil wees van sy plan, wel wetende dat dit nie noodwendig ’n gelyk pad gaan wees nie.

Amen.




Luk 17:1-10 ROL MOUE OP EN BEGIN!

Wie van julle kon al ’n wildevyeboom in die see gaan plant, soos die Here hier sê?

Beteken dit dan nou dat ons nie genoeg geloof het nie? Want selfs al is jou geloof so klein soos ’n mosterdsaadjie, sal jy dit kan doen, sê die Here hier in vers 6.

Dis hoe dit klink as ’n mens dit hier lees, nie waar nie? Maar, en dit is een van die belangrikste dinge wat ’n mens moet onthou as jy die Bybel lees: die Bybel is nie vol losstaande teksverse wat ’n mens sommer so kan uithaal en apart hou nie. Die Bybelse uitsprake pas bymekaar, en daarom moet ons kyk wat staan by hierdie uitspraak van Jesus. Hoekom het Hy dit gesê?

Hierdie gedeelte begin met die uitsprake van die Here wat daarop neerkom dat ons dit nie vir ander moeilik moet maak om die Here te volg nie. Hy sê as jy die oorsaak is dat ander struikel in die geloof, is dit vir jou beter dat jy in die see verdrink (vers 2). Só kosbaar is God se kinders vir Hom: Hy wil nie hê ons mag struikelblokke vir ander wees op die pad agter Jesus aan nie.

Een van die grootste struikelblokke wat ons as Christene in ander se geloofspad kan rol, is liefdeloosheid en onvergewensgesindheid. En ek is bevrees, ons is hier nogal in die moeilikheid. Ek weet hoe dit soms onder mekaar gaan. Hoeveel keer moes ek nie al met mense roei oor rusies nie, en dan word dit net nie opgelos nie. Dit bly broei en broei. Dit breek gesinne en vriendskappe en vennootskappe en huwelike op.

Ja, dis partykeer baie moeilik om iemand te vergewe wat jou te na gekom het. En tog vra die Here dat ons dit moet doen, selfs sewe keer op een dag (vers 4)! Hy leer ons selfs in die Ons Vader om te bid dat God ons sal vergewe soos ons ander vergewe. Want Hy weet goed hoe vernietigend dit kan wees as vergifnis uitbly. Kwaaivriendskap en rusies vervreem mense nie net van mekaar nie, maar ook van God.

Dís hoe dié hoofstuk begin: met Jesus se waarskuwing dat sy dissipels só moet leef dat hulle nie ander uit die hemel uithou nie; dat hulle mekaar moet vergewe.

Die dissipels hoor dit, en hulle voel moedeloos. Wie kan nou só leef? Daarom kom hulle na Jesus toe en vra vir Hom: Here, gee ons meer geloof (vers 5). As ons net meer geloof het, dan sal ons beter in staat wees om ons naaste te vergewe.

Dis dan dat Jesus in vers 6 sê: “As julle geloof soos ‘n mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie wildevyeboom gesê het, ‘Trek jou wortels uit die grond en gaan plant jouself in die see,’ en hy sou na julle geluister het.” Jesus se antwoord wil vir hulle sê dat jy nie meer geloof nodig het om ander te vergewe nie. Om mekaar te vergewe, vra nie groot geloof nie, want Hy vra nie van ons om wildevyebome in die see te gaan plant nie. Hy vra van ons om mekaar te vergewe, en daarvoor het jy nie geloof nodig nie, maar net gehoorsaamheid.

Jesus sê vir sy dissipels: moenie sit en wag dat iets bonatuurliks, iets wonderliks met julle gebeur sodat julle in vrede met mekaar kan leef nie. Rol julle moue op en begin net doen!

Daarom vertel Hy hierdie gelykenis van die slaaf wat die hele dag hard gewerk het in die lande. Dan, as sy taak buite klaar is en hy inkom huis toe, moet hy nog die ete ook voorberei. Dit vra nie groot geloof om dit te kan doen nie, sê Jesus. Dit vra maar net gewilligheid. Dis deel van sy werk as slaaf.

