Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie … (vers 17-18)
Ek is seker daar was Jode wat gedink het dié drie is darem net té vroom. Hulle kon mos maar net gemáák het of hulle die beeld aanbid, en só vir hulleself baie ellende gespaar het, of hoe?
Die ding is, ’n mens kan nie ’n kompromis met die Bose maak nie. Ons getuienis in hierdie wêreld is ononderhandelbaar. En die Here Jesus belowe tog dat Hy in sulke omstandighede vir ons deur sy Heilige Gees sal lei (Mark 13:11).
Wat my aangryp, is dat die drie vas staan, selfs al het hulle geweet daar is nie ’n waarborg dat hulle behoue anderkant gaan uitkom nie (vers 17-18). Ons weet immers nie hoe God se plan loop nie. Ons kan maar net ons deel doen en aan Hom getrou bly en vertrou dat Hy sal weet wat moet gebeur.
Ware geloof is ’n “selfs al” geloof. Ons staan immers in die Here se diens, nie Hy in ons s’n nie.
Views: 38