Hierdie gedeelte gaan oor die wederkoms, of, soos Paulus dit ook hier noem, “die dag van die Here”. Die gemeente in Tessalonika het heelwat vrae en onsekerheid oor die wederkoms gehad. Daar was briewe en profesieë en selfs predikers wat gesê het dat die wederkoms enige oomblik kan aanbreek (of dalk al aangebreek het), en dit het die mense op hol gehad (vs 2). Dis hoekom Paulus hierdie brief vir hulle skryf, om dié misverstande uit die weg te ruim.
Ek dink nie ek oordryf as ek sê in ons eie dag is daar ook baie verwarring oor die wederkoms nie. Nou die anderdag was daar weer ’n groot storie van iemand in Amerika wat gesê het die wederkoms sou op 21 Mei 2011 plaasvind, en toe dit nie gebeur nie, skuif hy die datum aan na 21 Oktober 2011. Hier was toe mos ’n stomme siel wat oor die radio en oral almal gewaarsku het dat hulle moet gereed wees, want die einde gaan aanbreek. En toe was daar weer die Maja-kalender wat party mense op hol gehad het oor 21 Desember 2012. Die nuwe datum is glo beslis tussen 2018 en 2028, 70 tot 80 jaar ná die herstel van die staat Israel in 1948, op grond van Jesus se woorde in Matt 24:32-33 … Verlede jaar het ’n bekende gospel-sanger wyd en syd verkondig dat die wegraping op hande is. Hy het glo ’n openbaring daaroor van God ontvang. Toe nie.
Die stories oor die wederkoms maak baie mense verward, en niemand wil eintlik veel oor die wederkoms sê nie, behalwe dat niemand weet wanneer dit gaan gebeur nie. Die probleem is net, baie mense wil vandag ook liewer nie eers daaraan dink dat Jesus weer gaan kom nie. Dalk pas dit hulle so; is hulle lewe hier alles wat hulle wil hê.
En jy? Hoe dink jy oor die wederkoms? Dink jy ooit daaraan? Wag jy met verlange dat Jesus weer moet kom?
Paulus sê vir die mense van Tessalonika hulle moet hulle nie op hol laat jaag deur allerhande wolhaarstories nie. Hy sê die dag van die Here sal nie aanbreek voordat die laaste afvalligheid gekom het en die wettelose mens wat vir die verderf bestem is, sy verskyning gemaak het nie (vers 3). So daar is twee merkers wat hy vir ons gee:
Die eerste merker is die verskyning van die “wettelose mens” (Paulus se woord vir die Antichris is, waarvan ons elders in die Nuwe Testament ook lees). In die verlede is baie mense al as die Antichris, of groot teenstander van Christus en die verpersoonliking van die Bose, uitgewys: Nero, Stalin, Hitler, selfs die pous … Vir my lyk dit op hierdie stadium nie moontlik om té stellig oor die Antichris te wees nie. Dalk is hy (of sy) al gebore; dalk het sy al begin om haar ding iewers te doen, maar nog net nie genoeg aandag getrek dat ons van haar (of hom) kennis geneem het nie. So ek wil liewer nie te veel oor die verskyning van die wettelose mens sê nie. Miskien net dit, tong in die kies: ek lees ’n teoloog maak met verwysing van die gruwels wat tans in die wêreld afspeel, die ironiese opmerking dat die duiwel in die teologie dood is, terwyl hy in die wêreld springlewendig is!
Maar die ander merker, die laaste afvalligheid, is ’n ander saak. Dis ’n feit wat ons oral om ons sien gebeur. Dit het al ’n hele ruk gelede begin, maar dit word toenemend ’n realiteit. Mense skroom deesdae nie om te sê hulle glo nie, om die kerk af te skryf en selfs teen God te laster nie. Dis nie meer vreemd om te hoor iemand sê die Bybel is ongeloofwaardig nie. Kyk om jou rond – die talle leë sitplekke in die kerk is óók deel van dié prentjie (hoewel ek moet toegee dat daar ander redes ook is hoekom die kerke deesdae leër as 50 jaar gelede is). Mense steur hulle gewoon nie meer aan God en sy gebod nie. Dis ’n realiteit.
Daar is ongelukkig ook ’n ander kant aan die toenemende afvalligheid van ons tyd, en dit is dat baie mense wat nog in God glo, só ’n verdraaide geloof het dat ’n mens dit skaars as Christelik kan bestempel. Iemand beskryf dit as “moralisties-terapeutiese deïsme”, wat glo:
∙ Daar is ’n God wat die wêreld geskep en georden het en steeds oor die mense waghou.
∙ God wil hê mense moet goed en gaaf en regverdig teenoor ander lewe.
∙ Die sentrale doel van die lewe is om gelukkig te wees en goed te voel oor jouself.
∙ God hoef nie juis betrokke te wees in jou lewe nie, behalwe wanneer jy Hom nodig het om ’n probleem vir jou op te los.
∙ En, les bes, goeie mense gaan hemel toe wanneer hulle sterf.
Hoe klink dit? Hoe voel jy hieroor? Kan jy met só ’n geloof saamleef? Julle sal hoor dat die Naam van Jesus, sonde en verlossing nêrens funksioneer in só ’n geloof nie. Die teoloog Richard Niebuhr het in die vorige eeu al gesê moderne evangelieverkondiging bestaan daarin “dat jy ’n God verkondig sonder straf, om mense sonder sonde in ’n Koninkryk in te bring waar daar geen oordeel is nie, deur ’n Christus sonder ’n kruis.”
Maar genoeg hiervan. Dit is vir my duidelik dat die laaste afvalligheid met ons is, en dat die tafel gedek is vir die Antichris om sy misleiding te kom doen. Ons leef in die laaste dae!
Die vraag is: hoe leef ’n mens as gelowige in ’n tyd van geestelike verval en toenemende verleiding en misleiding? Hoe bly jou geloof gesond? Hoe voorkom jy dat jyself ook geestelik terugval? Vers 13-17 wil ons hiermee help.
∙ Hou met jou hele hart vas aan die wonderlike troos: “Die Here het jou lief.” Hy het jou gekies, jy is gered deurdat die Gees jou vir Hom afgesonder het en jou deel gemaak het van Christus (vers 13-14).
∙ Moenie jou ore uitleen vir elke Jan Rap en sy maat se geloofs-onsin nie (vers 15). Bly by wat jy geleer het en luister na die mense wat jy vertrou.
∙ Jou geloof word versterk, sê Paulus in vers 16-17, deur die goeie wat jy in woord en daad doen. Ek lees in die week dat Stephan Joubert skryf daar was ’n tyd toe kerkmense die Here sit-sit-so gedien het. Nee! Dien die Here met woord en daad! Maak jou hart en jou arms oop vir ander, verspersoonlik vir ander mense die teenwoordigheid van die Here Jesus.
Ons leef in die laaste dae. Die Here is aan die kom! Hoe het die Here Jesus nou weer in Matt 24:46 gesê? Gelukkig is die een vir wie die Here by sy wederkoms aan die werk sal vind. Mag ek en jy só besig wees!
Amen
Views: 159



