Ek het nogal simpatie met Sarai se worsteling oor ’n baba. Ek dink elke egpaar wat al gesukkel het om ’n baba te kry, sal haar optrede verstaan. Jy raak later desperaat en sal amper enige iets doen om ’n baba te kan hê. Vandag is daar natuurlik baie meer opsies beskikbaar as destyds, maar ek dink nie ons moet Sarai te gou veroordeel oor die plan wat sy gemaak het nie. Dit was ’n aanvaarbare gebruik in daardie tyd, hoe vreemd dit ook al vir ons klink.

Ek wonder net of sy en Abram met God gepraat het oor dié plan van haar. Ons lees nie iets daarvan nie. Dit beteken natuurlik nie noodwendig dat hulle nié daaroor gebid het nie. Maar ek dink ons kan redelik seker wees dat hulle God nie duidelik gehoor het nie, dis nou ás hulle daaroor gebid het, anders sou die Bybel ons daarvan vertel het.

Wat sou jý gedoen het as jy in hulle posisie was?

Ons lees dat Abram met Sarai saamgestem het, en dis nie lank nie, toe is Hagar swanger. Maar Hagar blyk toe glad nie die sagte, onderdanige slavin te wees wat Sarai gedink het sy is nie. Sy kan haar nuwe status as byvrou van Abram glad nie hanteer nie, en sy begin neersien op Sarai. Al plan wat Sarai het, is om Hagar te wys wie is baas en wie is slaaf.

En Abram? Ons geloofsheld het voete van klei. Hy wil nie pa staan vir sy besluite nie. Hy val maar ewe gedienstig in by alles wat Sarai voorstel en eis. En toe daar moeilikheid kom, trek hy sy skouers op en sê dit het niks met hom te make nie.

Ek wonder nogal oor Abram. Ek dink nie dit is ’n oomblik van glorie vir hom hierdie nie. Hier lyk hy darem maar alte veel vir my na dieselfde man wat destyds in Egipte ook maar net gestaan en toekyk het hoe Sarai in die farao se harem beland. Dis mos hoe dit gaan in die geloofslewe: net as jy dink jy het ’n ent gevorder, gebeur daar iets en jy besef opnuut jy is ’n sondaar.

Snaaks hoe ’n man wat nie bang is om die magtige leër van koning Kedorlaomer aan te durf nie, te bang is om iets te sê as dit kom by menseverhoudings en persoonlike krisisse. Snaaks hoe jy dinge met geweld kan regmaak, maar as dit by verhoudingsprobleme kom, jy nie die moed het om dit uit te praat nie.

Ek wonder of dit die rede is hoekom party ouers eerder op hulle kinders skree as om langs hulle te sit en gesels? Is dit dalk hoekom mense soms iemand by die werk eenkant toe stoot en uitdruk uit hulle verhoudings en gesprekke? Is dit hoekom mense soms so verskriklik katterig met ander is?

Dit was natuurlik Sarai se oplossing ook. Sy boor Hagar in die grond in. Sy kon, want sy was baas. Nie dat Hagar ’n engeltjie was nie; geensins. Sy is minstens net so verantwoordelik vir al die probleme. Hierdie hoofstuk wys vir ons baie duidelik dat konflik en probleme dikwels nie eenvoudig is nie. Dis nie so maklik om bloot ’n skuldige aan te wys en dan is die res onskuldig en dis die einde van die probleem nie.

Is dit nie presies die probleem in ons land nie? Dat ons gedurig op soek is na sondebokke sodat ons vlekkeloos kan bly. Dis húlle wat so is en sus maak. Dís hoekom dinge so treurig is. En so wys ons vingers vir mekaar en swaai vuiste na mekaar en trek laer en vat mekaar glad hof toe.

Probleme het dikwels nie ’n eenvoudige oorsaak nie, en daarom is die oplossings ook meestal nie eenvoudig nie. Ek onthou ek het ’n kollega gehad met wie ek moeilik saamgewerk het. Ek en Elmien het swaar gekry onder hom, en die maklikste was om te sê: Dis alles die kollega se skuld, want hy is ’n moeilike man. En solank ek dit kon sê, was ek mos ’n onskuldige slagoffer wat maar net myself kon jammer kry. Die moeilikheid was net: solank ek my kollega vir alles geblameer het, is ons probleme nie opgelos nie.

Wat ís die oplossing dan? In Genesis 16 gaan jy verniet na Abram of Sarai of Hagar kyk om ’n antwoord te kry. By hulle sien ons net wat ons nié moet doen nie. Maar wat moet ons doen om verder te kom met mekaar?

Uiteindelik is dit God wat ons hier weer kom help. Want dit is op die ou end Hý wat die hele situasie beredder. En hoe doen Hy dit? Hy doen wat Abram en Sarai van die begin af moes doen: Hy sien vir Hagar raak as mens. Dis al! Hy vat nie haar probleme weg nie. Hy onthef haar nie van haar verantwoordelikheid om aan Sarai onderdanig te wees nie. Hy sê gaan terug na jou eienares en onderwerp jou aan haar gesag (vs 9). En – dan gaan sy! Maar sy gaan met dié wete in haar hart: God het my gesien! Ek is iemand vir Hom. Hy ken my naam, Hy gee om wat met my gebeur!

Dís wat van die begin af moes gebeur het: Abram en Sarai moes Hagar raakgesien het as ’n mens. Sy was nie bloot ’n gebruiksartikel nie. Sy was nie maar net ’n slavin met wie hulle kon maak wat hulle wil nie, of soos Abram vir Sarai gesê het: “Doen met haar soos jy goeddink.”

Eers toe Hagar ontdek: ek word raakgesien, God gee om wat van my word en wat in my lewe aangaan, tóé eers was sy gereed om terug te gaan.

Miskien is hier vanoggend iemand wat soos Hagar daar in die woestyn voel. Miskien voel jy niemand gee vir jou om nie, niemand weet van jou seer of stryd nie. Miskien voel jy hulpeloos of magteloos of moedeloos. Vir jou sê die Woord vanoggend: Gód sien jou raak! Hy gee om! Hy weet wat in jou lewe gebeur. Jy is nié alleen nie.

Maar dalk is jy nie soos Hagar nie. Vir jou en my vra die Woord of ons mekaar nog raaksien as mense wat saam met ons onder God se vriendelike oë leef. Ons kan nie alles oplos nie. Dikwels kan ons baie min doen aan probleme. Maar ons kan iet doen: ons kan begin om, soos God, mekaar raak te sien en ons hande na mekaar uit te steek.

O, dat ons meer soos God sal wees! Dat ons mekaar sal raaksien! Dat ons nie vingers en vuiste vir mekaar sal wys nie, maar mekaar sal omhels soos God ons in Christus Jesus omhels!

Amen.

image_pdfimage_print

Views: 44

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.