Ai, dié Jakob
’n Jakkals verander van hare, maar nie van streke nie, lui die spreekwoord. Maar dié keer het slim sy baas gevang.
JAKOB BEN ISAK was nog altyd ’n man wat ’n plan kon maak om sake só te plooi dat dinge in sy guns verloop. Hy is net ná sy tweelingbroer Esau gebore met sy hand op Esau se hak. “Ek wou vir Esau keer dat hy nie eerste kom nie, maar hy het my teruggeskop. Toe het ek die eersgeboortereg met ’n paar minute misgeloop, maar dié mistykie het ek gou reggestel,” spot hy oor die slenter waarmee hy Esau gevang het. Esau het glo totaal uitgeput van ’n jagtog teruggekeer en wou van die sop hê wat Jakob gekook het. Jakob se prys was die eersgeboortereg. Esau was só rasend van die honger dat hy ingestem het. Later het hy Esau wéér gevang. Esau het gaan jag om vir hulle pa Isak ’n bokkie te berei voordat Isak hom sou seën. Jakob het daarvan te hore gekom en met sy ma se hulp stilletjies ’n bokkie geslag en gaargemaak. Hy het hom as Esau vermom en sy arme pa – dié se oë is nie meer goed nie – bedrieg om die eersgeboorteseën te kry. Esau was woedend en Jakob moes by sy oom Laban in Haran gaan skuil. Dis daar dat hy sy moses teëgekom het.
Jakob het verlief geraak op Laban se jongste dogter Ragel, ’n droom van ’n meisie. Hy het met Laban ooreengekom dat hy sewe jaar by hom sou werk om met haar te kan trou. Maar toe hy die oggend ná die huweliksnag wakker word, ontdek hy nie Ragel nie, maar haar valerige ouer suster Lea in sy bed! Die jong bruidegom was woedend vir sy oom, en het geëis om met Ragel te trou. Laban het ingestem, maar die prys? Nog sewe jaar!
Laban het hom ’n lelike streep getrek, erken Jakob met ’n skewe glimlag. “Maar wag maar,” belowe hy. “Ek laat my nie inloop nie. Ek sal hom terugkry. Julle sal sien.”
Jakob se stormagtige jare staan in Gen 25 – 32 opgeteken.
Views: 25