Net so, sê Jesus, is vergifnis deel van kind-van-God-wees. Ons moenie vir ’n wonderwerk van Bo wag voordat ons na mekaar uitreik nie. Ons moet dit doodeenvoudig net doen, want dis hoe die Here Jesus ons voorgeleef het. Hy het tog eerste na ons uitgereik en ons vergewe. As ons nou só teenoor mekaar leef, doen ons niks besonders nie. Dis deel van Christen-wees, en klaar.

Dit laat my dink aan ’n storie wat my vrou my vertel het uit haar kinderdae. Daar het ’n nuwe dominee in die destydse NG Sendingkerk gekom, en nou weet julle hoe dit gaan: die gemeente was baie groot, en daar was baie lidmate. Toe kom die jong dominee op ’n dag by my skoonpa op die plaas, en hy kla verskriklik hoor hoe baie werk daar is, en hoe hy nooit deur sy huisbesoek gaan kom nie. Toe antwoord my skoonpa: Maar dan moet jy maar dadelik begin, dominee!

Ek dink dis iets hiervan wat die Here vir ons ook wil leer: dat ’n groot deel van ons kind-van-God-wees nie soseer ’n saak van groot geloof is nie, maar doodeenvoudig gehoorsaamheid vra. Daarom moet ons ons nie verknies omdat ons nie geloofsreuse soos Abraham of Elia of Andrew Murray of Billy Graham is nie. En ons moenie sit en wag dat een of ander wonderwerk sal gebeur en ons skielik lus raak om die Here van harte te volg nie.

Ons moet net begin!

Amen.




Nehemia, die man met ondernemingsgees

“Wat dink jy?” vra Nehemia vir sy broer toe hulle die vervalle stadsmuur geïnspekteer het.

“Die muur lyk vir my plek-plek baie sleg, maar dis seker nie onmoontlik om dit te herstel nie,” antwoord hy, en sy stem hang onseker in die lug.

“So?”

“Waar gaan ons die mense kry om dit te doen, en die geld kry om hulle te betaal? Ek weet nie hoe groot jou beursie is nie, my ou boetie, maar dit gaan ’n werkspan van sê vyftig man ’n baie lang tyd vat om dié muur te herstel.”

“Dis omdat almal tot nou toe soos jy geredeneer het dat daar nog niks gebeur het nie.”

Ganani kyk verras op. “Het jy ’n plan?”

“Natuurlik. Ek gaan die hele volk by die herstelwerk betrek. Dis iets wat almal saam moet doen.”

Hy skud sy kop treurig. “Ons mense is ’n klomp dwarstrekkers, my ou broer. Net as jy dink nóú het jy hulle hier mooi bymekaar, dan spring daar anderkant ’n paar uit, en teen die tyd dat jy daardie klompie gepaai en gepamperlang het, is die klomp hierdie kant weer uit. Dís die moeilikheid.”

“So wat jy eintlik sê is dat die groot uitdaging nie die herstel van die muur is nie, maar om ons mense te laat saamwerk?”

“Dis wat ek dink, ja.”

Die omvang van die uitdaging rys soos ’n groot monster voor Nehemia op. “Dan is daar twee dinge wat ons sal moet doen, Ganani: baie bid, en fyn beplan.”

Feitlik almal hét gehelp, en die stadsmuur is in ’n rekordtyd herstel – binne slegs twee en vyftig dae. Dit wys jou net wat vermag kan word as ’n mens ’n saak biddend en in geloof aanpak.




Is die NG Kerk die kluts kwyt?

