Elke jaar, op die Sondag voor die Groot Lydensweek wat uitloop op Goeie Vrydag, vier die kerk Palmsondag. Ons dink terug aan Jesus se feestelike intog in Jerusalem in, terwyl die skare palmtakke en ander groen takke geswaai en jubelend uitgeroep het: “Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Hosanna in die hoogste!” Dit is ’n aanhaling uit Ps 118:25-26.

As ’n mens hierdie intog-toneel probeer inpas in die hele aardse bediening van Jesus, sukkel jy. Nêrens elders in Jesus se bediening was Hy só openlik en selfs uitdagend oor sy koningskap nie. Lukas vertel dat ’n paar Fariseërs gevra het Jesus moet die skare stil maak, maar Jesus weier en sê as die skare dit nie sê nie, sal die klippe dit uitroep (Luk 19:40).

Dit is verbasend, want elders in die Evangelies word ons vertel dat Jesus nooit wou laat blyk wie Hy regtig is nie, en dat Hy eenvoudig die skare verlaat het toe hulle Hom wou koning maak ná die vermeerdering van die brood (Joh 6:15). Maar nou, uiteindelik, laat Hy Hom hierdie toejuiging en proklamasie as die Messias welgeval. Uiteindelik!, wil ’n mens sug.

En tog loop dit alles op niks uit nie. Net so skielik soos wat dit begin het, eindig dit. Uiteindelik sou die kruisiging die finale antiklimaks van die skare se verwagtinge wees.

Dalk was jy ook al daar? Waar jy met soveel verwagting na die Here opgesien het, gesoebat het dat Hy in jou situasie Homself as Here moet laat blyk, en dan gebeur dit nie.

Ons eie ontnugtering oor Jesus lê waarskynlik by dieselfde oorsaak as die skare s’n, want hoewel hulle dit reg gehad het dat Jesus die beloofde Messias was (daarom het Jesus hulle nie wou stil maak nie), het hulle nie verstaan wat dit beteken nie. Hulle het ’n krygsheer, ’n veggeneraal verwag, soos Judas Makkabeus, wat hulle moes lei in ’n bevrydingstryd teen die Romeinse okkupasie van die land.

Hulle het gehoop op ’n kragdadige Messias, en daarom lees hulle die tekens mis. Jesus ry nie op ’n oorlogsperd nie, maar op ’n donkie. Matteus is gou om ons aandag daarop te vestig. Hy haal Sag 9:9 aan (vers 5): “Sê vir Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe; Hy is nederig en Hy ry op ’n donkie …” Die 2020-vertaling vertaal: Hy is sagmoedig. Dis mos dieselfde Sagaria (4:6) wat gesê het nie met krag of mag nie, maar deur die Gees, nie waar nie?

Jesus het self ook gesê Hy is sagmoedig en nederig van hart ; Hy sal vir ons rus gee vir ons gemoed (Matt 11:29). Is dit hoe jy Jesus sien? Sagmoedig en nederig van hart? Of soek jy ’n sterk, kragdadige Here? Dalk is dít die rede vir jou ontnugtering oor Hom?

As ’n mens nie verstaan dat Jesus as Messias die Sagmoedige is nie, maak die intog-toneel ses dae voor die kruistoneel hoegenaamd nie sin nie. Dan hoort Jesus nie aan die kruis op Golgota nie. Dan lyk Golgota na ’n patetiese mislukking, en wil jy saam met die omstanders en die Joodse leiers uitroep: As jy die Seun van God is, red jouself! (Matt 27:39-44).

Dis hierdie soort misverstand wat oor die eeue heen gemaak het dat die kerk sy eie taak in die wêreld verkeerd gesien het. Die kerk het gestreef na rykdom en mag. Daarom het die kerk in die Middeleeue die Kruistogte geloods in ’n poging om die Heilige Land uit die beheer van Islam terug te vat. Dis hoekom die kerk ’n hele politieke bestel bedryf het destyds, met die pous as hoof van die Heilige Romeinse Ryk. Dis hoekom die kerk nog altyd in posisies van mag wou wees, invloedryk wou wees, die sê wou hê, ook in die politieke wêreld.

Maar dis nie hoe Christus, ons Koning, is nie. Dis nie sy styl nie. Daarom ry Hy op ’n donkie die stad in. Daarom roep Hy nie die legioene engele wat tot sy beskikking is, op om saam met Hom te veg om die Romeine te oorwin nie, of selfs om Hom te bevry toe Hy gevang is en uiteindelik gekruisig is nie. Dis nie die manier waarop Hy regeer nie; nie destyds nie, en ook nie vandag nie.

Die Here regeer deur te dien, deur nederigheid en sagmoedigheid. “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig,” nooi Christus ons in Matt 11:28-30.
“As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg,” waarsku Jesus in Matt 16:24. Sagmoedigheid beteken uitgelewerdheid, kwesbaarheid, ’n prysgee van al die sogenaamde regte waarop ons so sterk staan. Hy moet meer word en ek minder, in die woorde van Johannes die Doper (Joh 3:30). Sagmoedigheid beteken kruisdra.

Geen wonder nie dat die Jode Hom gekruisig het; dat dieselfde mense wat met wuiwende palmtakke dit uitgejubel het: “Hosanna! Geseënd is Hy wat in die Naam van die Here kom!” ses dae later met gebalde vuiste geskreeu het: “Weg met Hom! Kruisig Hom!” Want hulle wou ’n kragdadige verlosser hê, nie ’n sagmoedige, nederige Messias nie.

Dit bring ons natuurlik by die vraag: Wat verwag jý van Jesus? Wat wil jy hê moet Hy in jou lewe wees?
Die Een wat met mag regeer, en jou saamneem op ’n triomftog van oorwinning en sukses? Die Een wat alles wat in jou lewe kan skeefloop, met ’n knik van die kop regmaak? Die Een wat alle moeilikheid uit jou lewe hou? Die Een wat keer dat jy seerkry of op getrap word?
Of die Een gekom het om te dien, en jou daarom bring by ’n punt waar jy ook diensbaar word vir ander? Die Een wat nederig en sagmoedig is, en jou leer om óók met sagte hande en vriendelike oë vir ander tot seën te wees?

As jy verwag dat Jesus soos ’n krygsgeneraal langs jou veg, gaan jy teleurgestel word en seerkry, want dis nie sy styl nie. Hy is die Sagmoedige Koning van Heer wat beskik oor alles. Hy is die enigste Een wat jou werklik rus en vrede kan gee. Kom ons volg Hom dan op sy kruisweg!

Amen.

image_pdfimage_print

Hits: 30

Volg en laaik my asb:
onpost_follow
Tweet
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.