Here God, hier is ons. Ons kom meld ons aan vir diens. Ons sien ons broers en susters wat moeg geword het en begin uitsak in die geloof, troue Vader, en ons weet dis ons taak om hulle op te help. Hier is ons dan nou, Here. Gebruik vir ons! Rus ons toe vir hierdie grootse taak deur die vervulling van u Heilige Gees, want ons is gewillig, maar so onbekwaam vir hierdie opdrag.
Here, maak ons bidders, wat met die wierook van ons gebede dag en nag voor U intree vir die wêreld en hierdie gemeente. Ons moet bely dat ons nie altyd eens mooi weet wat en hoe ons behoort te bid nie, maar ons dank U, o Gees van God, U wat ons harte deurgrond, dankie dat U vir ons intree by die Vader met versugtinge wat nie onder woorde gebring word nie.
O Vader wat ons reeds voor die grondlegging van hierdie wêreld uitgekies het om aan u te behoort, hoor ons gebed!
Ons bid vanoggend vir onsself, o barmhartige Vader vol ontferming, dat u Gees ons lewens só sal vul met u liefde dat dit begin oorloop na ander; dat die liefde van Christus ook óns sal begin uitdryf uit ons selftevredenheid, uitdryf na ander.
Ons bid vir die gemeente, u Liggaam op aarde, Jesus Christus, dat ons mense sal wees wat vir mekaar omgee, ’n familie, aan mekaar gebind deur u bloed.
Ons bid vir die kerkraad, o Koning van die kerk, dat hulle manne en vroue sal wees, vol van u Heilige Gees en van wysheid, sodat hulle u gemeente goed kan regeer en kan oppas, nie deur baas te speel nie, maar deur die regte voorbeeld te stel.
Ons bid, o getroue Herder, vir die predikante van die gemeente, dat ons óók gedring deur u Gees u kudde kan lei na die groen weivelde en die waters waar daar rus is, en die Woord van die waarheid reg kan sny.
O Seun van God, wat ons met u kosbare bloed verlos het en deel gemaak het van u geseënde liggaam op aarde, hoor ons gebed!
Ons bid, o Trooster van ons harte, vir hulle wat langs die pad uitgesak het en moeg geword het om te glo. Ons bid dat U vir hulle nuwe krag sal gee om tot u eer te begin lewe.
O Gees van God, U wat in ons woon en ons harte deurgrond, hoor ons gebed!
Drie-Enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, ons harte en ons hoop is op U! Word U dan verheerlik deur ons lewens!
Amen.
Views: 96






