- Wag dat God Homself openbaar
Hulle sal op daardie dag sê: “Kyk, dit is ons God op wie ons gewag het, en Hy het ons gered; dit is die Here op wie ons gewag het! Laat ons juig en bly wees oor sy redding.”
Jesaja 25:9 (AFR20)
In dié Skrifgedeelte is daar twee belangrike sake. Die een is dat dit die taal van God se volk is wat verenig is in hulle wag op Hom; die ander is die vrug op hulle wag is dat God Homself openbaar, sodat hulle met blydskap kan sê: Kyk, dit is ons God … dit is die Here. Dít is wat ons moet leer: die krag en die seën van wag saam met ander.
Let op: twee maal staan hier op wie ons gewag het. Tye van nood verenig die harte van mense. Omdat daar geen menslike hoop of hulp is nie, rig hulle die hart op God en wag op Hom. Dít is wat die kerk nodig het. Is die nood van die kerk en die wêreld nie groot genoeg om dit te vereis nie? Is daar nie boosheid in die kerk wat geen menslike wysheid kan hanteer nie? Is daar nie rasionalisme en formalisme en wêreldsheid wat die kerk van sy krag beroof nie? Kultuur en geld en plesier bedreig die geestelike lewe, en die kerk is glad nie opgewasse om die kragte van ontrou, ongeregtigheid en verrotting in Christelike lande en onder heidennasies teen te werk nie. Maar daar is voorsiening in God se beloftes en in die krag van die Heilige Gees wat die kerk tot rus kan bring wanneer sy alles doen wat nodig is.
Wanneer ons saam in ons byeenkomste op God wag, sal ons beter verstaan dat God die Een is wat alles doen, en dat ons geheel en al afhanklik is van Hom. Ons moet ’n bewussyn ontwikkel dat dit noodsaaklik is om aan God sy ereplek te gee. So sal almal in ’n aanbiddingsbyeenkoms ’n diepe belewenis van sy teenwoordigheid hê, sodat, as hulle huis toe gaan, hulle in God kan bly rus in die wete dat Hy aan die werk is. Kyk, dit is ons God op wie ons gewag het, en Hy het ons gered. Ons mis dit ongelukkig te dikwels in ons aanbidding. Wag voor God, wag vir God, en wag op God is die een voorwaarde vir God om sy teenwoordigheid te toon. Laat ons dan ons harte oopmaak dat God kan werk!
Wag op die Here!
Views: 3