’n Brief waarin die NG Gemeente Die Strand die rede vir hulle dolering weergee, het die land behoorlik aan die gons. In die brief maak Die Strand sewe stellings wat hulle as besluite van die Algemene Sinode voorhou, soos

  • dat God ’n mensgemaakte konsep is;
  • dat Satan en die sondeval nie deel van ons geloofsinhoud hoef uit te maak nie;
  • dat Jesus se maagdelike geboorte en fisiese opstanding nie geglo hoef te word nie;
  • dat Christus se soenverdienste maar net een van vele weë hemel toe is;
  • dat die Bybel ’n menslike boek is waarvan ons nie alles hoef te glo nie;
  • dat die huwelik as Goddelike instelling nie ekslusief tussen een man en een vrou is nie, en dat selfdegeslag-verhoudings dieselfde status moet geniet;
  • dat elke mens self sy of haar geslag kan bepaal en verander.

Dis ’n verskriklik ontstellende lys van dwalings en ’n mens wil jou hande in die lug gooi dat dié goed in die kerk (en van die kerk) gesê kan word. Dit is waar dat daar NG teoloë is wat hierdie standpunte huldig, maar dis nie die amptelike standpunt van die kerk nie (met die uitsondering van die besluite oor selfdegeslag-verhoudings).

Dis die kort antwoord. Die langer antwoord is dat die betrokke teoloë wel in ringstugsake oor hierdie afwykende, vrysinnige beskouings aangekla is, maar dat hulle ongelukkig op tegniese punte vrygespreek is. Wat ongelukkig óók waar is, is dat die kerk nie deur amptelike kanale hierdie teoloë gerepudieer het nie, en daarom kan die kerkleiding nie heeltemal van die beskuldigings wegstap nie.

 

Wat glo ek persoonlik?

Ek kan my nie met een van bg. dwalings vereenselwig nie. Dit is godslasterlike uitsprake wat nie in die kerk van die Here Jesus hoort nie en die einde van die kerk sal beteken as dit nie daadwerklik en ferm as dwaling afgewys word nie. So wat glo ek?

  • Ek glo in die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees. In Hom leef, beweeg en bestaan ek.
  • Die Vader is die almagtige Skepper wat hemel en aarde in sy wysheid uit niks gemaak het en steeds in stand hou. Hy is ook die Een wat my, sondaar, gekies het om aan Hom te behoort.
  • Ek glo dat Jesus die Seun van God is wat mens geword het en gebore is uit die maagd Maria, en dat Hy geen biologiese aardse pa gehad het nie. Hoe dit gebeur het, is ’n misterie en die werk van die Heilige Gees.
  • Ek glo dat Jesus vir my sonde aan die kruis op Golgota gely en gesterf het.
  • Ek glo dat die Here Jesus op die derde dag liggaamlik opgestaan het uit die dood.
  • Ek glo dat Hy hemel toe gevaar het, vanwaar Hy aan die regterhand van die Vader die kerk steeds regeer en vir ons intree. Hy is egter deur sy Gees ook in ons midde om ons te lei.
  • Ek glo dat Hy eendag weer sal kom om die nuwe hemel en nuwe aarde te kom vestig, en dat ek deur sy genade deel daaraan sal hê.
  • Ek glo dat die Heilige Gees (met die Vader en die Seun) die derde Persoon van die Drie-eenheid is, en dat Hy die geloof in my gewerk het, in my woon en my en die kerk lei.
  • Ek glo dat die Bybel God se Woord aan ons is, deur die Gees geïnspireer is en my rigsnoer vir die lewe is. Dit is nie ’n menslik uitgedinkte boek met woorde oor God nie, maar ’n goddelike boek waarin God se Woord vir ons opgeteken is.
  • Ek glo dat ons as kinders van die Here mekaar nodig het en hande moet vat, sodat ons as die Here Jesus se volgelinge saam agter Hom kan aanstap.
  • Ek glo die huwelik is die permanente verbintenis tussen een man en een vrou.

Toe ek die dag as predikant gelegitimeer is, het ek ‘n eed afgelê dat ek my gewete sal laat bind deur ons kerk se belydenisskrifte, omdat dit in ooreenstemming is met die Heilige Skrif. Ek het hierdie binding op my gewete nog nooit as knellend ervaar nie; inteendeel, dit is die bril waardeur ek die Skrif beter kan lees en verstaan.