Die gedeelte wat ons gaan lees, speel af ’n hele paar jaar nadat Abram en Sara uit Ur van die Galdeërs weggetrek het na Kanaän toe. Julle onthou mos hoe God beloof het dat Hy Abram sal seën en hom ’n man van groot betekenis maak, en aan hom ’n groot nageslag sal gee (Gen 12:1-3). En nou is hy al etlike jare in Kanaän, en steeds kinderloos.
Dis in dié omstandighede dat die Here aan Abram verskyn. Kom ons lees dit:
Skriflesing: Gen 15:1-21.
Abram het toe in die Here geglo, en die Here het dit goedgevind …
As ’n mens hierdie woorde lees, dan wil ’n mens sommer sug en wens jy het ook so ’n geloof soos Abram gehad. Miskien het jy ook al die versugting uitgespreek: “Dit sou tog wonderlik wees as ek so kon glo. As ek net ’n geloof soos Abram kon hê, hy wat die vader van die gelowiges genoem word, dan sou ek ’n goeie Christen wees.”
Maar tog was Abram nie van die begin af die geloofsheld wat ons graag van hom wil maak (en wat hy inderdaad op sy oudag geword het) nie. Langs die pad moes hy baie van God en oor God leer. En een van die belangrikste dinge wat hy moes leer, is die feit dat ’n gelowige uit die geloof moet lewe, en nie in aanskoue nie. Dit is so anders as wat ons gewoond is in die alledaagse lewe. Daar sorg ons dat ons alles haarfyn uitwerk, dat ons al die voordele en nadele van elke saak teen mekaar opweeg. Maar met die geloof werk dit nie so nie. Abram moes dit ook leer. Hier het jy nie klinkklare feite nie, net God se woord en belofte. Abram moes in die leerskool van geloof die kuns aanleer om met hierdie beloftes en uit hierdie beloftes te lewe. Abram moes leer dat God se beloftewoord goed genoeg is, al het jy geen sigbare bewyse om aan vas te hou nie, omdat dit God is wat die belofte maak.
Dit is natuurlik nie so ’n eenvoudige les om te leer nie. Ek vermoed die meeste van ons sukkel daagliks daarmee. Met Abram was dit ook nie anders nie. Ook hy het twyfel en teleurstellings en oomblikke van moedeloosheid geken. So sien ons hom hier in Gen 15 op moedverloor se vlakte, omdat hy nie kon verstaan waarom God se beloftes aan hom dan nie in vervulling gaan nie, maar net maar beloftes bly.
Kom ons kyk weer na vers 1-3:
Hierna het die woord van die Here in ’n gesig tot Abram gekom: “Moenie bang wees nie, Abram, Ek beskerm jou! Jou beloning sal baie groot wees.”
Toe sê Abram: “Here my God, wat kan U vir my gee? Ek sal kinderloos sterf, en Eliëser die man uit Damaskus sal my besittings kry.”
Abram het verder gesê: “U het nie vir my ’n nageslag gegee nie. ’n Slaaf uit my huis sal my erfgenaam wees.”
Die meeste van ons het ook al hierdie soort twyfel beleef en met hierdie soort verwyt in ons hart gesit: Dat ’n mens nie kan verstaan waarom God dan nie sy beloftes waar maak nie, waarom Hy dan nie sy koninkryk duideliker en gouer laat kom in jou lewe, in ons land, in die wêreld nie. Dalk worstel jy op die oomblik hiermee.
Hoe antwoord God vir Abram in sy twyfel? Die maklike pad sou seker wees dat God sy beloftes aan Abram net daar in vervulling laat gaan, dat Hy aan Abram ’n konkrete bewys gee dat sy beloftes nie net woorde is nie. Maar dit doen God nie. Want Abram moes leer om God se plan met hierdie wêreld, en ook God se tyd daarvoor, te aanvaar. Hy moes leer om God op sy woord te neem. Daarom neem Hy vir Abram na buite, wys hom die sterre en herhaal die belofte aan hom.
In ons teksvers lees ons Abram se reaksie op God se woord: Abraham het toe in die Here geglo, en die Here het dit goedgevind … Langs die pad, tussen die teleurstellings en die wag deur, het hy geleer dat geloof van jou vra om God te vertrou. Geloof vra van jou om God te vertrou, en niks anders nie. Op grond van God se woord glo Abram, en dít vind God goed. Dit is geloof: Om God te vertrou en Hom op sy woord te vat en jou rus daarin te vind. Geloof is om God toe te laat om te werk, sy plan met hierdie wêreld en met jou lewe uit te werk.
’n Mens kan dit met ’n beeld vergelyk. Almal wat al leer swem het, weet hoe vreemd die gedagte dat ’n mens op water kan dryf, in die begin klink. Wat ’n mens uit ervaring weet, is dat jy bodem toe sal sink sodra jy in die diep water kom, en dat slegs die wildste en inspannendste watertrappery jou kop bo die water sal hou. Om te leer dryf, vra van jou om jou op ’n manier aan die water oor te gee en te vertrou dat die water alleen, sonder inspanning van jou kant, jou bo kan hou. Net so vra geloof van ons ook dat ons ons aan God sal oorgee, ons op Hom sal verlaat, Hom sal vertrou om ons te red. En dit is wat Abram ook moes leer.
Maar hierdie gedeelte wil nie net vir ons iets van Abram en sy geloof vertel nie, maar ook vir ons iets van God leer. Ons sien hier dat God nie ’n onsimpatieke en onbetrokke toeskouer in ons lewens is nie, maar ons tegemoetkom en ons in ons swakheid help. God staan nie op die kant en kyk hoe Abram spartel nie. Dit is ook nie vir Hom om ’t ewe of Abram dit gaan maak of nie. Hy wil hê dat Abram sal slaag. Hy wil Abram help om te glo. Daarom praat Hy met hom, daarom gee Hy aan hom die tekens van die sterre, en later ook die vuur uit die hemel wat die offers verteer. God is hierdeur besig om Abram by die hand te vat en te help om te glo.
God wil dit ook vir jou en my doen. God wil nie dat ons vol twyfel sal lewe nie. Daarom kom Hy ons tegemoet. En sy antwoord aan ons is veel meer as wat Hy vir Abram gegee het. Hy het ons sy Seun gegee. Jesus is God se antwoord op ons vrae oor wat God dan doen. In Jesus het Hy uit die hemel getree om langs ons te kom staan en deel van ons lewe te word. Ons het Golgota. Ons het die leë graf. Ons het Jesus se belofte in Matt 28:20: “Ek is by julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.”
God sê vir Abram: Kyk na die sterre. Vandag sê Hy vir ons: Kyk na Jesus. Heb 12:3 sê dit in soveel woorde: “Hou Hom voor oë … Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.”
Amen.
Views: 82



