Toe Sigem seun van die Hewiet Gamor, ’n volksleier, haar sien, het hy haar gegryp en met haar gemeenskap gehad. Hy het haar verkrag. (vers 2)
Sjoe. Wat kan ’n mens nou eintlik oor hierdie hoofstuk sê? Hier is net slagoffers: Dina is verkrag en word boonop gyselaar in haar verkragter se huis gehou; Jakob ly onder sy seuns se optrede, maar hulle het maar net by hulle pa geleer hoe om ander mense te hanteer; Sigem en die hele stad betaal baie duur vir Sigem se onbeteuelde lus.
Dat Sigem se optrede nie net daar gelaat kon word nie, spreek vanself, en dis baie moeilik om vanuit ons moderne samelewing ons in te dink in Jakob se dilemma. Hy en sy mense was baie kwesbaar as minderheidsgroep (vers 30). Tog is dit moeilik om die broers se wraak te verdedig.
Wat Sigem en Levi (en die ander broers) se optrede laakbaar maak, is dat hulle ’n godsdienstige voorwendsel misbruik het vir eie gewin. Dit is iets wat oor die eeue dikwels gebeur het. Die kruistogte is hiervan ’n goeie voorbeeld. Vandag gebeur dit steeds dat godsdiens misbruik word om geld te maak, mag oor mense te kry, politieke punte te behaal …