1. Die sekerheid van seën

Dan sal jy besef dat Ek die HERE is. Wie op My wag, sal nie beskaamd staan nie.
Jesaja 49:23

Gelukkig is almal wat op Hom wag.
Jesaja 30:18 (AFR20)

Wat ’n belofte! Wie op My wag, sal nie beskaamd staan nie. Ons weet dit, maar ons sukkel daarmee. Dit verg ’n voortdurende rus in God se teenwoordigheid en liefde, ’n onophoudelike onderwerping aan Hom sodat Hy sy werk in ons kan vervolmaak. Luister en oordink dit, tot jou hart met nuwe oortuiging kan sê: Gelukkig is almal wat op Hom wag. Ons is bang dat God ons sal teleurstel, soos Psalm 25:2 bid: Laat my vertroue tog nie tevergeefs wees nie. Daarom moet jy na God luister totdat jou vrees verdryf word en jy ook kan sê: Ja, Here, ek glo wat U sê: Wie op My wag, sal nie beskaamd staan nie.

Ons teksvers kom uit ’n tyd toe die Godsvolk verpletter was. Daar was menslik gesproke geen uitkoms nie. Dan kom God met sy belofte van bevryding. Hy nooi hulle om te wag op Hom; Hy sál red. Ons leef ook in ’n tyd waarin die toestand van die kerk veel te wense oorlaat. As dit nie vir God se beloftes was nie, sou ons wanhopig kon word. Maar God belowe uitkoms. Hy het Homself aan ons verbind. Ons sal nie beskaamd staan nie.

Gelukkig is almal wat op Hom wag. Ja, gelukkig is jy, ook terwyl jy wag. Die seëninge wat God belowe vir jou of ander mag dalk talm, maar om Hom te ken en Syne te wees, dít is die hoogste geluk, en dit is nou al jou deel. God … het ook in ons harte ’n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal (2 Korintiërs 4:6). Lees hierdie woorde oor en oor, totdat jy goed begryp wat God in jou wil doen. Hy sal Homself aan jou toon as die God wat kragtig elke belofte vervul. Gelukkig is almal wat op Hom wag.

Wag op die HERE!

image_pdfimage_print

Views: 12

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.