Onder u toorn vlieg ons dae en skiet ons jare verby soos ’n gedagte. (vers 9)
Die tyd vlieg. ’n Mens skrik eintlik by die gedagte. Daarom sê mense: “Laat ons eet en drink en vrolik wees, want môre sterf ons.”
Daar is natuurlik ’n ander manier ook om na die lewe te kyk. Om die lewe te sien soos dit lyk as God sy lig daarop laat val. Dit is ook hoe Moses na die lewe kyk. Hy ontken nie die swaarkry van die lewe nie, of die kortstondigheid daarvan nie. Hy besef ook dat dit ons eie skuld is dat die lewe so geword het (vers 8). Maar dit dryf hom nie tot swartgalligheid of ligsinnigheid nie. Dit dryf hom na God.
Dis goed dat daar dae kom wanneer jy diep onder die indruk is hoe die tyd vlieg; hoe hopeloos jou eie pogings is om aan die lewe sin te gee. Word dan stil by God. Hy het altyd tyd vir ons wat geen tyd het nie. Hy leer ons om die lewe te sien soos dit is: ’n gawe uit sy hand.
Laat God toe om jou elke oggend opnuut weer te verkwik (vers 14). Dan sal jy nie sommer verlep na die aand toe nie.