Lees Eksodus 34:28-35 en 2 Korintiërs 3:18

Eksodus 34:29:
… sy gesig (het) blink geword … terwyl die Here met hom gepraat het …

Toe Moses van Sinaiberg afkom ná veertig dae in die Here se teenwoordigheid, het sy gesig so geblink dat sy volksgenote bang geword het. Iets van die glans van die goddelike heerlikheid het aan hom afgegee. So erg was dit dat hy sy gesig voortdurend met ’n sluier moes toemaak wanneer hy met sy mense praat.
Jakobus beskryf iets van dié soort glans in Jakobus 3:17 as hy sê: “… die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg.” G’n wonder nie dat in Numeri 12:3 oor Moses geskryf staan hy “… was ’n uiters sagmoedige man, meer as enigiemand anders op die aarde.”
Moses het nie probeer om ’n blink gesig te kry nie; trouens, hy het aanvanklik nie eens geweet dat sy gesig blink nie. Dit het vanself gebeur omdat hy in God se teenwoordigheid was en naby aan Hom geleef het. Ek wonder hoeveel mense merk op dat jy elke dag in God se teenwoordigheid is? Kan hulle iets van die heerlikheid van ons hemelse Heer in jou gesig sien?

Die toets van ons geloof lê nie net in hoeveel uur jy in gebed voor God deurbring nie, maar veral in wat jy doen as jy van jou knieë af opstaan. (Prof. Willie Jonker)

image_pdfimage_print

Views: 90

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.